Die absolute en die universele
Verbeel jou dat jy gebore was in die tyd van die Griekse wysgere. Jy leef in ‘n tyd waar die denke seevier; waar die mensdom ‘n hoë vlak van kennis bereik het en jy dink dat die mensdom sy hoogtepunt bereik het. Wat kan daar nog meer wees wat die mensdom kan bereik? Lank nadat jy dood is kom daar toe eendag ‘n man genaamd Galileo Galilei …
Verbeel jou dat jy gebore is in die aristokratiese Europa van die 16de eeu. Jy beweeg in die kringe van musiek en kuns en geniet die fyner dinge van die lewe. Die kultuur het nou volgens jou so vêr ontwikkel as wat dit kan. Die mens weet nou wat die belangrike dinge in die lewe is en waaroor die lewe handel. Jy voel dat die mensdom sy hoogtepunt bereik het. Wat kan daar nog meer wees wat die mensdom kan bereik? Kort nadat jy dood is breek die Franse revolusie uit …
Verbeel jou jy is gebore in die wêreld van wetenskap en uitvindings van die 1800′s. Jy lees oor Lord Rayleigh, Fourier en La Grange, en al hul wetenskaplike onthullings. Jy is oortuig dat Lord Kelvin reg is wanneer hy beweer dat die wetenskap feitlik voltooi is en daar nog net enkele aspekte is wat opgeklaar moet word. Die mensdom het sy hoogtepunt bereik het. Wat kan daar nog meer wees wat die mensdom kan bereik? Jy was net dood toe Einstein en Planck op die toneel verskyn …
Vandag kyk ons terug na hierdie tye en ons sien die foute en tekortkominge raak, want ons weet dat daar telkens veranderinge gekom het en nuwe denkwyses ontwikkel het om hierdie denkwyses te vervang. Tog maak ons vandag weer die fout om te dink dat die mensdom sy hoogtepunt bereik het. Ons dink vandag dat ons moraliteit verhewe is bo alle ander moraliteite wat ooit bestaan het. Ons glo in mense regte en in politieke korrektheid. Ons verwerp die doodstraf en ondersteun aborsie. Ons dink in ons eng eietydse denkwyse dat daar geen beter sienswyse kan wees as ons eie sienswyse nie.
Die mens is gedoem om telkens vasgevang te wees in sy betrokke sienswyse. Die heersende paradigma word vir hom die ‘standaard’, die alles, die absolute. Telkens beoordeel en veroordeel die mens vanuit sy paradigma mense en gebeure wat buite sy tyd staan asof sy paradigma ‘n verhewe absolute is wat universeel toegepas kan word. Vandag gebeur dit steeds. Dink jy dat die mensdom in vandag se tyd sy hoogtepunt bereik het? Glo jy dat jou moraliteit van vandag absoluut en universeel is?
Glo jy in die bestaan van die absolute en die universele?
Binne die postmoderne denkwyse van vandag glo die mensdom daarin om alles in twyfel te trek, ook die bestaan van die absolute en die universele. Niks is absoluut waar nie. Geen beginsels kan universeel toegepas word nie.
Wel maak dit dan nie tog sin om die twyfel self ook in twyfel te trek nie? Impliseer dit nie dan tog dat die absolute en die universele miskien wel kan bestaan nie? Besef jy dan dat selfs jou kontemporêre paradigma, hoe skepties en ondersoekend dit ook al mag wees, nie ‘n baie goeie kans het om as die hoogtepunt van die mensdom te dien nie? Hoe dink jy sal jou huidige denkwyse vaar wanneer dit deur toekomstige geslagte geoordeel word, of nog erger, as dit teen die absolute en die universele gemeet sou word?
Die mensdom dink dat hy vandag die punt bereik het waar hy selfs God kan oordeel. Miskien moet die mens ‘n slag van sy troontjie afklim en besef hoe gebrekkig sy oordeel op die beste van tye is. Miskien moet hy sy oë oopmaak en verstaan hoe belaglik dit is wanneer ‘n verlore mensdom wat vasgevang is in die gebrokenheid en ‘n gebrekkige begrip het, homself verwerdig om oor die Skepper te oordeel.
[Deel van die reeks oor Godsbegrip.]
(Soms moet mens jouself beter verstaan voor jy kan verwag om iets oor God te verstaan.)
Comments are closed.

In Galileo se tyd wou die kerk besluit watter wetenskaplike teorië aanvaar moet word en watter nie. Dit het gelei tot konflik wat tot vandag toe nog woed. Al is ons wetenskaplike kennis nog baie beperk en moet ons nog skaaf aan teorië is dit vir my ondenkbaar om antwoorde te probeer vind van godsdienstige filosowe wat honderde of duisende jare terug gelewe het. So ook godsdienstige filosowe wat vandag lewe. Nou dink ek spesifiek aan New Age geesteleer.
Ek let op dat jy praat van ‘n Skepper en God en nie godsdiens in die algemeen nie. Jou aanname is dus dat jou persoonlike ervaring van God wat deels polities, sosiaal en kultureel van aard is, die mees akkurate is.
Dalk is om jouself te verstaan al wat werklik dáár is.
Andrew, jy staar jou blind teen die kerk op aarde wat maar net ‘n menslike instelling is en baie gebreke het soos enige ander menslike instelling. Wat is dit nou immers waarvoor jy die antwoorde soek? Godsdiens is nie wetenskap nie. Die twee is komplimenter tot mekaar en spreek verskillende aspekte aan.
As Christen is ek mos noodwendig oortuig dat my Christen geloof die waarheid is. Dis ‘n gegewe. Die reeks oor Godsbegrip gaan nie daaroor om God se bestaan te probeer bewys nie. Die vertrekpunt is dat God bestaan en bespreek die karakter en aard van God soos ons dit kan verstaan.
Emil, dalk is die nie al wat daar is nie. Soos ek vir Andrew verduidelik, die reeks neem aan dat daar ‘n God is. Dit het ook nut vir nie-gelowiges, want telkens kom ek redenasie van nie-gelowiges tee waarin foutiewe implisiete aannames oor God maak word.
Flippiefanus, jy verwys gereeld na “foutiewe implisiete aannames oor God,” hier en ook in kommentaar by my. Tensy ek dit mislees (of dalk nie begryp nie), vind ek nie waar jy hierdie aannames uitlig nie. Ek sou nogals graag beter begrip daaroor wil ontwikkel.
Emil, dit hang natuurlik van die spesifieke geval af waarna verwys word, maar goed wat ek tipies teekom is waar mens aan God dink asof hy ‘n mens is en aan dieselfe beperking as mense moet voldoen. Een voorbeeld is byvoorbeeld die beperking van die natuurwette. Daar word aangeneem dat God ondergeskik moet wees aan die natuurwette. Dit maak tog glad nie sin nie aangesien geglo word dat God dan juis die skepper van die natuurwette is.
Goed geskryf.
Ek wonder of blogs ooit sal uitsterf.
Dankie Johan. Salliewetie.
“When the absolute falls into the water, it turns into a fish” (kan nie onthou wie ek hierso aanhaal nie, maar het dit wel in ‘n boek raakgelees: “Teorie is ‘n gil” deur Timo Smuts)
Skerp mnr Muller.