Stoute katjie

20 November 2008

Noudat ek daar by Sonkind lees van al die interessante dinge van katte, dink ek aan die nuwe kuiergas wat hier by my blyplek is.

Hier waar ek bly is daar so binnepleintjie met ‘n bedding vir plante. Rondom die binneplein is daar hoĆ« mure, maar in die een muur is daar gate vir water om deur te vloei. So ruk terug kom ek agter dat een of ander kat sy besigheid gedoen het in die bedding. Hy het dit ook nie begrawe nie. Die grond was seker te hard. Ek doen dan maar die moeite om dit self te begrawe. Die kat kom natuurlik deur die gate in.

Een dag terwyl ek in my kamer is kom ek agter daar is ‘n swart kat met wit pootjies onder die tafel. Ek spring op, maar in stede daarvan dat die kat soos wat ek sou verwag skrik en daar uitstorm, loop meneer so ewe rustig uit die kamer uit na die binneplein. Daar vang ek hom, krap sy kop en gaan sit ta by die voordeur uit.

Toe later is die kat se besigheid weer daar in die bedding. Selfde storie, ek begrawe dit maar weer. Ek weet nie hoeveel keer dit gebeur het nie. Ek is radeloos want dis nie baie lekker om met die reuk saam te leef nie. Ek besluit toe dit moet die kat wees wat daar vir my kom gesoek het.

Eendag kom ek toe op dieselfde swart kat af waar hy in die bedding staan. Op daardie stadium was daar al van sy besigheid daar wat ek nog nie begrawe het nie. Ek vang hom, verduidelik vir hom dat hy baie stout is, toe druk sy neus by die besigheid en gee hom so drie rapse op die boud. Daarna vat ek hom na die gate toe. Hy kruip ook sommer dadelik daardeur en hardloop weg.

Of die pakslae sou gewerk het weet ek nie. Dieselfde middag vra ek toe die tuinier om die gate met bakstene toe te pak. So nou kan kietsie kat nie meer daar in kom nie. Sedertdien het ek nog nie weer onwelriekende besigheid in my binnepleintjie gehad nie. Nogtans is kietsie kat nie vir my kwaad nie. Ek het nou al ‘n paar keer die kat in die tuin by die voordeur gekry. Hy laat my toe om hom op te tel en sy kop te krap.

Wat maak mens om ‘n katjie te oortuig om nie in jou bedding sy besigheid te doen nie?

———————————

Vandag het ek vir klein ta afgeneem gekry. Mens kan sien dis nog ‘n jong katjie. Baie lief vir speel.

Meneer Geniepsig

Meneer Geniepsig