Kinders en kultuur

31 Oktober 2008

Onlangs het Annerkant ‘n inskrywing gemaak oor kinders en Rosalind het iewers kommentaar gelewer oor wat kinders deur oorerwing ontvang. Dit het my laat dink aan die hele kwessie van kinders en kultuur. Nou moet ek eers noem dat ek self nie kinders het nie. Al is ek baie lief vir kinders kan ek myself nie beskou as iemand met enige besondere ervaring in kinderopvoeding nie. Nogtans is daar dalk meriete in die meer objektiewe siening van ‘n buitestaander. ;-)

In haar kommentaar het Rosalind melding gemaak van die debat tussen “nature” en “nurture”. My vermoede is dat hierdie debat grootendeels plaasvind as gevolg van mense se verskillende begrippe van sekere konsepte. In die opsig maak dit dalk sin om hierdie begrippe duideliker te omskryf.

Dit is heeltemal redelik om te aanvaar dat daar sekere gedragspatrone en basiese vermoëns by mense is wat deur oorerwing bepaal word. ‘n Voorbeeld wat Rosalind genoem het is die vermoë van ‘n mens om tale te kan aanleer. Dit het tedoen met die “bedrading” van ‘n sekere deel van ‘n mense se linkerbrein. Mens kan ook nog redeneer dat emosionele reaksies ook ‘n voorbeeld van geneties geprogrammeerde gedrag is. Baie van die basiese dinge wat babas doen soos om te kan suig en op ‘n stadium te kan kruip is waarskynlik ook gedrag wat geneties bepaal word. Al hierdie tipe gedrag gaan ek saamvat as instinktiewe gedrag.

Instinktiewe gedrag kan mens egter nie na regte “kennis” noem nie. Kennis is eerder informasie wat mens met jou sintuie waarneem en dan in jou brein stoor. Daarom wil ek ‘n onderskeid maak tussen instinktiewe gedrag wat deur oorerwing bepaal word en kulturele gedrag wat deur aangeleerde kennis bepaal word. In die eerste plek het ons die natuur van die mens en in die tweede plek die kultuur van die mens. Kultuur is dus alles wat nie natuur is nie. (Kultuur is nie net liedjies, boeke en toneelstukke nie.)

Kultuur bevat ook die moraliteit. As dit nie vir kultuur was nie sou die mens soos diere opgetree het. Die waardestelsel sou een gewees het van oorlewing van die sterkste soos dit deur biologiese evolusie ingeprogrammeer is. Kultuur is dit wat maak dat die mens ook omgee vir die swakkere lede van die gemeenskap. Dit is ook wat dit beteken om beskaafd te wees. Kultuur is dus van kardinale belang vir die voortbestaan van beskawing.

In Suid Afrika het ons ‘n duidelik sigbare voorbeeld van wat gebeur as mense sonder hul kultuur grootgeword het. Daar is ‘n hele generasie van “agtergeblewenis” wat nie meer hul tradisionele kultuur het nie. Uit hulle geledere het daar ‘n kriminele element ontstaan wat geen respek vir ‘n mens se lewe het nie. Hulle roof en moor tot so mate dat die Suid Afrikaanse misdaad syfer rekord vlakke in die wêreld bereik het. Hierdie kultuurlose mense is vir praktiese doeleindes net soos diere.

Om te verhoed dat mense sonder kultuur grootword (of dat ‘n gemeenskap sy kultuur verloor) is dit van kardinale belang dat kinders opgevoed word. Die opvoedingsproses is presies die proses waardeur die kultuur van een geslag oorgedra word na ‘n volgende geslag. Dit is ‘n miete dat kinders vir hulle self kan besluit wat is reg en verkeerd. As jy dit nie vir hulle leer nie veroorsaak die leemte dat kinders terugval op die instinktiewe dierlike gedrag. Dit is dus beter dat mens vir hulle so veel as moontlik van jou kultuur leer, selfs al voel mens partykeer dat van die gebruike dalk uitgedien is. Wanneer kinders groter word sal hulle self kies tussen dit wat hulle as uitgedien beskou en dit wat hulle wil behou. In die proses het jy vir hulle die keuse gegee.

Hoe groter die kultuur wat aan ‘n kind oorgedra word, hoe beter is die kind toegerus vir die lewe. Een van die dinge wat die sosiale klasse in die samelewing onderskei is juis die grootte van die kultuurkennis waaroor ‘n persoon van daardie klas beskik.

‘n Kind se opvoeding is ‘n proses wat elke oomblik van die dag, elke dag plaasvind. Dit word gedoen deur elke ding wat jy vir die kind sê; deur die voorbeeld wat jy stel in jou eie optrede; deur die manier waarmee jy reageer op wat die kind sê en doen.

Opvoeding is ook iets wat voordurend ondersteun word deur liefde vir die kind. Hoe groter jou liefde vir die kind, hoe belangriker sal die opvoeding van die kind vir jou wees.

Mag ons nooit toelaat dat ons kultuur so verweer as gevolg van ons eie nalatigheid in die opvoeding van ons kinders dat ons nageslag as kultuurlose diere in ‘n ongenaakbare wêreld moet leef nie.


Sterretjies en die internet

26 Oktober 2008

So rukkie terug het Johan Swart gewonder of daar al meer “files” op die internet is as sterretjies in die waarneembare heelal. Wel tipies nerd het ek gedog dis nogal ‘n interessante uitdaging om aan te pak. Aanvanklik het ek gedog ek sal dit sommer self probeer estimeer, maar ‘n vinnig paar soektogte op die internet het gewys dat die informasie baie makliker bekombaar is. (Pretbederwers!) Nogtans het ek besluit dis tog interessant om dit te vergelyk.

Wat die “files” op die internet betref neem ek aan mens kan kyk na die aantal webblaaie. Ek besef dis nie heeltemal dieselfde nie maar die verskil behoort minder as ‘n grootte orde te wees. Wat die aantal webblaaie betref het ek die volgende aanhaling gekry.

The Internet contains over 2.1 billion pages (July 2000 estimate by Cyveillance). Every day more than 7 million new pages are being added. It is predicted that there will be more than 4 billion pages by early 2001.

As mens nou die aanname maak dat die internet eksponensieël groei dan impliseer hierdie informasie ‘n verdubbelingsperiode van omtrent 200 dae. Sedert 2000 moes die internet dan gegroei het met ‘n faktor van omtrent 13000. Dit bring die huidige aantal webblaaie by ‘n bedrag van omtrent 27 biljoen (27 miljoen miljoen) webblaaie.

Soek resultaat op Google

Soek resultaat op Google

Ons kan ‘n toets doen om te bepaal of hierdie estimasie akkuraat is. Mens gebruik ‘n soekfasiliteit soos Google of Yahoo en soek dan vir iets soos “1″ of “a” wat in redelik baie van die webblaaie behoort te verskyn. Hierdie soektog lewer 35 miljard (35 duisend miljoen) resultate vir beide “1″ en “a” as mens Yahoo gebruik en omtrent 20 miljard as mens Google gebruik. Die verskil is nogal groot, maar beide bedrae is nogtans in dieselfde order grootte. Mens kan aanvaar dat daar dalk baie webblaaie is wat nie ‘n “1″ of ‘n “a” bevat nie, maar ek sal verbaas wees as dit so baie is dat die totale aantal soveel as 27 biljoen is. Daarom verwag ek dat die ware aantal nader aan 35 miljard as 27 biljoen sal wees. My skatting is hier by die 100 miljard. Dit impliseer dat die internet nie heeltemal eksponensieël groei nie, maar eerder meer lineêr groeie.

Goed so kom ons gebruik dan nou ‘n bedrag van 100 miljard (100 000 000 000) vir die aantal webblaaie.

Om te bepaal hoeveel sterre daar in die heelal is bepaal ons eers hoeveel sterrestelsels daar naastenby is en dan bepaal ons wat die gemiddelde aantal sterre per sterrestelsel is. Daar is al ‘n verskeidenheid van estimasies gedoen van die aantal sterrestelsels in die heelal. Die beste daarvan is danksy die Hubble teleskoop gedoen en dit kom neer op ‘n bedrag in die orde van 100 miljard. Oeps! :shock: So daar is al klaar soveel sterrestelsels as wat daar webblaaie op die internet is.

Hoeveel sterre is daar in ‘n sterrestelsel? Dit kan blykbaar nogal baie verskil maar die aantal sterre in meeste sterrestelsels is blykbaar in dieselfde grootte orde as ons Melkwegstelsel. Ons Melkwegstelsel het na raming 200 tot 400 miljard sterre. So kom ons gebruik ‘n gemiddelde bedrag van 100 miljard sterre per sterrestelsel. Dit beteken dat die totale aantal sterre in die grootte orde van tien duisend triljoen (10 000 000 000 000 000 000 000) is.

So ek dink dis duidelik dat daar baie meer sterretjies in die heelal is as webblaaie op die internet. ‘n Interessante vraag is nou: hoe lank sal dit neem vir die internet om ook naastenby soveel webblaaie te bevat as wat daar sterretjies is? Wel as dit eksponensieël groei sal dit na raming nog so … 20 jaar vat. ;-)


Ode aan my rusbank

24 Oktober 2008

O my liewe rusbank

op jou slaap ek so lekker.

Hoe is dit dan tog rusbank

dat mens so lekker op jou rus?

Goed dis seker nou nie die beste “ode” wat mens vir ‘n rusbank kon skryf nie, maar dalk is dit die enigste ode wat nog ooit vir ‘n rusbank geskryf is. :wink:

My rusbank kom nou al ‘n lang pad saam met my. Dit was deel gewees van ‘n volledige sitkamerstel, maar nadat ek Kanada toe is en die plekkie waar ek ingetrek het so met die oog gemeet het, het ek laat weet dat my familie maar liewer net die rusbank moet stuur en nie die res van die sitkamerstel nie.

In daar dieselfde woonstel wat so halfmas onder grond was (die vensterbank was gelyk met die grasperk) het ek slaapprobleme ontwikkel. Bo my het ‘n vroumens wat ek kon sweer ‘n prostituut was gewoon. Haar middernagtelike manewalisse het my baie maal uit die slaap gehou. (Daar’s so fliek met Michael J Fox in wat die scenario goed uitgebeeld het. Kan nie die fliek se naam onthou nie.)

Nou ja toe lees ek eendag op die internet dat om slaaploosheid tee te werk moet mens partykeer mens se slaapomgewing verander. Die redenasie is dat mens gewoond raak om wakker te wees in jou bed en dan kan mens nie meer daar aan die slaap raak nie. So dis hoe dit gekom het dat ek na ure se rondrol my kombers so agter my aansleep oppad rusbank toe. En dit werk! Menigmaal as die slaap my ontwyk in my bed dan vind ek dit op my rusbank.

Prentjie vanaf Flickr

Prentjie vanaf Flickr

So ek en my rusbank het ‘n besondere hegte verhouding. Ek sal dit eenvoudig nie kan regkry om die ou rusbank weg te maak nie, al begin die bekleedsel nou al bietjie sleg lyk. Miskien moet ek een of ander tyd die ding laat herstoffeer, miskien met leer. Dis nou so hoog mode.


Die gebrokenheid

22 Oktober 2008

Hier is ‘n voortsetting van die bespreking oor ‘n Skepper en sy skepping.

Dit is baie moeilik om oor die gebrokenheid wat daar in die wêreld is te skryf. Wanneer iemand vrae oor die gebrokenheid vra soos Jaco dan is dit moeilik om antwoorde daarvoor te gee. Daar is ‘n eindelose hoeveelheid vrae wat mens oor die gebrokenheid kan vra. Hoekom kry goeie mense kanker? Hoekom gaan klein onskuldige kindertjies dood? Hoekom floreer oneerlike mense terwyl regverdiges krippeer? Party mense antwoord dat dit eenvoudig is hoe die lewe is en gebruik dit as ‘n rede hoekom hulle nie glo dat daar ‘n God is nie. Ander antwoord dat dit as gevolg van die gebrokenheid is.

Op soortgelyke trant word die Christelike geloof veroordeel en daarvan beskuldig dat dit die grootste rede is vir oorloë en gruweldade deur die geskiedenis. Retha verskaf egter statistieke wat toon dat hierdie stellings nie waar is nie. Nogtans is dit ‘n deurlopende tema in baie mense se oortuigings. Die vraag word steeds gevra hoekom God toelaat dat sulke dinge in die wêreld gebeur. Die antwoord op hierdie en soortgelyke vrae kom altyd op een of ander manier neer op die gebrokenheid in die wêreld. Mens kan nie God daarvoor blameer nie. Dis die gebrokenheid van die wêreld wat daarvoor verantwoordelik is.

Goed, maar dan bly daar egter nog die een vraag oor, hoekom die gebrokenheid? As God almagtig is kon Hy mos die wêreld so gemaak het dat daar geen gebrokenheid in is nie. Waar kom die gebrokenheid vandaan? Ek gaan hier eers bloot herhaal wat ons uit die Bybel daaroor leer. Daarna gaan ek probeer dieper delf. Dit is uit die aard van die saak my eie poging om sin te maak van hierdie moeilike onderwerp. Wees gewaarsku. Dit mag dalk nie so aangenaam wees om dit te lees nie.

In die Bybel word vertel van die sondeval. God het as deel van die spirituele wêreld ‘n klomp engele geskep. ‘n Derde van hierdie engele het onder aanvoering van een genaamd Lucifer in opstand teen God gekom. Hierdie gekorrupteerde engele, wat ons nou duiwels noem, het toe gegaan en die aarde ook gaan korrupteer. Onder andere het Lucifer, wat ook die Satan genoem word, vir Adam en Eva gaan verlei om teen God te sondig. In die proses is die hele mensdom in sonde gedompel en het die gebrokenheid die hele aarde besmet. Alles wat negatief en sleg is in die wêreld vandag word daaraan toegeskryf.

Vir meeste mense is dit voldoende om die saak op hierdie manier te sien. As dit die geval is, dan is dit goed. Moenie verder lees nie.

Daar word gesê dat die eerste dele in die Bybel metafories bedoel is. Die detail wat daar beskyf word is dus nie letterlik bedoel nie. Hierdie dele handel baie oor wat sonde is. Dit word beskryf deur verskeie voorbeelde en verhale. Wat ek dus daaruit kry is dat sonde ‘n realiteit is in die geskape wêreld. Die gebrokenheid is nie net op die aarde teenwoordig nie. Dit strek deur die hele heelal. Deel van die gebrokenheid is die verganklikheid — die neiging vir alles om tot niet te gaan. Dit kan mens as ‘n patroon waarneem in die fisiese heelal. Die patroon staan bekend as die tweede wet van termodinamika wat sê dat alles na wanorde neig. So, as God die patrone in die skepping vasgelê het, dan het Hy ook die verganklikheid in die heelal vasgelê. Dis egter nie uitsluitlik ‘n slegte eienskap nie. Dit is byvoorbeeld danksy die feit dat dinge na wanorde neig wat maak dat die proses van natuurlike seleksie kan werk, want dit verwyder die swak mutasies om sodoende die enkele goeie mutasies te bevorder. Deur hierdie proses het God alle lewe op aarde geskep, insluitend die mens.

As die mens net so sonder ‘n siel gelaat is sou hulle soos robotte gewees het wat bloot optree volgens die insette wat verkry word. Sulke siellose wesens se besluite sou vasgelê wees as deel van die patrone wat God in die heelal neergelê het. God het egter besluit om aan elke mens ‘n siel te gee wat onafhanlik is van God en ‘n vrye wil het. Die besluite van mense is dus nou hul eie verantwoordelikheid. Hierdie besluite word nogtans binne die geskape heelal gemaak en uitgevoer en moet daarom die beperkings van die geskape heelal bevredig. Omdat die heelal egter die verganklikheid bevat is die mens daartoe instaat om besluite te neem wat destruktief van aard is. Die mens het dus nou die keuse om sonde te doen. Die tweede wet van termodinamika impliseer verder dat die mens ‘n neiging het om oorwegend sonde te doen. Dus, as die mens op sy eie gelaat was, sou hy homself en alles rondom hom vernietig het. God het om hierdie rede besluit om in te tree en Homself aan die mens te openbaar en aan hom ‘n kulturele insentief te gee om eerder die goeie te kies wat opbouend is.

Toe God die heelal geskep het, het Hy dit nie net aan die begin van tyd geskep en gelaat om self te ontwikkel nie. Hy het die heelal vir alle ruimte en tyd geskep. Binne hierdie volledige heelal het Hy mense geplaas wat elkeen sy eie siel het. Die besluite van hierdie mense tree as randvoorwaardes op wat binne die dinamika van die patrone wat God in die heelal neergelê het, bevredig moet word. Al het God nie beheer oor die besluite wat mense neem nie, kan Hy die uiteinde daarvan sien. Hy kan sien hoe hierdie besluite deur die patrone in die volledige heelal bevredig word. Nadat God dit alles tot stand gebring het en gesien het hoe die mensdom se besluit dit affekteer, met inbegrip van Sy eie ingryping, het Hy gesien dat dit goed is en het Hy verklaar: “Dit is goed”. Dit ten spyte van die gebrokenheid.

Hoe is dit moontlik? As mens iets wat negatief is laat inwerk op iets anders wat ook negatief is dan is die resultaat positief. As jy vergeet om te vergeet dan onthou jy. ;-) As mens die sonde, wat negatief is, straf, wat ook negatief is, dan is die sondeskuld betaal en die resultaat is positief. Sodoende is dit moonlik om al die negatiwiteit in die heelal te kanselleer sodat die uiteindelike resultaat positief en goed is.

Miskien kan jy dit wat ek hier geskryf het nog aanvaar. Miskien wyk dit nie te vêr af van dit wat jou laat rustig voel nie. Wees dan gewaarsku, dit wat ek nou hier verder skryf is net bedoel vir diegene wat steeds nie tevrede is met die gebrokenheid in die wêreld nie.

Dit is noodwendig die lot van die mens dat jy nie verder as die horison kan sien nie. Die groter prentjie word versluier en al wat jy sien is die moord en doodslag rondom jou; honger kindertjies wat in hulle moeders se arms sterf; politici wat ‘n land se mense en hulpbronne misbruik om hulself nog meer mag te gee; ryk magnate wat hul werknemers misbruik om hulself nog verder te verryk; diktators wat gruweldade pleeg en miljoene mense laat uitmoor. Jy sien hierdie gebrokenheid in die wêreld en jy skud jou vuiste voor God. Jy kla Hom aan. Jy daag Hom voor ‘n hof en laat Hom tereg staan vir al die dinge wat gebeur. Jy verklaar soos Nietzsche dat as hierdie dinge in ‘n wêreld, geskape deur ‘n almagtige God, toegelaat word, dan kan daar net een slotsom wees: God is dood!

Dit is ‘n verskriklike ding as ‘n skepsel sy Skepper aankla. As die Skepper die persoonlikheid en karakter van enige van sy aanklaers gehad het sou Hy in so geval met een veeg sy aanklaer en dalk daarmee saam die totale heelal verdelg het. Dit is ‘n verskriklike ding om in die hande van die lewende God te land.

Genadiglik is ons God nie soos sy aanklaers nie. Ons God is ‘n God van liefde. God het sy skepping lief. As jy kinders het en jy kyk na hulle terwyl hulle so onskuldig lê en slaap, sal jy dalk iets kan verstaan van die liefde wat God vir Sy skepping het. God het ingegryp. Hy het mens geword. Hy het toegelaat dat hulle Hom aankla. Hy het toegelaat dat hulle Hom “skuldig” bevind al is Hy onskuldig. Hy het selfs toegelaat dat hulle Hom ter dood veroordeel en as Christus, die mense, moes Hy ‘n verskriklike dood sterf. Christus, die mens, het gesterf, maar God sterf nie. God het self die verganklikheid as patroon in die heelal neergelê, daarom is Hy nie onderworpe aan die verganklikheid nie. Sy heerskappy oor die verganklikheid is daarin bewys dat hy Christus, die mens, weer uit die dood laat opstaan het. Daardeur het Hy ook sy heerskappy oor die totale gebrokenheid bewys en getoon dat alle mense eendag uit die dood opgewek kan word.

God het dit alles reeds laat plaasvind lank voor Nietzsche nog sy eerste doek vuilgemaak het. Die skuld is betaal. Watter skuld? Jy besluit. Is dit jou eie sondeskuld oor die verkeerde besluite wat jy in jou lewe geneem het? Glo jy dat God met Sy kruisiging jou sondeskuld betaal het? Dan is jy daarvan verlos en jy sal saam met God in sy heerlikheid sonder gebrokenheid vir ewig kan leef?

As jy egter steeds vaskleef aan die oortuiging dat God die skuld dra. Mens, dan is daar vir jou geen genade oor nie. Hoe vreeslik moet dit wees om dan in die hande van die lewende God te land. Jy was gewaarsku.


‘n Skepper en sy skepping

19 Oktober 2008

Meeste mens het ‘n behoefte om van tyd tot tyd skeppend te wees. Al is dit net hoe ‘n persoon die goed op sy of haar lessenaar rangskik en sodoende orde te “skep”, op een of ander manier moet daardie skeppingsdrang tot uiting kom. Om hierdie rede het ek self al probeer om bietjie te verf. Ek sou nie beweer dat ek juis iets besonders kon skep nie, maar ten minste het dit my ‘n waardering gegee vir wat ander beter kunstenaars al vermag het.

Wanneer ‘n kunstenaar besluit om ‘n kunswerk te maak dan kies die kunstenaar een of ander medium soos olieverf op ‘n doek. Hierdie medium het noodwendig sekere fisiese beperkings. Byvoorbeeld, ‘n doek is ‘n twee-dimensionele oppervlakte. Dit verg dus ekstra kreatiwiteit van die kunstenaar om drie-dimensionele tonele daarop uit te beeld. Die kunstenaar mag ook nog verder besluit om beperkings op die kunswerking te stel. Hierdie kunsmatige beperkings bied dan ‘n nog groter uitdaging aan die kunstenaar se kreatiwiteit. Feitlik alle kunswerke het sulke kunsmatige beperkings wat as die “styl” van die kunstenaar geïdentifiseer word. ‘n Voorbeeld daarvan is pointillisme. Dit is ‘n styl wat tydens die post-impressionisme deur George-Pierre Seurat by uitstek gevolg is. In hierdie styl beperk die kunstenaar hom- of haarself om slegs van kolletjies verf gebruik te maak om die kunswerk te produseer. Die prentjie hieronder wys hoe een van sy kunswerke lyk. Mens kan nie die kolletjies sien nie want dis te klein relatief tot de grootte van die totale kunswerk.

Un dimanche après-midi à l'Île de la Grande Jatte van Georges-Pierre Seurat

Un dimanche après-midi à l'Île de la Grande Jatte van Georges-Pierre Seurat

Natuurlik, van weë my geloof gee my eie kunspogings my ook ‘n nuwe waardering vir die groot Kunstenaar wie se kunswerk niks anders as die hele heelal is nie. Om die waarheid te sê, telkens wanneer ‘n kunstenaar een of ander kunswerk skep uit een of ander medium binne die fisiese en kunsmatige beperkings wat daarmee geassosieer is of deur die kunstenaar selfopgelê is, dan gee dit onvermydelik erkenning aan die groot Kunstenaar wat uit niks kan skep sonder enige beperkings.

Dit gaan verder. Wanneer ‘n wetenskaplike die natuur bestudeer en modelle ontwikkel om die natuurwette te beskryf, dan beoefen hierdie wetenskaplike ook ‘n vorm van kuns. Sien, wetenskaplike modelle val nie uit die lug uit nie. Dit moet geskep word. Die hele skeppingsproses van wetenskaplike modelle het besonder baie ooreenkomste met die maak van ‘n kunswerk. Dit verg kreatiewe denke en word baie maal gebasseer estetiese beginsels. (Toegegee, wat mooi is vir ‘n wetenskaplike is nie noodwendig mooi vir die algemene publiek nie.) Daar is egter een besondere eienskap wat die skep van wetenskaplike modelle onderskei van ander vorme van kuns. Die beperkings word stelselmatig al strenger. Kuns in die algemeen probeer baie maal om ontslae te raak van onnodige beperkings. Soos wetenskaplike waarnemings toeneem word die vereistes vir die modelle om al die waarnemings te bevredig al strenger. As daar ooit ‘n finale teorie sal wees, sal dit waarskyn tot so mate beperk wees dat feitlik alle vryheid tot kreatiwiteit verwyder sal wees. So finale teorie sal dus volledig vasgestel wees deur al die geakkumuleerde beperkings van alle voorafgaande wetenskaplike kennis.

Hierdie kunsvorm vereer die groot Kunstenaar op ‘n besondere manier. Nie net alleen is dit soos ander kunsvorme ‘n refleksie van die skeppingsdaad nie, maar verder is dit spesifiek gewei aan die groot Kunstenaar se kunswerk. Dit poog om so veel as moontlik van hierdie kunswerk te dupliseer in die mensdom se verstandswêreld. Hierdie dupliseeringsproses is al vir eeue aan die gang en nog is die einde nie in sig nie. Uit die aard van die saak is dit nie eers in beginsel moontlik om dit volledig te kan dupliseer nie. Nogtans is die proses ‘n besondere vereering van die groot Kunstenaar en sy kunswerk.

Al kan God as die groot Kunstenaar sonder beperkings skep het Hy nogtans besluit om kunsmatige beperkings in te stel in sy kunswerk, die heelal. Hy het patrone in hierdie kunswerk vasgelê wat dwarsdeur die hele kunswerk dieselfde bly, soortgelyk aan die kolletjies wat Seurat gebruik het in sy kunswerke. Die patrone in die heelal sien ons as die natuurwette. Hierdie natuurwette definieer dus die styl van die grootse kunswerk wat die heelal is.

Toe God gesê het “laat daar lig wees” en die “lig” tot stand gekom het, het Hy al die natuurwette soos patrone in die heelal vasgelê. Hy het ook in die proses die kennis van hierdie patrone geskep. Die patrone is op so manier neergelê dat dit verstaanbaar is. Later, toe Hy die mens geskep het, het Hy gesorg dat hulle die vermoë sal hê om hierdie patrone tot ‘n groot mate te kan verstaan en Hy het ook aan hulle ‘n nuuskierigheid gegee om hierdie patrone te wil verstaan. Dit was dus sy bedoeling dat die mense hierdie patrone sou bestudeer en sodoende daardeur sy Naam verheerlik.

Een van die redes hoekom dit vir die mens moontlik is om die patrone te kan bestudeer en verstaan is omdat die patrone herhaal. As die omstandighede waarbinne ons iets waarneem dieselfde is dan kan ons weer dieselfde resultaat verwag. Indien die patrone nie sou herhaal nie sou ons dit nie kon bestudeer en verstaan nie.

Al het God hierdie patrone neergelê met die bedoeling dat dit deur die hele heelal dieselfde moet wees, is daar omstandighede waar hierdie patrone verbreek moet word. So geval word dan deur mense binne die heelal ervaar as iets “bonatuurliks”. Ons noem dit ook ‘n wonderwerk. Vir God is dit egter niks uitsonderliks nie. Dis bloot ‘n verbreking van die patrone. Dis net so maklik vir Hom om so patroon te verbreek as wat dit vir Seurat sou wees om ‘n kwashaal eerder as ‘n kolletjie iewers in sy kunswerk te gebruik. So verbreking van die patroon is egter nie iets wat deur die hele heelal geld nie en dis uit die aard van die saak ook nie iets wat die hele tyd herhaal word nie. Om hierdie rede is die situasies waar sulke verbrekings van patrone plaasvind nie iets wat die mens kan bestudeer en verstaan nie.

Op hierdie punt dink ek moet ek eers halt roep. Ek sal nog meer oor hierdie onderwerp wil sê, maar dit sal moet wag tot ‘n volgende inskrywing. Hierdie een word nou te lank.