Slaan oor na inhoud

Die gesaboteerde koets

26 Januarie 2009

Die pad wat lei na die brug tussen die land van die prinsie en die buurland loop eers deur ‘n dorpie voordat dit by die brug kom. Hierdie dorpie is baie bekend vir sy mark waar daar allerande soetgebak verkoop word. Weens hierdie rede en die feit dat enige sesjarige seuntjie ‘n soet tand het, het prinsie dit baie duidelik gestel dat daar eers by hierdie mark gestop moet word. Die kaptein van die berede wag wat die prinsie se koets vergesel, was glad nie baie tevrede met hierdie reëling nie, maar hy moes noodgedwonge ingee en het toe besluit dat die wag in die lokale drinkplek sal gaan ontspan terwyl die prinsie na hartelus in die mark rondloop.

koetsDie koets is voor die herberg tot stilstand gebring sodat die perde daar deur die herbergier versorg kan word. Die prinsie kon nie wag nie en is direk mark toe met sy dienskneg agterna. Die wag het hul perde ook daar in die hande van die herbergier gelaat.

Die arme herbergier se hande was nou vol met die versorging van al die diere. Voor hy en sy helper nog kon aandag gee aan die koetsperde sluip daar ‘n man in swart onder die koets in en ‘n rukkie later sluip hy weer daar weg sonder dat iemand hom gewaar.

Die herbergier vra toe sy helper om nog hulp te gaan kry sodat die perde van die koets ook versorg kan word. Die helper gaan kry toe vinnig twee mans langs die pad om te help met koets. Wat hy egter nie besef nie is dat die twee mans leeglêers is. Toe die twee die pragtige koets met sy pragtige perde sien kry hulle ander gedagtes. So gou as wat die helper weer terug is na die herbergier toe klim hulle op die koets en jaag daar weg. Die twee skerminkels besluit dat dit die veiligste sal wees as hulle sou gou as moontlik die brug oorsteek na die buurland toe. In die buurland sal hulle waarskynlik die perde en koets vir ‘n lieflike prys kan verkoop.

Die kaptein was nog besig om ‘n sluk van sy bier te neem toe hy die koets voor die dinkplek sien verbyjaag. “Nee, nou gaan hy te vêr! Eers laat hy ons hier stop sodat hy mark toe kan gaan en dan vertrek hy weer voordat ons nog ons bier kan klaar drink.” Dan roep hy die res van die manne. “Kom, die prinsie wag nie vir ons nie.” Hulle haas terug na die herberg toe en tref die herbergier daar aan totaal onbewus daarvan dat die koets weer vertrek het. So gou as wat hulle kan, saal hulle die perde op en jaag met die pad na die brug toe.

Oppad na die brug haal die wag stelselmatig die koets in. Voordat hulle egter by die koets kan kom gebeur daar iets vreesliks. Net toe die koets die brug bereik, breek die stang wat die perde aan die koets verbind los. Terwyl die perde oppad is om oor die brug te hardloop begin die koets ‘n ander rigting kies. Dit bots teen die kant van die brug en stort dan ten aanskoue van die wag oor die kant in die afgrond af. Die rivier wat die twee lande skei maak hier ‘n baie diep kloof waaroor die brug strek. Die kaptein en sy wag kom tot stilstand op die brug en is totaal verslae oor wat sopas plaasgevind het. Die koets het homself te plette geval en onder die bruisende water van die rivier verdwyn.

Die kaptein klim van sy perd af, haal sy helm van sy kop af en kniel by die kant van die brug. Die res van sy wag volg sy voorbeeld.

Op ‘n heuwel wat uitkyk op die brug staan daar ‘n man in swart. Hy het die hele insident aanskou.

11 Kommentaar
  1. 26 Januarie 2009 7:45 nm

    Dagse Flippiefanus
    Welkom terug en ek lees die res van die verhaal met afwagting. :shock:
    Alles van die beste vir jou
    Groete

  2. 26 Januarie 2009 8:33 nm

    En ek volg ook nog die verhaal! ;)

    Ek hou van die blogverandering, baie mooi!

  3. 27 Januarie 2009 7:14 vm

    Flippie, ek moet jou gelukwens met jou baie nice nuwe header.

  4. 27 Januarie 2009 10:53 vm

    Dankie, ek moet se^ dat ek nog nie heeltemal tevrede is met hoe dinge lyk en werk nie. Dus sal die voorkoms waarskynlik binnekort weer verander. Waar ek vantevore onder die indruk was dat daar ‘n wye verskeidenheid van Themes was waaruit mens kon gekies het, lyk die keuse nou skielik vreeslik beperk, tot so mate dat ek nie die funksionaliteit kan kry tesame met die looks wat ek soek nie. Miskien is dit ‘n rede om mens se eie domein te kry sodat mens jou eie ding kan doen. :???:

  5. 27 Januarie 2009 10:54 vm

    flippiefanus.co.za klink glad nie na ‘n slegte idee nie.

  6. 29 Januarie 2009 7:09 vm

    Emil, behalwe vir die meer vryheid om kreatief te wees is daar nie op die oomblik vir my rede om my eie tuiste te kry nie. Miskien eendag.

  7. 29 Januarie 2009 11:38 vm

    hmm…ek moet regtig die tweede deel in my reeks klaarskryf en vrystel…

  8. 30 Januarie 2009 8:16 nm

    En toe seëvier die goeie tog oor die bose, weliswaar onwetend. Want die prinsie moes eintlik in daardie koets gewees het.

  9. 1 February 2009 5:59 nm

    Johan, watter reeks is dit nou weer?

    Sonkind, dis darem ‘n goeie ding anders was die storie nou verby. ;-)

  10. Mefri permalink
    5 February 2009 9:50 nm

    Flippiefanus, ek lief jou prinsie-storie nog steeds oor ’n honderd,dankie.

  11. 6 February 2009 6:12 vm

    Dankie Mefri

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.