Nog nie heeltemal nie
So op die vooraand van die verkiesing, ‘n verkiesing wat as baie belangrike beskou word, vind ek myself, ten spyte van ‘n algemene politieke voosheid, geamuseerd deur een van die onlangse politieke inskrywings, en spesifiek een sinnetjie wat in die inskrywing verskyn het. (Jammer Boendoe.
)
Sien, die saak staan so. Ek, Flippiefanus, het uit eie keuse teruggekeer na SA vanuit Kanada en na vele wroegings oor die saak het ek uiteindelike besluit om my hier te hervestig en nie weer na Kanada toe terug te keer nie. Hoekom? Want (as ek nou daardie sinnetjie by Boendoe kan leen),
die land is nog nie heeltemal moer toe nie.
Nee wag, julle verstaan nog nie. Kyk bietjie na die volgende soortgelyke stellings:
- Die hoofkelner kom by die man en sê vir hom, “Meneer, hou moed, u biefstuk is nog nie heeltemal verbrand nie.”
- Die bediende kom by die vrou en lig haar in, “Madam, die wasmasjien, hy is nog nie heeltemal stukkend nie.”
- Die polisieman vertel die man, “Moenie bekommerd wees nie meneer, u huis is nog nie heeltemal afgebrand nie.”
- Die dokter staan voor die ouers en in ‘n poging om hulle te bemoedig sê hy, “Julle seun is nog nie heeltemal dood nie.”
Ek dink op hierdie stadium kry julle die prentjie. Een ding wat uitstaan is die oorverdowende gebrek aan ‘n sug van verligting. Die ironie van die saak is dat ons dit werklik as ‘n troos beskou.
Beteken dit dat ek nou weer my goedjies gaan pak om Kanada toe te gaan? Nee, en as jy vir my vra hoekom nie, wat anders kan ek sê as: Suid Afrika is nog nie heeltemal moer toe nie. Hoop net nie dis profetiese woorde nie.

Nee, Flip, no offence taken.
Ek het self daaroor gewik en weeg. Om net te se: “die land is nie in sy moer nie”, of “die land is nog nie in sy moer nie” sou nie reg geklink het nie. Toe gaan ek maar met “nie heeltemal” nie.
Nee, ek hoop self nie dis profetiese woorde nie. Dus, die goeie nuus is die land is nog nie in sy moel in nie. Die slegte nuus is die land is nog nie in sy moel in nie.
Dalk moet ons dit eerder bekyk soos die halwe glas. Die pessismis sê die glas is halfleeg, die optimis sê die glas is halfvol. Die land is nog nie heeltemal moer toe nie. Dit moenie vir ons dien as troos nie, dit moet vir ons dien as aansporing om alles binne ons menslike vermoeëns te doen om te keer dat dit juis NIE HEELTEMAL moer toe gaan nie
Die woordjie “nog” daar beteken dat ons wel oppad is om in ons moer te wees en die woord “heeltemal” impliseer dat ons nie meer so ver is van die punt af om in ons moer te wees. En tog is die heel stelling een van (naiewe) optimisme. I love it! Kom ons maak ‘n bumber sticker daarvan.
Boendoe ek dink die keuse wat je gemaak het is uitstekende.
Roer, goei en slegste nuus meesterlik saamgevoeg in een kort sinnetjie.
Sonkind, ja jy is reg. Dit hand seker af wat ‘n mens se ingesteldheid is hoe mens dit sal sien.
Nou ja kom ons gaan stem more en probeer so met al ons mag om te verhoed dat dit ‘n profetiese stelling word nie.
Flippiefanus, oulike inskrywing. Ek dink ook nie ons land is in sy moer in nie, mens staar jou nie blind teen die feite nie, – ons moet vir ons regering bid – dis die onsekerheid wat maak dat mense gedompel word in vrees.
Ek kan onthou dat Sonkind eenmaal ʼn inskrywing gemaak het oor ʼn hofuitspraak wat totaal anders uitgedraai het as wat die verwagting was. Bid, hoop, glo, doen en vertrou.
Ek bly nog heel lekker hier dankie!!! Ek dink nie eers ek sal weet as alles moer toe is nie….
Moontlik sal die ligte lankal af wees, dan sit ek nog in my sonkolletjie…
Wag dat ek gaan stem, ek wil nie moer toe beleef nie….
Stem Flippie! Die land is nie in sy moer nie. Dit is net die mense wat dit regeer wat wel is. Dan ly die onskuldige burgers daaronder.
Wys my ‘n land wat heeltemal moer toe is en ek trek saam met jou.
Rustig, ek het gestem, vir langer as ‘n uur lank in die tou gestaan om te stem. Ai, ek droom daarvan hoe wonderlik dit sal wees as die party waarvoor ek gestem het dalk wel die verkiesing wen.
Emil, volgens my is Zimbabwe heeltemal moer toe, maar ek gaan nie saam met jou soontoe trek nie.
Mefri, jy’s reg mens moet ophou kla en bid. Help nie om te kla nie.
O aarde Wippie, nee ek dink mens sal weet as dinge moer toe is. Kom ek definieer dit so. In my boekie is die land moer toe as selfs Wipneus dit kan agterkom.
LOL en tog is daar mens wat ends meet maak daar! Moer toe is per definisie ervaringsgedrewe. Ek ken baie mens wat reken SA is lankal reeds moer toe.