Ware demokrasie
Dis stemdag. Daar staan jy in die klein stemhokkie met jou potlood in jou hand en die naakte stembriefie oopgevou voor jou. Dis die oomblik van waarheid. Jy dink daaraan dat mense oral in die wêreld al baie die stryd gevoer het en daar al baie bloed gevloei het vir hierdie voorreg om te kan doen wat jy nou gaan doen. Nee, korregeer jy jouself, dis nie ‘n voorreg nie, dis ‘n reg — ‘n fundamentele mensereg. So hierdie is ‘n groot oomblik.
Jy neem die stembrief en jy kyk na die lys van name. Daar is al die partye en hul kandidate gelys. Een van die partye is die regerende party wat aan bewind was vir die afgelope aantal jare. tydens die aanloop van die verkiesing het jy al lank gedink oor of jy weer vir die regerende party wil stem. Na al die beloftes wat by die vorige verkiesing gemaak is en nie nagekom is nie, al die wanbestuur wat plaasgevind het en selfs daardie skandaal van die een korrupte minister het jy besluit dat jy beslis nie weer vir hierdie party sal stem nie. Nou is daar die ander partye, meeste van hulle is redelik klein en hulle beleidsverklarings is in ieder geval van so aard dat jy nie baie graag vir hulle sal wil stem nie. Dan bly daar die een of twee partye oor wat moontlik as die nuwe regerende party kan optree na die verkiesing. Jou hart sak in jou skoene want nie een van hierdie partye voel jy baie gerus oor nie.
Eers sit jy weer die potlood en die briefie neer en slaak ‘n sug van moedeloosheid. Hierdie is ‘n belangrike ding en jy wil seker maak dat jy dit reg doen. Jy kan net een kruisie trek en jy gaan eers weer ook 4 of 5 jaar die volgende geleentheid kry om dit weer te kan doen. Met hierdie kruisie moet jy nou die land se regering stuur sodat dit op ‘n goeie pad gaan wees vir die volgende vier jaar. Die frustrasie begin opbou. Hoe de ongeluk gaan jy dit regkry met hierdie een kruisie en hierdie beperkte keuse?
Voor die verkiesing was daar baie debatte en advertensies en nuusberigte oor uitsprake. Dit tref jou dat die arme mense wat dwarsoor die land vandag moet stem soos ‘n trop skape heen en weer gejaag is deur misleidende uitsprake en manipulerende retoriek. Jy pers jou lippe saam en kyk daai stembrief met stadig opbouende woede aan. Dis mos nou twak hierdie. Is demokrasie nie veronderstel om te beteken dat die volk regeer nie? Hierdie kamtige mensereg van jou is mos nou niks anders as ‘n gepaai nie. Dis mos nou maar ‘n manier om die mense te laat glo dat hulle die land regeer, terwyl hulle soos ‘n breinlose massa gemanipuleer word deur die klomp magsugtiges wat besig is om ‘n politieke speletjie te speel. Hulle weet niks van regeer af nie want kyk hoe gaan dit.
Met ‘n vasberade uitdrukking op jy gesig tel jy weer die stembriefie en die potlood op. Jy besluit om protes aan te teken, nie protes teen een of ander wandaad van die regerende party nie, ook nie teen die regerende party as sulks of vir daardie onthalwe teen enige ander party nie. Nee jy teken protes aan teen die hele proses. As hierdie ‘n demokrasie is dan wil jy deel hê aan die regering van hierdie land op ‘n deurlopende basis. Daar moet ‘n beter manier wees as hierdie gestemmery.
Jy stap uit die stemhokkie uit reguit na die stembeampte toe wat by die stembus staan. Hy kyk jou met vrees in sy oë aan want dit lyk asof jy kom om met hom ‘n tweegeveg aan te knoop. Met uitdaging oorhandig jy jou stembriefie. Sy oë rek nog verder as dit val op die groot gat wat jy dwarsdeur die stembriefie gemaak het met jou potlood. Hy trek ‘n skewe mond en druk jou stembriefie in die bus. Soos ‘n donderwolk verlaat jy die stemlokaal.
Oppad terug kar toe besluit jy dat jy nie net elke 4 of 5 jaar wil stem nie. Wie kan ‘n kar bestuur deur net elke 4 of 5 minute een keer aan die stuurwiel te mag raak. Vroëer jare was hierdie stembriefie idee miskien die enigste opsie wat mense gehad het om hul opinie bekend te maak, maar vandag is daar baie meer opsies met al die nuwe tegnologie. Hoekom is die moontlik vir sekere organisasie om statisties tot ‘n goeie akkuraatheid te kan bepaal wat die uitslag van die verkiesing gaan wees nog voor die verkiesing plaasgevind het? Hulle doen dit deur mense se opinies te vra. Die uitslag word altyd gegee saam met die statistiese onsekerheid. Nogtans kan hulle dit bepaal sonder die vreeslike stemproses. Nou hoekom kan hulle dit nie meer gereeld doen oor elke enkele aspek waaroor die landburgers graag ‘n sê sou wou hê nie? Hoekom kan hulle nie die mense se opinies gebruik om te bepaal of so-en-so wet goedgekeur moet word nie of om te bepaal of daardie slegte minister afgedank moet word nie? As die uitslag van so opname is dat die mense van die land voel die minister moet afgedank word moet die regering geforseer wees om daaraan gehoor te gee. Dis wat ware demokrasie beteken. Nou wat dan van die statistiese onsekerheid? Goed, die regering is vry om sy eie besluit te neem as die uitslag binne die statistiese onsekerheid van 50% af is. Meeste van die tyd is die statistiese onsekerheid in ieder geval in die omgewing van 2% tot 3%. As hulle wil kan hulle die statistiese onsekerheid vasmaak op 10%. As die uitslag dan meer is 10% weg is van 50% moet die regering die landsburgers se versoek eerbiedig.
Daar is seker ‘n paar praktiese probleme dink jy toe jy by jou kar kom. Almal moet kan bedrae tot so stelsel. Wel hoekom kan mense nie sommer met smsse of op epos vir die maatskappye sulke terugvoer gee nie. Almal het tog desedae selfone. Gestel nou maar die organisasie wat die statistieke versamel plaas vrae op ‘n webtuiste en mense stuur dan smsse oor hul opinies daaroor in. Dan kan die maatskappy die statistieke versamel en die statistiese onsekerheid daarop bereken en aan die regering kommunikeer.
Wat nou daarvan as een ou sommer ‘n 100 smsse stuur oor dieselfde vraag? Wel die organisasie kan vereis dat almal wat wil stem moet daarvoor registreer deur ‘n geldige ID nommer saam met ‘n selnommer te verskaf. Sodoende kan elke vraag net een keer van elke selnommer ‘n antwoord kry. Dit gaan seker nie alle vorme van misbruik verwyde rnie, maar dit sal dit genoeg beperk dat een party nie die totale uitkoms van so vraag meer sal kan affekteer as die statistiese onsekerheid nie. O gits, maar dan is dit nie meer anoniem nie. Wel was dit ooit anoniem as die sangoma kan uitvind wat jy gestem het deur die regte mutie te gebruik? Jy is skielik sommer weer van voor af kwaad en vergeet amper om by ‘n stopstraat te stop. Die organisasie moet verseker totaal onafhanklik wees van die regering sodat dit nie deur die regering gemanipuleer kan word nie. Verder moet daar meer as een, sommer drie sulke organisasies wees wat onafhanklik van mekaar informasie insamel. Mens kan by al drie geregistreer wees of by net een, nes jy wil. Elke organisasie gaan in ieder geval die resultaat statisties hanteer.
Jy begin sommer skielik opgewonde voel. Hierdie ding kan werk. Hoekom nie? Mense moet net ‘n slag bietjie oorsronklik dink oor die saak en nie toegee aan die ou praatjies van “dis die beste stelsel wat ons het” en ander twak wat voordurend daaroor kwytgeraak word nie. Om so iets ingestel te kry sal mens natuurlik eers ‘n party moet kry wat bereid sal wees om so iets te implimenteer. So party sal sommer maklik die volgende verkiesing wen.
Jy parkeer in jou motorhuis en toe jy by die huis instap het jy selfs ‘n glimlag op jy gesig. Jou wederhelfte groet jou en vra so half sarkasties “het jy toe vandag die land se probleme opgelos?” en jy antwoord: “Ek dink nogal so.”
Comments are closed.
So jy was die outjie wat die gat in daardie stembriefie destyds gemaak het, hmmm?
Flippie, ons praat altyd oor dinge wat logies is en hierdie is weereens ‘n tipiese voorbeeld van dit, maar ai, politici dink beslis nie so nie.
Hopenlik eendag, sal dit deel word van die normale denkswyses.
Very nice post indeed!
Nee dit wassie ekkie!
Dankie Sammi
Me thinks thou protest too much.
Vir jou geantwoord, maar dis nie so eenvoudig nie, hoor.
By the way, het jy al by Ding gaan inloer?
Nou nog net om enige politieke party enige plek in die wêreld te kry met genoeg guts om die mag op die manier te oorhandig en jy het dalk net die wêreld se probleme opgelos
Tot dit gebeur, trek maar daai kruisie!
Sammi nee regtig waar sal ek nou ‘n gat deur ‘n stembriefie gaan druk?
Ek stem nie eers nie.
Ek het nie geweet Ding bestaan nog nie. Wat is sy adres?
Roer ek dink SA’ners in die buiteland kan stem as hulle nognie langer as ‘n sekere tyd uit die land uit is nie, maar ek praat onder korreksie.
Jaco: hoekom so negatief man?
Ons hoef maar net een party te oortuig. In ieder geval stem ek nie meer nie.
Nou wanneer stig jy jou party, Flippiefanus? Ek sal vir jou stem.
Ja, in hierdie eeu van tegnologie, en oor iets so belangrik soos hoe jou land geregeer moet word, sit ons nog tussen die spinnerakke.
Wat van politici, en ten minste mense wat in die regering wil sit, moet ‘n tipe van opleiding / graad? voltooi om op die stembrief te mag verskyn en tot hierdie werk toegelaat te word (behalwe nou die kiesers wat ook ingelig behoort te wees).
Nee annerkant ek is nie ‘n politikus nie. Ek sal liewer dat iemand anders die leiding neem in die saak. Hoop iemand iewers dink dis ‘n goeie idee. Stem nogal saam dat kiesers en politici so bietjie opleiding moet he om politiek te bedryf. Myns insiens moet stemreg ‘n voorreg wees wat jy moet verdien.
The scientific method is what is needed in politics. Evidence, reason and a self correcting mechanism designed to filter out batshit crazy loonies like Sarah Palin.
Andrew ek volg nou nie die Amerikaanse politiek vreeslik noukeurig nie, maar van wat ek hoor dink ek dat ek nogal saam met jou stem oor Sarah Palin.