‘n Uur vir die aarde
As ‘n mens ‘n ding wil glo dan sal jy dit glo en as jy ‘n ding nie wil glo nie dan gaan jy dit nie glo nie, maak nie saak watse bewyse daar is nie. Soos ek nog altyd gesê het, geloof bly op die ou end ‘n mens se keuse. Vat nou maar bevoorbeeld die volgende geval.
Een van die sprekers by die gedoente wat ek daar in Dullstroom bygewoon het was ‘n Amerikaner. Een aand tydens ete sit ek saam met die man aan tafel. Ons gesprek beweeg mettertyd in die rigting van aardverwarming. Hier vertel die man my dat hy die storie dat die mens vir aardverwarming verantwoordelik is as die grootste klomp snert sien. Verder verseker hy my dat daar baie wetenskaplikes in Amerika is wat met hom saamstem.
Wel, ek was sprakeloos.
Bo en behalwe hierdie groep Amerikaners, wat na alle waarskynlik ‘n belang daarby het dat die mens nie vir aardverwarming verantwoordelik moet wees nie, is daar blykbaar baie meer mense as wat ek sou gedog het wat nie inkoop op die hele aardverwarming storie nie.
Dat die aarde wel besig is om te verwarm is nie ‘n kwessie nie. Die nuus is vol van die gletsers wat smelt en Antartika wat besig is om op te breek. Wat die mense nie wil glo nie, is dat die mens daarvoor verantwoordelik is.
So hoekom glo ek dit dan? Seker maar omdat ek, volgens my begrip van die saak, oortuig is dat daar voldoende wetenskaplike bewyse daarvoor is. Is dit nou weer een van daardie gevalle waar een kant die ander kant gaan probeer doodskree met die uitroep “ek het oortuigende wetenskaplike bewyse!” sonder om die bewyse aan te bied? Nee, dis nie hoe die wetenskaplike metode werk nie. Die idee is dat mens die wetenskaplike bewyse aanbied sodat dit noukeurig ondersoek kan word deur alle party teenwoordig.
Goed, so hier volg my begrip van die saak.
Die son straal sigbare lig uit wat deur die aarde geabsorbeer word. In die proses verhit dit die aarde. Soos enige normal voorwerp wat warm word, straal die aarde warmte strale (infrarooi lig) uit. Onder stabiele omstandighede sal die warmte uitstraling die absorbsie van lig vanaf die son balanseer sodat die aarde min of meer by dieselfde temperatuur bly. Nou is daar egter sogenaamde kweekhuisgasse (waarvan koolstofdioksied en metaangas die vernaamste stabiele kweekhuisgasse is) wat die warmte straling wat deur die aarde uitgestraal word, absorbeer. Dit verhoed dus die aarde om van die oortollige hitte ontslae te kan raak. Die gevolg is dat die aarde, en veral die atmosfeer, stelselmatig warmer word.
Sedert etlike dekades gelede toon metings dat daar ‘n volgehoue toename in koolstofdioksied konsentrasie in die atmosfeer is. Dit impliseer ‘n gepaardgaande toename in die temperatuur in die atmosfeer. Soortgelyke toenames word ook in die ander kweekhuisgasse gemeet. Waterdamp is nog meer effektief in sy absorbsie van warmte straling, maar die teenwoordigheid van waterdamp word deur die weersomstandighede bepaal en kan van dag tot dag verander. Hoe warmer die lug hoe meer waterdamp kan dit bevat. Dus tree waterdamp op as ‘n positiewe terugvoer meganisme wat die saak net nog vererger.
Die aarde as al baie oud en daar was oor die loop van tyd baie skommelings in die klimaat op die aarde. Aanvanklik was daar baie meer koolstofdioksied en baie min suurstof in die aarde se atmosfeer. Toe ontstaan daar lewe op aarde en dit ontwikkel tot op die punt waar daar fotosinterende alge ontstaan. Oor ‘n baie lang tydperk het hierdie plantelewe die atmosfeer tot ‘n groot mate van koolstofdioksied gesuiwer en die konsentrasie suurstof drasties verhoog. Vir ‘n baie lang tyd was die koolstofdioksied vlakke in die atmosfeer baie laag gewees. Onlangs het hierdie konsentrasie weer die hoogte begin inskiet.
Hoe weet ons dat die koolstofdioksied konsentrasies nie oor die loop van die geskiedenis van die aarde baie gewissel het nie? Die koolstofdioksied konsentrasies van die atmosfeer wat oor die loop van honderde duisende jare terug bestaan het is vasgevang in die yslae wat oor hierdie tydperk op Antartika neergelê is. Deur hierdie ys in sulke silinder vormige stawe uit te boor, kon wetenskaplikes bepaal wat die koolstofdioksied konsentrasies was oor die afgelope 600 000 jaar. (Vergelyk dit met die 10 000 jaar sedert die vorige ystydperk geëindig het.) Hulle het bevind dat, hoewel daar wisselings in die koolstofdioksied konsentrasies was, dit nooit oor daardie tydperk naastenby so hoog was as wat dit vandag is nie.
Hoe weet ons egter dat die koolstofdioksied konsentrasie deur die mensdom en nie dalk deur een of ander natuurlike proses veroorsaak word nie? Wel eers moet ons vra wat van al die koolstofdoksied geword het wat die fotosinterende plante uit die atmosfeer verwyder het? Aanvanklik is dit natuurlik gebruik om die organiese materiaal te vorm waaruit die plante bestaan het. Oor ‘n lang tydperk het ‘n groot deel van hierdie organiese materiaal egter onder die grond beland waar dit deur hoë druk en temperatuur in fossielbrandstof (steenkool, petroleum en aardgas) verander is.
Vandag is ons besig om teen ‘n vrolike tempo weer al hierdie fossielbrandstof op te brand. Dink nou bietjie mooi, as ons eendag daarin geslaag het om al hierdie fossielbrandstof op te brand, wat sal dan van die koolstofdioksied word wat sodoende vrygestel word? Dit land in die atmosfeer en dus sal al die koolstofdioksied wat aan die begin op aarde bestaan het, weer terug in die atmosfeer geplaas wees. Slegs plante kon op daardie stadium in daardie atmosfeer oorleef. Die mens kan beslis nie in so atmosfeer oorleef nie.
Die koolstof wat daar in fossielbrandstof bestaan, bevat ‘n ander kombinasie van koolstof isotope as koolstof wat vanaf ander bronne kom. Om die waarheid te sê die verskillende bronne van koolstof se isotoop kombinasies verskaf ‘n tipe vinger afdruk wat uniek is. Deur die isotope van die koolstofdioksied in die lug te ontleed kan mens dus bepaal waar dit vandaan kom. Hieruit het die wetenskaplikes bepaal dat die grootste bydrae van koolstof dioksied in die lug fossiel brandstowwe is.
In hierdie bespreking het ek hoofsaaklik van koolstofdioksied gepraat, maar soortgelyke redenasies volg ook vir die ander kweekhuisgasse.
Kortom, dis die mens wat die aardverwarming veroorsaak.
Dit is dus nou nodig om die mensdom in te lig van die probleem. Omdat ek oortuig is dat die mensdom iets aan die saak moet doen, ondersteun ek Earth Hour. Saterdag van 20h30 tot 21h30 gaan ek my ligte afskakel. Weet nog nie wat ek in die donkerte gaan doen nie maar nou ja. Dis die idee wat tel.
Comments are closed.

Flippie ek het gereeld die argumente, mense gee voor mens oordryf as jy hierdie dinge probeer verduidelik.
Vertel my mos nou eendag ek het die “Al Gore” riller gekyk en die ou probeer net naam en geld maak uit die storie. Ek kan jou verseker op daardie stadium kon jy die “aardverwarming” in die vertrek voel, soos my geduld by my liggaam uit vlieg.
En ek weet nie of jy dit ook ondervind nie, maar dit help nie eers om hulle met feite te gooi nie. Dis by die een oor in en die ander oor uit!
Feit is ons aarde is in die moeilikheid!!!
Dankie vir jou inskrywing!
We do not inherit the earth
from our ancestors,
we borrow it
from our children.
-Native American Proverb
Hierdie is nou waaragtig ‘n “powerful” inskrywing, Flippie.
Ek verstaan beslis nou beter hoe die proses werk – jy het dit duidelik oorgedra. Ek sê al lankal vir al my vriende, vergeet van olie – dit gaan die aarde se dood beteken, draai terug na kos groei – moenie jul plase verkoop vir ontwikkeling nie – hou dit om eendag kos vir die w^reld te groei.
Ekself kan nie glo hoe die weerpatroon so vinnig aan die verander is nie. Daar waar jy ook vakansie gaan hou het oor Desember het hierdie jaar skaars ‘n somer beleef, aanmekaar gereën. Hier in die Kaap was dit droog en warm met al die vure.
Miskien is Johannes tog reg?
Wipneus, die Amerikaner het net so te velde getrek teen Al Gore. Die manier wat ek dit verstaan is in terme van die Amerikaanse politiek. Al Gore is ‘n Democrat en alle Republicans haat hom. Ja sulke mense glo wat hulle wil glo. Niemand is so doof soos hy wat nie wil hoor nie.
Dankie Sammi. Ja, daar is seker ‘n moontlikheid dat Johannes reg is. Maar wat, ons moet in iedergeval voorbereid wees. Dit impliseer ook dat ons moet dink aan die dag van more.
Ek het ook die Al Gore dvd gesien. Gripping stuff. Ek weet nie veel van die wetenskap af nie, maar ek reken die aarde voel ‘n veer vir ons en sal kan herstel oor tyd, maar ek dink wat mense nie besef nie, is dat ons onsself dood maak, nevermind die aarde. Ek kan nie verstaan hoekom mense aardverwarming as ‘n mite sal afmaak nie. Dis irrasioneel.
Ja Roer dis nogal waar dis eintlik vir ons eie oorlewing wat ons die dinge moet doen.
So pas my ligte afgeskakel.
Haai FlippieFanus, ek moet sê ek stem volhartig saam met jou “Amerikaner” –
Almal (insluitende Al Gore en National Geographic) is alewig besig om aan te gaan oor ”aardverwarming”, maar het jy al ooit gestop om na te dink of dit wel álles die mens se skuld is? Die jongste studies bewys dat aardverwarming meesal ‘n heeltemaal natuurlike phenomena is … Volgens nuwe wetenskaplike vasstellings is die aardie nog nie heeltemal uit die greep van die laaste ys-tydperk nie en is die smelting van die pole ‘n natuurlike fase waardeur ons planeet gaan.
Huidige voorspellings van katastrofiese aardverwarming word nie deur wetenskaplike bewyse onderdersteun nie. Dit is gebasseer op teoretiese rekenaarmodelle oor die klimaat wat nie vertrou kan word nie en wat nie deur die bestaande klimaatrekord as geldig bewys word nie.
Wetenskaplikes sê, ”die styging van 0,6°C oor die afgelope honderd jaar is deel van ‘n natuurlike siklus en dat die mens se doen en late nie veel daartoe bydra nie.”
Meeste mense klink soos doemprofete as dit kom by aardverwarming – dis net ”CO² vrylating” en ‘’steenkool verbruik” en ”kragverbruik” oral waar jy kyk en lees – en tog sê Prof. Will Alexander (Professor emeritus van die departement van siviele ingenieurswese en biosisteme van die Universiteit van Pretoria) tydens die VN se Konferensie oor Aardverwarming dat, ”al sou Eskom al sy kragstasies toemaak en alle pad- en lugverkeer verbied word, sal dit hoegenaamd geen effek op Suid-Afrika se klimaat hê nie, nie nou nie en ook nie in die toekoms nie.”
Hy sê ook, ”Voortgesette aardverwarming hou geen bedreiging vir ons watervoorraad in nie, sal nie die landbou negatief beϊnvloed, malaria versprei, gronderosie vererger of lei tot verlies aan plant- en dierespesies nie. Die omvang van die tyd-en-ruimte-data maak dit vir huidige rekenaarmodelle onmoontlik om betroubare voorspellings te maak. Dit sal daarom ‘n groot vout wees as die Suid-Afrikaanse owerheid, op grond van die onbetroubare rekenaarmodelle se voorspellings, duur maatreëls instel om die vrystelling van kweekhuisgasse te beheer.”
NASA se administrateur, Michael Griffin, het verlede Junie in ‘n onderhoud op National Public Radio se program Morning Edition gesê :
”Om aan te neem dat aardverwarming ‘n probleem is, is om aan te neem dat die toestand van die aarde se klimaat op die oomblik die optimale klimaat is, die beste klimaat wat ons ooit kan hê of gehad het en dat ons moet stappe neem om seker te maak dat dit nie verander nie. Ek neem aan ek sou vra watter mense, waar en wanneer, die voorreg gekry het om te besluit dat hierdie spesifieke klimaat wat ons vandag, op die oomblik het, die beste klimaat vir alle ander mense is. Ek dink dis nogal ‘n arrogante posisie vir mense om in the neem.” Wie sê Kanada of Groenland wil nie ook ‘n plekkie in die son hê nie?
Jongste navorsing wys ook dat ysbere lewe en floreer – ‘n nuwe studie toon dat die ysbere nie by die lys van uitgestorwe diere gevoeg gaan word weens die smeltende Arktiese See nie – en dat die afgelope winter die koudste was in dekades in die Noordelike Halfrond. Wetenskaplikes sê dit is te danke aan sonvlek-aktiwiteit en dat ons ‘n tydperk van ongekende koue gaan beleef indien sonvlek-aktiwiteit nie binnekort verhoog nie. Die laaste keer wat die son so onaktief was, het die aarde die Klein Ystedperk beleef wat vir ongeveer vyf eeue aangehou het en in 1850 geëindig het.
Almal is altyd soos ‘n trop skape wat agter elke doem-profeet aanhardloop en “wolf” skree i.p.v. om ook hulle eie navorsing te doen.
Groete
Ietsie vergeet FlippieFanus, weet jy dat Al Gore se “Inconvenient Truth” in the hof beland het en dat die Hoogsgeregshof verklaar het dat die rolprent ‘n politieke werk is en slegs een kant van die debat van aardverwarming verteenwoordig; hulle het ook verklaar dat die rolprent op minstens 9 punte wetenskaplik onakkuraat is – lees die volle berig by
http://afp.google.com/article/ALeqM5hBkEk9Y8kvt7KHapU1hvO9RgSrFQ
Maree
Maree, dankie vir jou bydrae. Vergeef my, maar jy is nou vir my ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat graag wil glo wat jy wil glo. As jy die artikel waarna jy verwys weer mooi gaan lees sal jy sien dat die stellings wat jy maak nie heeltemal akkuraat is nie. Dis nie die uitpraak van die hof gewees dat die rolprent wetenskaplik onakkuraat is nie. Dis die stelling van die vragmotor bestuurder. Nou vra ek myself af, wat weet ‘n vragmotor bestuurder van die wetenskap af? Al wat die hof bevind het is dat die film wel politieke inhoud bevat en dus vergesel moet word met sekere leiding sodat dit nie die kinders polities indoktrineer nie. Miskien is daar ‘n ander artikel wat jy my na toe kan verwys met meer informasie wat dalk kan bevestig wat jy se^.
Die stellings wat jy in die vorige kommentaar maak sal jy moet bevestig met verwysings wat ek kan gaan naslaan anders verwerp ek dit summier. Byvoorbeeld jy praat van “wetenskaplike bevinding”. Dit klink vir my na ‘n klomp twak wat mens opgedis het. Die stelling wat Prof. Will Alexander maak verwerp ek ook want hy is ‘n siviele ingenieur wat niks weet van klimaat nie. Dieselfde geld vir die admin pompie van NASA. As dit wat gebeur net ‘n verandering is na ‘n ander statiese sou dit nie ‘n probleem gewees het nie, maar as dit ‘n weghol effek is gaan self Kanada nie meer so lekker leef nie. Ek ken terloops baie Kanadese want ek het self lank daar gebly.
Inderdaad word die klimaat modelle deur rekenaars gedoen en daar is wel onsekerehede in hul resultate. Maar met hierdie onsekerhede en al toon dit nogsteeds ‘n toename in temperatuur. Wetenskaplike studie kan vir ons inligting verskaf te midde van onsekerhede.
Wat is jou teenargument vir die wetenskaplike verduidelikings wat ek in my inskrywing gee?
Laastens, gestel nou maar daar was wel soveel onsekerhede oor die mens se rol in aardverwarming. Is dit ‘n kans wat ons wil waag? As iemand ‘n pistool teen jou kop druk, gaan jy wag vir onweerlegbare wetenskaplike bewyse dat die pistool gelaai is voor jy gehoor gaan gee of gaan jy besluit die risiko is dalk te groot? Dis asof die mense wat nie wil inkoop op aardverwarming nie bereid is om Russiese rollet met die mensdom se toekoms te speel.
FlippieFanus, ek dink die besprekings oor aardverwarming is dieselfde as oor geloof – elkeen het sy eie siening en niemand weet wie reg is nie.
Groete