San Diego
As jy lus is vir ‘n vakansie by die see in ‘n plek wat heeljaar lekker warm weer het en waar die mense duidelik baie meer geld het as hier langs die Suid Afrikaanse kus, dan kan jy gerus San Diego toe gaan, dis nou as jy die lang vlugte soontoe kan trotseer. San Diego, is ‘n redelike groot stad langs die kus aan die suidpunt van Kalifornie.

Die gaslamp distrik in San Diego
SanDiego het ‘n baie groot hawe en daar is ‘n belangrike vlootbasis. Die baai word van die see geskei deur ‘n skiereiland met ‘n lang ismus. Op die skiereiland is daar ‘n dorpie genaamd Coronado, met ‘n baie lekker strand. Mens koop eenvoudig vir jou ‘n kaartjie vir die ferrie om van San Diego oor die baai te vaar na die skiereieland toe. Mens kan ook ‘n bus vat wat oor die 300 voet hoë brug ry na die skiereiland en terug.

Met 'n ferrie oppad na Coronado

As jy dan op ‘n dag nie lus is vir die strand nie, koop vir jou ‘n dagpas vir 5 dollar. Vat die trem. Ry met die oranje lyn tot by American Plaza. Klim oor op die blou lyn en ry tot by Old Town. Daar vat jy die nommer 9 bus. Daarmee kan jy dan ry tot by Sea World, een van San Diego se grootste toeriste aantreklikhede, indien nie die grootste nie.
Die toegang by die Sea World is nogal duur, 65 dollar (miskien kry jy 10 dollar afslag vir ‘n spesiale aanbieding), maar dis al die pad die moeite werd. Daar is soveel om te sien en te doen.
Daar is ‘n verskeidenheid van akwariums met ‘n uiteenlopende verskeidenheid van seelewe wat mens kan besigtig: haaie, dolfyne, seeleeus en robbe, pikkewyne en self ‘n ysbeer.

Ysbeer in sy kunsmatige habitat
Dan is daar ook verskillende vertonings wat nogal baie populêr is.

Dolfyn vertoning
Mens moet nogal vinnig speel om plek te kry by hierdie vertonings want hulle word vinnig vol, veral in die namiddag. Dit wil nogal gedoen wees, as mens in gedage hou dat daar verskillende arenas vir die verskillende vertonings is en dat elkeen van hierdie arenas tot 5 duisend mense kan vat.
By hierdie vertonings is dit blykbaar ‘n baie gesogde ervaring om deur hierdie diere nat gespat te word. Deel van die vertoning is dan ook ‘n geleentheid waartydens die dolfyn of die walvis in die rondte swem en met sy stert die mense natspat.
Niks kom egter daarby om daardie pragtige groot soogdier uit die water te sien spring en te sien hoe dit met ‘n groot slag terug in die water val nie.
Dan is daar ook nog ‘n watersirkus waar narre en akrobate die gehoor vermaak met al hul kapperjolle en natuurlik ‘n eindelose gevallery in die water. Passop want hull mag jou dalknadertrek om deel te word van hul vertoning.

Watersirkus
Daar is baie meer as net die Sea World om te sien en te beleef in San Diego, maar ‘n besoek aan San Diego sonder ‘n besoek aan die Sea World sal inderdaad ‘n gemis wees.
Comments are closed.

Ek kan nogal dink om ‘n walvis so te sien spring, ‘n wonderlike gesig moet wees.
Geen bloginskrywing kan reg laat geskied aan ‘n Sea World besoek nie, al probeer jy hoe hard. Ons het dit in 1994 in Florida gedoen en sal dit nooit vergeet nie. Dit het ons die hele dag besig gehou en ons het ‘n paar video kassette volgemaak. Ongelukkig het ons die materiaal nie vinnig genoeg op ‘n ander medium oorgeplaas nie en al die bandjies het geoksideer. Groetnis
Boendoe, ja dis darem nou nie ‘n groot walvis nie, dis die killer whales (wat noem mens hulle in Afrikaans?).
Marietjie, dis jammer dat julle videos van die besoek tot nuut is. Nou sal julle maar weer moet gaan.
Flippie, hierdie is regtig mooi. Ek het nooit juis iets van San Diego geweet of gedink nie, maar nou sal ek beslis ‘n punt daarvan maak om daar in te loer as ek ooit in die buurt is.