Kulturele verwysings

Die vermoë om patrone te kan identifiseer moes op een of ander manier vir die mensdom ‘n oorlewingsvoordeel beteken het. Nie net alleen het die mens hierdie vermoë ontwikkel nie, maar dit het in so mate ontwikkel dat dit die mens plesier verskaf om patrone te identifiseer. In hierdie opsig verwys die term ‘patroon’ na iets wat herhaal, ‘n reëlmatigheid of selfs ‘n simmetrie. So patroon word as esteties waargeneem.

Patrone in musiek speel ‘n belangrike rol in hoe mens die musiek ervaar. Hier praat ek nie net van die reëlmatige ritme wat mens in kontemporêre musiek kry nie, ook nie net van ‘n wysie of tema wat herhaal word nie, maar ook van die vorm wat die musiek kan aanneem, soos byvoorbeeld ‘n simfonie of klavierkonsert wat uit verskillende bewegings bestaan. In operas en flieks kry mens baie maal ‘n spesifieke tema wat elke nou en dan herhaal word. Hierdie herhalings help om die fliek ‘n eenheid te gee. Dit bind die storie saam. Telkens as mens die tema musiek weer hoor dan verskaf dit ‘n aangename gewaarwording.

kuns

Die saambindende effek van iets wat herhaal word kan mens verder deurtrek na die kultuur in sy geheel. Dis iets wat ek kulturele verwysing noem (“cultural referencing”). Hier dink ek spesifiek aan die kunste wat deel uitmaak van die kulture van die wêreld. Dit neem ‘n verskeidenheid van vorme aan. Dit kan ‘n deel van ‘n liedjie wees wat ‘n ander liedjie skrywer in sy liedjie inskryf. Dit kan ‘n tema van ‘n vorige gedig wees wat in ‘n nuwe gedig ingewerk word. Die kan die komposisie van ‘n skildery wees wat op die komposisie van ‘n vorige skildery gebasseer is. Aanhalings is nogal iets wat baie voorkom. Emil is veral lief daarvoor in sy inskrywings.

Hierdie verwysings waarvan ek praat is nie gevalle van plagiaat nie, want die herhaling word doelbewus gedoen sodat die mense wat die kuns waarneem die verwysing kan identifiseer. Waar nodig word dit met die goedkeuring van die oorspronklike kunstenaar gedoen.

Om so verwysing te kan identifiseer verskaf vir die aanhoorder of waarnemer intense plesier. Dis ‘n plesier wat gesetel is in die mens se oeroue behoefte om sy omgevind te kan verstaan. Hierdie behoefte is dus afgestem op die identifikasie van herhalings. Om dus iets waar te neem wat jy herken, gee jou onbewustelik die gevoel dat jy iets verstaan van jou omgewing en dit maak jou bly. Natuurlik is dit nie op daardie vlak wat jy die plesier ervaar nie. Die oeroue plesier het ontwikkel tot ‘n fyn kunsaanvoeling.

Hierdie verwysings vorm ‘n netwerk waardeur die kultuur saamgebind word. Om die waarheid te sê, hierdie verwysings strek oor die grense van kulture heen en bind die kulturele ontwikkeling van die mensdom in sy totaliteit saam. Dit help ‘n mens om te kan aanklank vind by ander kulture. So byvoorbeeld het sommige komponiste (onder andere David Fanshawe) die klassieke harmonieë van die Europese kulture al gekombineer met die ritmes van Afrika. As ek so iets hoor ervaar ek sulke intense plesier dat dit soos koue rillings by my rugstring afloop.

Ervaar julle dit ook so?

18 Responses to “Kulturele verwysings”

  1. Retha Says:

    Is daar enigiemand anders wat al, soos ek, speakers gehug het omdat jy musiek nie net wil hoor nie, maar die vibrasies wil voel ook?

  2. flippiefanus Says:

    Retha, ek kan nie onthou dat ek dit al gedoen het nie. Dit moet seker nogal ‘n besondere manier wees om musiek te beleef.

  3. rosalindfranklin Says:

    Baie lekker inskrywing. Ek kan glad nie die reelmatige rimte van kontemporere musiek verdra nie, hoegenaamd nie. Ek het pas so effe daaroor geblog

    Daardie fyn gewaarwording of aanvoeling is amper soos ‘n kollektiewe onbewuste.

  4. flippiefanus Says:

    Dankie Rosa. Soos jy seker kan sien uit my inskrywing oor Coldplay is ek nogal lief vir kontemporere musiek. Ek luister eintlik veels teveel musiek op ‘n dag. Maar nou ja, it comes with the territory.

  5. Mefri Says:

    Flippiefanus, my musieksmaak is soos ‘n vrugteslaai; so ‘n skeppie van als doen dit vir my. Daar is net een voorwaarde; die ene wat dit sing moet dit met hart en siel vertolk – hulle moet ervaar wat hulle sing. LOL Ek klouter maklik op ʼn stoel en sing en dans uitgelate saam Pieter Smith. Hehe jip ek doen sulke goed (sonder rooiwyn)

    Luciano Pavarotti by die Uniegebou; ek het so ses rye van vooraf gesit; glo my as ek vir jou sê dat die trane letterlik stormsterkte onkeerbaar uit my siel uit gevloei het, my hart het amper gebars van ekstase. Dis soos jy daar sê; “intense plesier”

    Ek het hierdie inskrywing baie geniet, dankie!! LOL Ek gaan nou eers na jou Dawid F luister :-)

  6. Duusman Says:

    Die basis van musiek is orals dieselfde- dit word geskep deur die stiltes tussen die note.Dit maak dit universeel…..humanisties.

  7. flippiefanus Says:

    Mefri, ek het al baie probeer dink hoekom ek van sekere musiek hou en nie van ander nie, en ek moet bieg dat ek vandag nognie ‘n onfeilbare rede daarvoor kan gee nie.

    Duusman, stiltes tussen die note? Dis ‘n nuwe een. Humanisties? Nou smokkel jy met my. :-)

  8. Mefri Says:

    Flippie daar is musiek en Musiek. Die eerste gebeur buite jouself en die ander ervaar ek van binne.

    Weet jy, dis vir my asof die musiek my kom haal, eerder na my toe aangesweef kom – deur die mure van my vel en been penetreer, een word met my…

  9. Johan Swarts Says:

    Nee rubbish. Die basis van musiek is wiskunde en geometrie.

  10. Johan Swarts Says:

    (of dan eerder: wiskunde – spesifiek geometrie.)

  11. flippiefanus Says:

    Johan, musiek mag maar vir jou wees net wat jy wil he^ dit moet wees. Dis ‘n vry wereld hierdie. Methinks, egter jy is sommer net lus vir stry. ;-) Ek sien jou nie as iemand wat so kil wiskundig na dinge kyk nie.

  12. Mefri Says:

    Jou laaste kommentaar wys bo regs maar nie hier onder nie.

  13. Mefri Says:

    Dalk lê die fout by my, dis weer reg.

  14. flippiefanus Says:

    Gids Mefri, ek weet nie, dit lyk vir my asof dit reg is. Miskien was daar ‘n vertraging in die verskyning daarvan.

  15. Mefri Says:

    LOL ek dink wordpress het seekat-arms wat my vasgryp, want my persoonlike inligting bly dikwels vasgegom agter in die kommentaar blokke, veral by Rooskind. Nou die dag het iemand daar by haar gesê: “moét ek altyd Mefri wees….” hehe

  16. Johan Swarts Says:

    ff – jy sal verbaas wees hoe belangrik wiskunde vir my is ;)

    dunno, ek het ook al baie keer gehoor hoe mense proklameer dat die musiek eintlik in die stiltes is.

    ek vind dit te zen en fluffy om waar te wees, maar dis maar net ek ;)

  17. flippiefanus Says:

    Mefri :lol: lyk my jy het ‘n magnetiese persoonlikheid. ;-)

    Johan, ek sou nou nie verwag dat ‘n taalkundige baie met wiskunde gemoeid is nie. Het jy dit in jou beroep nodig? In watter opsig is dit vir jou *belangrik*?

  18. Johan Swarts Says:

    Dis iets waarvoor ek baie agting het.

Leave a Reply