Vandag is “Remembrance day” in Kanada en verskeie ander lande. Daar was ook onlangs verskeie inskrywings oor hierdie dag of oor oorlog in die algemeen. Die algemene sentiment is dat oorlog ‘n slegte ding is en dat ons alles in die stryd moet werp om oorlog te bekamp. Inderdaad, maar wat gaan dit kos om hierdie edel doel te vermag?
Mens kry die indruk dat oorlog veroorsaak word deur die mense wat oorlog maak. Dis met ander woorde die leiers se skuld dat oorloë plaasvind. Hier moet mens natuurlik onderskei tussen die aggressors wat die lande inval en die mense wat hulself probeer verdedig. Om oorlog te bekamp moet mens dus die aggressors aan die pen laat ry.
Daar is weer ander wat argumenteer dat die aantal oorloë tog vanself besig is om af te neem danksy die verspreiding van demokrasie en kapitalisme. Verder is daar nog argumente wat beweer dat die uiters gesofistikeerde wapens van vandag eintlik sorg dat oorloë vinniger beëindig word omdat die leiers gouer besluit om maar liewer vrede te maak. Wanneer laas was daar ‘n 80-jarige of 100-jarige oorlog gewees? Sodoende sneuwel daar ook minder soldate as in die uitgerekte oorloë van die verlede.
Hierdie argumente is wel geldig, maar slegs as mens kan aanneem dat daar vir almal die nodige grondstowwe en hulpbornne (kos, water, energie en so voorts) is aan hul behoeftes te voorsien. Dit maak nie saak hoe demokraties die lande is of hoe kapitalisties nie, as daar nie genoeg is vir almal nie dan sal daar baklei word oor dit wat beskikbaar is.
Oorlog was van die vroegste tye af ‘n integrale deel van die mensdom se bestaan op aarde. Soos die mens meer geword het, het die beskikbaarheid van hulpbronne verminder. Die gevolg was dat verskillende groepe teen mekaar geveg het vir toegang tot die beperkte hulpbronne. Dis merkwaardig om te sien hoedat die mensdom dan op stadiums ontdek het hoe om die beskikbare hulpbronne meer effektief aan te wend. Byvoorbeeld, instede daarvan om te jag en voedsel uit die omgewind te versamel is dit meer effektief om diere aan te hou, te plant en te saai om kos te verbou. As gevolg van hierdie “fase oorgange” in die kulturele ontwikkeling kon die bevolkingsdigtheid weer aansienlik toeneem voordat die mense weer nodig gehad het om te veg vir hul oorlewing.
Vir geruime tyd het die bevolking van die aarde nou onverstoord toegeneem. Vandag is die bevolking van die aarde hoër as ooit tevore. Daar is reeds sprake dat ernstige voedsel tekorte wat die mensdom in die gesig staar. Daar ook is reeds sigbare aanduidings van tekorte aan energiebronne (of die effektiewe aanwendig van beskikbare energiebronne). Wanneer sulke hulpbronne uitgeput raak is daar ‘n goeie kans dat daar oorloë sal uitbreek vir toegang tot dit wat oor is. In ‘n sekere mate kan mens die VSA se onlangse oorloë in die Middeooste sien as sulke energie oorloë. Die toekoms mag dalk net nog meer sulke oorloë vir ons inhou.
Om oorloë te beperk sal dit dus nie help om leiers te straf of om slegs kapitalisme en demokrasie te versprei nie. Dit is noodsaaklik dat die probleem van ‘n oorbevolkte planeet aangespreek moet word. Wel hoe verminder mens die bevolking van ‘n planeet op ‘n moreel etiese manier? My vermoede is dat dit nie sommer so maklik is nie. Dit sou help as almal danksy kultureel ontwikkeling oortuig kon word om kleiner gesinne te hê, maar die diversiteit van kulture op die planeet maak so iets nie prakties moontlik nie.
Die enigste oplossing wat ek dus sien is om die grondoppervlakte te vergroot. Nee, nee, ek bedoel nie ons moet die see drooglê nie. Ons moet ander planete en mane kolonialiseer en die mensdom se voete van die aarde af begin oplig. Dis tyd dat ons die ruimte invaar.

Bygedra deur flippiefanus