In kontak met God

Een van die aspekte waarmee Christenskap geassosieer word is dat dit ‘n persoonlike verhouding met God is. So ‘n persoonlike verhouding impliseer dan ook dat ‘n Christen gelowige met God kan kommunikeer. Dit vereis twee-rigting kommunikasie. Basies bestaan hierdie twee-rigting kommunikasie uit bid en Bybellees. Deur te bid praat ons met God en deur die geïnspireerde Woord te lees praat God met ons.

Vir die sekulêre wêreld lyk hierdie twee-rigting kommunikasie natuurlik soos ‘n self-om-die-bos-leiery. Vir iemand wat glo dat God nie bestaan nie, is gebed bloot ‘n geprewel met niemand wat hoor nie en die Bybel bloot ‘n antieke boek wat deur ‘n klomp mense van lank terug geskryf is.

Die sleutel wat die verskil maak is die Heilige Gees. Nie alleen was die Bybelskrywers geïnspireer deur die Heilige Gees toe hulle die Woord geskryf het nie, maar as ons vandag die Bybel met die regte gesindheid en toenadering lees ontvang ons weereens inspirasie om te kan verstaan wat God vir ons wil sê. In hierdie opsig bevat die Bybel ‘n rykdom van kennis en wysheid wat eindeloos is, want wat deur die Woord aan ons gekommunikeer word is nie net beperk tot wat in woorde daar geskryf is nie. Dit wat daar staan kan vir elkeen wat dit lees ‘n ander betekenis oordra, afhanklik van die omstandighede waarin daardie persoon is en dit wat die Heilige Gees aan daardie persoon wil kommunikeer.

Nou is dit ongelukkig so dat die Bybel baie maal misbruik word om betekenisse daaraan toe te dig wat nie deur die Heilige Gees geïnspireer is nie. Daaroor wil ek egter nie nou skryf nie.

Die Heilige Gees gebruik egter nie net die Bybel om met ons te kommunikeer nie. Mens kan geïnspireerde boodskappe via verskeie kanale ontvang, insluitend: ‘n preek tydens ‘n erediens, ‘n lied wat gesing word, dit wat mens in ‘n ander boek lees, ‘n TV program, dit wat iemand vir mens vertel, selfs direk deur ‘n mens se eie gedagtes. Wanneer so iets gebeur is dit meeste van die tyd ‘n fenomenale ervaring. Dit is asof daar meteens ‘n nuwe insig in jou brein ontstaan wat een of ander vraag waarmee jy in jou lewe geworstel het, opklaar.

Nou, die feit dat mens inspirasie op al sulke maniere kan ontvang beteken egter nie dat ons noodwendig altyd inspirasie op hierdie manier ontvang nie. Dit beteken ook (en hierdie punt wil ek baie beklemtoon) dat nie alles wat mens op hierdie manier “ontvang” van God af kom nie. Mense is baie maal oortuig dat hulle een of ander boodskap van God af ontvang het, terwyl dit nie die geval was nie. Om die waarheid te sê mens moet baie versigtig wees met kennis wat mens so ontvang. Bêre dit eers bietjie weg en spandeer dan ‘n tyd waartydens jy hierdie kennis behoorlik ondersoek. Toets dit aan die Woord, met ander woorde, bepaal of dit op enige manier in stryd is met wat die Woord ons leer. Ondersoek ook die implikasies van hierdie kennis, met ander woorde, wat sou dit tot gevolg hê as jy volgens hierdie kennis sou optree.

Nou wil ek spesifiek praat oor die feit dat mens direk inspirasie kan ontvang deur mens se eie gedagtes. Paulus skryf aan die Romeinse gemeente:

…Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Mens kan dus deur jou eie denke bepaal wat vir God goed en aanneemlik en volmaak is, maar dis nie iets wat uit onsself kom nie. Dit kom deurdat God ons denke vernuwe. Dit is die element van inspirasie wat ons van God af kan ontvang. Dit gebeur egter nie sommer vanself nie. Daar is ‘n voorvereiste. Paulus skryf dat ons nie aan hierdie sondige wêreld moet gelyk word nie, maar dat ons instede daarvan onsself aan God toewy (opoffer) deur heilig te lewe.

My broer het eenmaal aan my verduidelik wat dit prakties beteken. Op ‘n lae vlak kommunikeer die Heilige Gees met alle mens deur jou gewete. Jy kan kies of jy gehoor wil gee aan jou gewete of nie. As jy gehoor gee dan maak jy die deur vir die Heilige Gees oop. As jy dit nie gehoorsam nie maak jy die deur toe. Telkens as jy jou gewete ignoreer word God se stem al sagter totdat jy dit later glad nie meer kan hoor nie. Daar teenoor, telkens as jy gehoor gee aan wat die Heilige Gees deur jou gewete vir jou sê, word God se stem bietjie harder. Mettertyd ontvang jy inspirasie oor aspekte wat nie net met jou gewete te doen het nie. Op die manier ontwikkel jy ‘n beter (“fyn”) aanvoeling vir God se stem. Jy erken Sy stem makliker en kan dit onderskei van dit wat nie van God af kom nie.

Vir iemand wat vêr genoeg gevorder het op hierdie pad kan gebed self ‘n tweerigting gesprek word. Terwyl jy bid, nog voordat jy klaar gepraat het, ontvang jy reeds die inspirasie van God oor daar die spesifieke aspek. Wees egter voorbereid, hierdie antwoorde is nie noodwendig wat mens sou wou gehoor het nie. Dit is egter juis omdat mens die gesindheid het van bereidheid om aan sulke antwoorde gehoor te gee dat mens hierdie inspirasie in die eerste plek kan ontvang.

Mens hoor soms iemand sê dat hy of sy vêr voel van God af. Daardeur getuig hierdie persoon inderwaarheid dat hy of sy wel vantevore nader aan God gevoel het. Hoe anders sou die persoon geweet het hoe dit voel om vêr van God af te wees? Hoe herstel mens dan hierdie verhouding? Mens begin deur voor jou eie deur te vee. Iewers in jou eie lewe is daar iets wat skeiding bring. Mens weet meeste van die tyd presies wat dit is. Al wat moet gebeur is dat mens dit moet herken en die somtyds moeilike besluit neem om iets daaraan te doen.

Iemand wat voel dat hy of sy vêr van God af is, hunker daarna om weer naby God te wees sodat die kommunikasie met God herstel kan wees, want om daardie kommunikasie te kan ervaar is wonderlik. Daardeur ontvang mens die “vrede wat alle verstand te bowe gaan.”

8 Responses to “In kontak met God”

  1. Emil Says:

    Al wat moet gebeur is dat mens dit moet herken en die somtyds moeilike besluit neem om iets daaraan te doen.

    So is dit met alle dinge in die lewe!

    Ek hou baie van hierdie inskrywing.

  2. Retha Says:

    Aarde, Flippie, ek hoop nie jy het weer jou kop in ‘n bynes gedruk nie.
    Party mense, as hulle die woord “Heilige Gees” of “Die Here lei my” hoor, begin hulle met: “Mense het al [dit] en [dit] en [dit] lelik gedoen en gesê dis in opdrag van die Here! Hoe kan mens jou vertrou as jy sê die Gees lei jou?”
    Dit sal interessant wees om te sien wat jy op daardie soort vrae sal antwoord.

  3. Mefri Says:

    Liewe Flippiefanus, dankie vir die pragtige Gees-geïnspireerde gesprek, dit beteken vir my geweldig baie en dit was spesiaal vir my ore bedoel gewees..

    Dit is nou die derde keer dat ek dieselfde boodskap binne 24uur hoor; Gisteroggend op Radio Kansel, gistermiddag in die waskamer van die kompleks waar my skool is en nou weer hier by jou.

  4. Emil Says:

    Retha, dit was my eerste reaksie, maar flippiefanus verduidelik ook (darem) dat nie alles in so ‘n proses noodwendig “van die Gees” kom nie.

    Ondersoek ook die implikasies van hierdie kennis, met ander woorde, wat sou dit tot gevolg hê as jy volgens hierdie kennis sou optree.

    Dis darem baie anderste as “… want die Bybel sê so,” of “God sê.”

    En ja, daar is al baie dinge gedoen sogenaamd onder leiding van die Gees wat heeltemal skeef gegaan het, en ek is seker baie gaan nog gedoen word wat beide die wenkbrou sal lig, of berusting en verligting sal bring.

    Dit is goed dat mens nie op geykte versies en argumente vashaak nie. Nie alle godsdienstiges is goed nie; nie alle agnostici is ateisties nie.

  5. flippiefanus Says:

    Dankie Emil, ek is bly jy hou van die stuk en ondersteun die manier waraop ek dit verduidelik.

    Retha, ek steek doelbewus my kop in hierdie bynes. Dis belangrik dat daar ‘n onderskeid getref word tussen dit wat mense aanvang en dit wat waarlik optrede is wat deur die Heilige Gees gelei is. Verder glo ek dis sommer nonsens dat ‘n gelowige moet skaam wees vir dit waarin hy/sy glo.

    Mefri, ek is bly jy vind waarde in dit wat ek skryf. Dit lyk my jy ontvang nou juis inspirasie van die Heilige Gees af, as jy dieselfde boodskap op 3 verskillende manier ontvang.

  6. Mefri Says:

    Goeiemôre Flippiefanus, vanoggend will ek die seën van die Naam bo alle name oor jou uitspreek, want jy staan vas met jou siel geanker in Sy Woord en Waarheid. Ek is so bly dat jy Sy Lig uitdra op wp.

    Ek bid vir jou, soos die gelowiges vir Paulus gebid het, want ek weet hoe vel die aanslag van die Bose soms kan wees. “Wees geseënd in die Naam van Christus Jesus, mag Sy vrede jou hart en sinne bewaar en die Wysheid en Insig van die Heilige Gees kragtig in jou vermeerder”

  7. flippiefanus Says:

    Baie dankie Mefri. Ek waardeer jou ondersteuning en gebede baie.

  8. Mefri Says:

    Flippiefanus,:-) Ek kuier elke dag saam – ek het nie altyd iets om by te dra nie, maar ek is hier.

Leave a Reply