My verstand is nie ‘n asblik nie

Meer is nie altyd beter nie. Daar iets soos teveel. Teveel van ‘n goeie ding is later nie meer goed nie. Dieselfde geld vir die diversiteit van idees. Klink miskien vreemd, daarom wil ek dit baie versigtig verduidelik. Daarvoor gebruik ek die volgende prentjie.

Te veel detail ...

Te veel detail ...

Dis eenvoudig ‘n prentjie van konsentriese ringe wat al nader aan mekaar kom soos die ringe groter word. Die snaakse ding van die prentjie is dat dit allerande patrone vorm hoe verder mens van die middel af wegbeweeg. Die rede vir die patrone is dat die prentjie bestaan uit diskrete prentelemente (pixels) wat in ‘n vierkantige rooster georden is. Wanneer die spasiëring van die ringe naastenby gelyk aan die spasiëring tussen die prentelemente kom, veroorsaak dit al hierdie ekstra patrone. Hierdie ekstra patrone is eintlik die gevolg van ‘n ongewensde effek wat bekend staan as aliasering (“aliasing”). Mens sou eintlik eerder net die oorspronklike ringe wou gehad het al, die pad tot by die kant van die prentjie. As mens baie mooi kyk sal mens sien dat daar ‘n spesifieke afstand vanaf die middel is waar die oorspronklike ringe totaal gedomineer word deur die ekstra patrone. Die detail wat deur die beperkte aantal prentelemente voorgestel probeer word, is teveel op hierdie punt vir die eindige resolusie wat vir die prentjie gebruik word.

Die detail word teveel …

Dink nou aan ‘n kultuur wat baie vêr ontwikkel het. So ‘n kultuur bevat baie idees wat vasgelê is in die gewoontes en gebruike van die kultuur. Hierdie gewoontes en gebruike word saamgevoeg in sekere kulturele strukture wat ondermeer die geregstelsel, bankwese, universiteite en skole, verskillende gelowe en godsdienste, administrasie, vermaak en ontspanning en vele meer insluit.

Oor die algemeen het hierdie strukture oor etlike generasies ontwikkel. Dit beteken dat mense deur die loop van die tyd met idees voorendag gekom het om hierdie strukture te verbeter. Die idees is dan geïmplimenteer en in die praktyk getoets. As die idee goed gewerk het is dit so behou en as dit nie gewerk het nie is dit uitgegooi. Op die manier het hierdie strukture ‘n soort van evolusie ondergaan wat soortgelyk is aan biologiese evolusie. Hierdie strukture werk dus so goed as wat dit werk omdat dit oor so lank tyd ontwikkel het. Mens kan nie oornag so iets uitdink en implimenteer nie.

Nou bereik hierdie kultuur egter ‘n stadium waar dit dalk … te vêr ontwikkel het. Mense probeer nog steeds nuwe idees skep. Die idees raak nou teveel, sodanig so dat die kultuur onder die gewig van al hierdie idees begin inmekaar tuimel. Instede daarvan dat die ekstra idees die kultuur verder laat groei, veroorsaak dit dat die kultuur begin krimp. ‘n Kultuur wat krimp ondergaan ‘n toestand wat beskryf word as dekadensie.

Hoe kan nuwe idees veroorsaak dat ‘n kultuur krimp? Dit gebeur omdat nuwe idees nie los staan van die idees wat reeds in die kultuur bestaan nie. Wanneer ‘n nuwe idee geïmplimenteer word, vervang dit ‘n vorige idee wat reeds deur oor ‘n lank tydperk getoets is. Meeste van die tyd is nuwe idees nie goeie idees nie. As hierdie nuwe idees een vir een geïmplimenteer en getoets word, sodat die ou getoetsde idee weer herstel word as hierdie nuwe idee faal, sou dit nie ‘n probleem gewees het nie. Daarteenoor, as die tempo van die implimentering van nuwe idees egter te hoog word, dan vee dit die vorige idees totaal uit. Dit raak onmoontlik om die effek van verskillende idees van mekaar te onderskei. Dis dieselfde effek wat mens kry as die mutasie tempo in biologiese evolusie te hoog word. Die gevolg is dat die ou getoetsde idees verlore gaan en vervang word met ‘n megelmoes van ongetoetsde idees. Die gevolg is ‘n gemors. Uiteindelik verloor die ou getoetsde strukture hul funksionaliteit en faal. Die resultaat is ‘n proses van dekadensie.

Ons sien vandag die gevolg van sulke dekadensie. Die huidige global finansiële krisis is grootendeels veroorsaak omdat ou getoetsde finansiële beginsels uitgegooi is en vervang is deur nuwe ongetoetsde idees wat gedryf is deur die gulsigheid van beleggers. ‘n Ander voorbeeld is die globale agteruitgang van die skoolstelsel. Die ou getoetsde manier om kinder te leer is onlangs vervang deur allerande nuwe ongetoetsde idees oor hoe om skool te gee. Daar is nog vele meer voorbeelde in vandag se tyd.

So hoe nou gemaak? Wel, ‘n kultuur bestaan in die gedagtes van mense. Om ‘n kultuur teen hierdie vorm van verval te beskerm moet mens die manier wat mense met hulle gedagtes omgaan adresseer. Die beste plek is om by jouself te begin. So die hier is wat ek voorstel:

  • Wees baie skepties oor enige nuwe idee wat jy hoor. Die kanse is baie groter dat dit ‘n slegte idee is as ‘n goeie idee. Nuwe idees as sulks is nie noodwendig sleg nie, maar mens moet onthou dat selfs as ‘n idee pragtig klink beteken dit nie dat dit in die praktyk sal werk nie. Die beste is dus om nuwe idees baie skepties te benader en dit een vir een te toets.
  • Moenie van jou verstand ‘n asblik maak nie. Met ander woorde, vermy die gemors wat daar oor die media verkondig word. Dit sluit ook al die boeke in wat geskryf word om allerande nuwe idees te verkondig. Meeste van hierdie idees sal baie destruktief wees as dit dalk eendag regtig ernstig opgeneem word.
  • Hou vas aan ‘n kulturele standaard. So standaard verhoed juis dat die kultuur wegdryf en tot ‘n val kom. Dit beteken egter dat mens baie versigtig moet kies wat mens as jou kulturele standaard sal gebruik. ‘n Kulturele standaard kan nie sommer ‘n selfgemaakte ding wees wat uit die lug gegryp word nie. Dit moet juis iets wees wat baie oud en getoets is.

So as dit lyk asof ek jou idees sommer summier sonder oorweging verwerp, verstaan asseblief hoekom ek dit doen.

15 Responses to “My verstand is nie ‘n asblik nie”

  1. Sammi Says:

    Uitstekend Flippie!
    Dis amper soos om ‘n goeie huis te bou. Mens het sterk en ordentlike fondasies nodig, daarna bou jy jou mure en sit jou dak op (alles op sterk fondasies) maar soos die tyd aanstap wil mens meer hê en bou mens onnodig aan op swakker fondasies en dan kry mens later verskuiwings krake.
    Seker DIE dat die eertydse Romeinse en Egiptiese ryke uitgesterf het.

  2. Riaan Oosthuysen Says:

    Baie goeie inskrywing. Dit laat mens nogal dink. Dit is nie aldag nodig om die wiel te herontwerp nie.

  3. Johan Swarts Says:

    Ek in baie opsigte met jou saam saam, maar soms is die idee juis dat die idees wat mense vir eeue as goed, heilsaam, werkend, reg ensommeer beskou het, nooit sodanig was om mee te begin nie.

    Ek dink byvoorbeeld aan iets soos vroue se sogenaamde plek in die huis, wat vir lank gegrond was in onder andere ‘n sekere interpretasie van Bybeltekste (waarvan die hol reste vandag nog by ons resoneer). As jy vandag vir ‘n vrou aanvoer sy mag nie in die opkomende verkiesing stem nie, sal jy (met reg) uitgelag word, maar vir honderde jare was dit ‘n idee ontwikkel deur die samelewing wat piekfyn was.

    Vir die kulturele ommeswaai wat gekom het sodat vroue kon stem etcetera, moes daar letterlik ou kulturele mure afgebreek word – en dit het nie tot die ineenstorting van die samelewing gelei nie. Inteendeel.

    (Bonuspunte vir die verwysing na antialiasing. Moet nou nie laat slaplê nie, ek verwag trilinear filtering in jou volgende inskrywing ;)

  4. Wrang Says:

    Dieselfde dinge oor en oor, en jy het steeds dieselfde dinge. So strem jy vooruitgang. Hoe baie nuwe idees is nie afgelag en omvergegooi om juis die mensdom te verbeter nie. Kulturele standaarde is tog anders as voortuigang. Hoe nou gemaak as jou kulturele standaard belemmerend is op vooruitgang?

    Dit klink so al na rasionalisering van jou gemaksones. Hou by wat jy ken en weet.

    Die Romeinse en Egiptiese Ryke se verval kan seker dan nou ook met die verval van die Afrikaner Ryk vergelyk word. Vooruitgang is net verval vir daardie mense wat nie kan of wil hervorm nie.

  5. flippiefanus Says:

    Sammi, baie oulike analogie wat jy gebruik.

    Dankie Riaan.

    Johan, interessant dat jy van die vroue se bevryding praat. Maar let wel, ek het nie gese^ dat mens geen nuwe idees moet probeer nie. Verder, was die proses waardeur die vrouens bevry is nie iets wat oornag gebeur het nie. Dit was oor baie jare deur klein stappies wat die proses gevorder het.

    Jy gee my nou weer ‘n idee vir ‘n nuwe inskrywing.

  6. flippiefanus Says:

    Wrang, jy noem ‘n belangrike punt hier. Mens moenie so rigied wees dat mens nooit nuwe idees toelaat nie want dan sal die kultuur noodwendig ook tot niet gaan, nie weens dekandensie nie, maar weens verkramptheid. Let op dat ek nie se^ dat mens geen nuwe idees moet toelaat nie. My probleem is met die oormag van idees wat sommer so sondermeer as wonderlik opgehemel word en aangegryp word. Die oorgrote meerderheid van hierdie idees is ‘n klomp twak.

  7. Emil Says:

    Sjoe, flippiefanus, hierdie is nou werklik ‘n interessante inskrywing. Ek is een van daai wat altyd met ‘n oorgewig van inligting worstel en dit soms moeilik vind om tussen wetenskap en pseudowetenskap te onderskei, oorwegend omdat ek seker so baie wetenskapfiksie en ruimte-opera’s lees, wat baie van hierdie dinge so uiters aanloklik laat klink.

    Daarom dat ek ook gepoog het om die onderskeid in hierdie inskrywing vir myself uit te lig, al is dit so ‘n bietjie draaksteek met kreasioniste. Maar dit strek vanselfsprekend verder.

    Siende dat jy antialiasing ingesleep het: is die “computational theory” dan tog nie dalkies ‘n verduideliking vir hoe ons gosdiens en kultuur “vereken” nie?

  8. Sammi Says:

    Daar moet Obama ‘n triljoen dollars van belastingbetalers gebruik om die banke in die US uit te help en so sal elke regering dit moet doen. Aan die einde van die dag is dit juis oor die feit dat genoeg nooit genoeg is nie, en tog baat dit die mense in top posisies soveel meer as die gewone man in die straat. Groot verskuiwings is nie ons keuses nie, ons volg maar net en probeer oorleef.
    Terwyl die ouens daarbo die besluite vir ons neem…
    ek kan nie partykeer nie glo hoe dom die mens kan wees nie.
    Progress? I don’t think so…

  9. flippiefanus Says:

    Dankie Emil, glo my ek het respek vir die geworstel om tussen wetenskap en pseudowetenskap te kan kies. Dis onredelik om te verwag dat almal in die wereld oor alles ingelig moet wees. My benadering is maar om skepties te bly, baie maal tot die totale frustrasie van ander. :-)

    Ek het nou alweer vergeet waaroor computational theory gaan. Weet jy het eenmaal ‘n inskrywing daaroor gemaak. Die vae begrip wat ek daarvan het is dat dit my nie juis aangegryp het nie. Sal weer gaan kyk daarna.

    Sammi, ja die mense daar bo het nie altyd die bevoegdheid wat saam met die verantwoordelikheid kom nie. Dis meer ‘n geval van oppertunisme waar hulle hulself probeer verryk met verreikende gevolge. Soos jy se^ moet die gewone man dan maar probeer om die beste te maak van die gemors waarin hy geland word.

  10. White Knight Says:

    Dagse Flippiefanus
    Baie dankie vir die inskrywing. Dis ongelukkig ‘n tendens in vandag se lewe dat mense te vinnig dit wat werk en die regte resultate lewer wil uitgooi en nuwe idees implimenteer.
    Die huidige skole opset is ‘n duidelike voorbeeld van dit. Voorts is die mees onrusbarende gedeelte, die najaag van idees en kulture uit ander lande waar dieselfde al reeds as nutteloos en onprakties bewys is, te wil aangryp en gebruik.
    Johan Swarts
    Wie se die “bevryding” van vroue en stemreg vir dieselfde groep is werklik so goeie ding vir die mensdom se vooruitgang? :evil: :twisted:

    Groete

  11. Johan Swarts Says:

    White Knight – Vra vir Helen Zille en die stad Kaapstad of dit ‘n goeie ding is ;)

  12. Wipsnoet Says:

    Uitstekende inskrywing Flippie!

    Yes, laat ek nie ‘n asblik maak van my verstand nie!:evil:

    En skepties…. altyd! ;)

  13. Pikkelik Says:

    Baie goeie inskrywing Flipsie!

  14. flippiefanus Says:

    White Knight, ja om een of ander rede word idees wat van ander land af kom op ‘n troontjie geplaas, en dit terwyl, soos jy noem, daardie idees nie eers in daardie lande werk nie. Tragies!

    Wipsnoet en Pikkie, dankie.

  15. Die “commitment” problem « Flippiefanus Says:

    [...] en dat daar op onnadenkende wyse ou beginsels uitgegooi is ter wille van “nuwe beter” idees. Die gevolg is die [...]

Leave a Reply