Voordat die opgewondenheid oor die verkiesing van Barac Obama as die VSA se nuwe president oorwaai wil ek ook darem so woordjie inkry. Afgesien van die implikasies wat die uitslag van die verkiesing inhou, is daar iets wat my al die hele tyd gepla het tydens die afgelope twee jaar van media dekking. Dit is die ophef wat in die wêreld gemaak word oor ‘n verkiesing wat in een spesifieke land gehou word. Dis asof ek vir iemand wou vra, “vir wie gaan jy stem?”
Ek kan sommer sien watse kyk ek sou kry, en dan die antwoord, “ek is nie ‘n Amerikaanse burger nie, dus kan ek nie stem nie.”
“Nou hoekom dan die ophef?”
“Maar dis tog belangrik vir ons. Die VSA het ‘n geweldige groot invloed op die res van die wereld.”
Presies my punt. “Nou as dit waar is, hoekom het ons nie ook ‘n stemreg nie? Is dit nie wat demokrasie beteken nie?”
As ek sou vra wat is die grootste gevaar wat die wêreld vandag bedreig, wat sou jou antwoord wees? Internasionale terrorisme? Die energie krisis? Aardverwarming? Oorbevolking? My antwoord sou wees: die grootste bedreiging op aarde vandag is die Amerikaanse regering. Sou dit vir die wêreld moontlik kon wees om die probleem van aardverwarming aan te spreek as die Amerikaanse regering nie aan die proses deelneem nie? Kan die wêreld die energie krisis oplos as die VSA nie ook sy kant wil bring nie? Sou daar iets soos internasinale terrorisme gewees het as dit nie was vir die dekade lange inmenging van die VSA in die Middeooste nie? Is daar hoegenaamd ‘n oplossing vir oorbevolking wat nie hongersnood of oorloë impliseer nie? Ek glo wel so, maar slegs as die VSA drastiese programme van stapel stuur om tegnologie te ontwikkel wat die mensdom gaan toelaat om die ruimte te kolonialiseer. Beteken dit nie juis dat die Amerikaanse regering eerder ‘n positiewe faktor as ‘n bedreiging is nie? As die Amerikaanse regering in gebreke bly om ‘n positiewe aksie te neem in hierdie sake impliseer dit ‘n bedreiging vir die mensdom op aard.
Op elke enkele globale vlak speel die VSA ‘n onrusbarende groot rol. Dis ‘n noodwendige gevolg van die globalisasie wat besig is om te gebeur. Ek voel nie dat die wêreld al gereed is vir globalisasie nie, maar dis ‘n wiel wat aan die rol gesit is en min dinge gaan dit kan keer. Die huidige ekonomiese insinking wat grootendeels ‘n gevolg van globalisasie is, mag miskien die proses effens vertraag, maar ek dink nogtans nie dit sal dit kan stuit nie. Globalisasie word hoofsaaklik aangevuur deur die multinasionale korporasies. Dis ook hoofsaaklik die topbestuur van hierdie multinasionale korporasies wat voordeel trek uit globalisasie. Op hulle beurt oefen hulle groot druk op die Amerikaanse regering uit om sy mag te gebruik om die wêreld se markte en hulpbronne beskikbaar te maak vir die multinasionale korporasies. Dis immers hoekom die Amerikaanse regering in die Middeooste met al sy olie loop inmeng het.
Die enigste mense op aarde wat teen die Amerikaanse regering beskerm is, is Amerikaanse burgers. Die res van die volking van die aarde is volkome aan die genade van die Amerikaanse regering uitgelewer. Ons enigste hoop is dat ons nie iets kosbaars het wat die multinasionale korporasies wil hê nie.
As globalisasie impliseer dat lande se grense besig is om te verdwyn dan beteken dit dat die wêreld een groot land word. So land moet dan ook ‘n regering hê. As hierdie regering demokraties is moet almal in die wêreld vir hierdie regering kan stem. Alle kulture en bevokingsgroepe moet verteenwoordiging in hierdie regering geniet. As hierdie regering die Amerikaanse regering is dan moet almal daarvoor kan stem. Anders moet die globale regering beheer oor die Amerikaanse regering hê sodat dit die mensedom daarteen kan beskerm. Die globale regering sal ook beter beheer oor multinasionale korporasies moet kan uitoefen om te verhoed dat hulle sommer net mense kan manipuleer soos hulle wil.
Obama mag wel baie simboliseer wat wonderlik en edel is, maar die realiteite is dat hy maar beperkte beheer oor die magtige Amerikaanse regeringsmasjien het wat agter die skerms aangedryf word deur multinasionale korporasies.
Bygedra deur flippiefanus