Die vrug van geloof

23 Junie 2009

Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.

Die Christen word gered op grond van geloof, maar wat glo jy?

Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook en hulle sidder van angs.

Wat is die geloof dan wat die Christen onderskei van die nie-Christen? Die evangelie, maar wat gehels dit? Is dit om te weet dat Jesus Christus die Seun van God is; om te weet dat God mens geword het sodat ons verlos kon word; om te weet dat God in Christus die prys betaal vir ons verlossing; om te weet dat Jesus Christus die dood oorwin het toe God hom uit die dood opgewek het? Kan mens die volle omvang van dit wat God oor homself aan ons geopenbaar het weet en glo en steeds met ‘n koue hart rondloop?

Nee!

Geloof verander optrede. Optrede word ‘n simptoom van geloof. Aan die vrugte wat jy dra word jy as gelowige geken. Watter optrede? Hoe lyk die `vrugte’ wat ‘n Christen dra? Dit lyk soos die Vrug van die Heilige Gees:

…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Is hierdie vrug nog relevant in vandag se lewe? Is die optrede waaraan die gelowige herken word, ‘n optrede wat mens nog kan volg in ‘n moderne wetenskaplike wêreld? Ja, ja, ja, inderdaad. Die Christelike beginsels is allesomvattend.

In die tyd waartydens die Bybel geskrywe is, was daar nie so iets soos aardverwarming nie. Beteken dit dat die Christen nie weet hoe om die kwessie van aardverwarming te hanteer nie? In teendeel, die Christelike beginsels berei die Christen baie goed voor om te weet hoe om aardverwarming te benader. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Jou nageslag is ook jou naaste, dus moet jy sorg dat hulle dieselfde kans op oorlewing het as wat jy het, en as daar by jou enige twyfel is oor die moontlike nagevolge moet jy hulle die voordeel van die twyfel gee.

Daar was ook nie kernwapens toe die Bybel geskryf is nie. Beteken dit dat die Christen nie weet hoe die kwessie van kernwapens benader moet word nie? Weereens is die Christen baie goed toegerus om te weet hoe om die kwessie van kernwapens en ander wapens van massa uitwissing te hanteer. Hoe kan jy beweer dat jy jou naaste liefhet as jy sulke wapens goedpraat?

Wat van die kwessie van genetiese navorsing of kunsmatige intelligensie? In so verre sulke tegnologie kan lei tot die benadeling van enigiemand of van God se skepping is dit nodig dat daar die nodige beperkings op geplaas word. Ongelukkig is dit nog te vroeg om duidelik te kan sien wat die moontlike nagevolge kan wees.

Mens kan nie die ontwikkeling van die wetenskap stuit nie. Wetenskap is ook nie opsig self iets slegs nie. Soos die mens se kennis toeneem is daar egter ‘n toenemende kans dat die mens homself ernstig kan benadeel, selfs totaal uitwis. Saam met die kennis kom daar dus ‘n groot verantwoordelikheid. Wetenskaplikes en die besigheidswêreld wat op die wetenskap floreer tree nie altyd met die nodige verantwoodelikheid op in hul doen en late nie. Die wetenskaplike is meer besorg oor roem en selfverheerliking en vir die besigheidsman gaan dit oor geld.

Voeg nou egter Christenskap by — ‘n ware geloof wat mens kan sien deur die optrede van die persoon — dan kom die verantwoordelikheid vanself by. Die Christen wetenskaplike of Christen besigheidsman weet dat dit nie gaan oor selfverheerliking of selfverryking nie, maar eerder oor liefde vir jou naaste in balans met liefde vir jouself, en in gehoorsaamheid aan God.

Geloof in God is dus wel daartoe instaat om te verhoed dat die mens homself uitwis.

Sal God die mens te hulp snel as hy wel begin om op groot skaal droog te maak? Helaas nie. Verantwoordelikheid impliseer ook aanspreeklikheid en ‘n deel van aanspreeklikheid is om te leef met die gevolge van ‘n mens se dade. Op die ou end is dit ‘n leer proses. Soos die ou mense gesê het, as jy nie wil hoor nie moet jy voel.


Kaapse draai

11 Junie 2009

Deur ‘n samevloei van omstandighede bevind ek my skielik in die situasie dat ek blykbaar vir ‘n kort rukkie volgende week myself in Kaapstad en omgewing gaan bevind. Daar is selfs ‘n mate van opgewondenheid by my oor die vooruitsig. Ek sou inderwaarheid van die geleenthid wou gebruik maak om ‘n paar van die woeraars wat in daardie geweste woon van aangesig tot aangesig te ontmoet, maar konserwatief gereken sal daar seker nie tyd daarvoor wees nie. Nogtans kan ek myself so bietjie vergewis van die aangesigte waaroor so baie van diegene in daardie geweste so lieries kan raak.

Sal probeer foto’s neem as my kamera en my gebrekkig vaardigheid in daardie departement my toelaat.


Twee mans in ‘n gat

7 Junie 2009

Langs ‘n pad is daar ‘n gat gegrawe. Twee mans wat met die pad langs stap is besig om met mekaar te stry. Die stryery raak al driftiger. Toe hulle in die omgewing van die gat kom raak die twee handgemeen met mekaar. Nadat daar ‘n paar vuiste geswaai is ontaard die geveg in ‘n stoeiery. In die proses val altwee van hulle in die gat.

Die geveg het nou opgehou en elkeen probeer om op eie houtjie uit die gat uit te klim. Die walle van die gat is egter te hoog vir ‘n enkele persoon om daar te kan uitklim.

Uiteindelik draai hulle na mekaar toe en staar mekaar aan. Daar is duidelik geen liefde tussen die twee nie. Op ‘n manier kom hulle ooreen dat hulle mekaar sal moet help om uit die gat te klim. Die een sal op die rug van die ander een moet klim om uit te kom en dan sal hy weer hand moet gee sodat die ander een ook kan uitklim. Kan hulle mekaar egter vertrou? Wie gaan eerste uitklim?

Daar word loodjies getrek om te besluit wie eerste uitklim. Daarna moet hy plegtig belowe dat hy die ander een sal help en hom nie daar in die gat sal los nie.

Die een man draai om en gaan staan teen die wal sodat die ander man op sy rug kan klim. In die proses word hy amper vertrap soos die ou eers op sy rug en later op sy kop trap om genoeg hoogte te kry om uit die gat te kom.

Dan staan die man uiteindelik op die wal. Hy draai om en daar staan hy en kyk vir die man wat nog in die gat is. Moet hy afbuk en hom die hand reik of moet hy eenvoudig omdraai en wegstap? Die man in die gat gluur hom wantrouig aan. Hoe langer hy wag om te besluit hoe meer begin die man in die gat hom te haat.

Dan kniel die man op die wal en gaan af op sy maag. Hy strek sy hand uit na die man in die gat …

——————————————————————————————————

Teen die laat 1800’s was daar ‘n situasie waar baie blankes in Suid Afrika baie arm was. Dit was die tyd van die sogenaamde arm blanke vraagstuk. Die regering het op daardie stadium ‘n besluit geneem wat mense vandag beskou as die voorloper van Apartheid. Daar is besluit om blankes te bevoorreg ten koste van die swart mense deur werksresevering toe te pas. Een van die redes wat aangevoer was, is dat as die probleem nie aangespreek sal word nie daar rassevermenging kan plaasvind, iets wat op daardie stadium ‘n totale taboo was.

Wat inderwaarheid gebeur het is dat die blanke op die swarte se rug geklim het om uit die gat te kom. Hy het nie die swartman se goedkeuring daarvoor gekry nie, want hy sou dit waarskynlik nooit gekry het nie en dan sou albei nogsteeds in die gat gewees het. Vandag is dit die blanke se beurt om die swarte die hand te reik om hom uit die gat te help. Inderwaarheid het die swartman nie altyd die blanke se goedkeuring daarvoor nie, maar die situasie is noodwendig so dat die blanke nie veel van ‘n keuse het nie.

Eendag gaan Afrika terugkyk en homself afvra: “Nou hoe het ons uiteindelik uit die gat gekom?” Tot sy groot verbasing sal hy ontdek dat die Apartheid era ‘n groot rol in die proses gespeel het. Beide blanke Suid-Afrikaners en swart Suid-Afrikaners is kinders van Afrika en eendag, al is dit miskien nog vêr in die toekoms, gaan hulle glimlaggend met die arm om mekaar se skouer staan en terugkyk na hierdie kleurvolle geskiedenis.

So, ter afsluiting van my reeks oor kinders van Afrika, wil ek aan al diegene wat so tot vervelens toe hammer op hoe sleg Apartheid was sê: deal with it, in die groter perspektief van dinge was dit nodig.


Post-verhuising-terneurgedruktheid

3 Junie 2009

Nog lank voor ek die dag sou beleef wat ek in my nuwe blyfplek in is het ek al geweet dit sou so wees. Al die opgewondenheid en afwagting gaan soos mis voor die son verdwyn kort nadat ek daar in is. Dis presies hoe dit is. Dis al daardie klein terleurstellingtjies wat bymekaar tel en mens dan op ‘n gemoedtoestand aflaai waar jy nie wil wees nie. Natuurlik sal mens jou pad mettertyd deur die terleurstellings werk en meeste daarvan uitsorteer. Tog affekteer dit jou en dit dreineer jou motivering om die goed uit te pak en te sorteer en te organiseer. Die gevolg is die wêreld is vol kartondose en verpakkingsmateriaal. Dis ‘n bose kringloop, want nou maak hierdie deurmekaar omgewing jou nog verder terneurgedruk.

Wel gisteraand het ek my Internet aan die werk gekry en dit het my ‘n groot hupstoot gegee. Nou moet ek nog net ‘n plan maak om daardie plek so bietjie warmer te kry.


Mens se aardse besittings

1 Junie 2009

Wat is dit tog dat mens so kan verknog raak aan ‘n klomp goed wat jy vir die res van jou lewe met jou moet saam sleep? Dis net ‘n hoop sonde en ergernis.

Dit tref my dat al die aardse besittings is vir die “creature comforts” sorg, maar dat hierdie goed niks doen vir die siel nie. Die “soul comforts” vra geen materiele goed nie. Dit soek vrede, stilte en liefds en al sulke goed wat geen aarde besittings vir mens kan gee nie. Verstommend hoe baie tyd mens aan die fisiese behoeftes spandeer en hoe min mens dink aan die siel se behoeftes.

Ai!