Evolusie 2: mutasies
In die voortsetting van my reeks oor biologiese evolusie gaan ek hier ‘n paar aspekte van mutasies, wat lei tot die biologiese evolusie proses, verduidelik.
Vir biologiese evolusie om te kan plaasvind moet daar op een of ander manier veranderinge gemaak word aan die genetiese kode van ‘n organisme. Hierdie veranderinge word mutasies genoem. Daar bestaan verskeie mutasie meganismes. Dit kan wees dat een van die basis pare verwyder of verander word, of dat ‘n deeltjie van die DNS string met ‘n ander stukkie DNS string omgeruil word.
Hoe dit ookal sy, die gevolg van ‘n mutasie is dat daar ‘n verandering in die genetiese kode van daardie spesifieke sel plaasvind wat lei tot ‘n verandering in die proteïene wat daarin gekodeer is. Indien die mutasie plaasvind in geslagselle kan dit oorgedra word na die nageslag. Die veranderde genetiese kode kan dan lei tot veranderinge in die voorkoms of funksionering van ‘n organisme. Die voorkoms of funksionering van ‘n organisme word die fenotipe van die organisme genoem, om dit te onderskei van die genetiese kode self, wat die genotipe genoem word.
Een van die voorvereistes vir biologiese evolusie is dat die reproduksie proses baie betroubaar moet wees. Die tempo waarteen mutasies plaasvind moet laag genoeg wees sodat dit nie die organismes te vinnig laat verander nie. As die verandering te vinnig plaasvind sal dit die natuurlike seleksie proses minder effektief maak, want die effek van een mutasie sal dan oorheers word deur die effek van ander mutasies.
Die veranderinge aan die genetiese kode van die organisme (genotipe) word nou oorgedra aan die nageslag van hierdie organisme. Die mutasies veroorsaak egter nie noodwendig dat hierdie eerste generasie se fenotipe verander nie. Die veranderde gene kan dominant of resessief wees. Indien dit dominant is, sal die veranderinge reeds met die eerste generasie in die fenotipe van die organisme verskyn. Indien die gene resessief is, moet dieselfde veranderde gene van albei ouers geërf word voordat dit die fenotipe van die organisme kan beïnvloed. Dit sal eers gebeur as hierdie veranderde gene na vele generasies deur die geenpoel van die spesie versprei het.
Dit is nogal belangrik om te verstaan dat daar ‘n verskil is tussen die verandering in die genotipe (genetiese kode) en die verandering in die fenotipe (voorkoms en funksionering) van die organisme, en die feit dat ‘n verandering in die organisme se genotipe nie noodwendig ‘n verandering in die organisme se fenotipe tot gevolg het nie.
Omdat dominante gene altyd die fenotipe verander sal mutasies wat tot dominante gene lei direk getoets word in die omgewing. Indien dit ongunstige veranderinge aan die fenotipe veroorsaak sal hierdie mutasie baie vinnig en redelik effektief uit die geenpoel verwyder word. Daarteenoor sal mutasies wat tot resessiewe gene lei in die geenpoel bly, selfs al is die fenotipe wat deur hierdie mutasies veroorsaak word, ongunstig. Dit is slegs die organismes wat die gemuteerde geen van albei ouers erf wat daardeur gepenaliseer sal word.
Mutasies wat tot resessiewe gene lei speel dus ‘n belangriker rol in die biologiese evolusie proses, maar daaroor skryf ek anderdag weer.
In die tussentyd het ek op hierdie interessante artikel afgekom.

Yebo slim basie flippie
kyk mavis verstaan niks wat basie hie vi my vertel nie maar as my kinners aanjaag dan sê ek vi hulle djelle het djella pa se genes gekry hau so stout basie
mooi loop basie flippie
‘n Mutasie is inderdaad nie ‘n slegte ding nie, al dink baie mense so.
Die mutasies wat ‘n mens van jou ma kry op jou m-chromosoom kan jou oerherkoms bepaal en die wat seuns van hul pa’s kry op die y-chromosoom.
Interessante stuk.
Dankie Rosa.
Flippiefanus, ek dink jou werf is moewies en dat jou verduideliking van evolusie (of dan dit wat ek gelees het) wonnerlik is – dis hoog tyd dat meer mense opstaan en sulke dinge skryf!
Leon, welkom hier. Ek is bly jy het van die verduideliking gehou.