Die slotsom van Emil se reeks oor Volledige Menswees het my laat dink aan wat dit beteken om beskaafd te wees. Ons praat so maklik van die persoon of daai persoon is beskaafd of onbeskaafd. Wat presies bedoel ons daarby? Verder praat ons van ‘n versameling kulture wat in ‘n sekere era leef as ‘n beskawing. Wat is ‘n beskawing? Kan een kultuur meer beskaafd wees as ‘n ander? hoe kan mens dit meet?
‘n Beskaafde mens word gekenmerk deur sy optrede teenoor ander mense. So persoon neem ander in ag in sy handelinge. Van jou eetgewoontes tot hoe mens die pad gebruik wanneer jy motor bestuur wys ‘n mens se optrede tot watter mate jy beskaafd is. Die idee is om jou medemense nie te walg met jou optrede nie, om hom nie te affronteer of verontrief nie. Die rede is baie eenvoudig, as jy nie die ander ou benadeel nie sal hy jou ook nie benadeel nie. Dus kom dit neer op die beginsel om aan ander te doen soos jy wil hê hulle aan jou moet doen. Vandaar die assosiasie met Emil se slotsom. Vanuit die Christelike geloof word dit ook gekoppel aan liefde: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Die Christelike liefdesbeginsel (veral gesien in die lig van 1 Kor 13) gaan dus verder as blote optrede. In terme daarvan kan mens beskaafheid eerder sien as ‘n gesindheid van die hart. Dis een ding om beskaafd op te tree, maar in jou hart haat jy die een teenoor wie jy so optree. Dis heeltemal iets anders wanneer jou beskaafdheid die gevolg is van ‘n opregte gevoel van liefde vir jou medemens.
Beskaafdheid maak dat meer mense in ‘n kleiner leefruimte met mekaar kan oor die weg kom. Dit maak dat lewenshulpbronne beter verdeel kan word onder mekaar. In ‘n wêreld wat stelselmatig meer en meer oorbevolk raak word die beskaafdheid van mense nie net ‘n goeie en voorbeeldige beginsel nie. Dit word inderdaad ‘n saak van oorlewing. ‘n Noodsaaklikheid. Die gebrek aan beskaafdheid kan onder sulke omstandighede juis dit wees wat lei tot geweld, opstand en selfs oorlog.
In hierdie opsig is dit miskien sinvol om een of ander maatstaf vir die beskaafheid van mense en kulture te definieer. Dis nie maklik om so iets te kwantiseer nie, maar mens kan dalk wel ‘n kwalitatiewe maatstaf daarvoor definieer.
Beskou jouself as ‘n individu wat saam met alle ander mense op aarde op een of ander groot plat oppervlak staan. Op die oppervlak rondom jou is daar sulke konsentriese sirkels getrek met jou as die middelpunt van die sirkels. Die mense vir wie jy die meeste omgee staan die naaste aan jou en soos jy minder vir die mense omgee, of minder van hulle hou staan hulle al verder van jou af. Die sirkels wat kleiner radiuse het sluit dus mense in vir wie jy meer omgee as sirkels met groter radiuse. Sirkels met baie groot radiuse sluit mense in van wie jy niks hou nie en buite hierdie sirkels is daar dalk mense met wie jy sal oorlog voer as dit daarop neerkom. Kom ons maak nou ‘n baie kru benadering en kies een spesifieke sirkel wat vriende van vyande skei. Binne hierdie spesifieke sirkel is almal min of meer jou vriende en buite hierdie sirkel is almal min of meer jou vyande. Kom ons noem hierdie spesifieke sirkel die omgeesirkel, want binne hierdie sirkel is al die mense vir wie jy tot ‘n mate nog omgee. Dis mense teenoor wie jy uit jou eie nog beskaafd sal optree. Die radius van hierdie omgeesirkel is nou ‘n maatstaf van die vlak van jou beskawing.
Binne enige kultuur sal daar mense wees met kleiner omgeesirkels en ander met groter omgeesirkel. As mens egter nou die gemiddelde radius van die omgeesirkels binne ‘n kultuur beskou kry mens ‘n maatstaf van die vlak van beskaafdheid van daardie kultuur. Sodoende kan mens die verskillende vlakke van beskawing van die verskillende kulture met mekaar vergelyk.
Met hierdie maatstaf in die hand kan mens met nuwe oë kyk na hededaagse tendense. Een voorbeeld is die moderne neiging om die eie ek op te hef: “the greatest love of all … is to love yourself.” Volgens ons maatstaf vir beskaafdheid het iemand wat net homself liefhet die laagste vlak van beskawing.
27 November 2008 at 8:26 vm
Môresê Flipfaan!
Gits, Ding het nou hierdie inskrywing van jou geniet. Nog nie al die inligting verwerk nie, maar op die oomblik wonder Ding waar dit die beskawingsvlak van Suid-Afrika se reënboognasie laat? Dan wonder Ding natuurlik ook of oorbevolking getuig van beskaafdheid? Is beskaafdheid nie ook maar ‘n begrip ondergeskik aan die subjektiewe perspektief van die oordeel nie?
Jy laat vir Ding skooooon vergeet dat hy nie heeldag op die stoep kan sit en wonder nie! Ding glo natuurlik ook jy moet naaste liefhê soos jouself – nie liewer nie
Grondgroete
D
27 November 2008 at 10:24 vm
Flippie, ek hou van jou omgeesirkel as maatstaf vir beskaafdheid.
Ding, nou begin jy ‘n ding:
Ek dink beskaafdheid is ‘n relatiewe begrip, maar soos Flippie dit mooi gestel het, word dit tog gegrond op die ewige waarde van menseliefde.
27 November 2008 at 2:49 nm
Ek hou van die sirkels; dis ‘n mooi ruimtelike verduideliking van ‘n abstrakte begrip.
Die relatiwiteit van beskawing raak nogal duidelik wanneer ‘n mens die etimologie van die woord ondersoek. ‘n Mens hoef nie eers baie ver terug te gaan nie – dit kom natuurlik van “beskawing” af – die mens se kollektiewe antwoord teen die ontstuimigheid van die natuur. Taal, kultuur en daai klas dinge.
Mense wat nie beskaafd is nie, tree soos “diere” op – die klem le by hulself en die bevrediging van hul eie behoeftes.
Sou ‘n mens kon se dat beskaafdheid onnatuurlik is?
27 November 2008 at 3:26 nm
Ding het nou weer vreeeeeslik drooggemaak iewers, of Magnus het op ‘n kritieke oomblik besluit om Ding ‘n streep te trek – Ding het ‘n bydrae probeer formuleer, maar duidelik het dit iewers verlore gegaan. Duidelik met ‘n rede, want intussen het Johan Swarts ook kom gesels.
Johanswarts, hmm… is dit moontlik dat beskaafde optrede kan spruit uit die bevrediging van eie behoefte om beskaafd te wees?
Joh, vir Ding is die probleem dat wat prakties vir Ding kwalifiseer as beskaafde optrede of beskaafdheid, nie noodwendig vir die volgende persoon gaan kwalifiseer as sodanige optrede nie. Beskaafdheid is nie ‘n noodwendige uitvloeisel van naasteliefde nie, ding dink?
27 November 2008 at 6:21 nm
Is dit beskaafd om elke paar sekondes van elke dag bevrediging te soek? Versigtig nou … ons doen dit almal.
28 November 2008 at 5:58 vm
Ding
Baie welkom hier. Ek dink nie ek het jou al hier op my stoep verwelkom nie. Interessante vrae daai. Ek vermoed ons is seker nie van die beskaafste lande in die wereld nie, maar die beskawingsvlak van verskillende mense of kulture in SA kan nogal drasties verskil.
Oorbevolking is oor ‘n relatiewe begrip, Ek dink elke vlak van beskawing het maar die een of ander maksimum bevolking wat verdra kan word. Meer as dit impliseer dan oorbevolking vir daardie vlak van beskawing.
Subjektief in watter opsig?
Inderdaad, daar moet gebalans wees tussen liefde vir jouself en liefde vir jou naaste. Tog se^ die Bybel dat daar geen groter liefde is hy wat sy lewe vir sy broer afle nie.
Dis waar dat verskillende kulture beskaafdheid aan verskillende optrede kan koppel. Voorbeeld, party kulture breek ‘n wind op om aan te dui dat hulle van die kos hou wat hulle eet. Ons dink dis ongeskik. As beskaafdheid uit naasteliefde kom en die kulture verstaan mekaar dan kan hierdie verskille egter oorbrug word.
Joh
Dankie vir die inloer.
Beskaafheid hoef seker nie altyd uit naasteliefde te kom nie, maar ek voel dat as dit wel die geval is dit verder kan gaan. Beskaafdheid wat gevoed word deur naasteliefde kan meer verdra as beskaafdheid wat net kulturele gewoontes is.
Johan
Ek dink dit hang af of mens kultuur as ‘n natuurlike proses sien en of mens kultuur en natuur teenoor mekaar stel. Die presiese geimpliseerde betekenis van die woord natuur is effens verskillend in die twee gevalle. In die eerste geval sal beskawing dan net soos kultuur ‘n natuurlike proses wees, terwyl dit in die laaste geval per implikasie nie deel van die natuur is nie en dus onnatuurlik is. As ek moet se^ sou ek laasgenoemde kies en dus se^ dat beskawing noodwendig onnatuurlik is.
Andrew
Wie soek elke paar sekondes bevrediging? Toemaar, maak nie saak nie,
solank jy nie ander mense daardeur benadeel nie is jy nie onbeskaafd nie.
28 November 2008 at 7:46 vm
Ha ha ha Flippie, ek het nie verwys na seksuele bevrediging nie hoor. Nee o gits dit sit nie in my broek nie.
28 November 2008 at 10:39 vm
Dagse Flippiefanus
As ek maar my spreekwoordelike stuiwer in die armbeurs mag gooi
Wanneer is jy beskaaf en op watter tydstip hou dit op en is dit net tolleransie of dan verdraagsaamheid. Seker nie ver van mekaar verwyder nie, want baie sal redeneer dat bekaaf wees ook betekn dat jy verdraagsaam is en die een kan nie sonder die ander nie.
Maar baie mense is beskaaf / verdraagsaam oor hulle gedwing word of dan omdat die klimaat nie reg is vir konfrontasie nie.
Sake manne kan mekaar verdra en beskaaf wees net omdat dit vir albei skadelik kan wees om dit nie te doen nie.
Dink maar net, weet nie heeltemal of ek nou sin maak nie, moet eers weer verder gaan kou aan jou en ander se gedagtes hierbo.
Puik stukkie kos vir die grysstof.
Groete
28 November 2008 at 2:24 nm
lol @ andrew se broek
29 November 2008 at 3:42 nm
Andrew, pun intended?
Dankie Ridder vir ‘n waardevolle stuiwer. Dis hoekom ek voel dat beskaafdheid gevoed moet word vanuit ware naasteliefde.
Johan
1 December 2008 at 5:03 vm
Dagsê Flipfaan
Baie dankie vir die welkom – Ding hou van wat hy hier by jou kom leer. Gereeld ietwat bokant ouding se vuurmaakplek, maar soos die Ridder reeds opgemerk het: voedsaam vir die grysstof.
Subjektief: sien jou laaste paragraaf in jou kommentaar aan ding voordat jy vir Joh geantwoord het
Beskaafdheid is so ‘n wye versamelnaam vir ‘n reeks beginsels, welke beginsels noodwendig gefundeer is in ‘n bepaalde perspektief en die perspektief opsigself is subjektief deurdat dit gekoppel is aan die waarnemer/spreker se eie oortuiginge. Natuurlik is daar bepaalde kollektiewe beginsels wat in meer as een perspektief (kultuur) voorkom. Die vraag is egter of sodanige kollektiewe beginsels genoegsaam is om die begrip beskaafdheid te regverdig?
Leen beskaafdheid homself nie ook maar tot uitbuiting nie, wat op sy beurt weer niks anders is nie as ‘n verhewe vorm van barbaarsheid?
Grondgroete
d
1 December 2008 at 6:39 vm
Ding, ek stem saam met jou. Die beginsels wat as beskaafdheid gesien word in verskillende kulture kan redelik verskil. Binne ‘n spesifieke kultuur is dit gewoonlik nie ‘n probleem nie, maar wel as verskillende kulture in kontak met mekaar kom. Nogtans dink ek as die gesindheid van die hart reg is dan kan hierdie oorbrug word.
“Leen beskaafdheid homself nie ook maar tot uitbuiting nie, …”
Hier noem jy nou ‘n baie interessante ding. Iemand het eenmaal gese^ die westerse wereld is nou so beskaafd dat hy nie meer kan oorleef nie. Dit wil voorkom dat hulle weens hul beskaafdheid nie meer kan optree teen elemente wat inkom en die hele samelewing kom omverwerp nie. Hierdie elemente word deur mense regte beskerm. Al waarop dit neerkom is dat dit hulle die skuiling bied waarvandaan hulle dan gewone mense binne die samelewing kan skade berokken.