Die mens en bedreigde spesies

Die arme Spaanse katjies, een van vele op ‘n lang lys van bedreigde spesies, het flussies ‘n onderwerp van bespreking by Emil geword, in ‘n poging om die mens bewus te maak van sy verantwoordelikheid in die bewaring van die natuur.

Wat my in besonder tref is dat hierdie klem op die verantwoordelikheid wat die mens dra in dieselfde asem genoem word as dat die mens maar net nog ‘n spesie is. Iewers het ek ook gelees dat daar verder gegaan word deur te beweer dat die mens inderdaad as ‘n minderwaardige spesie gesien word.

So, nou wil ek vra, kan dit wees dat daar dalk een of ander dinosaurus was wat veroorsaak het dat ‘n ander spesie uitgesterf het? Dis sekerlik nie onmoontlik nie. Beteken dit dat ons hierdie dinosaurus tot verantwoording moet roep vir die uitsterf van hierdie spesie?

Kom ek stel dit anders. Daar het tog baie spesies oor die loop van die geskiedenis van die aarde uitgesterf. Die redes vir die uitsterf van die spesies het te doen gehad met omstandighede in die omgewing waarbinne hierdie spesies geleef het. Kon dit wees dat deel van hierdie ungunstige omgewing, op direkte of indirekte wyse, deur ander spesies veroorsaak is? Sekerlik. Het laasgenoemde spesies dus dieselfde verantwoordelikheid gehad om te moes sorg dat daardie ander spesies nie uitsterf nie, soos wat die mens vandag dra? Nee, dis tog belaglik.

So wat is ons gevolgtrekking? Die mens se verantwoordelikheid om te sorg dat spesies nie uitsterf nie, is uniek. Dit is slegs die mens wat in hierdie opsig tot verantwoording geroep kan word. Die mens is dus verhewe bo die res van die natuur. Hy alleen het rentmeesterskap oor die natuur ontvang en word daarom verantwoodelik gehou vir wat met die natuur onder sy beheer gebeur. Of hy hierdie rentmeesterskap bevredigend hanteer is ‘n ander saak. Tans lyk dit nie asof die mensdom sy verantwoordelikheid gestand doen nie. Dit maak egter nie dat hy nie steeds die beheer oor die natuur geniet nie.

Hierdie rentmeesterskap van die mens is presies wat in die Bybel beskryf word. Die mens word die opdrag gegee om die natuur te beheer:

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” — Gen. 1:28

Dit impliseer dat die mens verhewe is bo die res van die skepping.

Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. U laat hom heers oor die werk van U hande. U het alles aan hom onderwerp. — Ps 8:5-7

Bloot deur te impliseer dat die mense verantwoordelik gehou kan word vir die uitsterf van spesies, bevestig jy dit wat in hierdie skrifgedeeltes geskryf staan.

19 Responses to “Die mens en bedreigde spesies”

  1. boendoe Says:

    Nou wat ek vir Emil se antwoord… :lol: Julle ‘tweestryde’ maak interessante leesstof. :wink:

  2. Emil Says:

    flippiefanus, ek sal die artikel van Leonard Peikoff wat my genoop gevoel het om so bietjie daaroor uit te brei, stellig bespreek. Omdat ek mos ‘n Different View of Reality het, het ek gedink om sommer in dieselfde asem die lot van ‘n paar unieke, en manjefieke, spesies uit te lig en aan die perverse siening te koppel dat ons geen respek vir die natuur moet toon nie. Different!

    Dis ‘n groot verantwoordelikheid, in godsdiens, spiritualiteit en … in rede. En omdat ons meestal daardie verantwoordelikheid in geloof as rentmeesterskap beskryf, so veel te meer ernstig. En kan en mag ons dit nie ignoreer nie.

    Ja, ek is seker ‘n dinosaur of twee het ‘n paar plante tot uitwissing gevreet, of ander gediertes. Maar is die mens, met sy verstand en vrye wil dan nie juis anders nie? Nie noodwendig verhewe nie, maar tog, met denkvermoë “geseën” om te kan “heers.” Om nie doelloos anders spesies tot uitwissing “te vreet” nie.

    Onthou, in Genesis word die mens ‘n drievoudige mandaat gegee: teel, heers oor die diere, en eet plante. Eers in die verhaal van Noag vind ons die mandaat uitbrei om die eet van diere in te sluit. Sommige Bybelse kommentators reken dis ‘n aanduiding, of eerder aanpassing, vir die mens se gevalle toestand.

    Deur menslike oorlewing aan ‘n afhanklikheid van diere te koppel, stel God ‘n verhouding daar wat ‘n spieëlbeeld is, al is dit gevalle en “imperfect”, vir die mens se oorspronklike verantwoordelikheid van rentmeesterskap en “dominion” (dis so ‘n goeie vertaling van die Hebreeus – ken nie ‘n goeie Afrikaanse eweknie nie) oor die skepping. Ons het dus nou ‘n fundamentele motivering vir oorlewing deur na alles om te sien, deur te “… heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip”, met sorgvuldige oorleg.

    Goed, ons eet nie die Iberian Lynx nie, but you get the point!

    Bloot deur te impliseer dat die mense verantwoordelik gehou kan word vir die uitsterf van spesies, bevestig jy dit wat in hierdie skrifgedeeltes geskryf staan.

    Ja, dis tog, vir my in ieder geval, logies.

  3. flippiefanus Says:

    dominion = heerskappy (?)

    Dit is inderdaad ‘n interessante beskouing dat die doel van God was om deur ‘n terugvoermeganisme ons te lei om vir die natuur te sorg. Nog nie so daaraan gedink nie. Dit sal waarskynlik nie vir alle fasette van die natuur werk nie, maar dit leer ons waarskynlik ten minste die beginsel.

    Die rentmeesterskap van die mens is die konteks waarbinne ek die verhewenheid van die mens sien. Ons andersheid (verstand en kultuur) verskaf ons die vermoe om die verantwoordelikheid van hierdie rentmeesterskap te kan hanteer.

    Verder lyk dit my ons stem nou grootensdeels saam.

  4. rosalindfranklin Says:

    Daar was al 5 vorige uitwissings gewees op aarde in verskillende tye waarin massas organismes uitgesterf het. Van 45% tot 90% van alle lewe. In die uitwissin 251 miljoen jaar gelede het tussen 70% en 90% van alle lewe op aarde gesterf.

    Die was natuurlike oorsake – ‘n reuse vulkaan in siberie en klompe daarna.

    65 miljoen jaar gelede het die dino’s uitgesterf weens ‘n meteoriet.

    Dit is hoe lewe op aarde is en dit sal weer so wees. Na elke uitwissing kom nuwe spesies na vore en evolusie werk ook so.

    Die verskil en aanspreeklikheid om in waneer die mens se onverantwoordelike en selfsugtige optredes ander spesies en self onsself laat uitsterf. Dit is ‘n groot, groot verskil.
    -maak diere vir hul pelse of vir moetie dood
    -besoedel water, die grond en lug deur ons optrede
    -ontbossing wat lei tot verlies van habitat, wat weer lei dat verlies van spesies
    -inmeng met vlei van riviere en vleilande

    ag die lys is lank

  5. Emil Says:

    flippiefanus, sonder om te skroom, erken ek, ons stem saam :wink:

    Wie het ooit gesê ek lees nie die Bybel (behoorlik) nie :wink:

    En Rosalindfranklin, ek stem daar ook met jou saam. Mens verwag beter van die mens.

  6. flippiefanus Says:

    Rosa, inderdaad, die mens maak droog. In stede daarvan om sy rentmeesterskap te gebruik om die natuur behoorlik te bestuur, misbruik die mens sy mag om dit te mishandel en te vernietig.

    Emil, as ek dit nie mis het nie, het jy op ‘n stadium vertel dat jy teologie gestudeer het. Dus is dit mos te verstane dat jy die Bybel (behoorlik) kan lees.

  7. Emil Says:

    (behoorlik) is steeds nie ‘n absolute waarde nie :wink:

  8. Sammi Says:

    Hierdie laat my dink aan my seunskind se engelse nooientjie – toe hulle nou weer hier was en ‘n gogga in haar hare ingevlieg het, was sy histeries en ek BEDOEL histeries. Hy neem my toe eenkant toe om te verduidelik dat daar nie goggas is in Engeland nie en dat hierdie vir haar ‘n vreemde verskynsel is: al ons spinnekoppe en dergelike ander goggas.
    Kan dit waar wees?

  9. Johan Swarts Says:

    hierdie inskrywing van jou laat my dink aan ‘n vorige sentiment wat ek weerspiëel het toe ek geskryf het dat vegetariërs net werklik ernstig opgeneem kan word as hulle christene is.

  10. flippiefanus Says:

    Emil, nie ‘n modulus nie? :twisted:

    Sammi, sjoe, dit kan ek darem maar nie glo nie. Sy het seker maar baie beskermd groot geword. Ek weet dat Kanada baie meer muskiete het as SA.

    Johan :lol: hoe het jy nou weer daarby uitgekom?

  11. rosalindfranklin Says:

    Sammi, ek dink sy sit sommer aan, miskien moet julle met haar gaan kamp.

  12. Johan Swarts Says:

    FF – Wel, die basiese idee is dat niemand hulleself bevuil as ‘n luiperd ‘n bok jaag, versmoor, doodbyt, verskeur en verslind nie. Sodra ‘n mens dit doen, beskyt vegetariërs hulleself.

    Wat is nou eintlik die verskil?

    Al hoe iemand regtig met reg kan seg: “ek is ‘n vegetariër”, is as hulle ook meen: “ek glo die mens het ‘n spesiale plekkie bo diere”.

  13. Johan Swarts Says:

    (Want as ons almal net verskillende diere in verskillende stadia van natuurlike seleksie is, is daar geen rede om kwaad te raak as ons diere vir kos gebruik nie. Dan is ons bloot die slimmer spesie bo-aan die kosketting.)

  14. flippiefanus Says:

    Ek sien. Nogal subtiel.

  15. rosalindfranklin Says:

    Johan jy verstaan natuurlike seleksie ongelukkig verkeerd, die voedsel-ketting is nie gelyk aan evolusieleer nie.
    Evolusie is nie linier en progressief nie. Indien dit so was sou hier nie meer eenvoudige organismes bestaan het nie.

    Evolusie en natuurlike seleksie is soos ‘n struik/boom met takke hy loop nie noodwendig na die “beste en slimste” nie.

  16. Johan Swarts Says:

    Hmm…ek is nie seker waar ek gesê het die voedselketting is gelyk aan natuurlike seleksie nie. Kan jy dit dalk uitwys?

  17. rosalindfranklin Says:

    Ek kry dit nie ge-copu nie Johan, jammer as dit nie jy was nie, wie die die kommentaar gemaak wat jy hier bo in hakies gelaat het? dit is na aanleiding daarvan gemaak. As dit nie jy is nie verskoning

  18. flippiefanus Says:

    Rosa, die kommentaar waarna jy verwys kom van dieselfde IP adres af as die vorige kommentaar van Johan af, dus lei ek af dat dit wel hy is wat daardie kommentaar gelewer het.

    Johan, Rosa verwys na jou kommentaar hierbo van 30 April 11h21. Daarin verwys jy na “verskillende stadia van natuurlike seleksie” en later na die “kosketting”. Ek neem aan omdat jy hierdie twee konsepte in dieselfde kommentaar gebruik het voel Rosa dat jy dit aan mekaar gelyk gestel het.

  19. rosalindfranklin Says:

    Jip ek stem. Want daar staan: Dan is ons bloot die slimmer spesie bo-aan die kosketting, en dit is direk in vergelyking gebring met natuurlike seleksie. Twee totaal verskillende topics.

Leave a Reply