Wanneer bome vere groei

18 November 2008

Een herfsoggend toe ek nog in Kanada gewoon het, het die wêreld my verras met ‘n skouspel wat ek nog nooit van tevore gesien het nie. Dit was asof die hele wêreld oornag in ‘n sprokielandskap verander het. Al die bome was spierwit. Te pragtig!

Spierwit bome in 'n sprokie paradys

Spierwit bome in 'n sprokie paradys

Ek dog toe eers dat dit oornag moes gesneeu het, maar toe ek oppad werk toe langs een so boom verbystap sien ek dat dit nie sneeu is nie. Dit lyk kompleet asof die bome oornag vere gegroei het. Klein delikate wit kristalletjie is aan die stamme en takke van die bome geheg. Die kristalletjie is ‘n vorm van ryp wat in Engels bekend staan as “hoar frost“. Dit vorm in die nag as die lug baie vogtig is en die wind baie koud is.

Veeragtige rypkristalletjies

Veeragtige rypkristalletjies

Dis nou weer daardie tyd van die jaar in Kanada wat mens sulke skouspelagtige landskappe kan sien. Laat my terugverlang.

(Prentjies danksy Flickr)