Slaan oor na inhoud

Kultuur

20 Julie 2008

Weet nie of ek nou baie koherent gaan wees nie. Dis laat en lank verby my slaaptyd, maar my buurvrou raas my wakker so nou hou ek my maar besig tot ek weer slaperig raak.

Daar word baie geblog oor die situasie in SA en oor of dinge gaan verbeter. Daar word oor gewik en geweeg oor of mens moet waai uit SA en of mens moet vasbyt en hier probeer om ‘n verskil te maak. Ek gaan nie probeer om hier enige van hierdie moeilike sake aan te spreek nie. Dis te laat in die nag daarvoor [`nag' word nie figuurlik bedoel nie :-) ]. Wat ek wel wil aanraak is die kultuur aspek en hoe ek dit sien.

‘n Paar jare terug het die woord `kultuur’ het vir my nuwe betekenis gekry toe ek van Iain M Banks se boeke gelees wat oor The Culture handel. Enigiemand wat bekend is met sy stories sal weet dat hierdie ‘n baie idealistiese futuristiese beskawing voorstel. Nie iets wat mens noodwendig sal kan bereik nie, maar miskien wel kan na streef. Dit eers daargelaat. Banks het my geïnspireer om meer te wete te kom van kultuur en ek het so bietjie opgelees oor kulturele antropologie en dit uiters fasinerend gevind.

Wat my spesifiek fasineer is die dinamika van kulture, die blote feit dat ‘n kultuur nie ‘n vaste ding is nie maar iets wat deurlopend verander. Omdat die konsep van ‘n kultuur so allesomvattend is kan mens baie van die moderne konsepte soos paradigma skuiwe by die ontwikkeling van kulture insluit.

Vir mense wat lank genoeg in SA gebly het is die ontwikkeling van kulture niks nuuts nie. Mens kan dit duidelik in hierdie land sien gebeur. Waar die mense van die swart kulture jare terug toe ek nog ‘n kind was ‘n baie primitiewe bestaan gevoer het, is baie van daardie mense vandag deel van die middelklas en leef hulle soos westerlinge. Vergelyk dit nou met hoe lank dit die westerse kulture geneem het om dieselfde ontwikkeling deur te gaan — etlike millenia. Wel, hulle moes dit op hulle eie doen.

Twee opmerkings: eers moet ek baie haastig sê dat mens nie sommer ‘n primitiewe kultuur as iets negatiefs moet sien nie. Primitiewe kulture is baie meer in balans met hulle omgewing en solank so kultuur in isolasie bestaan is dit ‘n beter situasie. Maar ongelukkig, wanneer die isolasie verbreek word ontstaan daar wanbalanse wat groot probleme veroorsaak soos ons inderdaad in hierdie kontinent waarneem.

Tweedens, die blote feit dat mense deel van die middel klas vorm en soos westerlinge leef beteken nie dat hulle kultuur nou ekwivalent is aan ‘n westerse kultuur nie. Dit gaan waarskynlik nog baie lank vat voordat dit die geval is.

Met ander woorde al is die ontwikkeling in die kultuur van die swart bevolking baie vinniger as wat mens sou verwag as mens na die geskiedenis van die Weste kyk, is daar nog ‘n lang pad om te loop voordat mens kan verwag om ‘n situasie in hierdie land te sien wat vergelykbaar is met ‘n ontwikkelde westerse land.

Kom ek noem een voorbeeld: die konsep van demokrasie. Hierdie konsep is ‘n heilige koei in westerse beskawings. Om die rede word dit ook beskou as ‘n fundamentele mensereg. Verder is dit dan ook die rede hoekom die Weste dit met soveel oortuiging in Afrika lande probeer afdwing. Maar die probleem is dis nie deel van die kulture op hierdie kontinent nie. Die mense verstaan dit nie. In hulle kultuur moet daar ‘n koning of stamhoof wees wat oor die stam se doen en late besluit. Die stam was traditioneel klein genoeg dat kommunikasie vanaf die stam na hierdie stamhoof meer effektief kon plaasvind sodat die stamhoof se besluite die stam se gevoel weerspieël. Maar nou het ons die situasie in Afrika waar daar grense tussen lande getrek is wat groot groepe mense saamgroepeer wat nie noodwendig saam sou gegroepeer wou wees nie. Verder moet daar nou ‘n enkele leier wees wat demokrasies verkies word. Die mag wat met hierdie posisie gepaard gaan is baie meer as wat tradisioneel in hulle kulture bestaan het. So nou word hierdie posisies deur die magsugtiges beklee, mense wat nie tradisioneel geïnteresseerd sou gewees het om die verantwoordelikhede van stamhoof op te neem nie. So dit gaan oor mag en die behou daarvan en nie oor om ‘n land te regeer nie. Selfs hier in SA waar die ANC regering nogal tot ‘n mate die verantwoodelikheid van om te regeer addresseer (mense sal seker van my verskil hieroor) sien mens ook hierdie strewe na mag en die gepaardgaande stryd om dit te behou.

Die gevolge van hierdie magstryd is onder andere een van die dinge wat maak dat mense nie graag in so land wil bly nie. Dis een van die redes vir die negatiwiteit in hierdie land en hoekom mense liewer elders wil gaan bly. Dis een van die aspekte van die swart kulture wat ek dink baie langer as die res van my lewe gaan duur om gekorregeer te word. Daar is nog ander aspekte wat ek nie nou hier aanspreek nie.

Dus, al het ek wel hoop vir Suid Afrika op die lang termyn het ek nie veel hoop vir my eie situasie hier nie.

6 Kommentaar
  1. 20 Julie 2008 9:33 vm

    Ek stem saam, maar vind dat mense soms hul kultuur kan gebruik om agter te skuil en selfs verhewe bo ander. Kultuur kan ook die meulsteen om die nek wees. In my reise deur verskillende lande, veral Europa was dit lekker om al die verskille te sien en ervaar, maar dit was nooit voor my voete gegooi nie. Ek voel dat veral die sogenaamde “Afrikaner” moet bietjie wegkom van die “goue voëlkou” waarin hulle leef. Leef jou kultuur sonder om ander te benadeel.

  2. 20 Julie 2008 8:05 nm

    Kultuur is goed solank mens nie ‘n elitist interpretasie daarvan maak nie. Anyway, ek is multi-kultureel. Ek kan net so lekker Munich bierfees vier as wat ek ‘n Zulu troue kan bywoon. Ek kan ‘n heerlike tjoppie braai en ook vleis op charcoal eet. Ek kan vleis wat keel-af gesny word net so goed eet soos dit wat geskiet word. Kultuur is dit wat jy daarvan maak – sonder dat jy jou spesifieke interpretasie van kultuur op ‘n ander hoef af te dwing.

    Die volgende vraag wat ek die volgende idioot gaan vra wat my beskuldig dat ek my kultuur afskryf, is: beskryf vir my die inhoud van daardie kultuur, asb? Ek wonder hoeveel mense al oor daardie inhoud gedink het.

  3. flippiefanus permalink
    21 Julie 2008 5:35 vm

    Inderdaad, ek stem saam dat mens nie die kultuur verskil moet gebruik om jouself bo ander te verhef nie. Daar is ‘n fyn lyn en ek het myself seker toe nie koherent genoeg uitgedruk op die ou ent nie. Sal maar weer later daaroor skryf.

    Een ding wat blykbaar gladnie goed oorgekom het nie is die feit dat kultuur baie meer omvattend is as net die bolangse goed soos watter kos jy eet of hoe troues gehou word. Mens kan in ‘n Japanese restaurant sit en sushi eet, dit maak nie van jou ‘n Japanees nie. Kultuur sluit alles in van wat jy as reg en verkeerd beskou tot hoe jy die toilet gebruik. Al kan mens Zulu praat weet mens nie noodwendig hoe ‘n ware Zulu oor dinge dink nie. Dis hierdie aspek wat nie so maklik verander word nie.

  4. 21 Julie 2008 3:31 nm

    Ekself kyk na kultuur as iets wat baie, baie oud is. En wat een van die beginpunte van abstrakte denke was. Kultuur is bv om jouself met oker te smeer en nou lyk jy mooi. Dit het in die mens gelei tot baie interessante dinge en ontwikkelings.

    Maar kultuur het in sommige gevalle nou ‘n negatiewe betekenis begin kry, ook in sommige gevalle ‘n sterk nasionalistiese kleur.

    Ek hou van kultuur binne die argeologiese en antropologiese konteks.

  5. 21 Julie 2008 8:45 nm

    Dis jammer dat kultuur in sekere gevalle geassosieer word met sulke negatiewe dinge. Mynsinsiens is dit oor mense nie verstaan wat kultuur is nie. Hulle gee dit ‘n baie eng betekenis wat nie die volle diversiteit daarvan insluit nie.

  6. 25 Julie 2008 4:30 nm

    Ek stem, Flippiefanus, kulluur is baie holisies en inter-dissipliner.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.