In die toring
Met sulke lang koddige tree loop die hoofraadgewer in sy pers uitspattige baadjie al swetsend deur lang natgedoude gras. Dan sien hy die man in swart op ‘n rots in die veld sit. Hy loop al hygend soontoe en gaan staan voor die man. Laasgenoem kyk hom verveeld aan terwyl hy aan ‘n grashalmpie kou en sê: “Uiteindelik!”
Die hoofraadgewer kyk hom moedeloos aan en sê: “Hoekom … (hyg) … hier, van … (hyg) … alle plekke?”
“Jy wou hê dat ek jou na die prinsie se moeder toe lei,” sê die man in swart. Dan staan hy op. “Volg my” sê hy en begin wegstap.
“Wag nie so vinnig nie!”
Na ‘n rukkie kom hulle by ‘n toring wat tussen die bome staan. Aan die een kant van die toring is daar ‘n saailand wat besig is om geoes te word. Die man in swart gaan staan by die toring se deur en beduie vir die hoofraadgewer om op te klim in die toring.
“Jy is seker nie ernstig nie. Is sy daar bo?”
“Nee, sy het haarself vermom as een van die vrouens wat in hierdie land werk en jy moet uit die toring uit kyk of jy haar kan identifiseer.”
Die hoofraadgewer sug en begin dan opklim. Bo gekom, vind hy ‘n enkele vertrek met twee vensters aan weerskante van die toring. Beide venster het dik tralies voor. Hy loop na die een wat oor die saailand uitkyk. Die man in swart bereik ook die vertrek, maar bly op die trap staan en maak die valdeur bo hom toe. Die hoofraadgewer loop na die valdeur toe. “Hoekom kom jy nie in nie? Ek kan nie die vrouens herken nie want dis te vêr weg.”
“Ek gaan net hier bly wag. Gaan kyk by die ander venster.”
Die hoofraadgewer loop dan na die ander venster toe en kyk uit. Daar sien hy ‘n houtstellasie met ‘n platvorm wat amper so hoog is as die toring. Drie mense is besig om die stellasie te bestyg. Die voorste een is die koning, wat gevolg word deur die prinsie en laaste die prinsie se moeder. Die koning kom op die platvorm te staan en draai na die toring toe. Die prinsie gaan staan langs die koning. Sy moeder gaan staan agter hom met haar hande op sy skouers. Die prinsie plaas sy hande op sy moeder se hande.
Verwarring, skok en terleurstelling kompeteer om die dominerende emosie op die hoofraadgewer se gesig te wees.
Dan begin die koning praat. “Goeie môre my gewese hoofraadgewer. Dit verheug my om jou mee te deel dat jou planne om van my en my gesinnetjie ontslae te raak gefnuik is. Jy sal vind dat jy nou vasgevang is in daardie toring. Daar gaan jy bly tot in lengte van dae. As jy baie vriendelik is met die werksmense mag hulle jou dalk van kos en water voorsien. Jy kan dit met daardie mandjie wat langs die venster aan ‘n katrol hang, ophys.”
Die hoofraadgewer storm terug na die valdeur en begin aan die handvatsel ruk en pluk. “Maak oop! Maak onmiddelik oop! As jy nie nou oopmaak nie gaan jy nie jou betaling kry nie!”
Daar is egter geen antwoord nie.
Die hoofraadgewer loop verslae terug na die venster toe. Dan sien hy dat daar nou ook nog ‘n vierde persoon by die koning en sy gesin staan, — die man in swart.
Die koning plaas sy hand op die man se skouer en sê. “Wie sou nou ooit kon droom dat ‘n sluipmoordenaar ‘n sagte plekkie sou ontwikkel vir ‘n sesjarige seuntjie.”
Comments are closed.

Dagse Flippiefanus

Nog altyd gewonder waar kom die ou wat so baie skreeu in die toring vandaan.
Dankie vir die verhaal, hoop ons sien nog.
Groete
Ek love dit .. ek is haastig om by die einde van die verhaal te kom en .. tog wens ek dit hou nie op nie. n Fyn kuns Flippiefanus. Jy mag maar die pen vashou ..
Skuus, flippie, maar moet gefluik nie gefnuik wees nie.
Laat niemand ‘n sluipmoordenaar onderskat nie.
Dankie Flippie, moenie ophou nie!
Ridder, dankie maar ek dink die prinsie gaan nou eers bietjie wag.
Elf, baie dankie. Jy laat my so goed voel.
Emil, ek sal dit gaan regmaak.
Dankie Wippie.
Flippiefanus, my berg was toe nie so hoog en skrikwekkend soos wat ek gedink het dit sou wees nie.
Ek is terug. In elk geval het ek het jou prinsie gans te veel gemis. Dis moord om nie saam te gesels nie.
Hallo Sammie Mwha!
Meeefffrrriii!! Bly jy is terug. Snaaks hoe berge baie maal soveel hoe”r lyk as wat hulle op die ou end is.
(((Flippiefanus)))LOL dit voel heerlik om so verwelkom te word, dankie.
(((Mefri))) maar net bly jy’s terug.