Enige ouer weet dat kinders deur verskillende stadia in hulle lewe gaan — eers is hulle hulpelose babatjies, dan bedrywige kleuters en later opstandige tieners. Die opvoedingstaak van ‘n ouers moet noodwendig ook aangepas word by die stadium van die kind. Vir babatjies kan mens nie veel leer nie. Kleuters kan egter begin verstaan as mens hulle leer hoe die lewe werk. Op daardie stadium van hulle lewens is dit belangrik dat kinders leer dat daar reëls bestaan. Dit gee aan hulle sekuriteit. Verder word kinders aan die begin gemotiveer om hierdie reëls na te kom deur hulle te straf as hulle dit nie doen nie. Sodoende word die konsep van gehoorsaamheid aan die kind oorgedra. Hierdie vorm van motivering word later stelselmatig vervang met belonings wanneer hy of sy iets goeds gedoen het. Teen die tyd dat die kinders hul tiener jare bereik is daar dan hopenlik genoeg morele beginsels vasgelê dat hulle meer vryheid kan geniet en leer om self verantwoordelikheid te aanvaar vir hul dade.
Mens kan die opvoeding van ‘n kind as ‘n analogie gebruik vir die kulturele ontwikkeling van die mensdom. Volgens hierdie analogie is die vroegste stadia van kulturele ontwikkeling soortgelyk aan die eerste stadia in ‘n kind se ontwikkeling. Soos kulture meer gesofistikeerd raak ontwikkel hulle ook meer verantwoordelikheid in hul optrede teenoor ander mense en kulture en vir hul omgewing.
Dit is interessant om vanuit hierdie perspektief die geskiedenis van Israel deur die Bybel te volg. Die verhouding tussen God en sy volk Israel is merkwaardig baie soortgelyk aan die verhouding tussen ‘n vader en sy kind. Dit word dan ook so uitgebeeld in die Bybel. In die stadium waar God sy volk Israel uit Egipte uitlei is Israel nog soos ‘n kleuter. In hierdie stadium word daar reëls in die vorm van die wet van Moses aan die Israeliete gegee. As hulle ongehoorsam is aan die wet word hulle dan ook swaar gestraf. Baie klem word gelê op gehoorsaamheid.
Stelselmatig ontwikkel Israel die vermoë tot groter verantwoordelikheid. Dit word weerspieël in die oorgang van ‘n situasie waar God eers via sy profete regeer na ‘n situasie waar Israel deur konings regeer word. Aanvanklik moes hierdie konings God raadpleeg met die hulp van profete, maar later kry die konings die vryheid om God self direk te raadpleeg.
Die moraliteit van Israel en die Jode ontwikkel saam met hul kultuur. Wat op een stadium vir hulle aanvaarbaar was word later as nie meer aanvaarbaar beskou nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die hoeveelheid vrouens wat een man kan hê. David het aanvanklik baie vrouens gehad. Nogtans is hy nooit daaroor aangespreek nie. Dit beteken egter nie dat hierdie gebruik vir God aanvaarbaar was nie, maar eerder dat God binne die spesifieke kulturele ontwikkelingsvlak van daardie tyd nie die saak wou aanroer nie.
‘n Ander voorbeeld is die oorloë wat Israel gevoer het. Aanvanklik kry mens die indruk dat God van oorlog hou want Israel word beveel om die ander volke in Kanaan sonder genade uit te wis. Hierdie drastiese stap was egter van kardinale belang vir die kulturele suiwerheid, want die ander kulture in die omgewing het vreeslike barbaarse gebruike gehad. Ongelukkig het Israel egter nie hierdie kulture volledige uit die gebied verdryf nie. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat Israel so kultureel dekadent geword het dat God hulle laat wegvoer het in ballingskap.
Alhoewel koning Dawid, met God se hulp, baie sukses gehad het met oorloë, is die hele konsep van oorlog nie vir God aanvaarbaar nie. Om die rede laat God nie vir Dawid toe om ‘n tempel vir Hom te bou nie. Daar word aan David gesê “daar is bloed op jou hande.” David se seun Salomo bou op die ou end die tempel omdat daar in Salomo se tyd vrede geheers het.
In die tyd van die Nuwe Testament bereik die kulturele ontwikkeling van die Jode ‘n nuwe stadium. In daardie tyd kom Jesus en vervang die wet van Moses met die liefdesbeginsels wat die wet van Moses volledig omvat. Verder word die klem op straf nou verskuif na ‘n klem op beloning, naamlik die beloning van ‘n ewige lewe. Die beloning is ook nie meer net vir Jode bedoel nie, maar vir almal wat in God glo.
Dit is nou vandag al amper 2000 jaar na die laaste woorde van die Bybel geskryf is. Die mensdom het baie meer kennis bygekry en daarmee ook baie meer verantwoordelikhede. Die kulturele ontwikkeling van die mensdom het baie verder gevorder as wat dit in die Bybelse tyd was. ‘n Deel van hierdie ontwikkeling was die integrasie van die Bybelse lewensbeginsels in die Westerse kultuur.
Deur die hele tyd van die begin af tot vandag het God nie verander nie. Die mensdom se kultuur het wel verander, en as gevolg daarvan het die manier waarop God met die mens gehandel het ook verander. As dit dus vir jou lyk asof God baie wreed was met die Israeliete toe hulle uit Egipte getrek het, is dit omdat dit op daardie stadium die beste manier was om met mense in daardie vlak van kulturele ontwikkeling te handel. Vandag het die mensdom baie meer vryheid en is meer oorgelaat aan sy eie besluite.
Wat nou van die toekoms? Kan ons nou beweer dat ons ‘n finale perfekte kulturele vlak bereik nie? Ek dink nie so nie. Daar sal generasies na ons kom wat gaan terugkyk na ons generasie en maar net hulle koppe skud oor alles wat ons aanvang. So toekomstige generasie behoort ons nogtans nie te veroordeel nie want hulle behoort te besef dat die beste wat ons kan doen is dit wat ons binne ons kulturele ontwikkelingsvlak as goed en reg beskou. Net so moet ons ook nie die generasies wat voor ons gekom het veroordeel nie, want hulle het weer binne hulle kulturele ontwikkelingsvlak gefunksioneer. Elke generasie kan maar net binne die raamwerk van daardie generasie se kulturele onwikkelingsvlak beoordeel word. Dis hoekom daar in die Bybel staan: “Met die maat waarmee jy meet sal jy gemeet word.”
Bygedra deur flippiefanus