‘n Interessante skrewe van Annerkant oor Gene vir God het my aan die dink gesit. Ek het besluit dat wat ek sou wil sê oor hierdie skrewe te lank sal wees vir kommentaar. Dus gaan ek self ‘n blog inskrywing daaroor maak. Dit handel oor die skynbaar eindelose debat oor die bestaan van God wat tussen gelowiges en ongelowiges, meer spesifiek tussen Christene en atïeste, gevoer word. In die geval van die kwessie oor “gene vir God” maak dit egter nie regtig saak watter God ‘n mens aanbid nie.
Die idee van “gene vir God” is om ‘n antwoord te kry vir die vraag: hoekom is die mensedom geneig om in ‘n God te wil glo? Die antwoord wat dan in hierdie geval aangebied word is dat die mensdom geneties die neiging het om in ‘n God te glo en dat hierdie genetiese neiging ontwikkel het deurdat dit ‘n oorlewingsvoordeel vir die mensdom gegee. My kommentaar hierop bestaan uit twee dele: eerstens kommentaar op die antwoord van die vraag en dan kommentaar op die vraag self.
Die antwoord wat aangebied word is een van vele soortgelyke pseudo-wetenskaplike antwoorde wat van tyd tot tyd vir soortgelyke vrae aangebied word. Dit is nie ‘n wetenskaplike antwoord in die streng sin van die woord nie. Daar is, sovêr my kennis strek, nie enige fisiese geen ontdek wat hierdie eienskap het dat dit mense laat glo in ‘n God nie. Of dit wel moontlik is om so geen te kan ontdek en wat die implikasies daarvan vir geloof in ‘n God sal wees, is ‘n onderwerp vir ‘n ander keer. Die antwoord is dus op hierdie stadium bloot ‘n hipotese. Al word die antwoord van die “geen vir God” in wetenskaplike taal verduidelik is dit nie wetenskaplik gefundeer nie en het dus bloot die skyn van wetenskap. Daarom noem ek dit pseudo-wetenskap.
Om ‘n wetenskaplike antwoord te wees moet daar fisiese waarnemings of experimente wees waarmee die voorspellings wat hierdie hipotese maak, bevestig word. So byvoorbeeld kon die algemene relatiwiteitsteorie van Einstein eers as ‘n volwaardige wetenskaplike teorie aanvaar word nadat die, amper skokkende, voorspellings wat hierdie teorie gemaak he,t deur akkurate waarnemings bevestig is. Eers dan kan ons met reg van ‘n wetenskaplike antwoord praat.
Hierbo suggereer ek dat daar meer sulke pseudo-wetenskaplike antwoorde verskaf word. Ek gaan hier ‘n baie meer skouspelagtige voorbeeld daarvan gee. In die wetenskaplike kennis wat ons het oor die heelal waarin ons bly is daar verskeie waardes vir konstantes wat bydrae tot die manier wat die heelal werk. Party van hierdie waardes is baie toevallig net presies reg sodat die heelal is soos wat dit is. Om die waarheid te sê as enige van die konstantes te veel sou afwyk van hul gemete waardes sou die heelal sodanig anders daaruitgesien het dat lewe nie juis moontlik sou kon wees nie.
Hierdie feit maak die atïestiese wetenskaplikes baie ongemaklik, want nou lyk dit baie asof daar dus ‘n God moes gewees het wat die heelal net presies so geskape het dat lewe kan bestaan. Hoe nou gemaak? Hoe verklaar mens nou dat die heelal so kan wees as mens nie vir God in die prentjie wil inbring nie? Wel as eerste poging postuleer mens die sogenaamde Antropiese Beginsel. Die beweer dat die waardes is soos dit is want as dit nie so was nie sou ons nie hier gewees het om dit waar te neem nie. Wel dit klink nou nie juis vir my soos ‘n wetenskaplike stelling nie, ‘n filosofie stelling miskien maar dis beslis nie wetenskap nie.
Goed wel dan gaan die atïeste verder. Hulle postuleer ‘n oneindige aantal heelalle in ‘n sogenaamde “multiverse” wat elkeen effens ander waardes vir die konstantes het. Nou kan hulle die Streng Antropiese Beginsel postuleer wat beweer dat die rede hoekom ons die waardes waarneem is omdat ons noodwendig in die heelal is wat die regte waardes het om lewe te kan onderhou.
Briljant! (vergeef my sarkasme). Hulle het dit reggekry om God weg te verduidelik, maar kyk wat moes hulle doen om dit reg te kry. Dit het ‘n oneindige aantal heelalle geverg. Nou het hulle ‘n hipotese wat nie eers in beginsel wetenskaplik bevestig kan word nie, want hoe gaan ons nou in hierdie heelal van ons eksperimente doen of waarnemings maak om te bepaal of daar ander heelalle bestaan? Die hipotese is dus nie eers falsifieerbaar nie. Dit faal volkome as wetenskaplike teorie. Tog word dit as ‘n “wetenskaplike verklaring” voorgehou vir die feit dat die waardes is wat dit is.
As iemand nou so ‘n pseudo-wetenskaplike verklaring aanbied om weg te kom van die konsep van God, dan wen so persoon niks nie. Want as die persoon sou kies om eerder die pseudo-wetenskaplike verklaring te glo as om in God te glo dan bly dit steeds geloof sonder wetenskaplike bewyse. As die pseudo-wetenskaplike verklaring nog daarby so vergesog soos die oneindige aantal heelalle is, dan is so persoon besonder geseën met ‘n sterk geloof. Dit sou myns insiens so iemand meer gebaat het om sy/haar sterk geloof te benut om daardeur verlossing daarby te kon ontvang.
Maar nou ja ek besef dat nie almal dit so sal sien nie.
24 Augustus 2008 at 8:08 nm
Hallo Flippiefanus
Jammer ek kom nou eers hier by die blogs uit. Ek sal eers deel 2 lees, en dan kommentaar lewer.
Ek geniet die manier waarop jy skryf. So reguit moontlik.
24 Augustus 2008 at 10:25 nm
[...] In ‘n volgende inskrywing wil ek graag op Flippiefanus se twee inskrywings oor die onderwerp (Jy besluit (deel 1) en (deel 2)) reageer. Hy skryf hier oor sy siening as Christen oor die debatte oor God se [...]
25 Augustus 2008 at 1:19 nm
Dankie Annerkant. Miskien partykeer te reguit. Ek hoop net nie ek maak mense vies vir my nie.
Sien uit daarna om jou inskrywing te lees.
27 Augustus 2008 at 9:41 nm
[...] inskrywing reageer ek op Flippiefanus se inskrywings oor die Gene vir God onderwerp: Jy besluit (deel 1). Die reaksie is maar weereens my persoonlike mening soos dit nou is, en dit mag in die toekoms [...]
28 Augustus 2008 at 9:21 vm
Ek het ‘n byltjie te sluip oor jou gebruik van die woord pseudo-wetenskap. Jy besef duidelik dat pseudo die teenoorgestelde van egte beteken maar ek dink jy wend die woord aan om te impliseer dat dit ‘oningelig’ of ‘verkeerd’ beteken.
‘n Voorbeeld van die regte gebruik van die woord is om byvoorbeeld van ‘n pseudo-mier te praat. Dit is ‘n spinnekop wat se lyf so vervorm het dat dit nes ‘n mier lyk en dan loop dit ook met sy pote so dat dit lyk of dit net 3-paar pote het. So, alhoewel dit ‘n spinnekop is gee dit voor dat dit ‘n mier is. ‘n Pseudo-wetenskaplike is dus iemand wat nie wetenskap gaan leer het nie maar wat voorgee dat hy ‘n wetenskaplike is. Die persone wat jy as pseudo-wetenskaplikes afmaak het heel mootlik meer grade en ondervinding as wat jy het. As hulle skuldig is aan iets dan is dit daaraan dat hulle navorsingsmetodiek verkeerd is of dat hulle gevolgtrekkings verkeerd is. Maar verkeerde gevolgtrekkings is nie so ‘n groot probleem nie. Al wat moet gebeur is dat ‘n ander navorser dieselfde- of nuwe data moet gebruik om die teendeelte bewys. Hier is my uitdaging dus aan jou!
28 Augustus 2008 at 9:49 vm
Galbraak: Die woord pseudo-wetenskap beteken letterlik skyn-wetenskap. Met ander woorde dit is wanneer iets wat nie streng aan die vereistes van wetenskap voldoen nie, as wetenskap voorgehou word.
‘n Pseudo-wetenskaplike sou dan ‘n skyn-wetenskaplike wees, maw iemand wat nie oor die nodige kennis beskik om wetenskap te kan bedryf nie, maar ek twyfel of ek na enige mense as pseudo-wetenskaplikes in my opskrywing verwys het. Die opskrywing gaan die daaroor nie.
Beide wetenskaplikes met die nodige kwalifikasies en mense daarsonder kan hulself skuldig maak aan pseudo-wetenskap.
Die hele opskrywing van my gaan dus spesifiek oor die foutiewe wetenskaplike metodiek.
Wat jou uitdaging betref: die stellings wat gemaak word le^ buite die wetenskap. Dus is dit ‘n futiele oefening om enige bewyse ten gunste van of daarteen te probeer kry. Miskien moet jy weer my opskrywing mooi gaan deurlees.