Slaan oor na inhoud

Verskuilde ontmoeting

19 Januarie 2009

Daardie selfde nag, in ‘n vervalle gebou aan die ander kant van die stad as waar die paleis staan, sit twee mans rondom ‘n tafel. Die een man dra ‘n uitspattige pers en goue baadjie. Die ander een is in ‘n vuil bruin baadjie gekleë.

Daar heers ‘n ongemaklike stilte. Dan gluur die man in die pers baadjie na die ander een en sê: “Gaan jou man nog kom.”

Die ander man bly staar na ‘n beker met een of ander vloeistof voor hom waaraan hy so nou en dan drink: “Hy sal kom.”

Man in swart

Man in swart

Weer duur die stilte voort. Dan is daar ‘n geritsel by die venster. Die man in pers draai om en skrik toe hy iemand volledig in swart gekleë daar sien staan. “Jy is laat!” sê hy.

Die man in swart bly rustig by die venster staan en sê: “Die Swart Hand kom wanneer hy wil.”

“Kom sit hier by die tafel dat ons kan praat.”

“Die Swart Hand sal net hier bly staan. Sê wat jy te sê het.”

Die man in pers bly vir ‘n ruk stil. Hy kyk terug na die ander man by die tafel, wat nogsteed na sy drankie staar asof niks gebeur het nie.

Dan draai hy weer sy blink na die man in swart. “Nie lank terug nie het jy vir my ‘n takie verrig.” Hy wag ‘n oomblik, maar die man in swart sê niks. “Wel ek het weer ‘n soortgelyke takie vir jou. Môre oggend vroeg vertrek daar ‘n koets na die buurland toe.” Weer wag hy ‘n rukkie. “Dis verkieslik dat die koets nie die buurland bereik nie.”

Die man in swart lig sy kop en kyk hom direk in sy oë, wat veroorsaak dat die man in pers ongemaklik word en sy kop wegdraai. “Ek sien … en in ruil daarvoor?” vra die man in swart.

“Dieselfde as die vorige keer.”

Die man in swart bly direk na die man in pers staar sonder om ‘n woord te sê. Uiteindelik voel die man in pers so ongemaklik dat hy terugdraai en kyk na die ander man by die tafel. Laasgenoemde het nog nie sy blik van sy drankie af verwyder nie.

Dan is daar weer ‘n geritsel en toe die man in pers weer omdraai is die man in swart weg. Die ander man lig sy beker op en neem ‘n slukkie en sê: “Jy weet natuurlik dat jy die prys sal moet lig hierdie keer.”

“Hy het niks gesê nie! As hy meer wou hê sou hy dit moes sê!”

“Die Swart Hand praat nooit baie nie.”

“Wel gaan hy dan doen wat ek hom gevra het?”

“Hy sal dit doen, maar jy sal meer moet betaal.”

6 Kommentaar
  1. 19 Januarie 2009 12:00 nm

    Dagse Flippiefanus
    Ek wag vir die res van jou verhaal.
    Wil vir my voorkom jou verhaal is oortrek van korrupsie en rugstekery :shock:
    Klink ampers soos ‘n dag in die lewe van SA Parlement. :wink:
    Groete

  2. 19 Januarie 2009 5:53 nm

    Hi Flippie, jy hou ons vasgenael voor die rekenaar skerm ;)

  3. 19 Januarie 2009 6:05 nm

    Klink onheilspellend! Jy moet later ‘n boek uitgee!

  4. 26 Januarie 2009 7:18 vm

    :lol: Ek is bly julle geniet dit.

  5. Mefri permalink
    27 Januarie 2009 12:07 vm

    Donkerdinge word beplan waar lig, sigbaarheid en deursigtigheid afwesig is – vrede ontbreek – elkeen van die karakters gebruik manipulerende vaardighede om respek deur middel van vrees te vermag en om beheer (control) op mekaar uit te oefen.

    Hulle kleredrag weerspieël hulle eie donkerheid. Hulle is interafhanklik van mekaar – het ‘n houvas op mekaar – is uitgelewer aan mekaar – lojaliteit word bepaal deur prys en intimidasie.

    Gedrag en houding teenoor mekaar: Toon geen wedersydse respek, ongeduldig, wantrouerig, senuweeagtig en intimiderend –beheer mekaar en word beheer deur vrees.
    Dit is interessant hoe veral die bemiddelaar (ou vuil-bruin) onderdanigheid en ‘respek’ forseer dmv die benutting van vrees – Hy gebruik HR se swakhede as ‘n magtige wapen teen homself (HR); die lafaard wat agter die skyn-kleed-masker skuil – hy tree dus doelbewus stilswyend op (emosionele intimidasie) om sy greep te versterk en HR van sy bravade te stroop en sy minderwaardigheidsgevoel te vergroot – hy gebruik die man in swart se intimiderende invloed op die HR om hom finaal te kelder voordat hy ‘n groter beloning te eis.

    Die man in swart: Skimagtige karakter, sy blote teenwoordigheid boesem vrees in – self onderwerp hy homself aan geen gesag nie en hy hanteer die ander twee minagtend, want hy weet; hy word gevrees. Hy gee nie sonder om vir homself te vat nie en hy eis telkens meer.

    Ek wonder of jy die donkerman se praktyke doelbewus geskets het?

Trackbacks

  1. ‘n Toevallige ontmoeting « Flippiefanus

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.