Feesmaal in die skuur
Dis ‘n helder sonskyn dag. Die rollende heuwels is oortrek van veldblomme. In die verte kan mens landery sien wat ryp staan vir die oes. Die bome het daardie ryk kleure wat so kenmerkend is van die laat somer.
Die prinsie huppel al singende met die paadjie langs. Wanneer hy die kruin van die heuwel bereik gaan staan hy. In die dal voor hom kan hy die plaas opstal sien. Dan draai hy om en roep: “Kom oupa, ons is amper daar!” Die dienskneg is steeds besig om al hygend teen die heuwel op te klim. Hy gaan staan om sweet van gesig af te vee. “Ag, pri … er … kleinseun, dis goeie nuus.”
‘n Paar dae terug het die prinsie en sy dienskneg in die buurland se hoofstad aangekom. Hulle het daar besluit om voor te gee dat hulle ‘n oupa en ‘n kleinseun is. Omdat die mense daar aan hul aksente sal hoor dat hulle nie van hierdie land is nie, sal hulle almal vertel dat hulle na iemand soek wat vermis is. Dis ten minste die waarheid. Hulle wou egter ‘n blyplek kry waar daar nie teveel mense is nie en ‘n kroegman het hulle toe aanbeveel om op ‘n plaas van hom net buite die stad te gaan bly.
By die plaasopstal aangekom gaan klop die prinsie aan die voordeur van die plaashuis. ‘n Vrou maak die deur oop en kyk met ‘n effense frons na die prinsie: “Goeie middag jong man. Wat kan ek vir jou doen?”
Die prinsie sê toe “Goeie middag mevrou. Die kroegman vra vir ‘n gerf koring om bier mee te maak.” Presies soos die kroegman vir hom voorgesê het.
Die vrou knik haar kop. Dan stap sy ‘n entjie verby die prinsie en kyk oor die plaas uit. “Sien jy daardie houtskuur daar tussen die bome? Julle sal daar slaapplek kry. Daar is geen beddegoed nie, so julle sal maar op die strooi moet slaap. As julle die plaaswerkers mooi vra sal hulle dalk hul kos met julle deel.” Sy draai om en loop weer by die huis in. By die deur gaan sy staan. “O ja, daar is nog ‘n ander man wat ook daar slaap, julle sal maar met hom moet deel.” Dan gaan sy in en maak die deur weer toe.
Die prinsie en sy dienskneg loop deur die saailand na die houtskuur toe. Daar aangekom vind hulle inderdaad nog ‘n man. Tot hul verbasig sit die man egter by ‘n tafel binne die skuur besig om ‘n groot maaltyd te geniet. Die tafel is gedek met ‘n spierwit tafeldoek en silwerware. Voor hom op die tafel staan daar verskeie silwel skottels met die lekkerste vleis en groente disse.
Die man sit met sy rug na hulle toe en is nie bewus van hulle teenwoordigheid nie. “Verkoon my,” sê die prinsie, want hy verwonder hom aan al die kos en hy is nogal honger op die oomblik.
Die man draai so stadig om … en dan rek sy oë. “My seun!”
“Vader!” roep die prinsie en hardloop na sy vader, die koning, wat daar op die stoel by die tafel sit. Hulle omhels mekaar. Die dienskneg buig eerbiedig en sê, “U majesteit.”
Die koning beduie vir die dienskneg om op te staan. “Kom, kom,” sê hy, “kom sit en eet. Hier is genoeg kos vir ons almal. Gelukkig het ek nog ‘n paar goue munstukke waarmee ek vir myself baie goeie diens kan kry hier by die plaas werkers. Nogtans sal ek ‘n plan moet maak, want dit gaan nie vir altyd hou nie.”
Daardie aand terwyl hulle saam op die groot hoop strooi lê vertel die koning hoedat hy besluit het om spoorloos te verdwyn terwyl hy in die buurland is, want hy het agtergekom dat daar ‘n sameswering teen hom is. Hy het ook geheime boodskapper laat uitstuur na die prinsie en die prinsie se moeder om hulle te waarsku, maar skynbaar het die boodskap nooit die prinsie bereik nie. Die vraag is nou of die waarskuwing die moeder betyds bereik het.
Nadat die prinsie en die dienskneg vertel het wat alles met hulle gebeur het, besluit hulle om terug te keer na hulle land toe om uit tevind wat van die prinsie se moeder geword het.
Comments are closed.
Dagse Flippiefanus
Jou storie behou sy draad merk ek op. Sien uit na die res van die verhaal.
Groete
Ek sien alles ‘frame-by-frame’ voor my afspeel in ‘technicolour’. Baie wow inderdaad ..
Op een stadium hier het die storie amper vir my ‘n Bybelse inslag gekry, maar toe draai hy weer
Soms wonder ek of jy self al die einde ken, Flippiefanus?!
Ridder, dis darem sekere te hope.
Elf, welkom hier. Wie weet miskien verkoop ek dit eendag aan George Lucas. (I my dreams!)
Bybelse inslag? Sonkind, vertel bietjie meer. Ja wel ek mos darem op ‘n stadium gaan dink het oor die storielyn, anders sou ek lankal vasgeval het.
EK volg die storie.. sien ook uit na die einde.
Ek sal ook inloer om die verhaal te volg.
Ek lees nogsteeds en geniet!!