Twee mans in ‘n gat

Langs ‘n pad is daar ‘n gat gegrawe. Twee mans wat met die pad langs stap is besig om met mekaar te stry. Die stryery raak al driftiger. Toe hulle in die omgewing van die gat kom raak die twee handgemeen met mekaar. Nadat daar ‘n paar vuiste geswaai is ontaard die geveg in ‘n stoeiery. In die proses val altwee van hulle in die gat.

Die geveg het nou opgehou en elkeen probeer om op eie houtjie uit die gat uit te klim. Die walle van die gat is egter te hoog vir ‘n enkele persoon om daar te kan uitklim.

Uiteindelik draai hulle na mekaar toe en staar mekaar aan. Daar is duidelik geen liefde tussen die twee nie. Op ‘n manier kom hulle ooreen dat hulle mekaar sal moet help om uit die gat te klim. Die een sal op die rug van die ander een moet klim om uit te kom en dan sal hy weer hand moet gee sodat die ander een ook kan uitklim. Kan hulle mekaar egter vertrou? Wie gaan eerste uitklim?

Daar word loodjies getrek om te besluit wie eerste uitklim. Daarna moet hy plegtig belowe dat hy die ander een sal help en hom nie daar in die gat sal los nie.

Die een man draai om en gaan staan teen die wal sodat die ander man op sy rug kan klim. In die proses word hy amper vertrap soos die ou eers op sy rug en later op sy kop trap om genoeg hoogte te kry om uit die gat te kom.

Dan staan die man uiteindelik op die wal. Hy draai om en daar staan hy en kyk vir die man wat nog in die gat is. Moet hy afbuk en hom die hand reik of moet hy eenvoudig omdraai en wegstap? Die man in die gat gluur hom wantrouig aan. Hoe langer hy wag om te besluit hoe meer begin die man in die gat hom te haat.

Dan kniel die man op die wal en gaan af op sy maag. Hy strek sy hand uit na die man in die gat …

——————————————————————————————————

Teen die laat 1800’s was daar ‘n situasie waar baie blankes in Suid Afrika baie arm was. Dit was die tyd van die sogenaamde arm blanke vraagstuk. Die regering het op daardie stadium ‘n besluit geneem wat mense vandag beskou as die voorloper van Apartheid. Daar is besluit om blankes te bevoorreg ten koste van die swart mense deur werksresevering toe te pas. Een van die redes wat aangevoer was, is dat as die probleem nie aangespreek sal word nie daar rassevermenging kan plaasvind, iets wat op daardie stadium ‘n totale taboo was.

Wat inderwaarheid gebeur het is dat die blanke op die swarte se rug geklim het om uit die gat te kom. Hy het nie die swartman se goedkeuring daarvoor gekry nie, want hy sou dit waarskynlik nooit gekry het nie en dan sou albei nogsteeds in die gat gewees het. Vandag is dit die blanke se beurt om die swarte die hand te reik om hom uit die gat te help. Inderwaarheid het die swartman nie altyd die blanke se goedkeuring daarvoor nie, maar die situasie is noodwendig so dat die blanke nie veel van ‘n keuse het nie.

Eendag gaan Afrika terugkyk en homself afvra: “Nou hoe het ons uiteindelik uit die gat gekom?” Tot sy groot verbasing sal hy ontdek dat die Apartheid era ‘n groot rol in die proses gespeel het. Beide blanke Suid-Afrikaners en swart Suid-Afrikaners is kinders van Afrika en eendag, al is dit miskien nog vêr in die toekoms, gaan hulle glimlaggend met die arm om mekaar se skouer staan en terugkyk na hierdie kleurvolle geskiedenis.

So, ter afsluiting van my reeks oor kinders van Afrika, wil ek aan al diegene wat so tot vervelens toe hammer op hoe sleg Apartheid was sê: deal with it, in die groter perspektief van dinge was dit nodig.

32 Responses to “Twee mans in ‘n gat”

  1. Mefri Says:

    Ek moet eerlik wees; ek het nie hierdie reeks gevolg nie, maar hierdie woorde gaan ek raam: deal with it, ‘in die groter perspektief van dinge was dit nodig.’ Flippiefanus, jy ‘n ster!

  2. Nikita Says:

    Jou inskrywing herinner my aan die een van die twee groepe wat sit en eet met lepels wat elle-lange stele het… in die hel en in die hemel. Die in die hel probeer self eet en niks kom by hul monde uit nie, toe sou hul sien die groep in die hemel voer mekaar met die lang lepels en sodoende is hul gesond en gelukkig. Boodskap: help mekaar soos jou “gat”-storie. Baie oulike inskrywing!

  3. flippiefanus Says:

    Dankie Mefri.

    Dis nogal ‘n beeld daardie van die lang lepels, Nikita.

  4. Sonkind Says:

    Ek hou van hierdie inskrywing van jou, FF. As ons maar net altyd vorentoe ook sal onthou – die een hand was die ander ene en uiteintlik het hierdie land ons almal nodig.

  5. Plaasjuppie Says:

    Of ons dit nou wil hoor of nie. Ons het almal mekaar nodig as ons wil floreer hier aan die Suidpunt van Afrika. Iemand moet die inisiatief neem en die ander party die hand reik. Ek hou van die beeldspraak van die twee mans in ‘n gat.

  6. Johan Swarts Says:

    Sou ‘n mens ook aan die slagoffers van iets soos Pol Pot se terreur-era kon sê “deal with it”, of reken jy hierdie argument is spesifiek net van toepassing op Suid-Afrika? Hoekom?

  7. Johan Swarts Says:

    (ignoreer hierdie comment, ek maak dit omdat ek vergeet het om die notify me of follow-up comments boksie te tick.)

  8. flippiefanus Says:

    Johan ek dink elke situasie is op sy manier uniek. Wat ek hier geskryf het is spesifiek vir SA bedoel, maar dit beteken nie dat mens ‘n soortgelyk analise kan maak van ander situasies in die wereld nie.

    As mens ver terugkyk in die geskiedenis van Europa (as voorbeeld) sien mens baie negatiewe gebeurtenisse wat vir die mense van daardie tyd nie baie aangenaam kon gewees het nie. Tog het daardie gebeurtenisse bygedra tot die opbou van Europa soos wat dit vandag is.

    Dankie aan Sonkind en Plaasjuppie.

  9. attie Says:

    Ek wonder hoeveel gevalle is daar waar die een wel die ander een help uit die gat uit te kom.

  10. Emil Says:

    Black Economic Empowerment en Regstellende aksie, deal with. In die groter perspektief van dinge is dit nodig.

  11. Emil Says:

    Ek dink is natuurlik baie makliker vir ons om vorentoe te kyk, vanuit ‘n bevoorregte posisies. In ‘n sekere mate kyk ons immers wel terug, na ‘n era toe die Ingelsman ons onderdruk het en die vergelyking daarvan nou met wat ons kwansuis vandag ervaar.

    Dit is baie maklik vir ons om te sê “beweeg vorentoe” – vir ander, na elle lange jare se onderdrukking en verdrukking, dalk nie. Sal ons ooit die mindset van ‘n PDI verstaan?

  12. Johan Swarts Says:

    Ek is nie seker of ek hierdie inskrywing se logika…kom ons sê…waardeer nie. Ek weet dis nie jou bedoeling nie, FF, maar dit kan netsowel toegepas word op iets soos verkragting of moord, met die vae sentiment “jy weet nooit nie – eendag is iets dalk beter as gevolg hiervan!”

  13. flippiefanus Says:

    Attie, ek is bly om te sien jy is weer in die omloop. Sal weer bietjie daar by jou gaan inloer.

    Emil, die mindset van ‘n PDI verskil waarskynlik nie veel van 80% van die mensdom van die wereld nie. Op een of ander manier trek meeste mense maar iewers aan die kortste end. Dis deel van menswees. In vandag se tyd van menseregte en “entitlement” probeer elke janrap en sy maat natuurlik om politieke voordeel uit hul situasie te put. Dit was natuurlik nie altyd so nie, maar die feit dat mense op een of ander manier ingedoen word was nog maar altyd die geval en sal seker vir altyd die geval bly.

  14. flippiefanus Says:

    Johan ek kan nie heeltemal sien hoe mens die argumente wat ek hier gebruik het op verkragting of moord van toepassing kan maak nie. Miskien kan jy dit vir my verduidelik.

    Op baie algemene vlak kan mens se^ dat sekere skynbaar negatiewe gebeure wel tot iets positiefs kan lei. Dis tog voor-die-hand-liggend. Party mense sal verder gaan en vir jou se^ dat alles altyd wel ‘n positiewe kant het. Hoe dit ook al sy, dis egter nie waaroor hierdie inskrywing handel nie.

  15. Retha Says:

    Ek dink nie mens kan veralgemeen en sê “wittes” moet “swartes” help nie. Ek dink wel dat elkeen, swart of wit, moet kyk hoe hy, met sy geleenthede en vaardighede, kan gee aan ander wat nodig het- swart of wit.

    Jy praat van die armblanke-vraagstuk. Ons ontwikkel weer een: http://censorbugbear-reports.blogspot.com/search/label/Poor%20white%20problem%202009
    Gee ek net om vir arm blankes en nie arm swart mense nie? Nee. Maar mens moet vanselfsprekend vir arm witmense óók omgee, ewe veel omgee. Om een sin uit die stuk aan te haal:

    Afrikaner whites often move around with their tents — to avoid losing their children to social welfare departments, where white children, being far in the minority, often face a lifetime of abuse and neglect, both physical and sexual.

  16. Johan Swarts Says:

    FF – Ek baklei nie teen jou logika nie, ek bevraagteken jou inskrywing se premis (wat, terloops, op sirkulêre argumentering rus). Indien ons aanneem dat Apartheid gebeur het – dat die metaforiese gat vir eens en vir altyd gegrawe was (dalk selfs in die sterre geskryf was) – dan, ja: dan maak hierdie inskrywing sin. As Apartheid die verstekwaarde is om mee te begin, is die outomatiese respons wat ons almal moet hê: hoe gemaak daarna. In welke geval jou oplossing = help uit die gat uit.

    Ek bevraagteken bloot die geldigheid van hierdie premis, want die ding is, dit sou selfs beter wees as daar nooit Apartheid was om mee te begin nie. Geen gat nie.

  17. Retha Says:

    Is jy seker, Johan? Dit wil vir my voorkom dat Apartheid nie die gat is waarvan hy praat nie. Hy noem dat wit en swart saam in ‘n gat was. Ek dink die gat is armoede,(en die armoede-gat was daar voor apartheid) en hy sê apartheid was ‘n manier om een groep eerste uit die gat te help.

  18. Johan Swarts Says:

    Hy noem dat wit en swart saam in ‘n gat was. Ek dink die gat is armoede,(en die armoede-gat was daar voor apartheid)

    Korrek. En toe stamp wit vir swart by ‘n tweede, dieper gat af en sê vir swart: “horie, dude, ons moet elkeen self uit hierdie gat klim – op ons eie, sonder mekaar se hulp”. En toe eien wit op die koop toe ook sommer die enigste beskikbare leer, piksteel en tou vir homself toe – wat swart als vir hom moes bou.

    Toe’s die maklik om eerste uit die gat te kom.

  19. flippiefanus Says:

    O dis sirkuler (natuurlik wat anders) ;-) . Johan, kan jy dalk vir my verduidelik hoekom?

    Johan jy se^: “Indien ons aanneem dat Apartheid gebeur het … dan, ja: dan maak hierdie inskrywing sin.” Maar my aarde Johan, is ons in denial hierso? Natuurlik het Apartheid gebeur.

    Dan se^ jy “dit sou selfs beter wees as daar nooit Apartheid was om mee te begin nie.” dan het jy nie verstaan wat ek probeer se^ het nie. My argument is dat Apartheid die meganisme was waarmee die witman uit die gat kon klim. Nou is dit sy beurt om die swart man uit die gat te help.

    Retha en Johan: as julle wil weet wat ek met die gat bedoel, lees asseblief die reeks Kinder van Afrika I tot IV.

    Retha inderdaad is hulp ‘n wedersydse verantwoordelikheid. Hier egter verwys dit na ‘n groter globale aspek nl. kulturele vlak.

    Inderdaad is daar ‘n mate van arm blanke vraagstuk wat weer begin ontstaan. Dis waarna die beeld van die swartman wat die witman amper weer terug in die gat laat belang, verwys. Dit hoef egter nie ‘n totale verarming van die blanke te impliseer nie.

  20. Johan Swarts Says:

    Jou betoog (gaan lees gerus, dis alles daar) =

    1. Daar was baie arm blankes
    2. Die blanke regering het blankes bevoordeel ten koste van swart mense
    3. As die blanke regering nie die blankes bevoordeel het ten koste van swart mense nie, sou albei vandag steeds arm wees
    4. Vandag kan blankes die hand uitreik na die swart mense wat hulle benadeel het ten einde hulself te bevoordeel
    5. Hierom gaan Suid-Afrika eendag vry wees van die nadele wat gespruit het uit die benadeling van die swart mense deur die blankes
    6. Wanneer hierdie dag aanbreek, gaan die swart man en die wit man hand om die skouer staan en glimlag oor hoe die witman die swart man benadeel het ten einde homself te bevoordeel.

    ergo: 7. get over apartheid, dit was nodig.

    Die enigste manier waarop jy #1 tot #6 werklik kan regverdig, is as jy #7 aanneem voor jy begin. Maar #7 is jou gevolgtrekking.

    Sirkel.

  21. Johan Swarts Says:

    My argument is dat Apartheid die meganisme was waarmee die witman uit die gat kon klim. Nou is dit sy beurt om die swart man uit die gat te help.

    So het ek dit verstaan. Ek stry ook nie met jou nie – dit het briljant gewerk vir die witman. Die sentiment in jou slotsin – die nonchalante “get over it” (“dit is nie so erg nie”?) is wat my pla. Want die meganisme was nie net ‘n meganisme nie – dit was ook ‘n euwel.

    Vir die dogtertjie van ‘n vermoorde man op die Kaapse Vlaktes kan jy immers ook sê – “get over it, dit was die meganisme waarmee die bendelid verseker het dat hy nie in armoede vergaan nie, waarmee hy vir hom kos en ‘n waarborg dat hy vir nog ‘n week in die bende sal oorleef kon kry. Eendag sal jy groot vriende met die man wat jou pa vermoor het se seun wees en sien hoekom dit nodig was dat sy pa jou pa om die lewe moes bring.

  22. Retha Says:

    Ek het ‘n rukkie van jou voorafgaande vergeet toe ek armoede die gat genoem het waaruit heelwat Afrikane nog moet kom. Maar as jy van ‘n kulturele gat praat, dan het jy probleme van Afrikane se kant af.
    As jy sou vertel: “Wit moet swart help om uit armoede te kom” gaan byna geen Afrikaan kla oor wat jy sê nie. Maar wanneer jy sê: “Wit moet swart help om uit ‘n kulturele, waarde-gat te kom” dan gaan heelwat Afrikane jou ‘n rassis noem. My vraag is: Hoeveel Afrikane is bereid om ‘n ander kultuur en waardestelsel te leer?
    Nuwe kulturele waardestelsels is inderdaad nodig, ja. (Artikels soos hierdie praat dan glad van ‘n “culture of rape” in die townships. http://www.digitaljournal.com/article/264771 ) En die aantal kinders wat ouerloos grootword (helfte van SA se bevolking van kinders-kry ouderdom is HIV positief) maak dit ook nie makliker om kinders waardes en kultuur te leer nie.

  23. Retha Says:

    Johan, ek stem met jou saam oor die “get over it” sin. Maar jy vervaardig m.i. ‘n sirkel deur te verdraai.

    1 en 2 het geensins enige opinie oor apartheid se reg of verkeerd nodig as voorveronderstelling nie, dis geskiedenisfeite. 3, 4 en 5 kan beredeneer word sonder om vooraf te glo apartheid was nodig. 6 dink ek nie staan in Flippie se stuk nie.

  24. Emil Says:

    Die kategorisering verstom my steeds.

  25. Johan Swarts Says:

    Retha – Jy’s heeltemal reg – 1 en 2 is bloot daar omdat ek FF se hele post gecopy het, in die comments gepaste het en die netjies opgesom het deur dit te parafraseer. Maar vanaf #3 begin daar interpretasie inkruip – en ten einde te interpreteer moet redes verskaf word. Die rede wat nodig is ten einde hierdie interpretasie te regverdig, is die konklusie.

  26. flippiefanus Says:

    Johan jou redenasie oor die sirkel maak nie vir my sin nie. As dit ‘n geval was dat my gevolgtrekking as aanname gedien het vir enige stap in my redenasie dan sou dit ‘n sirkel gewees het, maar jy le woorde in my mond. Stellings #1 tot #6 is jou parafrasering van wat ek geskryf het en as sulks nie baie goed nie want jy vermeng self die gevolgtrekkings in wat jy skryf. Kortom dit lyk vir jou soos ‘n sirkel redenasie omdat jy dit vir jouself so opgesom het.

    Verder verloor jy die globale perspektief waarin ek dit geskryf het. Natuurlik is daar insidente wat tydens die apartheid jare plaasgevind het wat nie goedgepraat kan word nie. Dis ook nie wat ek doen nie. Dis soos om te se^ dat ek Duitse soldaat wat tydens WWII doodgeskiet is, was goed. Nee disjammer dat sulke vreeslike goed moes gebeur maar op ‘n groter globale perspektief wasdit nodig dat die geallieerdes die Duitsers moet oorwin. Die analogie kan mens inhierdie gevalnie heeltemalnetso deutrek na aartheid toenie want laasgenoemd was nie met dieselfde toekomsvisie beplan nie.

    Retha, die Afrikane kan lankal nie meer hul kulture behou nie. Dis juis wat ek in my reeks bespreek het. Dit het niks met rassisme te doen nie.

    “helfte van SA se bevolking van kinders-kry ouderdom is HIV positief” waar kry jy hierdie informasie?

    Emil, na watter kategorisering verwys jy?

  27. Retha Says:

    die Afrikane kan lankal nie meer hul kulture behou nie.

    Ek glo jou. Maar gaan Afrikane jou nie rassisties noem as jy dit sê nie? En gaan hulle dit aanvaar as jy of ek of wie ookal sê: “Luister en leer by ons, ons wil vir julle ‘n ander kultuur leer.” ?

    “helfte van SA se bevolking van kinders-kry ouderdom is HIV positief” waar kry jy hierdie informasie?

    Ek sal nie sê die artikel wat ek na skakel (11 Jun 8:58) is noodwendig reg nie, maar daardie artikel beweer “The latest reports from the Medical Research Council, Medicins Sans Frontieres and the Treatment Action Campaign warn that most of the child-bearing age population of South Africa is now being infected with HIV-AIDS, because of the rape epidemic.” en “Half of South Africa’s young have AIDS from rape”
    Waarmee hulle klaarblyklik nie bedoel dat elkeen dit opdoen deur verkragting nie, maar dat as dit nie vir die baie bende-verkragtings was nie, die siekte baie stadiger sou versprei.

  28. Andrew Says:

    Vanuit ‘n biologiese oogpunt maak dit nie saak of daar ‘n rasse verskil tussen die twee mans in die gat is nie want albei behoort aan dieselfde groep, die mens. Regstellende aksie is dus sinneloos of dit toegepas word of nie.

    Dalk maak Retha se komentaar die meeste sin:

    “Ek dink dat elkeen, swart of wit, moet kyk hoe hy, met sy geleenthede en vaardighede, kan gee aan ander wat nodig het – wit of swart.”

  29. flippiefanus Says:

    Retha, dis nie dat daar vir hulle gese word “julle moet by ons leer oor kultuur nie.” Nogtans vind daar opheffing plaas en hierdie opheffing is niks anders nie as kulturele opheffing nie. Die kultuur meganisme is ‘n organiese proses wat nog nie heeltemal verstaan word nie, maar mens kan die effek daarvan sien in die kulturele veranderinge wat intree. Hierdie proses het hier in SA al baie ver gevorder. Die gevaar is inderdaad soos jy uitwys, die agtergeblewenis, die kinders wat ouerloos (per implikasie kultuurloos) grootword.

    Andrew, ek stem saam. Regstellende aksie is nie die hulp waarna ek verwys nie. Dis wat my betref ‘n onding.

  30. Andrew Says:

    Flippie indien jy saam stem dan is dit nie veronderstel om vir jou ‘n onding te wees nie. Maar ek weet wat jy bedoel; daar word moontlik teenoor jou gediskrimineer omdat jy gelyk is. Mense met sproete diskrimineer teen mense met sproete.

  31. flippiefanus Says:

    Andrew, dan het ek jou seker verkeerd verstaan. Ek verkies dat dinge op meriete gebasseer word en nie op velkleur nie.

  32. boendoe Says:

    Ek weet nie hoe ek die ene gemis het nie, Flip. Puik!

Leave a Reply