Die uitgesproke chef

19 November 2008

Daar was eenmaal ‘n Franse chef wat, nadat hy groot bekendheid as chef in Parys bereik het, besluit het om die wêreld deur te reis sodat hy verskillende kulture se disse kan beproef. So kom hy dan op ‘n later stadium in een of ander oosterse land waar hy so verlief raak op hulle disse dat hy besluit om dit sy permanente tuiste te maak.

Daar was egter net een probleem, hy het nie baie van die land se politiek gehou nie. Weens sy vrydenkende uitgespokendheid het hy hom dan ook in onmin gebring by die burgers van die land. Om sake te vererger was dit teen die wet om enige negatiewe uitlatings oor die koning van die land te maak. Sy vriende (die paar wat hy wel gehad het) het hom voordurend gemaan om liewer stil te bly oor sy ontevredenheid. Hul vermanings het hom egter net nog meer aangehits. Sodanig so dat hy op ‘n dag met ‘n krat na die markplein toe is. Daar aangekom het hy die krat in die middel van die plein geplaas en daarop geklim. Nadat hy bietjie keel skoongemaak het lewer hy toe die volgende pleindooi:

“Is dit nie beter as mense met rus gelaat word en toegelaat word om vir hulle self te besluit wat reg en voordelig vir hulself is nie? Hoekom moet daar ‘n koning wees wat vir mense besluit wat vir hulle goed is of nie. Hoekom moet hierdie venynige, kleingeestige karakter ons lewens kom beheer met sy wette? Dis nie dat ek die koning wil beledig nie, maar daar is sekere optrede van die koning wat mens tog bekommerd maak…”

Die arme chef kon nie veel verder kom met sy pleidooi nie, want drie van die soldate van die koninklike wag het hom van sy krat kom aftrek en hom in hegtenis geneem. Die aand is sy vriende na die tronk by die koninklike paleis om te sien of hulle iets vir hom kan doen. Daar aangekom verneem hulle by die offisiere van die koninklike wag dat die chef die volgende oggend dou voor dag tereggestel gaan word. Die vriende het by die offisier gepleit vir die lewe van die chef. Die offisier het hulle ingelig dat as die chef tot inkeer sou kom en bereid sou wees om die koning voor die publiek om verskoning te vra, mag die koning dalk die teregstelling ter syde stel.

Hulle vra toe of hulle die gevangene mag besoek om die informasie aan hom oor te dra. Dit word toegestaan en hulle word gelei na waar die chef in sy sel sit. Die chef weier egter om die koning om verskoning te vra. “Ek is jammer maar ek kan nie onderdanig wees aan ‘n koning wat so onbuigbaar is nie.” Nadat hulle vir ure by die chef gepleit het sonder om hond haaraf te maak is hulle uiteindelik daar weg.

Die volgende oggend is die chef bleek om die kiewe uit sy sel gelei na ‘n kamertjie diep onder die paleis. Die offisier het ‘n perkament oopgerol, keel skoongemaak en die volgende aan die chef voorgehou: “Die koning is soewerein.” Net dit. Daarna het die offisier weer die perkament opgerol. Hy kyk toe die chef aan en sê vir hom: “Jy mag miskien nie daarvan hou nie, maar dit is nou maar eenmaal hoe dit is en daar is niks wat ek of jy daaraan kan doen nie.”

Die chef op die naat van sy rug (danksy Flickr)

Die chef op die naat van sy rug (danksy Flickr)

Daarna is die chef se kop sonder verdere seremonie afgekap. Sy vriende is ingelig en hulle het sy liggaam kom haal en dit begrawe. Met verloop van tyd is die hele insident vergeet en selfs die chef en al sy disse is met verloop van tyd vergete. Die koning daarinteen het regeer tot ‘n rype ouderdom en daarna het sy seun hom opgevolg.

—————————————

Wanneer ‘n brander oor ‘n rots breek kom dit eers met ‘n groot gedruis aangerol en wanneer dit breek maak dit ‘n sproei wat meters hoog die lug in spat. Nogtans is die bestaan van die brander van korte duur. Die rots daarinteen roer nie en maak ook geen geluid nie en nogtans bestaan dit vir duisende jare.