Slaan oor na inhoud

Die ontstellende boodskap

5 Januarie 2009
Raadskamer

Raadskamer

Dit is met angstigheid wat die prinsie na die deur van die koninklike raadskamer toe loop. Die koning is nie daar nie want hy is op reis in ‘n ander land. Die prinsie is egter dringend deur die hoofraadgewer van die koning ontbied. Binne die raadskamer is daar ‘n groot lessenaar en die hoofraadgewer en die onderhoofraadgewer staan aan weerskante daarvan. Toe die prinsie die raadskamer binne kom gaan die twee raadgewers egter af op hulle kneë en buig diep voor die prinsie.

Die prinsie se mond hang oop want nog nooit van tevore het enige van die koning se raadgewers soveel eer aan hom betoon nie. Uiteindelik staan die twee raadgewers weer op en die hoofraadgewer wat in ‘n uitspattige pers en goue baadjie gekleë is sê: “Kom sit asseblief by die lessenaar u majesteit.”

Weereens is die prinsie geskok want niemand het hom nog ooit as “u majesteit” aangespreek nie. Hy loop na die stoel van die lessenaar en gaan sit daar. Die hoofraadgewer draai na hom toe met ‘n baie ernstige uitdrukking op sy gesig. “Dit spyt my u majesteit om u mee te deel dat u vader, die koning … vermis is.”

Die prinsie besef skielik dat dit nou van kardinale belang is dat hy sy emosies moet beheer. Daarom pers hy sy lippe saam en bly stil sit en luister.

“Aangesien u die troon opvolger is, is u nou … er … koning van die land. Maar, u is nog minderjarig. Daarom sal ‘n rentmeester eers die regering van die land oorneem totdat u oud genoeg is om dit self te behartig. Die onderhoofraadgewer se groot groot oupa grootjie was eenmaal rentmeester, daarom sal hy as rentmeester optree.”

Die prinsie kyk op na die man wat aan sy regterkant staan. Die onderhoofraadgewer, of te wel rentmeester, met ‘n vroom uitdrukking op sy gesig, knip so effens sy kop.

Die prinsie draai weer na die hoofraadgewer en vra: “Wie gaan gestuur word om na my vader te soek?”

“Er … u majesteit, die verwagting is nie dat u vader nog lewe nie en dis nie volgens ons wenslik en in belang van die land dat iemand nou moet loop soek na die gewese koning nie.”

Die prinsie spring op. “Wel aangesien ek nou koning is beveel ek dat daar onmiddelik iemand gestuur word om na my vader te loop soek!”

Die twee raadgewers kyk na mekaar en die hoofraadgewer vra dan: “Maar wie moet ons stuur u majesteit?”

Die prinsie dink vir ‘n oomblik en kondig dan aan. “Ek sal self gaan.”

Onmiddelik begin die rentmeester protesteer, maar die hoofraadgewer maak sy keel skoon. Sonder dat die prinsie dit sien knipoog hy vir die rentmeester. Dan sê hy. “Wel miskien is dit die gepasde ding om te doen, u majesteit. Ons kan reël dat ‘n klein afdeling van die koninklike wag u vergesel na die land waar u vader gereis het toe hy vermis geraak het. Moet ons reëlings tref dat u reeds môre oggend vroeg vertrek?”

Die prinsie bly vir ‘n oomblik stil en sê dan: “Maak so.”

foto: flickr

12 Kommentaar
  1. 5 Januarie 2009 6:40 nm

    Mmmm moenie te lank draai met die vervolg nie asseblief. Ek sien hier is dinge aan die broei! :lol:
    Ek vertrou glad nie hierdie hoofraadgewer nie!!! :mrgreen:

    Wanneer kan ek inskakel vir die volgende episode? LOL

  2. Mefri permalink
    5 Januarie 2009 11:12 nm

    Dankie flippiefanus, ek geniet dit vreeslik om jou prinsiestories te ontrafel.

  3. 6 Januarie 2009 6:00 vm

    Is daar ‘n opvolg. IS dit moontlik dat hier ‘n prentjie van wantroue en agterdog geskets word wat ‘n mens wil laat sê: “Kry someone to watch the bacjk of the one that is watching your back.”

  4. 6 Januarie 2009 7:46 vm

    Wipneus, as alles goed gaan sal die volgende deel binnekort verskyn. Maar miskien moet ek nie te vinnig beloftes maak nie. My vriendin uit Kanada is nou hier en ek gaan dalk van nou af redelik besig wees.

    Mefri, dis omdat ek weet jy geniet dit so dat ek besluit het om vir prinsie terug te bring. ;-)

    Attie, ja die idee is dat daar ‘n opvolg sal wees. Sal maar sien hoe verloop die saak. ;-)

  5. Mefri permalink
    6 Januarie 2009 8:05 vm

    ((((Flippiefanus)))) Dankie.

  6. 6 Januarie 2009 10:37 vm

    nice prosa :)

  7. 12 Januarie 2009 3:20 nm

    Jippie!!! Die prinsie is terug. Nee man, hymoet g’n niks daai raadgewers vertrou nie.

  8. Mefri permalink
    13 Januarie 2009 11:56 nm

    Flippiefanus, ek het dit ongelooflik baie geniet, en baie dankie vir jou moeite, ek waardeer dit verskriklik baie.

    Jy het die werklikheid waaronder ons dikwels keuses moet maak suksesvol uitgebeeld in werksomstandighede sowel as in interpersoonlike verhoudinge. Ek lief veral die manier waarop jy die simbole gebruik het om ’n dieper kleur en betekenis aan situasies en omstandighede te verleen.

    Dit gaan weereens oor die maak van keuses wat beïnvloed word deur; emosioneledruk, manipulasie, leuens, en projektering.

    Simbole: Die groot lessenaar: die gesag van die koning – Raadgewers aan weerskante van die tafel: verteenwoordig die prinsie sogenaamde gesag sonder mag. Die hoofraadgewer se kleredrag verklap sy motiewe om beheer van die troon oor te neem en ook sy behoefte om in die kollig te wees – pers = koningskleur & goud = kroon (hy het sy behoeftes op die prinsie probeer projekteer, maar hy kon nie daarin slaag nie)

    Die manipuleerder het van onderduimse fynbeplande strategieë en taktiek gebruik gemaak om sy verskuilde agendas te verbloem – homself bo verdenking te probeer plaas – hy het ‘n onbevoegde rentmeester gekies wat hy hopelik ook sou kon manipuleer – hy het die prinsie slinks gelei om onverstandige besluite te neem deur emosioneledruk toe te pas en misbruik te maak van sy lojaliteit, pligsbesef en sy liefde vir sy vader. (Geen feite word verskaf wat die koning se dood kon staaf of dat hy vermis word nie)

    Daarna het hy vinnig en doelgerig opgetree om te verhoed dat sy planne in die wiele gery kon word. Die klein groepie wagte wat die prinsie moes beskerm, was deel van sy plan om onwelkome inmenging van die prinsie te verhoed.

Trackbacks

  1. Laat die nag « Flippiefanus
  2. Verskuilde ontmoeting « Flippiefanus
  3. Vrolikheid in die raadskamer « Flippiefanus
  4. Feesmaal in die skuur « Flippiefanus

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.