Soos die grootword van ‘n kind

Enige ouer weet dat kinders deur verskillende stadia in hulle lewe gaan — eers is hulle hulpelose babatjies, dan bedrywige kleuters en later opstandige tieners. Die opvoedingstaak van ‘n ouers moet noodwendig ook aangepas word by die stadium van die kind. Vir babatjies kan mens nie veel leer nie. Kleuters kan egter begin verstaan as mens hulle leer hoe die lewe werk. Op daardie stadium van hulle lewens is dit belangrik dat kinders leer dat daar reëls bestaan. Dit gee aan hulle sekuriteit. Verder word kinders aan die begin gemotiveer om hierdie reëls na te kom deur hulle te straf as hulle dit nie doen nie. Sodoende word die konsep van gehoorsaamheid aan die kind oorgedra. Hierdie vorm van motivering word later stelselmatig vervang met belonings wanneer hy of sy iets goeds gedoen het. Teen die tyd dat die kinders hul tiener jare bereik is daar dan hopenlik genoeg morele beginsels vasgelê dat hulle meer vryheid kan geniet en leer om self verantwoordelikheid te aanvaar vir hul dade.

Mens kan die opvoeding van ‘n kind as ‘n analogie gebruik vir die kulturele ontwikkeling van die mensdom. Volgens hierdie analogie is die vroegste stadia van kulturele ontwikkeling soortgelyk aan die eerste stadia in ‘n kind se ontwikkeling. Soos kulture meer gesofistikeerd raak ontwikkel hulle ook meer verantwoordelikheid in hul optrede teenoor ander mense en kulture en vir hul omgewing.

Dit is interessant om vanuit hierdie perspektief die geskiedenis van Israel deur die Bybel te volg. Die verhouding tussen God en sy volk Israel is merkwaardig baie soortgelyk aan die verhouding tussen ‘n vader en sy kind. Dit word dan ook so uitgebeeld in die Bybel. In die stadium waar God sy volk Israel uit Egipte uitlei is Israel nog soos ‘n kleuter. In hierdie stadium word daar reëls in die vorm van die wet van Moses aan die Israeliete gegee. As hulle ongehoorsam is aan die wet word hulle dan ook swaar gestraf. Baie klem word gelê op gehoorsaamheid.

Stelselmatig ontwikkel Israel die vermoë tot groter verantwoordelikheid. Dit word weerspieël in die oorgang van ‘n situasie waar God eers via sy profete regeer na ‘n situasie waar Israel deur konings regeer word. Aanvanklik moes hierdie konings God raadpleeg met die hulp van profete, maar later kry die konings die vryheid om God self direk te raadpleeg.

Die moraliteit van Israel en die Jode ontwikkel saam met hul kultuur. Wat op een stadium vir hulle aanvaarbaar was word later as nie meer aanvaarbaar beskou nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die hoeveelheid vrouens wat een man kan hê. David het aanvanklik baie vrouens gehad. Nogtans is hy nooit daaroor aangespreek nie. Dit beteken egter nie dat hierdie gebruik vir God aanvaarbaar was nie, maar eerder dat God binne die spesifieke kulturele ontwikkelingsvlak van daardie tyd nie die saak wou aanroer nie.

‘n Ander voorbeeld is die oorloë wat Israel gevoer het. Aanvanklik kry mens die indruk dat God van oorlog hou want Israel word beveel om die ander volke in Kanaan sonder genade uit te wis. Hierdie drastiese stap was egter van kardinale belang vir die kulturele suiwerheid, want die ander kulture in die omgewing het vreeslike barbaarse gebruike gehad. Ongelukkig het Israel egter nie hierdie kulture volledige uit die gebied verdryf nie. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat Israel so kultureel dekadent geword het dat God hulle laat wegvoer het in ballingskap.

Alhoewel koning Dawid, met God se hulp, baie sukses gehad het met oorloë, is die hele konsep van oorlog nie vir God aanvaarbaar nie. Om die rede laat God nie vir Dawid toe om ‘n tempel vir Hom te bou nie. Daar word aan David gesê “daar is bloed op jou hande.” David se seun Salomo bou op die ou end die tempel omdat daar in Salomo se tyd vrede geheers het.

In die tyd van die Nuwe Testament bereik die kulturele ontwikkeling van die Jode ‘n nuwe stadium. In daardie tyd kom Jesus en vervang die wet van Moses met die liefdesbeginsels wat die wet van Moses volledig omvat. Verder word die klem op straf nou verskuif na ‘n klem op beloning, naamlik die beloning van ‘n ewige lewe. Die beloning is ook nie meer net vir Jode bedoel nie, maar vir almal wat in God glo.

Dit is nou vandag al amper 2000 jaar na die laaste woorde van die Bybel geskryf is. Die mensdom het baie meer kennis bygekry en daarmee ook baie meer verantwoordelikhede. Die kulturele ontwikkeling van die mensdom het baie verder gevorder as wat dit in die Bybelse tyd was. ‘n Deel van hierdie ontwikkeling was die integrasie van die Bybelse lewensbeginsels in die Westerse kultuur.

Deur die hele tyd van die begin af tot vandag het God nie verander nie. Die mensdom se kultuur het wel verander, en as gevolg daarvan het die manier waarop God met die mens gehandel het ook verander. As dit dus vir jou lyk asof God baie wreed was met die Israeliete toe hulle uit Egipte getrek het, is dit omdat dit op daardie stadium die beste manier was om met mense in daardie vlak van kulturele ontwikkeling te handel. Vandag het die mensdom baie meer vryheid en is meer oorgelaat aan sy eie besluite.

Wat nou van die toekoms? Kan ons nou beweer dat ons ‘n finale perfekte kulturele vlak bereik nie? Ek dink nie so nie. Daar sal generasies na ons kom wat gaan terugkyk na ons generasie en maar net hulle koppe skud oor alles wat ons aanvang. So toekomstige generasie behoort ons nogtans nie te veroordeel nie want hulle behoort te besef dat die beste wat ons kan doen is dit wat ons binne ons kulturele ontwikkelingsvlak as goed en reg beskou. Net so moet ons ook nie die generasies wat voor ons gekom het veroordeel nie, want hulle het weer binne hulle kulturele ontwikkelingsvlak gefunksioneer. Elke generasie kan maar net binne die raamwerk van daardie generasie se kulturele onwikkelingsvlak beoordeel word. Dis hoekom daar in die Bybel staan: “Met die maat waarmee jy meet sal jy gemeet word.”

24 Responses to “Soos die grootword van ‘n kind”

  1. George Maru Says:

    Flippiefanus, ek sal graag wil hoor hoe jy verduidelik dat bogenoemde redenasie nie neerkom op morele relativisme nie.

  2. boendoe Says:

    Interessant, Flippie, Ek het nog nie so daaraan gedink nie. Maar ja, toe lees ek George se comment, en ek sal graag jou antwoord wil hoor. :wink:

  3. flippiefanus Says:

    Eers wil ek julle verwys na wat ek van te vore oor die onderwerp geskryf het in Moraliteit in ‘n veranderende wereld.

    Goed kom ek verduidelik hoe ek dit sien. (Dis natuurlik baie kompleks en nie maklik om in ‘n kommentaar te verduidelik nie.) CS Lewis het geredeneer dat daar ‘n fundamentele Moraliteit is wat deur God daar gestel is wat nie verander nie. Hierdie Moraliteit word deur die liefdesbeginsels wat vir ons in die Bybel gegee word saamgevat. Nogtans het kulture nie van meet af hierdie Moraliteit nie. Nes kinders moet hulle eers “grootword”. Die moraliteit van kulture ontwikkel (hopenlik) in die rigting van die fundamentele God gegewe Moraliteit. Wanneer ‘n spesifieke persoon binne ‘n sekere kultuur op ‘n spesifieke ontwikkelingstadium leef dan beheert mens daardie persoon slegs binne sy kultuur se moraliteit te veroordeel. (Let wel, kulture se moraliteite kan soms sodanig verwronge wees dat dit aanvaar kan word nie.) Daar is ook nog aspekte van kulture en hul moraliteit wat niks te doen het met die liefdesbeginsel nie, maar wat nogtans deel is van daardie kultuur se moraliteit en daarom binne daardie kultuur gehoorsaam moet word. Dus moraliteit is binne perke wel relatief.

  4. Sammi Says:

    More Flippie
    Dis dan ook seker die rede dat die Afrika kontinent so anders is. Kultureel moet hulle nog “groei”, nie waar nie?

  5. attie Says:

    My stuiwer… daar is verskillende grade van morele relativisme as ek dit reg het. (Ek is nie ‘n spasialis hierop nie, so help my asseblief reg.) Ek lees maar op Wikipedia, en ek weet mense volg nie sommer ‘n “link” in ‘n “comment” nie.

    Morele relativisme gaan so ver ek weet van die standpunt uit daar nie in absolute terme oor reg en verkeerd gedink kan word nie.

    Verder sal ‘n ander vorm van morele relativisme tot gevolg hê dat mense sê daar is geen sin in om die morele dade van iemand anders in ‘n ander kultuur en ander situasie (Bv. Mugabe) re oordeel of te veroordeel nie.

    Hierdie aanhaling: “Some moral relativists — for example, the existentialist Jean-Paul Sartre — hold that a personal and subjective moral core lies or ought to lie at the base of individuals’ moral acts. In this view public morality reflects social convention, and only personal, subjective morality expresses true authenticity.”

    Net op die gesprek aan te blaas.

  6. flippiefanus Says:

    Sammi, ja die kulture hier in Afrika het seker nog ‘n ver pad om te loop. Dit geld waarskynlik vir my (ons) kultuur ook. ;-)

    Attie, sjoe, ek weet darem nou nie of ek so ver wou gegaan het met die konsep van relativisme nie. Miskien moet ek dit dan nie relativisme noem nie. Nogtans is ek wel van mening dat moraliteit kan verskil van kultuur tot kultuur en ook met met verloop van tyd. Die verwysing na relativisme was nou na aanleiding van George se vraag. Dankie vir die aanblaas. ;-)

  7. piesangverkoper Says:

    Dis baie interessant, maar ek wonder nogal hoekom sal God vir die kinders (Israeliete by Sinai) die spesifieke wette gegee het wat hy hulle gegee het. Dit maak sin dat kinders reels nodig het, maar het hulle nodig om vertel te word dat hulle donkies moet stenig as iemand met die dier bestialiteit gepleeg het of dat hulle nie klere van verskillende soorte lap moet maak nie of dat menstruerende vroue uit die kamp uitgejaag moet word? Ek wonder of ek vir kinders so iets sou leer.

  8. White Knight Says:

    Dagse

    Baie dankie vir die oorsig Flippiefanus. Dit gee dinge nog verdere beklemtoning. Ek geniet jou skrywes baie en dit gee my weer dink woema. :wink:

    Groete

  9. flippiefanus Says:

    piesangverkoper, dankie en baie welkom. Ek vermoed, binne die kontek van die kultuur van die Israeliete, het hierdie reels op dardie stadium wel sin gemaak. Dit maak uit die aard van die saak nie vandag meer vir ons sin nie en dit sal definitief nie ‘n goeie idee wees om dit vandag vir jou kinders te leer nie. :-)

    White Knight, baie dankie.

  10. Andrew Says:

    “Nes kinders moet hulle eers “grootword”. ”

    The only way to grow up is to stop believing.

  11. Andrew Says:

    Sammi druk gou jou oe” toe, ek wil Sam Harris aanhaal.

    “I believe there are right and wrong answers to moral questions in the same way that there are right and wrong answers to questions about biology. This commits me to what philosophers often call moral realism – as opposed to anti-realism, pragmatism, relativism, postmodernism, or any other view that places morality entirely in the eye of the beholder. It is often thought that moral realism fails because it requires that moral truths exist independent of minds (it doesn’t). Indeed, this worry partly explains humanity’s enduring attachment to religion, for many people believe that unless we keep our moral intuitions pegged to the gold standard of God’s law, we cannot say that anyone is ever right or wrong in objective terms.”

  12. Sammi Says:

    Andrew
    In other words “Sammi druk jou oë toe sodat ek jou kan beskerm teen die evil”
    Wie is Sam Harris nou weer?

  13. Andrew Says:

    Byt vas Sammi, dis nie meer lank nie dan is ek uit jou hare uit. Nog ‘n week of so, dalk minder, then I must move on. I enjoy the thrill of a debate, most people do, but this blogging stuff is time consuming and it’s addictive. I must let go.

  14. Sammi Says:

    Eish nee genade Andrew, jy’s glad nie in my hare nie – jou stelling het my laat dink aan Hear no evil, SEE no evil – jy is eintlik verfrissend anders, maar jy’s reg blogging is terribly addictive.

  15. Andrew Says:

    Flippie, amper vergeet ek. Kan ek jou naweek vir jou maak as jy dit nie alreeds gesien het nie? Hier is die eerste fotos van direkte waargeneemde exo-planete. Iemand het dit vanoggend vir my ge-text na my selfoon.

    http://www.gemini.edu/

  16. flippiefanus Says:

    Andrew dankie vir die skakel oor die exo-planete. Dit is nou regtig opwindend.

    Ja dis verslawend om te woer (blog). Ek spandeer ook eintlik te veel tyd op die internet deesdae. Maar dis darem beter as om voor ‘n TV te sit dink ek. :-)

    Sam Harris se opinie klink nogal vir my in ‘n (verwronge) sin soos die opinie van CS Lewis. Ek wonder nou net hoe sal hy nou hierdie fundamentele moraliteit bepaal? Dit gaan nie help om na kulture te kyk wat nie glo nie sulke kulture se moraliteite kan nogal drasties verskil.

  17. George Maru Says:

    Flippiefanus, ek wil seker maak dat ek jou reg verstaan. Die mensdom is soos kinders wat grootword met ‘n gebrekkige verstaan van hul omgewing en self. Daarom laat ‘n regverdige God sekere ongeregtighede toe, omdat sy kinders nie van beter weet nie? Met watter gesag kan jy vandag dan enige morele uitsprake maak?

    Dit is interessant hoe die ouer/kind metafoor dikwels gebruik word om die mens se verhouding met God te beskryf. Daar is egter sekere aspekte van die verhouding wat, sou ouers dit volg met hulle kinders, hulle in die hof sal land en hulle kinders van hulle weggeneem word.

    Ek kan ook nie jou siening versoen met Lukas se teologie nie.

    Die idee wat jy hier noem, is natuurlik vervat in Rabbi Irving Greenberg se teologie waar hy beweer namate die mens “grootword” en meer verantwoordelikheid kry, God hom al hoe meer van die wêreld onttrek. Daar is aangrypende dele in Greenberg se teologie, veral oor die holocaust en hoe hy hierdie model (van groei na volwassenheid) gebruik om die teenstrydighede van die holocaust en ‘n liefdevolle God te probeer verklaar.

    Die siening wat Greensberg en jy aanbied verklaar egter baie dinge nie. Gaan lees maar weer deur Rigters. Om te sê God laat sekere goed toe alhoewel hy dit nie goedkeur nie, maak nie sin. Daar is baie voorbeelde waar God wel ongeregtigheid straf. Dit is wel interessant om te sien wat gestraf word en wat nie. So word verkragting byvoorbeeld nie gestraf nie, maar as kinders – wat soos jy noem nie van beter weet nie – ‘n man van God spot, word hulle deur bere verskeur.

    Eish, ek weet darem nie.

  18. flippiefanus Says:

    George

    Dis interessant dat jy nou juis hierdie twee voorbeelde sou gebruik. Ek gaan nie beweer dat ek nou die detail van die kulturele ontwikkeling van mense van daardie tyd verstaan nie. Nogtans is dit duidelik dat een van die belangrikste aspekte van kulturele ontwikkeling die opvoeding van kinders is. Daarsonder val die hele kultuur plat. Dis soos die betroubaarheid en stabiliteit van die genetiese kode van spesies, waarsonder die evolusie proses en selfs lewe as sulks nie moontlik sou gewees het nie. Dit is dus van kardinale belang dat respek vir God en sy profete gehandhaaf moet word, meer belangrik as selfs iets soos verkragting. Laasgenoemde glo ek is vir God net so afskuwelik as wat dit vir jou en my is, maar ten minste vernietig dit nie die totale kulturele ontwikkelingsproses nie. Hoe dit ook al sy, dis hoe ek dit sien.

  19. Emil Says:

    Ek wonder nou hoe Saussure so reageer het. Ek weet hoe ek sou, met die vraag:

    Is kultuur die produk van die mense se denke, of is ons denke die produk van ons kultuur?

    So sou Claude Levi-Strauss gewis aanvoer dat kultuur ‘n groter sisteem van betekenis is waardeur mense beinvloed word om te leef soos hulle leef. Die vraag natuurlik nou is watter kulturele opvoeding praat ons van en gemeet aan watter standaarde beskou ons ‘n kultuur as “ontwikkeld?” Beweeg ons nie op ‘n dun lyn deur sogenaamde onderskeid te tref nie, en waar sluip kulturele snobisme in? Praat ons van ‘n regse of linkse beskouing oor kultuur, of is ‘n “ontwikkelende” kultuur dit wat ons ervaar het tydens die Westerse koloniale era? Vrae, vrae – met koningkryk vir antwoorde :wink:

    Ek berus maar by die feit dat, in terme van jou beskrywing, jy verwys na ‘n kultuur waar godsdienstige norme in die vorm van Christenskap die onderbou is, en dat die opvoeding van kinders in terme van waarde volgens die sondagskool interpretasie gebeur.

  20. flippiefanus Says:

    “Is kultuur die produk van die mense se denke, of is ons denke die produk van ons kultuur?” Mmm is dit sinvol om so vraag te probeer antwoord? Ek dink dis waarskynlik iets van beide.

    “watter kulturele opvoeding praat ons van” In die bree sin is enige vorm van opvoeding eintlik maar kulturele opvoeding. Ek het miskien meer verwys na die morele aspekte van die kultuur, maar ek dink die argument kan deurgetrek word na kultuur in die bree sin.

    “gemeet aan watter standaarde beskou ons ‘n kultuur as ontwikkeld?” Daar bestaan redelik goed gedefinieerde maatstawwe vir die verskillende ontwikkelingsvlakke van kulture. Nogtans kan mens nooit beweer die een is minderwaardig ten opsigte van die ander nie. Alle kulture het eweveel reg om te bestaan. Daar is geen gronde vir kulturele snobisme nie. Nogtans kry mens dit. Iets wat mens sekere etniesisme (sp?) kan noem (danksy Douglas Adams [?]).

    “Praat ons van ‘n regse of linkse beskouing oor kultuur,” dit behoort nie ‘n verskil te maak nie. Dis nie ‘n politiese konsep nie en behoort ook nie verpolitiseer te word nie.

  21. Emil Says:

    Kultuur in terme van links en regs is belangrik. Amerika bewys dit. Glad nie politiek nie, maar handel oor die beskouings rondom kuns, literatuur, musiek, opvoeding, ens. Is dit feit dat Inteligente Ontwerp in skole aangebied word, polities? Voorts, daar bestaan beslis definisies – ek neem aan ons verwys na dit in terme van ‘n Westerse beskouing. Geen probleem, solank mens dit so definieer. Ek dink die Aborigines in Australia sal dalk anders daaroor voel :wink:

    Ek negeer beslis nie jou inskrywing nie.

  22. flippiefanus Says:

    Wag Emil ek het jou dalk verkeerd verstaan. Kom ek verduidelik beter wat ek bedoel. Dit is dat kultuur beide die linkse en regse komponente bevat. Dit is juis die balans tussen die twee komponente wat maak dat die kultuur gesond is in die opsig dat dit kan aanpas by veranderende omstandighede sonder om die pad byster te raak. Ek het verstaan jy bedoel dat kultuur vanuit ‘n linkse of regse perspektief beskou moet word. Of jy op die ou end vir kinders Intelligente Ontwerp of Evolusie op skool leer is nie so belangrik as dat jy hulle een of ander moraliteit leer. Solank jy hulle iets leer is dit goed. As die leerproses as sulks faal dan faal die kultuur in sy totaliteit.

  23. flippiefanus Says:

    O en terloops die definisies waarna ek verwys is kulturele antropologiese definisies wat nie beperk is tot die Westerse kulture nie.

  24. fanvanricky Says:

    Ok. As dit iets beteken!

Leave a Reply