Die slotsom van Emil se reeks oor Volledige Menswees het my laat dink aan wat dit beteken om beskaafd te wees. Ons praat so maklik van die persoon of daai persoon is beskaafd of onbeskaafd. Wat presies bedoel ons daarby? Verder praat ons van ‘n versameling kulture wat in ‘n sekere era leef as ‘n beskawing. Wat is ‘n beskawing? Kan een kultuur meer beskaafd wees as ‘n ander? hoe kan mens dit meet?
‘n Beskaafde mens word gekenmerk deur sy optrede teenoor ander mense. So persoon neem ander in ag in sy handelinge. Van jou eetgewoontes tot hoe mens die pad gebruik wanneer jy motor bestuur wys ‘n mens se optrede tot watter mate jy beskaafd is. Die idee is om jou medemense nie te walg met jou optrede nie, om hom nie te affronteer of verontrief nie. Die rede is baie eenvoudig, as jy nie die ander ou benadeel nie sal hy jou ook nie benadeel nie. Dus kom dit neer op die beginsel om aan ander te doen soos jy wil hê hulle aan jou moet doen. Vandaar die assosiasie met Emil se slotsom. Vanuit die Christelike geloof word dit ook gekoppel aan liefde: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Die Christelike liefdesbeginsel (veral gesien in die lig van 1 Kor 13) gaan dus verder as blote optrede. In terme daarvan kan mens beskaafheid eerder sien as ‘n gesindheid van die hart. Dis een ding om beskaafd op te tree, maar in jou hart haat jy die een teenoor wie jy so optree. Dis heeltemal iets anders wanneer jou beskaafdheid die gevolg is van ‘n opregte gevoel van liefde vir jou medemens.
Beskaafdheid maak dat meer mense in ‘n kleiner leefruimte met mekaar kan oor die weg kom. Dit maak dat lewenshulpbronne beter verdeel kan word onder mekaar. In ‘n wêreld wat stelselmatig meer en meer oorbevolk raak word die beskaafdheid van mense nie net ‘n goeie en voorbeeldige beginsel nie. Dit word inderdaad ‘n saak van oorlewing. ‘n Noodsaaklikheid. Die gebrek aan beskaafdheid kan onder sulke omstandighede juis dit wees wat lei tot geweld, opstand en selfs oorlog.
In hierdie opsig is dit miskien sinvol om een of ander maatstaf vir die beskaafheid van mense en kulture te definieer. Dis nie maklik om so iets te kwantiseer nie, maar mens kan dalk wel ‘n kwalitatiewe maatstaf daarvoor definieer.
Beskou jouself as ‘n individu wat saam met alle ander mense op aarde op een of ander groot plat oppervlak staan. Op die oppervlak rondom jou is daar sulke konsentriese sirkels getrek met jou as die middelpunt van die sirkels. Die mense vir wie jy die meeste omgee staan die naaste aan jou en soos jy minder vir die mense omgee, of minder van hulle hou staan hulle al verder van jou af. Die sirkels wat kleiner radiuse het sluit dus mense in vir wie jy meer omgee as sirkels met groter radiuse. Sirkels met baie groot radiuse sluit mense in van wie jy niks hou nie en buite hierdie sirkels is daar dalk mense met wie jy sal oorlog voer as dit daarop neerkom. Kom ons maak nou ‘n baie kru benadering en kies een spesifieke sirkel wat vriende van vyande skei. Binne hierdie spesifieke sirkel is almal min of meer jou vriende en buite hierdie sirkel is almal min of meer jou vyande. Kom ons noem hierdie spesifieke sirkel die omgeesirkel, want binne hierdie sirkel is al die mense vir wie jy tot ‘n mate nog omgee. Dis mense teenoor wie jy uit jou eie nog beskaafd sal optree. Die radius van hierdie omgeesirkel is nou ‘n maatstaf van die vlak van jou beskawing.
Binne enige kultuur sal daar mense wees met kleiner omgeesirkels en ander met groter omgeesirkel. As mens egter nou die gemiddelde radius van die omgeesirkels binne ‘n kultuur beskou kry mens ‘n maatstaf van die vlak van beskaafdheid van daardie kultuur. Sodoende kan mens die verskillende vlakke van beskawing van die verskillende kulture met mekaar vergelyk.
Met hierdie maatstaf in die hand kan mens met nuwe oë kyk na hededaagse tendense. Een voorbeeld is die moderne neiging om die eie ek op te hef: “the greatest love of all … is to love yourself.” Volgens ons maatstaf vir beskaafdheid het iemand wat net homself liefhet die laagste vlak van beskawing.
Bygedra deur flippiefanus