Slaan oor na inhoud

Evolusie 3: natuurlike seleksie

14 September 2009

Daar is baie geleenthede in die lewe waar iets of iemand gemeet word. Wanneer mens ‘n toets skryf dan word mens gemeet aan jou kennis of vaardigheid. Koop iets by ‘n winkel en in die proses word die produk gemeet. Ry met jou kar in die verkeer op ‘n spesifieke pad en die pad se ontwerp word gemeet aan die mate waarin dit die verkeer kan hanteer.

Die volledige meetproses behels natuurlik baie meer. In die baie gevalle is daar een of ander meganisme waardeur die informasie wat geassesseer moet word, ingesamel word. Dan is daar ook die toekenning van enige belonig wat ook al die geval mag wees.

In die natuur is daar ook meetprosesse. Bloot deur besig te wees met alles waarmee plantjies en diertjies kan besig wees, is hulle besig om te meet en om gemeet te word. Die proses is egter in die natuur ingebou. Die diertjies en plantjies funksioneer binne ‘n omgewing en self help hulle om ‘n omgewing te skep waarin al die ander diertjies en plantjies bestaan.

Nou wat word gemeet? Die sukses van elke spesie. Hoe presies word dit gemeet? Deur te toets in watter mate ‘n spesie dit kan regkry om kleintjies te kry. Wat is die gevolg van hierdie meetproses? Biologiese evolusie.

‘n Spesie is nie volkome homogeen nie. Vantevore het ek verduidelik dat daar klein variasies in die geenpoel bestaan wat veroorsaak dat die verskillende lede van ‘n spesie effens verskillend lyk en funksioneer. Hierdie variasies veroorsaak dat die verskillende lede van die spesie verskillend ten opsigte van die meting presteer. Die wat beter vaar kry gemiddeld meer kleintjies en dan word daardie spesieke variasies sterker verteenwoordig in die geenpoel van die volgende geslag. Die meer suksesvolle variasies in die geenpoel word sodoende op natuurlike wyse geselekteer om die geenpoel van die volgende geslag te verteenwoordig.

fossiel

Hierdie meetproses is ‘n natuurlike interne meetproses in stede van die kunsmatige eksterne meetproses soos die skriftelike toets wat mens skryf om kennis te meet. Dit word natuurlike seleksie genoem om dit van kunsmatige seleksie te onderskei.

Die verandering in die geenpoel van een geslag na ‘n volgende geslag is baie klein, selfs onsigbaar, maar hierdie variasies tel op soos die geslagte op mekaar volg sodat die spesie as ‘n geheel mettertyd totaal anders lyk en funksioneer. Sodoende word nuwe spesies ontwikkel wat totaal anders kan lyk as die spesies waaruit dit ontwikkel het.

Mens mag dalk dink dat die seleksie proses die variasie in die geenpoel al kleiner laat word en elke volgende geslag minder variasie in die geenpoel oor het, of dat die beperkte aanvanklike variasie in die geenpoel die moontlike veranderinge beperk, maar onthou, die meganisme van mutasie is voortdurend besig om nuwe variasies tot die geenpoel by te voeg en om sodoende die beperking uit te brei.

Indien verskillende groepe van ‘n spesie geografies van mekaar geskei raak kan dit gebeur dat die verskillende groepe in verskillende rigtings ontwikkel sodat hulle naderhand verskillende spesies voorstel. Sodoende kan daar vertakkings plaasvind waar een spesie aanleiding gee tot verskillende nuwe spesies.

3 Kommentaar
  1. 14 September 2009 6:04 nm

    Pragtig… dit lyk soos ‘n skildery.

  2. 29 September 2009 1:35 nm

    http://www.telegraph.co.uk/earth/wildlife/6187320/Snake-with-foot-found-in-China.html

    “a mutation of some sort has caused the snake to manifest traits associated with a genes that have been long dormant and were inherited from the past ancestors of the snake which did have legs. If we didn’t accept evolution we’d be left scratching out heads and looking at this saying “what the…”

    “So what the hell is a gene for a leg doing in a snake? Did God put it there? What for? Did Satan do it? Is this snake really Satan? No. The answer is much more straight forward than that. It’s there because the snake evolved from legged reptiles.

    Ek vind dit baie interessant.

  3. 29 September 2009 8:30 nm

    In effek het God die gene vir bene in die slang geplaas, want Hy het die meganisme van evolusie daargestel. Hoe dan anders, so iets kan tog nie toevallig so wees nie, of hoe?

    Hoekom het slange sulke gene? Dalk sodat die nasate van die slange weer bene kan groei as hulle dit nodig het. Wat die rede ook al is (moet daar ‘n rede wees?), dit is nie nodig dat ons dit weet nie.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.