Laat die nag
Daardie nag kon die prinsie nie slaap nie. Die berig van sy vermiste vader het hom te veel ontstel. Boonop veroorsaak die voorgenome reis van die volgende dag by hom ‘n groot angstigheid.
Hy staan toe maar op uit sy bed. Sy persoonlike dienskneg slaap in sy eie vertrek en die prinsie wou hom liewer nie steur nie. So loop hy deur die donker paleis. Gelukkig is dit volmaan en daar is genoeg lig in die paleis om te sien waar hy gaan. Nêrens tref hy enigiemand anders aan nie.
Terwyl hy loop dink hy aan sy moeder wat in haar eie paleis woon. Hy wens hy kon by haar gewees het, of ten minste dat hy haar kon besoek het voordat hy sou vertrek. Hy wonder hoe die berig haar moes ontstel het. Die berig sou sekerlik sy pad ook tot by haar gevind het.
Terwyl hy so loop en dink begin die trane stadig by sy ogies opwel.
Op daardie stadium bevind hy homself in die groot troonsaal. Die troonsaal
het ‘n baie hoë plafon en in die muur agter die platvorm waarop die troon staan is daar ‘n groot ronde venster van gekleure loodglas. Die maan skyn deur hierdie venster en vorm ‘n veelkleurige ronde patroon op die vloer van die troonsaal.

Die prinsie loop na hierdie ronde ligkol en gaan staan in die middel daarvan. Sy hart is baie seer en hy huil saggies. Dan gaan sit hy plat op die vloer en kyk na die maan deur die gekleurde venster. Dit tref hom hoe pragtig dit lyk. Vir ‘n oomblik vergeet hy van sy hartseer en verwonder hom aan die pragtige kleure.
Dan voel hy skielik nie meer so hartseer nie. Dis asof daar vrede en rustigheid oor sy gemoed kom. Hy sien sommer skielik weer kans vir dit wat op hom wag. Dis asof hy die versekering kry dat alles goed sal afloop.
Nadat hy vir ‘n rukkie so gesit het en die prag van die maanskyn deur die loodglasventer beskou het, staan hy weer op en loop terug na sy slaapkamer toe. Kort nadat hy in sy bed geklim het, was hy vas aan die slaap.

Dagse Flippiefanus
Ek sal die res van die storie met aandag volg. Sal maar nie te veel gevolg trekkinge maak nou al nie, maar een deel is vir my persoonlik duidelik. Sodra jy verder as jou self en die voorliggende probleme kyk sal jy altyd krag en kalmte kry.
Groete
mmm…. sal maar moet wag vir die opvolg
KOm kom, jy sal moet vinniger skryf, Flippiefanus. Die groot nuuskierigheid maak my dood!
Flippiefanus; hierdie hoofstuk het diep tot my gespreek, dankie. Ek het goed gedink om so bietjie af te wyk en tussen die lyne te vertel van wat dit vir my beteken het.
Jy het die stories so geskep dat ek absoluut kan identifiseer met die inhoud, verskillende fases van persoonlike emosionele (en ander) ontwikkelings prosesse wat ek persoonlik ervaar en oorbrug het – insluitende die wat ek hoop en poog om nog te kan bemeester. Dit is ‘n spieël waarin ek myself duidelik kan raaksien.
Die maan skyn (lig op jou pad) deur hierdie venster en vorm ‘n veelkleurige ronde patroon op die vloer van die troonsaal (die teenwoordigheid van vrede en hoop)- Die prinsie loop na hierdie ronde ligkol en gaan staan in die middel daarvan (Hy beklee homself hiermee)
Bekommernis is dikwels ’n alleenstryd. Dit maak jou rusteloos en steel jou vrede – dit beklemtoon onsekerhede wat deel uitmaak van nuwe omstandighede wat soms uitkring in ’n gevoel van onvermoë – dan staan jy op; neem jou hartseer en bekommernis en gaan soek jou krag en vind gemoedsrus in God se teenwoordigheid in die troonkamer van gebed.
Prinsie: Jy skets sy karakter duidelik; ‘n klein mensie met ‘n groot omgee-hart- wat homself geestelik voorberei vir die stryd. Hy is ‘in touch with his emotions’ erken en verwerk dit.
Sy instinkte is aanwesig, maar die gewaarwording van die inhoud wat hy ervaar is nog vaag en insig ontbreek nog op hierdie stadium.
Sy trane en sy moeder; deernis vir diegene wat naby jou is, wat geaffekteer word deur die omstandighede waarin jy jouself bevind. Jy maak my nederig besef dat ek nog so baie het om te leer en ook dankbaar vir wat die leerskool van die lewe alreeds by my ingeprent het.
Gonna, ek weet nie waar die ‘& hellip’ nou vandaan gekom het nie.
Geduld mense, met verdrag sal die storie vorder.
Mefri, dis merkwaardig om te lees hoe jy dinge kan sien. Jy verwoord dit baie goed.
(((Flippiefanus))) ♪
♪