Nou ja, dit was skaars bietjie meer as ‘n week gelede wat ek vir ‘n vinnige 3 dae in die Kaap was en hier is ek alweer oppad. natuurlik is daar mense wat gewoond is aan sulke gereelde trippies, maar ek is nie een van daardie mense nie. My tydsbestuur is eenvoudig nie naastenby goed genoeg daarvoor nie. Dis hoekom ek nou op nommer 99 probeer om ‘n opsomming te maak van my Kaapse trippie en so paar foto’s te plaas.
Die eerste dag (nadat ek die vorige aan baie laat by die hotel aangekom het) het ek in die parlement gespandeer.

Ons was een van vele groepe wat demonstrasies moes maak vir die Departement van Wetenskap en Tegnologie se begrotingsdebat — ‘n baie besondere dag wat ek verkieslik nie weer gou weer wil herhaal nie.
Die volgende dag het ek toe in die Moederstad rondgeloop om foto’s te neem. Onder andere het ek die Kasteel besoek en natuurlik gesorg dat ek darem die befaamde Berg ook inkry.

Ek was gelukkig genoeg om toevallig daar te wees toe die Sleutel seremonie plaasvind — die bestaan waarvan ek voor die tyd geensins bewus was nie. Om die waarheid te sê, weens my onkunde oor die saak was ek amper deel van die Sleutel seremonie.

Tydens my besoek aan die Moederstad het ek iemand ontmoet wat my baie aan Kanada herhinner het. Hy was net vreeslik skaam en twee keer so vinnig. Daarom het ek maar gesukkel om ‘n mooi foto van hom geneem te kry.

Dit was omtrent op hierdie stadium wat ek SMS’e van Sonkind en Emil ontvang het om te vertel dat hulle albei plat in die bed is met griep. Ons beplande ontmoeting het toe deur die mat geval, maar Johan Swarts het my wel gekontak en uitgenooi vir middagete by News Cafe. Ek en die Gormendizer het baie lekker gekuier.
Die volgende dag het ek die pad gevat Weskus toe. Op Langebaan het ek my niggie gaan besoek. Ons het gaan tee drink by die Farmhouse en ek het baie lekker kaaskoek daar geëet. Ek kan die plekkie regtig aanbeveel. Mense het ‘n lieflike uitsig oor die lagune van daar af.

Die middag is ek saam met my niggie en haar man na Jakobsbaai vir middagete by ‘n plekkie wat, as ek die saak reg verstaan, deur Steve Hofmeyer besit word. Die dorpie is regtig baie fotogenies.

Daarna is ek terug lughawe toe vir my vlug terug na die Noorde.
Ek dink nie ek het al ooit ‘n driedag reis beleef wat meer volgepak met wonderlike ervarings was nie.

2 Julie 2009 at 7:26 nm
Ek sou jou ook genooi het, maar ongelukkig woon ek deesdae in Johannesburg.
2 Julie 2009 at 7:52 nm
Dankie, Flip! Vir iemand wat jaaaaaaaare gelede (as kind) in die Kaap was, was jou inskrywing nou baie lekker. Amper soos om saam met jou te toer!
2 Julie 2009 at 9:16 nm
Die Weskus: my hemel op aarde. Jou besoek het op n crescendo geeindig Flippiefanus! Dankbaar dat jy dit geniet het.
2 Julie 2009 at 9:49 nm
Flippiefanus, jou foto’s is pragtig en jou beskrywings is vrolik en ontspanne – beslis my soort kos. Ek het dit baie geniet, dankie
Ek sien uit na meer hiervan.
3 Julie 2009 at 6:57 vm
Ja, die Weskusplek behoort nou blykbaar aan Steve in vennootskap met Amanda en Louis. Die Farmhouse is stunning. Of jy het baie goeie smaak of jy ken die regte mense wat weet om jou na al die nice plekke te vat.
3 Julie 2009 at 9:05 vm
Ek is werklik spyt oor die verlore geleentheid. In die lewe is dit mos gelukkig so dat mens twee keer ontmoet! Mooi foto’s.
3 Julie 2009 at 9:54 vm
Bly jy het dit geniet en pragtige foto’s!!
3 Julie 2009 at 5:39 nm
Piesang, ek sal jou laat weet as ek dalk op ‘n stadium ‘n paar dae in Johannesburg gaan vertoef.
Dankie Boendoe, so jy is ook ‘n gebore Kapenaar. Sjoe maar daar is darem baie van julle.
ELF, dit was die eerste keer dat ek in die Weskus was. Noudat my niggie-hulle daar bly sal ek dalk meer gereeld daar kom. Hulle het hoeka my beloof dat as ek volgende keer bietjie langer bly gaan hulle vir my iewers (nou vergeet waar) ‘n visbraai ontbyt beplan. Klink lekker.
Mefri, dankie. Ek is bly jy het dit geniet.
George, ja siende dat ek nou die eerste keer daar gekom het moet ek die eer aan my niggie-hulle oorlaat.
Dankie Emil. Ja ek glo daar sal weer ‘n geleentheid wees.
Dankie Wipneus.
4 Julie 2009 at 4:42 nm
Ja, da’ is ma net een Kaap, en dis onse Kaap!
Net jammer die sneeu bly vanjaar so weg, anders kon jy nog gesien het hoe mooi dit ook is.
4 Julie 2009 at 8:40 nm
Volgende keer sal ek wragtig met rooi neus en al saam jou gaan koffie drink
Jou foto’s is baie mooi – dit laat my my eie plek weer waardeer!
4 Julie 2009 at 11:24 nm
Nice foto’s Flippie … ek se^ jou mos dis ‘n kwaai plek hierdie.
Maar jy het ‘n kontak aan die binne kant nodig om vir jou al die secret spots te wys. Ek het vanmiddag weer een besoek in Kirstenbosch. Die kontras van die stad met die asemrowende natuur skoon net minute weg vang my elke keer.
5 Julie 2009 at 5:07 nm
Jakobsbaai is mooi en ‘n lekker plek om oor te bly ook veral in die winter voor ‘n kaggel.
5 Julie 2009 at 8:24 nm
Skoor, sneeu in die Kaap het ek nog nooit ervaar nie, maar ek is nie onbekend met sneeu nie. Ek het 8 winters in Kanada beleef. Mis nou nog die sneeu op Kersfees.
Sonkind, ek verstaan heeltemal dat dit bietjie erg is om die pad te vat wanneer mens so sleg voel. Nee wat, soos Emil se^, daar sal waarskynlik weer ‘n ander geleentheid wees.
Dankie Andrew, dis hierdie nuwe kamera wat ek het. Ek mik net en druk die knoppoe en hy doen die res. Jy moet my eendag bietjie na hierdie secret spots toe vat.
Rosa, om een of ander rede het ek die perfekte weer gehad op die dag wat ek daar was. Die eetplekkie het nogal ‘n lekker groot kaggel wat seker die plek lekker warm kan maak op so koue wintersdag.
6 Julie 2009 at 2:56 nm
Dankie vir die mooi verlang-foto’s. Lyk of jy ‘n baie lekker tydjie gehad het!