Dinamiese bereik
Het jy al probeer luister na klassieke musiek terwyl jy in ‘n kar ry? (Nou praat ek nie van hierdie duur motors wat die padgeraas baie goed kan onderdruk nie.) Die een oomblik is die radio te sag, sodat jy nie die musiek kan hoor nie. Daarom draai jy die volume harder. Dan ewe skielik kom daar ‘n oorverdowende deel waar die orkes omtrent jou ore laat bars.
Die probleem is dat die variasie in die hardheid van die musiek baie groter is as die verskil tussen die ruisvlak wat deur die padgeraas veroorsaak word en die vlak waar die klank te ongemaklik hard is. Hierdie verskil staan bekend as die dinamiese bereik. Dit is nogal ‘n belangrike ontwerpsaspek van elektroniese versterkers, want dit bepaal die bereik tussen die sagste klanke en die hardste klanke wat so versterker betroubaar kan lewer.
Ek wil graag hierdie konsep van dinamiese bereik toepas op mense se vermoë om op verskillende dinge te kan fokus. Dit kom daarop neer dat die dinamiese bereik van mense beperk is. Daar is mense wat die groot globale prentjie kan sien en strategies oor dinge kan dink. Dan is daar weer ander mense wat goed is daarmee om op die detail te fokus en te sorg dat elke klein dingetjie reg is. Daar is egter weinig mense wat terselfdertyd die groter strategiese sake kan behartig en ook aandag kan gee aan al die detail. Daar is ook geen mense wat al die verskillende detail fasette van ‘n saak kan behartig nie.
Die hoof uitvoerende beampte van ‘n groot organisasie kan nie die hele organisasie self behartig nie. Enige mens in so ‘n pos moet noodwendig take delegeer. Daarom het so groot organisasie gewoonlik ook ‘n hoof tegniese beampte, ‘n hoof finansiële beampte, en so voorts. Dieselfde geld vir die regering van ‘n land. Die president is aan die hoof, maar hy of sy word bygestaan deur ‘n kabinet vol ministers om die verskillende aspeke van die regering van die land te behartig. Verder het elke minister ‘n departement vol mense wat help om die detail van die betrokke taak te behartig.
Kontrasteer nou hierdie beperkte dinamiese bereik waaroor mense beskik met die onbeperkte dinamiese bereik van God. Hoekom beweer ek dat God ‘n onbeperkte dinamiese bereik het? As gelowige glo ek dat God almagtig en alwetend is. Die konsep van almag het verskeie implikasies, waarvan ek sommige reeds van te vore bespreek het. Een van hierdie implikasies is ‘n onbeperkte dinamiese bereik.
Wat beteken dit dat God ‘n onbeperkte dinamiese bereik het? In die eerste plek het dit betrekking op die skeppingsdaad. God het nie net alleen die groot heelal gemaak nie. Hy het ook al die detail aspekte daarvan geskep. Van te vore het ek beskryf hoe groot God moet wees om al die sterre in hul sterrestelsels te kon maak. As mens egter in die teenoorgestelde rigting na al kleiner skale beweeg dan kry mens goed wat mens nie met die blote oog kan sien nie: biologiese selle, virusse, DNS molekules, atome, protone, kwarke, en wie weet wat nog. Hierdie is ‘n verstommende reis wat telkens meer wonders onthul van hoe dinge werk op toenemend kleiner skale. Dit is ook ‘n reis wat die mens nog lank nie voltooi het nie. As almagtige Skepper het God dit alles tot stand gebring in Sy skeppingsdaad.
Wat egter vir my die mees verstommende aspek van God se onbeperkte dinamiese bereik is, is dat Hy al hierdie detail aspekte van die heelal op ‘n manier geskep sodat die grootskaalse aspekte van die heelal op ‘n spesifieke manier volgens Sy wil funksioneer. Met ander woorde, daar bestaan ‘n kaskade van meganismes in die natuur wat op mekaar gebou is al die pad van die kleinste elementêre deeltjies deur alle die chemiese, meganiese en ander prosesses heen tot op die vlak van grootskaalse prosesse soos stervorming en supernovas, maar ook tot op die vlak van die hoogste kompleksiteit soos lewe, intelligensie en kultuur — alles volgens Sy plan. Dis onbegryplik hoe God dit alles kan vermag. En tog … dit word geïmpliseer deur die konsep van Sy almag.
In die tweede plek impliseer God se onbeperkte dinamiese bereik ook dat Sy fokus nie net op een punt beperk hoef te wees, soos wat by mense die geval is nie. Net soos God terselfdertyd op beide die detail en die globale aspekte kan fokus, kan Hy aan al die verskillende detail terselfdertyd aandag gee. God is nie soos mense beperk in terme van die aantal goed waaraan hy op dieselfde tyd aandag kan gee nie. Dit is hoekom mens nooit bekommerd hoef te wees dat jou eie klein probleempie te onbenullig vir God is, of dat Hy nie tyd het vir jou probleem nie. Hy kan aan alles aandag gee sonder dat Hy konsentrasie verloor. Dit word geïmpliseer deur die konsepte van God se alwetendheid en Sy almag.
[Deel van die reeks oor Godsbegrip.]
Comments are closed.

Dagse Flippiefanus
Elke keer as mens die dinge bepeins bewys dit net weer, God is totaal onverklaarbaar en alles geskied met ‘n geweldige groot orde.
Groete
Nou hoe pas die kwessie van euwel in die hierdie dinamiese bereik in?
Ek het amper begin dink, toe jou oor organisasie begin praat en die daarmee gepaardgaande delegasie, dat jy dalk panteïsties oor dit gaan dink
Ek kan nou wel sien wat jy bedoel met die veronderstelling dat daar wél ‘n God is. Anders sou jou laaste sin heel anders gelees het. Tog, ek kan nie help om te wonder nie: of God nou bestaan of nie, moet ons nie eerder besin oor die konsepte “almag” en “alwetend” nie?
Ek vind hierdie aanhaling van Karen Armstrong (soos deur Die Piesangverkoper aangehaal) sprekend:
Om oor God in menslike terme te praat, werk nie meer vandag nie.
Is dit moontlik vir God om ‘n rots te skape wat so swaar is dat Hy dit self nie kan optel nie? Ja of nee.
Emil, ja inderdaad kan mens “besin” oor konsepte soos almag en alwetendheid. Miskien is dit juis wat ek in die afgelope paar inskrywings gedoen het.
Stem ook saam dat dit nie sinvol is om “oor God in menslike terme” te praat nie, of soos ek dit wil stel “aan God te dink asof Hy soos ons aan menslike beperking moet voldoen”. Ek stem egter nie saam dat godsdiens bloot daaroor gaan om mense ‘n lekker gevoel te gee te midde van die realiteite nie. Pasop dan mens nie God agter die godsdiens vergeet nie. Ek dink dat dit juis God is wat homself op menslik verstaanbare terme aan ons geopenbaar het. Daarmee gaan noodwendig sekere informasie gepaard, maar dit kan informasie wees wat op so manier ingekleur is dat dit bloot sekere abstrakte konsepte oor God probeer verstaanbaar maak vir ons. Die ware realiteit van God is waarskynlik nie menslik verstaanbaar nie.
Bertus,
ek het al iewers hierdie saak aangespreek. Die kort antwoord is ja. God kan beperkings op homself instel as hy sou wou. Die gevaar is egter dat ons God probeer onderwerp aan die beperkings van logika. In een van my heel eeste inskrywings het ek geredeneer dat dit ‘n ongeldige beperking is en daarom maak dit nie sin om deur sulke logiese kunsgrepies God te probeer vasvang nie.
Ja maar daai brood is ok darem maar lekker dik aan albei kante gebotter.
Hey, daai vraag het ek ook al aan Flippiefanus gestel, Bertus. Ek plaas onbeskaamd daardie stukkie kommentaar uit een van skrywes weer (flippiesfanus kan dit maar uitvee, sou hy wou
)
Indien God alwetend is, moet hy moes weet wat Hy eendag iewers in die toekoms gaan doen. Dan is Hy mos mageteloos om dit te verander. Hoe kan hy dan nou almagtig wees? Dit is ‘n teenstrydigheid.
God het onuitputtende krag en onbeperkte kennis, reken mense. God is ‘n wese “groter as enigiets denkbaar” is seker die maklike antwoorde.
Soos ek daarna kyk, is God vasgevang in ‘n teenstrydigheid van sy Eie vrye wil; hoe kan ‘n alwetende God die almag vind om dit te verander wat Hy reeds weet? Kan God ‘n rots skep wat swaarder is as wat selfs Hy kan optel? Indien wel, is Hy mos nie meer almagtig nie. Sou Hy die toekoms wel kan verander, is Hy mos nou ook nie meer alwetend nie?
Wat nou van Vrye Wil? As Hy alwetend is, ken Hy mos die toekoms. Dit impliseer Hy het geweet wat ons as mens sou doen. Dis kan mens logies aanneem ons keuses is vasgestel by die skepping van die mens. Waar is die vrye wil? Kan God dus werklik iets verander? En weet Hy werklik wat volgende gebeur?
die klip-vraag is ‘n foutiewe vraag. dit vra in wese:
indien
X = Y, kan
X = Z, gegewe dat
Y != Z ?
dis ‘n rubbish vraag. dis soos om te vra wat die verskil tussen ‘n piesang is of hoeveel mense op die 43ste Maart verjaar.
Bertus, dis maar hoe ek daaroor dink. Uit die aard van die saak weet ek nie alles nie en wanneer dit by God kom weet ek soos die res van die mensdom maar bra min.
Emil, ek dink dit is onnodig om te dink dat bloot omdat God weet wat gaan gebeur Hy nou nie meer beheer daaroor het nie. Dit is immers hy wat die aksie neem al weet hy voor die tyd reeds daarvan. Mens beweeg hier op onbekende terrein. Implisiet in hierdie redenasie is daar ‘n klomp aannames wat nie noodwendig korrek is nie, soos byvoorbeeld die hele kwessie van tyd en kousaliteit. Hoe kan ons beweer dat dit vir God op dieselfde manier geld s wat dit vir ons geld?
Goed Johan, ek hoor jou.
Flippie, nee dis cool, all’s fair in love and religion.
Ek dink net die hele idee van ‘n persoonlike God het hom in ‘n muur vas geloop en mens moet een of ander tyd dit in die oë kyk. Mens kan nie enersyds wil sê dat daar ‘n God is wat ‘n Wese tussen ander wesens is en aan reels a, b en c onderhewig is, maar sodra jy aan die logiese noodwendighede vasloop (soos die rotsvoorbeeld) dan geld logika nie meer nie. Dan moet logika van die begin af nie geld nie, en dan kan jy nie meer dinge sê soos dat God sy Seun doodmaak omdat hy ‘n god van geregtigheid is (logiese konstruk) of dat God die Wet afvaardig (filosofiese sisteem met allerlei logiese afgeleides) of dat God binne die natuurlike kosmos optree wat ‘n logiese opset is nie. Ons sal al hierdie stellings baie meer poëties interpreteer en ‘n veel minder meganistiese teologie moet begin bedryf.
Kyk, ek is self een wat sou sê die konsep God, indien dit enigsins van toepassing is, moet na iets verwys wat transendent is en wat ons denk- en verstaankategoriee oorstyg, maar dan moet mens dit konsekwent toepas. En ek sukkel om te sien hoe dit met ‘n persoonlike Godsbeeld moontlik is.
Mmm, Bertus ek sal moet mooi dink oor wat jy skryf. Ek moet eerlik wees dat ek nie regtig kan sien hoekom daar ‘n probleem is nie. God kan mos besluit om homself te beperk sodat wat hy doen inpas by die reels. Dis nie dat logika glad nie geld nie. Binne die geskape heelal is die wette van logika wel geldig. Uit die aard van die saak doen God baie van wat hy doen binne die raamwerk van logika sodat ons dit kan verstaan. Mens kan dus tot op ‘n sekere vlak redeneer met logika, maar dan is daar ‘n punt waar ons nie verder kan gaan nie. Dus, in so verre God dit vir ons moontlik maak kan ons logies redeneer oor ons geloof en sulke dinge, maar wanneer ons gaan probeer ons God in sy totaliteit onder logika te probeer inbring gaan ons, ons vas loop.
Flippiefanus, jy het weereens my gedagtes vasgevang en laat verskiet in baie verskillende rigtings in. Soms voel dit vir my of jy ʼn flitslig op ʼn spesifieke plekkie skyn en wanneer ek nader beweeg vind ek uit dat dit ʼn deur was wat na meer lei.
Hoe bring ʼn mens al die onbegryplikhede bymekaar? Die ingewikkeldste, onverstaanbare God wat Hom in die Grootsheid van die Skepping openbaar en ook in die eenvoudigste dinge… so gekompliseerd en tog so eenvoudig.
Om die konsep van God te verstaan is nie moontlik nie. Niemand ken die Vader behalwe die Seun nie. Bly in my soos EK in hulle… Dat ONS een kan wees… Sjoe! Jy veroorsaak dat ek prakties aan Hom dink… Sy grootheid anders sien.. nie as iemand ver nie, net iemand onverstaanbaar verhewe en wonderlik.
Wat vir my die onverstaanbaarste van alles omtrent die mens is: Ek glo ons is volgens Sy Beeld geskape, nie as deel van sy ‘anatomie’ nie, tog is die lewegewende faktor, SY asem wat Hy in die mens ingeblaas het. Waartoe is ons in staat Flippiefanus? Hoe mis leef ons regtig ons lewens nie… spesifiek ek!!
Waar kom ons siele vandaan? Hoe was dit gevorm?
Flippiefanus, ek eer en respekteer jou, omdat jy nie skaam is om Hom wat IS te bely nie.
Johan ek stel belang om jou argument te verstaan maar ek het nie filosofie geswot nie. Kan jy dit omskep in woorde of vir my ‘n skakel gee wat ek kan lees?
Baie dankie Mefri. Jy vat dit kragtig saam in woorde wat my ontbreek.
Ek wil ook graag Johan se repliek verstaan. Ek dink nie die vraag is rubbish nie. Dit het inherente komponente wat Y != Z nie oor beskik nie