Burgerskap in God se volk

Op ‘n stadium was daar iewers die vraag wat die definisie van ‘n Christen is. Wel die term beteken eenvoudig dis iemand wat Christus navolg, iemand wat volgens die leerstellinge van Jesus Christus lewe. My vermoede is egter dat die oorspronklike vraag eerder handel oor wanneer iemand gered is, met ander woorde wanneer iemand sal hemel toe gaan. Ongelukkig is nie almal wat hulleself Christene noem noodwendig gered nie. So wat is dan nou die vereistes om gered te wees of hoe werk dit?

Uit die aard van die saak is die antwoord op so vraag van uiters dogmatiese aard. Daar kan baie uiteenlopende opinies oor die saak weet. Die manier wat ek dit hier beantwoord is hoe ek dit verstaan en hoe ek dit glo.

Die Bybel leer vir ons baie duidelik dat nie almal uiteindelik hemel toe sal gaan nie. Nou goed, miskien glo jy dat God in stryd met die Bybel gaan handel en uit liefde en genade aan almal toegang tot die hemel gaan gee. Ek is nie egter bereid om daardie risiko te loop nie.

Daar is dus een of ander vereiste waaraan voldoen moet word om toegang tot die hemel te verkry. Hierdie vereiste is egter baie eenvoudig. Mens moet bloot glo in die evangelie van God. Dit kom basies daarop neer dat Jesus Christus, wat self God is, as mens vir ons sondes kom sterf het en weer uit die dood opgewek is. Op hierdie manier het Jesus vir ons die prys betaal vir die sondelas en sodoende vir ons toegang verdien tot die hemel.

Om dus hierdie toegang te verkry moet mens bloot dit glo. Nogtans is die proses om van ‘n ongelowige in ‘n gelowige te verander nie triviaal nie. Dit moet gepaard gaan met ‘n opregte besluit om mens te bekeer. Die woord bekeer kom daarop neer dat mens ophou om op die ou sondige manier te lewe en om volgens Jesus Christus se lewensbeginsels te lewe. Nou lyk dit seker soos ‘n teenstrydigheid want ek het dan nou sopas beweer dat dit genoeg is om te glo. Dis juis hoekom hierdie besluit om te glo nie triviaal is nie. Want geloof bepaal mens se handelinge. Daarom kan mens uit iemand se handeling sien of so persoon werklik glo. Om dus van ‘n ongelowige lewenswyse oor te gaan na die lewenswyse van ‘n gelowige is dus asof mens ‘n totale nuwe lewe begin. Om hierdie rede word hierdie oorgangsproses baie maal as ‘n wedergeboorte beskryf.

Hierdie besluit om ‘n gelowige te word en die stap wat ‘n mens neem om dit te doen is suiwer iets wat mens uit jou eie keuse doen. Niemand forseer jou om dit te doen nie, ook nie God nie. God mag deur omstandighede en mense ‘n las op jou hart plaas om die besluit te neem, maar die uiteindelike besluit is jou eie.

Nadat jy egter die besluit geneem het skop daar baie kragtige dinge in werking. Die eerste ding is jy ontvang die Heilige Gees. Wat beteken dit? Dit beteken dat deurdat jy die besluit geneem het jy toegang kry tot al God se hulpbronne wat deur die Heilige Gees aan jou geskenk word. Dis amper asof jy nou ‘n USB konneksie het tot God se krag en wysheid. Natuurlik is jy nogsteed in beheer van die mate waartoe dit aan jou geskenk word. Jy het ‘n volume kontrole waarmee jy dit kan beheer. Een van die dinge wat jy deur hierdie krag kry is geloof. Met ander woorde, om die eerste stap te neem moes jy self geglo het, maar nadat jy die stap geneem het word jou geloof deur die Heilige Gees in stand gehou. Jy kan dit natuurlik met jou volume kontrole afdraai as jy wil, maar jy het toegang tot die krag van God om jou deur die moeilike tye te dra.

Verder word jy nou ‘n lid van die liggaam van Christus. Jy kry burgerskap tot God se volk. Gold se volk bestaan uit al die gelowiges dwars oor die hele wereld, ongeag van watter Christen kerk of denominasie hul ook al aan behoort. God werk deur die mens van sy volk. Dit is daarom voordelig vir enige gelowige om in kontak te bly met die ander lede van die volk, ander gelowiges.

Nou kom ons by ‘n baie belangrike aspek van die burgerskap in God se volk. As mens eers ‘n lid van die liggaam van Christus geword het kan jy dit nie sommer maklik weer verloor nie.  As jy daardie volume kontrole so ver afdraai dat jy feitlik niks meer van die Heilige Gees in jou lewe ervaar nie, kan jy die pad byster raak en afdwaal. In sulke gevalle gaan God egter uit sy pad om die afgewaaldes weer terug te bring. In die Bybel word daar vertel van hoe hy 99 skape sal agterlaat om die een verlore skaap te loop soek en hoe daar fees gevier word wanneer daardie een verlore skaap gevind is. Die enigste manier om werklik jou burgerskap tot God se volk te verloor is om die sonde teen die Heilige Gees te pleeg. Dis onomkeerbaar. As mens dit reggekry het dat kan jy nie weer ‘n lid van God se volk word nie. Om egter die sonde teen die Heilige Gees te pleeg moet jy regtig baie ernstig besluit om teen die Heilige Gees se werking weerstand te beid en daarmee te volhard.

As iemand dus nou vir my vertel dat hy of sy op ‘n stadium ‘n Christen was en toe opgehou het om ‘n Christen te wees, dan weet ek dis een van 3 moontlike gevalle:

  1. Of die persoon was nie regtig ‘n Christen nie en het maar net ‘n halfhartig oorspronklike bekering gehad;
  2. Of die persoon is nogsteeds ‘n Christen maar het die volume kontrole baie laag afgedraai en afgedwaal van die pad af. So persoon moet maar net weer die volume kontrol opdraai en terugkeer.
  3. Of die persoon moes die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het. Dis egter baie selde die geval en beslis nie die geval as die persoon duidelik soekend is nie.

Mens kan ook tussen die eerste twee gevalle onderskei bloot op grond van die mate waartoe God in die persoon se lewe aan die werk is. As God baie aktief besig is om die persoon te probeer terug lei dan is kans goed dat dit die tweede geval is. Alhoewel God aan enigiemand sal werk om so persoon te probeer red, doen God baie meer moeite in ‘n verdwaalde gelowige se lewe om so persoon te probeer teruglei.

Ek hoop dit gee so bietjie van ‘n beter prentjie van hoe Christenskap werk en wat ‘n Christen is.

20 Responses to “Burgerskap in God se volk”

  1. Sammi Says:

    Flippie
    Baie dankie hiervoor, dit noop my om te besin en dit maak my oneindig dankbaar dat Hy sy verlore skapies gaan soek.

  2. Mefri Says:

    Flippiefanus, ek glo dit wat jy so raak verwoord het met my hele hart, siel en verstand. Ek leef in Sy lig, ek weet dat die Bose my jag soos ‘n honger leeu, (ek weet jy weet van my innerlike stryd, want jy lees tussen die lyne en ek weet jy lees raak!!!)

    Jesus se gebed vir sy volgelinge is my anker soos dit opgeteken is in Johannes 17, daarmee saam weet ek dat Hy as Hoë Priester vir my intree.

  3. flippiefanus Says:

    Sammi ek is bly dat dit vir jou iets beteken.

    (((Mefri))) sterkte (ek is nie al dag seker ek kan so goed tussen die lyne lees nie :wink: )

  4. Nie die einde oor die terme spiritualiteit en christen nie « Reis na Annerkant Says:

    [...] Flippiefanus ook ‘n interessante inskrywing oor die definisie van ‘n Christen geskryf: Burgerskap in God se volk.)  Ek spring toe daar weg met ‘n definisie, maar besef gou dat ek vasbrand. Ek het besef [...]

  5. annerkant Says:

    Hi Flippiefanus, nie dat dit saakmaak nie, maar dit was Duskant wat my gevra het hoe ek ‘n Christen sal definieer. Ek het maar lelik klei getrap in my poging om dit te antwoord. Jy sal sien, ek het al weer na jou toe gekoppel in my poging om ook by definisies uit te kom. :)
    Weereens dink ek jy het ‘n duidelike idee wat jy verstaan onder verskillende begrippe, en ek is seker ‘n mens kan jou verduideliking ter harte neem.

    My persoonlike reaksie as ek mag: ek vermoed dat ek nooit werklik tot bekering gekom het nie, indien dit ‘n werklikheid is dat ‘n mens totaal tot bekering kan kom. Voordat ek “ontkersten” het (baie jare gelede) het ek wel gepoog om tot bekering te kom, en het ek “geestelikheid” in ‘n kerk ervaar (ek was selfs op ‘n stadium op skool ‘n orrelis! … nie dat dit seker baie beteken in hierdie konteks nie, maar musiek het vir my baie beteken in christen wees), maar ek het altyd getwyfel en christenskap nie as ‘n werklikheid ervaar of aanvaar nie.

  6. flippiefanus Says:

    Annerkant, ek het gesien wat jy geskryf het. Ek sal gaan kommentaar lewer op ‘n stadium. Ja terwyl ek die stuk geskryf het kon ek nie onthou waar ek die vraag gelees het nie. Maar noudat jy ook daaroor geskryf het, kan ek nou weer onthou en teruggaan om dit te lees.

  7. annerkant Says:

    Flippiefanus, ek wou jou nie regtig herinner waar die vraag was nie, wou eintlik meer verduidelik hoekom ek ook die saak aangeroer het. :) Jy het die vraag baie goed geantwoord, en dit het dit vir my maklik gemaak om ook daaroor te skryf, sonder om te verval in skryf oor iets wat ek nie regtig meer so goed ken nie.

  8. Mefri Says:

    Smile

  9. Flippiefanus Says:

    Dankie annerkant.

  10. Pikkelik Says:

    Kolskoot!!! Baie goed verduidelik en saamgevat Flippiefanus..

  11. Flippiefanus Says:

    Dankie Pikkelik

  12. Bertus! Says:

    Wat bedoel jy met die hemel? Waarheen gaan die mense wat nie hemel toe gaan nie? Wat gebeur daar met hulle?

  13. boendoe Says:

    Flippie, met alle respek aan ander skrywers oor geloof en godsdiens, dit was ‘n inskrywing wat ek kon lees EN verstaan. En 100 % mee saamstem, want dis hoe ek dit ook ervaar en verstaan. Nou wag ek vir jou antwoord op Bertus! se vraag! :wink:

  14. flippiefanus Says:

    Bertus: die Bybel gee ons maar beperkte informasie oor die hemel en die hel (soos jy sekerlik self weet :wink: ). Die hemel word beskryf as ‘n plek waar gelowiges by God in sy heerlikheid sal wees. Die wat nie hemel toe gaan nie word “uitgewerp in die duisternis” en daar sal ‘n “geween en ‘n gekners van tande wees”. So jy moet nou maar daarvan maak wat jy wil. :-)

    Boendoe: baie dankie. Hoop jy is tevrede met my antwoord op Bertus. :grin:

  15. Emil Says:

    Net soos Bertus sou ek ook baie vrae uit die stuk kan definieer. Hierdie vrae sal alles dan verband hou met die konsepte soos “redding” en “hemel” – iets wat tereg nie in die Bybel deeglik verduidelik word nie. Mens sou wel kon aanvoer dat hierdie konsepte reeds lank in die antieke tye gevestig is, deur onder andere kulture soos Egipte en hulle geloof in die hiernamaals en Anubis wat die hart op die skaal weeg om te kan bepaal of die persoon vroom genoeg was om die reis te mag ondergaan.

    Ek dink ook die konsep “sonde” is mynsinsiens steeds net Paulus se interpretasie en ek staan maar min oortuig van die rieële waarde daarvan. In my opinie sou dit beteken dat verskeie kerkvaders reeds in hierdie strik geval het. Ek herhinner vaagweg bloedbelope woestynsand in die Midde Ooste en brandstapels vir sodanige kettery. Wat beteken hierdie sonde teen die Helige Gees dan nou eintlik, en is dit soortgelyk aan die Rooms-Katolieke kerk se 7 erfsondes? Ek dink as Petrus sy ontkenning van Jesus vergewe kon kry, is daar tog seker niks buite die genade van God nie. Of as Paulus toe nog Saulus die Christene vervolg het en sodanig teen God gesondig het in sy blatante ontkenning van Hom ook vergifnis kon ontvang het (neem ons mos aan na aanleiding van sy geskrifte), is ek oortuig hierdie vergifnis is ander beskore. Terloops, ek het eintlik ‘n broertjie dood aan dogma :wink:

    Ek dink ek sal maar moet volstaan met die gedagte dat ek dan dalk nooit ‘regtig’ ‘n Christen was, of daadwerklik tot bekering gekom het nie – nou ontstaan daar weer vrae oor my vroeë sendingpogings in Afrika, en die besingsels van verdraagsaamheid waarmee ek my lewe lei :wink:

    Persoonlik is dit vir my beter om ‘n moreel-etiese en verdraagsame lewe in die praktyk te lei as wat ek worstel met kwessies van geloof, sonde of die hiernamaals. Ek dink nie iemand weet nie. Hoe dan nou van die religieuse filosofië soos Boeddhisme, Taoisme, Hinduisme of dan selfs die meer moderne Islam en Judaisme?

    Die kwessie van redding en dies meer klink my al te veel na ‘n lottery. Ek glo in die Skepper – en dis genoeg. My geloof is sterk genoeg en het geen dogmatiese verduidelikings of leerstellinge nodig om my gekose manier van uitlewing te oordeel of te bevestig nie.

    Goeie inskrywing, flippiefanus!

  16. flippiefanus Says:

    Dankie Emil. Al is die konsep van die hemel soos dit in die Bybel weergegee word miskien vaag is die hele aspek van die redding egter baie duidelik en vanuit verskeie fassette uiteengesit in die Bybel. Daar is min twyfel oor wat redding beteken. Miskien kan ek op ‘n stadium daaroor verder uitbrei.

    Feitly die grootste deel van die Bybel handel oor sonde so daar is ook baie meer duidelikheid oor wat sonde is. Nogtans is daar baie aspekte van sonde waaroor geredeneer word. Dis hoekom ek dit probeer aanspreek het in my opskrywing oor “Moraliteit in ‘n veranderende wereld”.

    Ek aanvaar dat jy dinge op ‘n ander manier sien en ek respekteer dit.

  17. Rustig Says:

    Flippie: Dit is maar soms ‘n moeilike konsep om weer te gee. Laat my dink aan iemand wat vra hoe weet ons iemand is lief vir jou. As persoon dit sê of wys, selfs dan weet jy nie regtig nie. Jy glo dit en aanvaar dit. Dit is al. Soms is daar net te veel redenasies oor sommige dinge. Hemel en hel was nooit beskryf in “detail” in die Bybel nie. Soms wil mense weet hoe dit lyk asof hulle ‘n vakansie koop en net seker maak hulle kry waarde vir geld.
    ;)

  18. Emmabel Says:

    Flippiefanus, ek het vir ‘n rukkie van die blog verdwyn, want as ek blog is dit al wat ek doen. Nou is ek terug met goeie voorneme om myself te beperk. Tot ek nou op jou afgekom het, want hier sit ek weer en lees elke stukkie. Baie nice Post!!!!

  19. boendoe Says:

    Goeie antwoord, Flippie. :wink:

  20. flippiefanus Says:

    Rustig: Jy’s reg dit kom eenvoudig op geloof neer.

    Emmabel: Baie dankie. Ja dis iets wat mens nogal aan verslaaf kan raak. :-)

    Dankie boendoe

Leave a Reply