Geloof bepaal optrede, bewyse nie

24 November 2008

“Today [one of my colleagues] sees me with my water carafe, it’s a light blue glass one. She starts to tell me about some guy from Hawaii who has this sun water thing. Apparently you put water in your blue glass container and leave it in the sun for an hour and then you drink it. It is supposed to absorb all the goodness from the sun and go into your body. Well then she tells me about some woman who reports being mugged by a group of people. All the other people were shot and killed but not her, she was only grazed. This woman is putting it down to drinking this sun water. Can you believe it? I’m drinking water that’s been in a blue glass but I sure don’t think I’m bullet proof!”

“Oh by George what nonsense! If I may ask is this person religious? The atheists always take people like this as bad examples of religious people and how gullible they are.”

“No thankfully she’s not religious.”

Hierdie is ‘n gesprek wat ek op ‘n stadium met ‘n vriend van my gehad het. Dit gee ‘n voorbeeld van iemand wat onrealistiese oortuigings het wat niks te doen het met een of ander godsdienstige geloof nie. Hierdie voorbeeld bevestig dus dat geloof (en spesifiek liggelowigheid) nie iets is wat mens net by godsdienstige gelowiges kry nie.

Inteendeel, geloof kry mens by alle normale mense. Selfs ‘n agnostikus het ‘n stel fundamentele idees wat eenvoudig geglo word en in terme waarvan die wêreld en die lewe verstaan word. Hierdie stel idees staan bekend as die lewens- en wêreldbeskouing van daardie persoon. Geen persoon se lewens- en wêreldbeskouing het ontstaan as gevolg van enige bewyse nie, want dit ontwikkel reeds as kind wanneer bewyse geen besondere betekenis het nie. Miskien kan mens deur die loop van ‘n mens se lewe jou lewens- en wêreldbeskouing wysig as gevolg van bewyse, maar dan sal dit slegs kan plaasvind as jy die besluit neem om die bewyse te glo.

Party mense maak eenvoudig die aanname dat bewyse sondermeer geglo word. Ongelukkig is dit nie die geval nie. ‘n Wetenskaplike wat die wetenskaplike metode goed verstaan en kan sif deur waarnemings om tussen betroubare en onbetroubare waarneming te onderskei sal oor die algemeen oortuig wees wanneer daar behoortlike wetenskaplike bewyse aan hom of haar voorgehou word. So persoon glo dan inderdaad die wetenskaplike bewyse.

Ongelukkig is die oorgrote meerderheid van die bevolking van die aarde nie wetenskaplikes nie en verstaan hulle nie wat die wetenskaplike metode impliseer nie. Wanneer bewyse aan hulle voorgehou word dan sal hulle slegs die bewyse glo indien dit strook met hulle lewens- en wêreldbeskouing. Wanneer ek hier van bewyse praat sluit ek ook informasie in wat nie noodwendig aan die vereistes van die wetenskaplike metode voldoen nie. Dit mag iets wees wat mense opgedis het vir een of ander verborge agenda; dit mag iets wees wat hulle op onsekere maniere waargeneem het; iets wat uit onlogiese, ongeldige redenasies afgelei is; of enigiets anders van so aard.

Die ironie van die saak is dat selfs wetenskaplikes soms besluit om sulke onbetroubare “bewyse” te glo bloot omdat hulle dit graag wil glo. Daar is byvoorbeeld baie wetenskaplikes wat vas oortuig is dat daar swart kolke in die heelal is met gebeurtenis horisonne en al, ten spyte van die feit dat selfs al is daar swart kolk kandidate waargemeen, sulke voorwerpe volgens die bestaande wetenskaplike teorieë nie gebeurtenis horisonne kan hê nie.

Dus, as slotsom, kry ons eendersyds dat mense kan besluit om betroubare wetenskaplike bewyse nie te glo nie, en andersyds dat mense kan besluit om onbetroubare bewyse wel te glo.

‘n Mens se lewens- en wêreldbeskouing bepaal jou moraliteit. Dit bepaal hoe jy besluit wat is reg en wat is verkeerd. As sulks bepaal dit wat mens glo dus jou optrede. Die lewens- en wêreldbeskouing van mense met dieselfde kultuur is tot ‘n redelike mate met mekaar gekorreleer. Nogtans kan dit varieër op grond van persoonlike ervarings en verskille in die omgewing waarbinne die persoon leef en groot geword het. As ‘n persoon een of ander godsdienstige geloof aanneem word die geloof mettertyd deel van so persoon se lewens- en wêreldbeskouing. Die persoon neem dan die moraliteit van daardie geloof aan en as sulks bepaal die moraliteit van daardie geloof dan die optrede van so persoon.

God weet hoe die mens werk, want Hy het hulle gemaak. Daarom weet Hy ook wat die mens se optrede bepaal. Hy weet dat dit nie help om aan die mens bewyse te probeer lewer nie want dit waarborg nie dat hulle die bewyse gaan glo nie. Daar is verskeie voorbeelde in die Bybel waar wonderwerke aan mense gedoen is om hulle te oortuig. Ten spyte daarvan het baie nogsteeds nie geglo nie. In iedergeval is daar altyd die tussenstap van geloof tussen bewyse en optrede. Om hierdie rede is geloof vir God van baie meer belang as bewyse.