Dis na my slaaptyd en ek is wakker. Die helikopter het eers weer ‘n paar draaie hier kom vlieg en dan kan ek nie slaap nie. So dan lê ek nou maar en dink aan dinge, en spesifiek aan al die dinge wat ek so op die blogosfeer van lees. Ja natuurlik ook aan my skuldgevoelens oor al die dinge wat besig is om op te hoop omdat ek so baie tyd op die blogosfeer spandeer. Maar nou ja dit daargelaat.
Uiteindelik draai my gedagtes noodwendig na die situasie hier in die land. Hier in my ou geboorteland waar die dinge nie meer is soos wat ek dit ervaar het toe ek grootgeword het nie. Nie dat dit noodwendig sleg is nie, maar daar is tog ‘n paar dinge wat mens grief, soos byvoorbeeld die subtiele onderdrukking van ‘n mens se kultuur.
Vat nou byvoorbeeld die naamsveranderings. Elke keer as die media praat van Tswane instede van Pretoria voel dit vir my ek pop my deksel. En dan is Potchefstroom ook nou nie meer Potchefstroom nie. Dit lê my nogal na aan die hart want dis my voorsate wat daardie dorp gestig het en sy naam vir hom gegee het.
Die jong mense wat vandag hier groot word sien ‘n ander Suid Afrika as wat ek gesien het. Ek het hoop gehad vir hulle, want, het ek gedink, hulle is nie vasgevang in dieselfde web van rasse haat as my generasie nie. Hulle word nou saam in dieselfde skole met gelyke omstandighede groot. Maar ek was naïef. Die eerste keer wat dit my getref het, was toe ‘n vriend van my se 11 jarige seun so uitvaar teen sy swart medeleerders in die skool. My vriend vertel my toe dat die seun van hom totaal rassisties is.
By ‘n ander geleentheid ondervrae ek toe ‘n klomp jong studente wat ek op ‘n stand raakloop wat die situasie is. Is daar nog rassisme onder die lede van hulle generasie? Ja, wedersyds, is hul antwoord. Daar sak my moed in my skoene. Hierdie jong mense het nie die voordele van die apartheid ervaar nie en tog word hulle nou weens hulle kleur op die kantlyn geskuif. Die gevolg is dat die rassisme weer van voor af opvlam. Met ander woorde the subtiele onderdrukking van kultuur onder die vaandel van opheffing veroorsaak weereens rasse haat.
Leer die owerhede dan nie uit die foute van ander nie? Lees hulle nie hul geskiedenis boeke nie? Die wiel draai. Eendag sal die bordjies weer verhang word. Hoe harder jy probeer om iemand te onderdruk hoe sterker word hy en hy sal weer opstaan. St Peterburg het Leningrad geword en toe later weer St Peterburg. Eendag gaan Potchefstroom weer Potchefstroom wees en Pieterburg weer Pieterburg. Pretoria sal Pretoria wees en dalk sal selfs hierdie lughawe weer Jan Smuts lughawe genoem word.
Madiba het probeer om versoening te bring tussen die verskillende kulture. Versoening beteken dat die kulture almal saam kan bestaan en nie mekaar verdruk nie. As sy beleid van versoening nie slaag nie dan gaan Suid Afrika in ‘n eindelose siklus verval van onderdrukking en bevryding. So land het geen blink toekoms nie.
So waarvoor sloof ek my af? Hoekom word ek nog opgewonde oor die potensiële positiewe situasies wat daar kan bestaan in SA? Nee wat dan pak ek liewer my goed en waai. Daar is ander lande in die wêreld waar my kultuur meer beskerming geniet as in my geboorteland.
Jy glo my nie? In Kanada is daar wette wat die multikulturele karakter van Kanada beskerm. Onder hierdie wette word ek die vryheid gegee om my Afrikaanse kultuur uit te leef selfs al woon ek in Kanada as ‘n Kanadese burger. Ek kan Afrikaans wees en hoef nie daarvoor om verskoning te vra nie.
So wat maak ek hier? Miskien moet ek liewer gaan slaap. Mens mag nie na jy slaaptyd oor sulke dinge dink nie.
16 Augustus 2008 at 8:28 nm
Ja Flippie, ek neem die dinge ook waar elke keer as ek huis toe gaan. Ek vind dat asof die jeug meer rassistiess as wat ons ooit wou gewees het. Wys maar net hoe meer ons dinge dwing om te verander hoe minder verander hulle.
IS jy nie spyt dat jy terug gekeer het nie?
17 Augustus 2008 at 6:36 vm
Mmm, ja ek moet seker maar erken dat ek spyt is dat ek teruggekom het. Maar aan die anderkant glo ek tog dat dit die regte dinge was om te doen. Ongeluk is dit wat reg is nie altyd vir mens die beste nie. Of ten minste dit lyk nie so nie.
17 Augustus 2008 at 4:20 nm
Ek is persoon wat glo mens moet jou hart volg. Hart het meer verstand as die brein self. Is snaaks. Ek bewweg na Kanada en jy is weer terug by die begin. Lewe beweeg in sirkels.
17 Augustus 2008 at 4:45 nm
Rustig: Hoe kan ek dit verduidelik? Jou hart se^ vir jou jy moet gaan sokker speel maar jou verstand se^ vir jou jy moet vir die toets swot. Volg jy jou hart dan pluk jy more die toets. OK dis seker ‘n baie simplistiese voorbeeld, maar dis min of meer die tipe situasie waarin ek is. Wens nogsteeds kliphard dat daar ‘n manier is dat ek eendag weer Kanada toe kan gaan. Wie weet?
As jy enige vrae oor Kanada het kan jy gerus vra. Ek sal seker nie alles weet nie maar ek kan jou dalk help met party goed. Jy het mos my epos adres.
17 Augustus 2008 at 7:07 nm
Is baie goeie voorbeeld wat jy gee van hart en verstand!

Miskien was dit verkeerd gestel. Ek volg my “gut”. Sover was ek nog baie min verkeerd of spyt. Ek sal wel laat weet wanneer dit dalk tyd word vir Kanada.
17 Augustus 2008 at 7:42 nm
Miskien moet ek leer om na my gut te luister.
17 Augustus 2008 at 8:46 nm
Jy moet net kan onderskei wanneer dit maagwerk is en wanneer dit wyse raad is.
18 Augustus 2008 at 6:44 vm
LOL
18 Augustus 2008 at 9:30 vm
Flippie, ja, dis ontstellend om te sien hoe rassisties die kinders is. My eie twee is baie erger as wat ek ooit kon wees. En ek het hulle wraggies grootgemaak om nie kleur raak te sien nie. My kleintjie oom en tannie swart mans en vroue. So, hulle het dit nie by my opgetel nie.
My seun moes onlangs ‘n taak doen oor apartheid. Hy was so geskok gewees oor die apartheidswetgewing. Hy kan bv. nie ‘n slegs blanke strand voorstel nie. Maar hy is bitter. Hy se hy het nie ‘n toekoms in hierdie land nie, en hy het geen deel gehad aan apartheid nie.
Ja, soms dink ek ook aan tassies pak en waai, maar dis nie so maklik nie, is dit? Baie goed om te consider.
18 Augustus 2008 at 1:48 nm
Boendoe. Dis wat ek ook agter gekom het. Dis nie dat die groot mense die kinders grootmaak om rasisties te wees nie. Dis hulle omstandighede wat veroorsaak dat hulle so word. Dis vir my so sad.
Om tasse te pak en te waai is ‘n groot storie. Dis glad nie sommer net vir gaan nie. Niemand kan eintlik vir mens se wat om te besluit nie. Dit moet mens self maar besluit. Hoe ouer mens word hoe moeiliker is dit. Maar dan waai die kinders op die ou ent en dan sit mens alleen hier. Kinders en kleinkinders is oorsee.
18 Augustus 2008 at 4:02 nm
Boendoe – Om te waai is so groot soos jy dit wil maak. Niemand kan die besluit neem nie, maar ek dink tog as jy regtig wil kan dit gedoen word. Jy moet bereid wees om weer van vooraf te begin. Die verskil is jy maak net vinniger vordering. Ek vrae altyd vir my die vraag of ek kwaliteit of kwantitiet wil hê.
Moeilike een vir sommige en maklik weer vir ander.
18 Augustus 2008 at 5:18 nm
Flippie, ek kom sit hier en ginnegaap en vergeet skoon om vir jou te se jy het huiswerk! Sal jy by my kom kyk?
http://bashinginnieboendoes.wordpress.com/2008/08/18/meme-tag-vir-erica/
18 Augustus 2008 at 6:10 nm
O ek het gesien boendoe. Ek gaan my huiswerk nog doen.
30 Augustus 2008 at 4:16 nm
So wat maak ek hier? Miskien moet ek liewer gaan slaap. Mens mag nie na jy slaaptyd oor sulke dinge dink nie. Dit laat my glimlag – baie oulik en ondeund gestel.
1 September 2008 at 9:21 vm
Ja Mefri. Ek het so reel dat ek nie an ‘n sekere tyd in die aand groot besluite moet neem nie want dan kan ek nie meer helder dink nie.
3 September 2008 at 6:42 vm
Hi Flippiefanus. Ek’s nuut hier tot die blogosfeer maar sien uitdaarna om by te dra. Ek was nogal geïnteresseerd in jou skrywe, want ek leef tans in Kanada. Ek’s nogal nuskierig om te hoor waar jy gebly het en hoekom jy terug is SA toe. Ek kan verseker ook eggo wat jy sê oor Kanada, hier fier mense behoorlik die feit dat jy anners is instede daarvan om dit te probeer dood druk.
3 September 2008 at 6:41 nm
Welkom Berns. Ek was vir ‘n ruk lank in Toronto en toe weer in Ottawa. Die rede hoekom ek terug is SA toe het bloot maar met familie te doen. Soos jy seker uit my opskrywing kan sien verlang ek baie terug na Kanada.