Cheers vir eers

19 December 2008

… en met ‘n laaste grasieuse beweging swaai ek my groot strandhandoek met sy meermin motief soos ‘n mantel oor my kop terwyl ek ‘n buikdans doen en my tone krul van plesier en dan verdwyn ek in ‘n wolk seesand …

O en voor ek vergeet … ‘n groot Kerspersent het weereens sy opwagting gemaak. ‘n Nuwe geleentheid om volgende jaar ‘n loopbaansverandering te maak het my te beurt geval. Ek sit nou juis hier by die werk (waar die plek so stil soos ‘n graf is) en tik aan my bedankingsbrief. Dit was hoeka skrikkeljaar gewees … ;-)

Mag almal wat hier lees ‘n ware Christusfees beleef en mag die lewe volgende jaar so voorspoedig vir julle wees dat dit julle skoon verveel. :lol:


Kulturele standaard

17 December 2008

Lank gelede wanneer mense oorlog gemaak het, het hulle met handwapens, soos swaarde, teen mekaar geveg. In so geveg kan dit gebeur dat mens van die res van jou makkers geskei word en sodoende deur jou vyand omring word. So persoon het dan ‘n kleiner kans om te oorleef as wanneer hy een van sy kamerade agter hom het om sy rug te beskerm. In een van die episodes van die TV reeks Rome is Markus-Antonius oppad na die senaat met ‘n paar soldate, toe ‘n klomp vyandige soldate hulle aanval. Hy roep toe uit “Rally onto me, rally onto me!” Die idee is dat, as hy en sy soldate kan verhoed om van mekaar geskei te raak tydens die geveg, is daar ‘n beter kans vir hulle om te oorleef.

"Rally onto me!"

"Rally onto me!"

Die idee is dus om altyd langs jou makkers te veg. Nou gebeur dit egter dat iemand wel van sy makkers geskei raak tydens die wanorde van so geveg. Die persoon probeer dan weer terugkom by een van sy kamerade. In die proses kan die persoon na wie hy toe probeer beweeg met dieselfde idee ingedagte, weer na ‘n ander kameraad probeer beweeg. In die proses beweeg almal hot en haar en niemand kom by iemand anders uit nie. Om hierdie situasie te verhoed het die generaals ‘n taktiek ontwikkel. Voor die geveg is daar vaaldeldraers wat pale drae met die kenteken van die volk of die leer boaan. Tydens die geveg probeer almal om so naby as moontlik aan die vaandel te bly. Sodoende sal die makkers makliker bymekaar kan bly. Hierdie vaandel word ook ‘n standaard genoem.

In ons alledaagse gebruik van die woord standaard verwys ons steeds in ‘n abstrakte sin na die rol wat die vaandel in outydse gevegte gespeel het. Die rede vir die bestaan van standaarde is ook analoog aan die rede daarvoor tydens hierdie outydse gevegte: ‘n standaard is daar om verhoed dat mens ronddryf sonder om te weet of dit wat mens doen reg of goed is. Byvoorbeeld, meetstandaarde help mens om te verseker dat die eenhede wat mens gebruik altyd dieselfde bly.

Die gebrek aan ‘n standaard kan in sekere gevalle ‘n kwessie van lewe of dood word, soos in die geval van die outydse gevegte. Een geval waar sulke standaarde broodnodig is, is in die geval van kultuur. Van die begin van die mensdom se bestaan af was sy kulturele ontwikkeling gekoppel daaraan dat die mens gebruike ontwikkel ter wille van sy oorlewing. Wanneer hierdie gebruike verlore gaan, verval die mens weereens in ‘n situasie waar sy oorlewing bedreig word. Om hierdie verval, wat mens ook dekadensie kan noem, te verhoed het die mens standaarde nodig.

Die mens se taal is ‘n oop taal, in teenstelling met die geslote tale van sommige diere. Verskillende woorde kan saamgevoeg word om nuwe sinne te maak en sodoende nuwe unieke betekenisse to verkry. Die mensdom is lief daarvoor om so met die taal te speel en betekenisse daarvan te ondersoek. Daar is die neiging om voordurend hierdie betekenisse as nuwe “waarhede” te probeer verdedig. Hierdie speletjie lei egter daartoe dat die mens geneig is om vorige aspekte van sy kultuur te verwerp en te vervang met hierdie nuwe “waarhede”. In die proses dryf die kultuur. Aspekte van die kultuur wat vantevore gehelp het om die gemeenskap te laat oorleef word verwerp en met ongetoetsde idees vervang wat heel waarskynlik eerder die lede van die gemeenskap in gevaar gaan stel. Daar is ‘n megansime nodig om hierdie dekadensie te verhoed deur standaarde te definieer waarvan daar nie afgewyk mag word nie.

Een so meganisme om standaarde te stel is die gebruik om van die kulturele reëls in wette vas te lê. Sodoende word die wetboek ‘n kulturele standaard wat die voorbestaan van die gemeenskap verseker. Wette kan egter verander word en sodoende kan die kultuur nogsteeds wegdryf van dit wat nodig is vir oorlewing. Die grondwet is egter ‘n deel van die wet wat nie so maklik verander kan word nie. Dit bied dus ‘n meer stabiele standaard vir die oorlewing van die gemeenskap. Wel, selfs ‘n grondwet kan verander word, of nog erger, die grondwet kan ‘n verkeerde standaard wees wat juis van die ou reëls wat oorlewing verseker het, verontagsaam. So hoe nou gemaak?

Dit is in die aard van die mens om alles te toets en te ondersoek. Hierdie aard kan eendersyds daartoe lei dat die mens meer kennis van sy omgewing inwin, maar dit kan ook daartoe lei dat hy die kennis wat reeds ingewin is tot niet maak. In die proses kan hy homself vernietig. God het die mens gemaak soos wat hy is, daarom is God bewus van hierdie neigings en die gevaar wat dit vir die voortbestaan van die mens inhou. God het dus besluit om vir die mens ‘n standaard te skep. Hy het mense geïnspireer om geskrifte te skryf en om hierdie geskrifte saam te voel in die Bybel. Die Bybel en die boodskap daarvan dien nou al vir meer as ‘n millenium as kulturele standaard. Selfs in die gevalle waar die meerderheid mense van ‘n land nie meer Christene is nie, is die kultuur van daardie land nogsteeds gefundeer op Bybelse beginsels wat as standaard dien vir daardie land.

In lande waar die kultuur nie gebasseer is op geloof in die God van die Bybel nie, het die kulture nogtans ontwikkel met beginsels wat baie soortgelyk is aan die beginsels van die Bybel. Dus, of dit nou deur inspirasie direk van God af verkry is, of deur ‘n lang proses van kulturele ontwikkeling verkry is, hierdie Bybelse beginsels dien as ‘n standaard vir die mensdom om sy oorlewing te verseker.


Die soeke na sin

12 December 2008

Vanaf die vroegste tye in die ontwikkeling van die mens is hy gewikkel in ‘n stryd vir oorlewing. Hy moet soek vir kos, ‘n skuiling kry teen die elemente en dan moet hy nog allerande gevare, soos roofdiere, oorkom. Hierdie stryd duur voort dag na dag, maar dan op ‘n stadium wanneer daar kos en skuiling is en alles is rustig, sit hy by sy vuur kyk hy op na die sterre en vra homself: “Hoekom? Wat is die sin in hierdie oorlewingstryd?” Die volgende dag gaan die stryd weer voort en vergeet hy van die vrae. Maar mettertyd begin die vrae hom so pla dat hy nie meer kans sien vir die stryd nie. Ek glo dis in daardie oomblik wat sy God aan hom verskyn Sy hand op sy skouer plaas en vir hom sê: “Ek het jou gemaak net soos Ek die diere gemaak het wat jy jag om te eet; net soos Ek die vuur gemaak het waarop jy die vleis gaarmaak; net soos Ek die berge en grotte gemaak het waarin jy skuiling vind; net soos Ek die reën gemaak het wat die aarde voed en vir jou water gee; net soos Ek die sterre maak wat jy nog nie verstaan nie. Ek gee aan jou lewe betekenis. Gaan môre voort en leef op ‘n positiewe opbouende wyse. Eendag gaan Ek jou verlos van hierdie stryd.”

So gaan die mens dan voort en ontwikkel. Sy kennis van sy omgewing neem toe en sy vermoë om te oorleef verbeter. Die stryd vir oorlewing kom egter nie tot ‘n einde nie, want soos die mense meer word, word die hulpbronne per persoon minder. Party mense vaar beter as anders en onmin en afguns vier hoogty. Tog kom daar die rustigheid na die dag se geswoeg wanneer hy weer met ‘n glas wyn in die hand om die vuurherd sit en wonder: “Hoekom? Wat is die sin in hierdie oorlewingstryd?” Nou is daar priesters en profete wat aan hom God se woord bedien en vir hom probeer verduidelik wat die sin daarvan is. Hulle gaan steeds voort en moedig hom aan om voorbeeldig te lewe en nie deel te wees van die nydigheid in die wêreld nie.

So kom die dag dan wat God die Verlossing bring. God word as mens gebore en sterf ‘n wrede kruisdood en word weer opgewek om op te vaar na die hemel. Sodoende ontstaan die Christen geloof. Tog gaan die oorlewingstryd voort. Die wêreld is steeds vol ongeregtighede. Die mens voel om die bos gelei. Die Christen kerk word magtig en heers oor Europa vir eeue. In hierdie tyd dra hulle by tot ongeregtighede in die wêreld en bied nuwe uitdagings vir oorlewing. Wanneer Europa uiteindelik homself losbreek onder die kerk se beheer ontdek die mens ‘n metode om sy omgewing beter te kan verstaan. Hy ontwikkel die wetenskap.

Die wetenskap gee hom baie mag, want hy kan al meer van sy omgewing verstaan. Dit lei uiteindelik tot die moderne era waar die mens begin glo dat hy homself kan verlos van sy oorlewingstryd. Hy begin homself wysmaak dat hy God nie meer nodig het nie want die wetenskap gee nou vir hom die antwoorde waarna hy gesoek het. So ontstaan die wetenskap gefundeerde ateïsme. Geloof in God word nou vervang met ‘n geloof in die wetenskap.

Wat is dan die antwoord wat hy nou vanaf sy wetenskap kry op al sy vrae? Niks! Daarvolgens is daar geen sin in die bestaan van die mens nie. Sy “verlossing” deur die wetenskap laat hom nou in ‘n woestyn van leegheid. Die “verlossing” is opsig self ook ‘n mislukking want die stryd gaan steeds voort. Ongeregtigheid in die wêreld is nog net so wyd verspreid soos altyd. Die mens doen nogsteeds gruweldade. Die wetenskap maak dit vir hom moontlik om gruweldade op ‘n skaal te pleeg wat ondenkbaar was voor die ontstaan daarvan. Met of sonder die wetenskap bly die mens ewe verlore. Geen kulturele ontwikkeling of wetenskaplike ontdekking gaan ooit die verlorenheid en die stryd vir oorlewing wegvat nie.

Nou sit hy in sy eersteklas sitplek op die vliegtuig en drink sy sjampanje. Dan wanneer hy stil word begin hy steeds wonder “Hoekom? Wat is die sin in hierdie oorlewingstryd?” Die ateïsme bevredig nie. Dis te leeg. ‘n Behoefte vir die spirituele ontwikkel in sy binneste. En hy begin soek, min wetende dat hierdie soeke so oud is as die mensdom self, min wetende dat die behoefte na die spirituele dieselfde was toe God die eerste keer sy hand op die mens se skouer geplaas het, dat dit juis God se stem is wat na hom roep.

So nou gaan hy en ontwerp vir hom sy eie spiritualiteit — ‘n DIY (do-it-yourself) spiritualiteit. Vat ‘n bietjie hier; gooi daai uit, want dit laat my ongemaklik voel; verdraai daardie totdat dit mooier klink en my beter voel. Wat maak dit saak dat die hele ding ‘n verbeeldingsvlug is? Die post-moderne mens skep sy eie werklikheid en glo dit dan. Wat maak dit saak dat dit in absolute terme logies genoeg nie die waarheid kan wees nie — die grootste klomp twak is? Solank dit hierdie gevoel binne hom, hierdie behoefte en hunkering, kan verdoof. Miskien sal dit dan verhoed dat daardie koue oomblik weer kom waar die mens homself afvrae “Hoekom? Wat is die sin in hierdie oorlewingstryd?”

“Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. … Die belangrikste van alles is: My seun wees versigtig! Daar kom nie ‘n einde aan die skryf van baie boeke nie, teveel studie ooreis die liggaam. Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.”


Enige oomblik nou …

10 December 2008

… gaan ek so klein Kersgeskenkie kry van almal wat al my woernaal besoek het sedert ek begin woer het. My satistieke gaan omslaan van 4 syfers na 5 syfers. Ek weet dis nou nie so big deal nie maar dit gee my tog die geleentheid om vir almal wat al hier by my kommentaar gelewer het of sommer net ingeloer het, ‘n groot groot dankie en ‘n baie welkom te sê.


Wat is sonde?

10 December 2008

Onlangs het ek en Emil in ‘n gesprek by Retha gesels oor die konsep van sonde. Daar het ek besef dat nie almal dieselfde konsep het oor wat sonde is nie. In die gesprek verwys Retha na argumente wat probeer beweer dat daar geen sonde is nie. Wat my betref beteken dit eenvoudig dat hierdie mense die konsep van sonde verkeerd verstaan. Die argument fasineer my, want dis ‘n klassieke voorbeeld van ontkenning (“denial” ):

“Daar is gee sonde nie!”

… tog het jy ‘n moraliteit

“Daar is geen sonde nie.”

… tog oortree jy soms jou eie moraliteit

“Daar is geen sonde nie?”

… tog dra jy die skuld van jou oortredings!

Sonde kan suiwer in terme van ‘n sekulêre argumente gedefinieer word. Kultuur het saam met die mens ontstaan. Kultuur ontwikkel, dit verander en groei. Moraliteit is deel van kultuur, dit verander en groei ook. Elke mens wat binne so kultuur staan, het dus ‘n moraliteit waarin daardie persoon glo. Dis nie iets wat jy “bewys” nie. Deel van die moraliteit van ‘n kultuur mag vasgelê wees in die wette van die land waarin die persoon woon. Nogtans is daar altyd aspekte van die moraliteit wat nie deel is van die landswette nie. As mens ‘n landswet oortree dan noem mens dit ‘n misdaad. Wat noem mens dit as jy die deel van jou moraliteit oortree wat nie deel is van die landswette nie? Sonde! Wil jy dit iets anders noem? Doen dan so. Die feit dat jy dit ‘n ander naam gee beteken egter nie dat dit nie bestaan nie.

Die oortreding van moraliteit is ‘n realiteit. Dis deel van die gebrokenheid van die wêreld. Dis waarvoor Jesus gekom het en aan die kruis gesterf het.