Lank gelede wanneer mense oorlog gemaak het, het hulle met handwapens, soos swaarde, teen mekaar geveg. In so geveg kan dit gebeur dat mens van die res van jou makkers geskei word en sodoende deur jou vyand omring word. So persoon het dan ‘n kleiner kans om te oorleef as wanneer hy een van sy kamerade agter hom het om sy rug te beskerm. In een van die episodes van die TV reeks Rome is Markus-Antonius oppad na die senaat met ‘n paar soldate, toe ‘n klomp vyandige soldate hulle aanval. Hy roep toe uit “Rally onto me, rally onto me!” Die idee is dat, as hy en sy soldate kan verhoed om van mekaar geskei te raak tydens die geveg, is daar ‘n beter kans vir hulle om te oorleef.

"Rally onto me!"
Die idee is dus om altyd langs jou makkers te veg. Nou gebeur dit egter dat iemand wel van sy makkers geskei raak tydens die wanorde van so geveg. Die persoon probeer dan weer terugkom by een van sy kamerade. In die proses kan die persoon na wie hy toe probeer beweeg met dieselfde idee ingedagte, weer na ‘n ander kameraad probeer beweeg. In die proses beweeg almal hot en haar en niemand kom by iemand anders uit nie. Om hierdie situasie te verhoed het die generaals ‘n taktiek ontwikkel. Voor die geveg is daar vaaldeldraers wat pale drae met die kenteken van die volk of die leer boaan. Tydens die geveg probeer almal om so naby as moontlik aan die vaandel te bly. Sodoende sal die makkers makliker bymekaar kan bly. Hierdie vaandel word ook ‘n standaard genoem.
In ons alledaagse gebruik van die woord standaard verwys ons steeds in ‘n abstrakte sin na die rol wat die vaandel in outydse gevegte gespeel het. Die rede vir die bestaan van standaarde is ook analoog aan die rede daarvoor tydens hierdie outydse gevegte: ‘n standaard is daar om verhoed dat mens ronddryf sonder om te weet of dit wat mens doen reg of goed is. Byvoorbeeld, meetstandaarde help mens om te verseker dat die eenhede wat mens gebruik altyd dieselfde bly.
Die gebrek aan ‘n standaard kan in sekere gevalle ‘n kwessie van lewe of dood word, soos in die geval van die outydse gevegte. Een geval waar sulke standaarde broodnodig is, is in die geval van kultuur. Van die begin van die mensdom se bestaan af was sy kulturele ontwikkeling gekoppel daaraan dat die mens gebruike ontwikkel ter wille van sy oorlewing. Wanneer hierdie gebruike verlore gaan, verval die mens weereens in ‘n situasie waar sy oorlewing bedreig word. Om hierdie verval, wat mens ook dekadensie kan noem, te verhoed het die mens standaarde nodig.
Die mens se taal is ‘n oop taal, in teenstelling met die geslote tale van sommige diere. Verskillende woorde kan saamgevoeg word om nuwe sinne te maak en sodoende nuwe unieke betekenisse to verkry. Die mensdom is lief daarvoor om so met die taal te speel en betekenisse daarvan te ondersoek. Daar is die neiging om voordurend hierdie betekenisse as nuwe “waarhede” te probeer verdedig. Hierdie speletjie lei egter daartoe dat die mens geneig is om vorige aspekte van sy kultuur te verwerp en te vervang met hierdie nuwe “waarhede”. In die proses dryf die kultuur. Aspekte van die kultuur wat vantevore gehelp het om die gemeenskap te laat oorleef word verwerp en met ongetoetsde idees vervang wat heel waarskynlik eerder die lede van die gemeenskap in gevaar gaan stel. Daar is ‘n megansime nodig om hierdie dekadensie te verhoed deur standaarde te definieer waarvan daar nie afgewyk mag word nie.
Een so meganisme om standaarde te stel is die gebruik om van die kulturele reëls in wette vas te lê. Sodoende word die wetboek ‘n kulturele standaard wat die voorbestaan van die gemeenskap verseker. Wette kan egter verander word en sodoende kan die kultuur nogsteeds wegdryf van dit wat nodig is vir oorlewing. Die grondwet is egter ‘n deel van die wet wat nie so maklik verander kan word nie. Dit bied dus ‘n meer stabiele standaard vir die oorlewing van die gemeenskap. Wel, selfs ‘n grondwet kan verander word, of nog erger, die grondwet kan ‘n verkeerde standaard wees wat juis van die ou reëls wat oorlewing verseker het, verontagsaam. So hoe nou gemaak?
Dit is in die aard van die mens om alles te toets en te ondersoek. Hierdie aard kan eendersyds daartoe lei dat die mens meer kennis van sy omgewing inwin, maar dit kan ook daartoe lei dat hy die kennis wat reeds ingewin is tot niet maak. In die proses kan hy homself vernietig. God het die mens gemaak soos wat hy is, daarom is God bewus van hierdie neigings en die gevaar wat dit vir die voortbestaan van die mens inhou. God het dus besluit om vir die mens ‘n standaard te skep. Hy het mense geïnspireer om geskrifte te skryf en om hierdie geskrifte saam te voel in die Bybel. Die Bybel en die boodskap daarvan dien nou al vir meer as ‘n millenium as kulturele standaard. Selfs in die gevalle waar die meerderheid mense van ‘n land nie meer Christene is nie, is die kultuur van daardie land nogsteeds gefundeer op Bybelse beginsels wat as standaard dien vir daardie land.
In lande waar die kultuur nie gebasseer is op geloof in die God van die Bybel nie, het die kulture nogtans ontwikkel met beginsels wat baie soortgelyk is aan die beginsels van die Bybel. Dus, of dit nou deur inspirasie direk van God af verkry is, of deur ‘n lang proses van kulturele ontwikkeling verkry is, hierdie Bybelse beginsels dien as ‘n standaard vir die mensdom om sy oorlewing te verseker.
