Waar kom die maan vandaan?
Galileo Galilei word beskou as die vader van die wetenskap. Voor hom het mense (filosowe) geglo dat hulle die heelal kan verstaan deur bloot daaroor te dink. Ongelukkig werk dit nie so nie want partykeer het die natuur ‘n paar verrassings waarvan ons nie sou geweet het as ons nie gaan kyk het nie. Dis presies wat Galileo gaan doen het. Hy het vir homself ‘n teleskoop gemaak en na Jupiter deur die teleskoop gaan kyk. In die proses het hy toe ontdek dat daar ‘n klompie mane rondom Jupiter wentel. Dit was nou nogal ‘n groot storie, want die klomp filosowe was oortuig daarvan dat die aarde die middelpunt van die heelal is en dat alles om die aarde moet wentel.

Goed, maar ek wil nie oor Jupiter se mane praat nie. Ek wil praat van ons eie maan, die een wat Wipneus so lief is voor.
Planete en mane vorm normaalweg saam met die ster (son) uit ‘n groot stofwolk. Maar ons maan is bietjie uniek. Die maan is baie groot relatief tot die planeet waarom dit wentel. Verder is die minerale waarvan die maan gemaak is nogal anders as dit waaruit die aarde gemaak is. Dit lyk nie asof die aarde en die maan saam ontstaan het nie. So waar kom die maan dan vandaan?
Daar was verskeie idees wat wetenskaplikes al ondersoek het, maar die een wat op hierdie stadium die gunsteling is, is dat die maan gevorm het as gevolg van ‘n botsing tussen die aarde en ‘n ander liggaam so groot soos mars. Wetenskaplikes ondersoek hierdie tipe idees deur rekenaar simulasies te doen wat die effek van die materie en van gravitasie in berekening bring. Uit hierdie simulasies kon hulle sien dat as ‘n baie groot liggaam die aarde teen die regte hoek en spoed sou tref daar ‘n groot stofwolk sou ontstaan wat rondom die aarde wentel en wat uiteindelik sou saamsmelt om ‘n maan te vorm wat net soos ons maan lyk en dieselfde wentelbaan het. Hierdie model word nou beskou as die beste verduideliking vir die ontstaan van die maan.
Het ek dit reggekry om enigiemand te oortuig dat dit is hoe die maan tot stand gekom het? Gaan jy dit glo bloot omdat die wetenskap sê dit is so? Destyds het Galileo nie net vir ons beter inligting oor Jupiter verkry en daarmee die appelkar omgestamp nie, maar hy het inderdaad gewys dat dit beter is om self te gaan kyk en daarmee die basiese meganisme van die wetenskaplike metode geïllustreer. Wanneer mens ‘n idee kry oor hoe iets in die natuur werk dan moet mens op een of ander manier die idee kan toets deur fisiese waarnemings. Die oorspronklike idee word ‘n “hipotese” genoem. Nadat die idee deur waarnemings bevestig is kan ons van ‘n “teorie” praat, soos byvoorbeeld die Algemene Relatiwiteitsteorie. Deesdae word die term “model” ook gebruik in stede van “teorie”. So word die beste teorie wat ons vandag in fundamentele fisika het en wat tot ‘n besondere mate eksperimenteel bevestig is, die “Standaard Model” in elementêre deeltjie fisika genoem.
In die geval van die oorsprong van die maan kan ons onderskei tussen die basiese wetenskaplike meganisme waarmee ‘n maan gevorm word wat presies is soos ons maan, aan die een kant, en die hipotese dat hierdie meganisme inderdaad die manier was hoe ons maan gevorm is, aan die ander kant. Die eersgenoemde basiese wetenskapilke meganisme is bloot ‘n toepassing van gravitasie teorie en materiaalkunde wat reeds deur behoorlike wetenskaplike metodiek as geldige teorieë bevestig is. Aan die anderkant is die hipotese nog nie bevestig nie, en daar is weinig hoop dat dit ooit bevestig kan word.
Die wetenskaplike metode stel baie hoë vereistes aan die waarnemings wat moet dien as bevestiging vir ‘n hipotese. Sien, dit is belangrik dat die hipotese ‘n nie-triviale voorspelling maak, iets wat nie bloot voor die hand liggend is nie. Dan word ‘n eksperiment gedoen of waarnemings gemaak om te kyk of hierdie voorspelling korrek is. Dit is ook belangrik dat die eksperiment of waarneming herhaalbaar moet wees, anders kan dit nie gekontroleer word nie. As die resultate van die eksperiment of waarneming ooreenstem met die voorspelling dan verkry mens meer vertroue in die hipotese. Indien die resultate strydig is met die voorspelling dan word die hipotese as foutief beskou en verwerp.
In die geval van die hipotese oor hoe ons maan gevorm is, is daar maar net basies een deurslaggewende “voorspelling” en dis dat hierdie die meganisme is waarmee ons maan gevorm is. Die enigste manier om hierdie hipotese te kan toets is om te sien dat dit wel is hoe ons maan gevorm het, maar dis ongelukkig ‘n eenmalige historiese gebeurtenis wat plaasgevind het lank voor daar mense was wat dit kon waarneem. Die eksperiment is ook nie herhaalbaar nie want daar is maar een aarde en een maan wat slegs en maal gevorm is. Hierdie hipotese sal dus maar altyd ‘n hipotese bly.
Nie baie lank terug nie het Karl Popper ons daarop gewys dat mens streng gesproke nooit ‘n hipotese volledig kan bevestig nie. Mens kan bloot al die verkeerde hipoteses verwyder deur hulle te falsifieer. Daar bestaan ook hipoteses wat in beginsel nooit gefalsifieer kan word nie. Sulke hipoteses is nie nuttig nie want mens kan nooit weet of hulle waar is of nie. Hipoteses wat uiteindelik as wetenskaplike teorieë kan dien moet dus altyd Popper falsifieerbaar wees.
Aangesien ons hipotese oor die maan nie getoets kan word nie is dit dus nie Popper falsifieerbaar nie. Nogtans word hierdie hipotese met respek beheen in die wetenskap wêreld. Nou moet ek darem byvoeg dat daar wel ‘n hele aantal indirekte voorspellings is wat gebruik kan word om hierdie hipotese te toets, maar hierdie indirekte voorspellings kan nooit vir ons deurslaggewende bewys lewer van die manier wat die maan gevorm het nie.
Hierdie situasie is nie uniek nie. Daar is verskeie gevalle waar wetenskaplik gerespekteerde teorieë nie streng Popper falsifieerbaar is nie. Daar is miskien verskeie indirekte “omstandigheidsgetuienis” ten gunste van die hipotese, maar die deurslaggewende toets kan nie gedoen word nie omdat dit ‘n nie-herhaalbare unieke gebeurtenis was. Voorbeelde hiervan is die oerknal (big bang) en die evolusie teorie.
Gravitasie kolke bevat soortgelyke nie-falsifieerbare aspekte, maar in hul geval is daar ‘n ander rede.
Ek beplan om weer later meer hieroor te skryf.
Wow mooi maan foto!!
Nee man, jy debateer te veel oor die maan, die maan is van kaas gemaak!!!
Wag laat ek gaan maan foto’s neem
Ek sien uit na jou volgende skrywes hieroor!
Ek kan nie wag om te lees wat jy nog daaroor te se^ het nie.
Wipneus: van kaas!
ja dis die ander hipotese
Geniet die fotonemery. Jy sal seker nogal hou van spaceweather.com want daar het hulle altyd interessante stories en mooi fotos.
Roer: nou maar dan sal ek moet werk maak daarvan.
Dankie, dit was ‘n interessante lees
Baie dankie Johan Swarts
Ek maan is ‘n deel van die Aarde.
Een van die bewyse is “tidal recods” van meer as 3,2 miljard jaar gelede wat bekend staan as die Moodies Groep, van die oudste bewyse van mikrobiese vorme van lewe hier in ons eie Barberton. Dit dui daarop dat die maan ‘n effense meer elliptiese wentelbaan het dit konstand is met die impak.
Die jong aarde is bestook met meteoriete, daar is talle bewyse daarvoor. So het ons baie van ons minerale gekry. Nuwe navorsing, gepubliseer vanjaar toon ook die Maan as ryk aan water, diep onder sy oppervlakte.
“It suggests that water was present within the Earth before the giant collision that formed the Moon,” Saal said. “That points to two possibilities: Water either was not completely vaporized in that collision or it was added a short time – less than 100 million years – afterward by volatiles introduced from the outside, such as with meteorites.” – Nature, 10 Julie 2008.
Baie interessant Rosa, maar let wel dit bly steeds omstandigheids getuienis.
Dankie, Flippiefanus. Het dit besonders baie geniet om hierdie inskrywing te lees, en niks in my het orent gespring in misnoe nie.
Jy het hipoteses, “modelle” en die wetenskaplike metode mooi verduidelik. Ek het ook daarvan gehou dat jy genoem het dat sommige hipoteses nie sommer net ‘n hap na wind is nie, en gerespekteer word. Jy sal seker verstaan as ek vir jou se dat deel van my navorsing behels om filogenie van sekere organismes na te vors. Nog ‘n voorbeeld van gebeurtenisse wat ‘n mens nie weer kan herhaal nie, en wat ‘n mens met omstandigheids getuienis die hipoteses daaroor moet verbeter.
Om tot my skaamte te erken, ek weet van Popper, maar te min. Het nooit die kursus oor hoe om wetenskap en navorsing te besig bygewoon nie!
Baie dankie annerkant. Jy laat my so goed voel.
Ek moet erken ek weet nie wat filogenie is nie. Jy sal vir ons bietjie ietsie moet skryf daaroor. Ek weet nie regtig so baie van die filosofie af nie 90% daarvan is wat my betref ‘n klomp twak, maar daar is darem so 10% wat nuttige definisies is.
Ek dink jy moet versigtig wees vir omstandigheidsgetuienis met die badwater uitgooi. Dit beteken nie noodwendig iets het nié gebeur nie.
(Popper r0x0rz
)
Johan jy verstaan verkeerd. Ek se^ nie dat dit nie so gebeur het nie. Al wat dit beteken is dat ons nie volgens die wetenskaplike metode kan bewys dat dit wel so gebeur het nie. Dis maw nie streng falsifieerbaar nie. Dieselfde geld vir evolusie. Nogtans glo ek nogal dat God evolusie gebruik het om die divesiteit van lewe op die aarde tot stand te bring.
Moet erken ek weet nie wat r0x0rz beteken nie (neem aan dis ASCII grafika, maar ek kannie mooi sien wat dit moet voorstel nie.)