Boendoe het my getag om 8 goed te beskryf wat my gelukkig maak. Eerste keer wat iemand my tag om iets te doen so ek is nogal opgewonde daaroor.
Die eerste ding wat ek sal noem is soortgelyk aan wat boendoe genoem het. Die feit dat ek ‘n Christen is maak dat ek altyd iets het om oor bly te wees. Dis soos toe Paulus in die tronk was en die volgende, wat in Filippense 4 staan, geskryf het:
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alles mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Die Heilige Gees plaas die vreugde in mens se hart ongeag van die omstandighede.
Die tweede ding wat my gelukkig maak is my familie; die feit dat ek nog my pa en ma het en ‘n goeie verhoudig met hulle kan hê; die feit dat ek kontak met my twee broers het en ook met hulle ‘n goeie verhoud kan hê; en dat dit met almal van hulle goed gaan.
Die derde ding gaan verder as net familie. Dit sluit mense in die algemeen in. Om saam met mense te kan kuier en te kan lag en gesels maak my baie gelukkig. Dit vat die donker uit my gemoed uit en vul dit met kleur. Veral kinders kan my verskriklik gelukkig maak. Daardie uitbundigheid van ‘n 4 jarige seuntjie wanneer hy soos groot meneer in my skoene kan rondloop; daardie drukkies van sulke klein lyfies wat soveel warmte kan oordrae; dit alles kan maak dat ek vir ‘n oomblik weer self soos ‘n kind word.
Vierdens maak dit my gelukkig om erkenning te kry vir wat ek doen. Dit gee mens die gevoel dat wat mens doen die moeite werd is. Mens spandeer meeste van die tyd wat mens wakker is om een of ander werk te doen. As dit nie vir mens lekker is nie dan is die grootste deel van jou lewe nie lekker nie.
As ek lekker op die strand kan baljaar en teen die branders kan baklei dan geniet ek myself gate uit. So ‘n strand vakansie sal tel as nommer vyf. Dit sluit ook alles in wat met ‘n strand vakansie vereenselwig word, van om weer soos ‘n kind met die water glybane af te gly, tot om in diepe bepynsing op die rotse te sit en die branders te bekyk soos hulle oor die rotse breek.
Wie hou nie daarvan om vir homself ‘n lekker duur speelding te koop nie? So, om daardie spesiale inkopie te gaan doen sal tel as my nommer ses. Miskien is dit ‘n CD wat mens lankal wou hê; of miskien ‘n DVD; of ‘n ipod; of ‘n groot LCD TV of miskien eendag daardie 34 voet seilboot. Dit maak my gelukkig, al hou dit nie altyd so baie lank nie.
Die natuur maak my gelukkig, maar ook nie sommer enige natuur nie. Nee dit moet groen en welig wees. Hoë bome wat langs mere groei en waaronder daar ‘n dik mat van droë blare lê, laat my so rustig en tevrede voel. As mens ook nog met ‘n kano in die skemer oor die meer kan roei en alles is so stil dat jy elke druppeltjie water kan hoor afdrup van die roeispaan af en vêrweg hoor jy die treurige geroep van watervoëls. Dis moeilik om hierdie ervarings te kan verwoord. Mens moet dit self beleef.
Laastens is daar my nuutste stokperdjie. Raai wat is dit? Reg, blogging. Ek het nooit verwag dat ek soveel genot en vreugde sou kan put uit hierdie virtuele interaksie nie.
So daar het julle dit nou. Mens kan eintlik nog vele meer noem, maar hierdie is seker maar die belangrikste 8 dinge in my lewe.


19 Augustus 2008 at 8:42 vm
Dankie, Flippie.
Jou vierde punt is nogal iets waaraan ek nie gedink het nie. Ek weet nie of mens regtig jou dagtaak behoorlik kan aanpak as jy nie af en toe ‘n ‘pat on the back’ kry nie.
Weereens dankie dat jy saamgespeel het. Dit was lekker om te lees, veral nou dat die blogwereld so op sy kop is.
19 Augustus 2008 at 10:47 vm
Lekker om te lees. Ek gaan nou so op die ry af soos wat die tags uitgedeel word.
19 Augustus 2008 at 2:46 nm
Ek sal my huiswerk doen dankie. Ek is bly jy het kom blog, regtig, ek geniet dit hier by jou. Ja die natuur is ‘n spesiale plek…
19 Augustus 2008 at 3:54 nm
Boendoe: dankie dat jy my getag het om hier skrewe te doen. Ek het dit geniet.
Dellie: baie welkom hier.
Rosalind: dankie, dis vir my lekker om te blog en om ander mense se blog te lees.
19 Augustus 2008 at 5:08 nm
Dit gaan my ‘n week vat om dit te doen. Ek is ‘n mens wat net voort storm en nooit regtig gaan sit en dink wat ek “like” en wat my “happy” maak nie. Is vir my so kompleks soos ‘n bollose hoed sonder ‘n rand.
19 Augustus 2008 at 6:18 nm
Rustig: dis goeie oefening om so bietjie oor die dinge te dink. Dit laat mens weer onthou wat om te waardeer.
20 Augustus 2008 at 2:57 vm
Flippiefanus, als wat jy opgenoem het werk ook vir my, veral die Christenskap en die meer. Ek is so bly dat jy jou nuwe stokperdjie geniet, want ek kuier heerlik by jou.
20 Augustus 2008 at 9:22 nm
[...] Oom Flippie van die buur plaas het my "getag" om ag dinge te gee wat my gelukkig maak. Ek besef toe skielik dat dit nie so eenvoudig is vir my soos dit klink nie. Ek het nog nooit regtig in my lewe gaan stil staan en dink oor dinge wat my regtig gelukkig maak nie. Wys jou net dat mens soms dinge so as vanselfsprekend aanvaar. [...]
21 Augustus 2008 at 10:04 vm
Dankie Mefri
22 Augustus 2008 at 1:28 nm
Die Prinsie; ek is nog lank nie klaar met hom nie – daar was net nie tyd gewees om dit behoorlik te kon geniet en te ervaar nie. Diep dinge vereis kwaliteit tyd en helderheid van begrip, ek hoop ek mag so bietjie later (al is dit na die maal) my opinie lewer?
22 Augustus 2008 at 8:38 nm
Mefri, jy is baie welkom om nog verder kommentaar te lewer oor die pirnsie. Ek sal sien as jy daar kommentaar gaan lewer. Miskien sal ek weer ‘n sukkie oor die prinsie skryf.
22 Augustus 2008 at 9:41 nm
Dankie, die prinsie boei my en ek wil graag meer van hom weet –
24 Augustus 2008 at 8:30 vm
Ek het baie lekker gelees oor die dinge wat jou gelukkig maak. Dit maak my gelukkig dat jy deel geword het van die blogging gemeenskap!
24 Augustus 2008 at 2:48 nm
Baie dankie wipneus. Die blogosfeer is soos om ‘n nuwe avontuur te beleef.
24 Augustus 2008 at 8:32 nm
Flippiefanus, dit is vir my eerlikwaar ook baie stimulerend en opbouend om met jou te mag gesels al is dit net so in die virtuele. Ek vind jou baie positief en opreg, en dit word onderstreep deur die dinge wat jou gelukkig maak. Ek het nog nie raak gelees wat jy in jou werk doen nie, maar hopelik het dit iets met mense te doen, want jy sal goed in mense se lewens inbring.
Dit sou vir my ook moeilik wees om regtig op te noem wat my waarlik gelukkig maak soos vir party ander wat hier kommentaar gelewer het, alhoewel ek myself as baie gelukkig sien.
25 Augustus 2008 at 11:32 vm
flippiefanus, ek maak werk hiervan. Jammer vir die laat reaksie. Hierdie week nog.
25 Augustus 2008 at 1:14 nm
Annerkant: Baie dankie. Ek werk nogal toevallig met mense (studente) maar ek voel partykeer lus en maak ‘n verandering. Hulle vat baie van my energie en is baie keer uiter negatief.
Emil: Toemaar ek is geduldig.
28 Augustus 2008 at 5:19 nm
[...] flippiefanus tagged me with a most interesting exercise, to describe 8 things that make me happy, or that are important to me. Eight (8), of course, is no where near a big enough number to capture the true essence of my happiness. Therefore, responding to the tag required careful consideration and practice, for crafting moral philosophy is already one thing that makes me happy [...]
29 September 2008 at 1:05 nm
Lekker om te lees wat jou gelukkig maak.. Lyk ons het ‘n paar raakpunte gehad.
29 September 2008 at 6:30 nm
Dankie en baie welkom Emmabel
13 Mei 2009 at 10:12 nm
[...] Oom Flippie van die buur plaas het my “getag” om ag dinge te gee wat my gelukkig maak. Ek besef toe skielik dat dit nie so eenvoudig is vir my soos dit klink nie. Ek het nog nooit regtig in my lewe gaan stil staan en dink oor dinge wat my regtig gelukkig maak nie. Wys jou net dat mens soms dinge so as vanselfsprekend aanvaar. [...]
30 Junie 2009 at 8:02 nm
[...] Oom Flippie van die buur plaas het my “getag” om ag dinge te gee wat my gelukkig maak. Ek besef toe skielik dat dit nie so eenvoudig is vir my soos dit klink nie. Ek het nog nooit regtig in my lewe gaan stil staan en dink oor dinge wat my regtig gelukkig maak nie. Wys jou net dat mens soms dinge so as vanselfsprekend aanvaar. [...]