Waarheidsmeganismes
Na die lekker debat van nou die dag oor wiskunde en filosofie, het ek eers genoeg gehad van filosofie. Maar daar is tog iets wat moet reggestel word. Dit was nie my doel met daardie inskrywing om oor geloof te redeneer nie. Ek wou eerder bepaal of filosofie op sy eie terme geregverdig kon word, (of ten minste) of diegene wat hulself as aanhangers van filosofie verklaar dit op sy eie terme kan verdedig. Tog het baie van hierdie einste aanhangers voortdurend filosofie probeer regverdig deur dit met godsdiens te vergelyk. Dis soos ‘n seuntjie wat deur sy ma aangespreek word omdat hy stout was en dan is sy verweer dat sy boetie ook stout was.
Natuurlik, weens die doel van die inskrywing en die debat, het ek tekens die debat probeer wegstuur van die godsdiens aspek. In die proses het daar seker nou die indruk ontstaan dat geloof ook aan die probleem lei wat filosofie aan lei. Dis egter nie die geval nie. Ek het beloof dat ek sal verduidelik hoekom ek so sê en dis dan nou wat ek hier wil doen.
Eerstens wil ek noem dat ek myself beperk tot die Christen geloof. Wat ek dus hier as geloof verwoord dui spesifiek op die Christen geloof. Wat ek in die kommentaar by die vorige debat oor geloof geskryf het verwys daar ook spesifiek na die Christen geloof. Verder wil ek geloof ook onderskei van die (moontlik sekulêre) bestudering van die Bybel wat dalk onder die term van teologie verstaan kan word. Vir die doel van hierdie bespreking gaan ek dus nie soseer van teologie, die kerk en godsdiens praat nie, maar spesifiek van die geloof van wedergebore Christene.
Wat ek wel gaan bysleep is die velde van die wiskunde en die wetenskap. Die wetenskap dien desedae as ‘n standaard waarteen ander kultuur aktiwiteite gemeet word, dus maak dit sin om dit ook te beskou. Wiskunde was reeds in die vorige inskrywing bespreek, dus kan dit ook help om die sak toe te lig.
Na aanleiding van die vorige bespreking oor filosofie het dit vir my duidelik geword wat ek meer spesifiek moet wees oor wat ek bedoel met filosofie. Die probleem is dat die term filosofie baie wyd toegepas word. As sulks beskik die term nie oor genoeg informasie inhoud om opsig self dit duidelik te maak waana verwys word nie. Mens moet dus ekstra informasie byvoeg voordat almal weet waarvan jy praat.
Goed dan. Mens kan onderskei tussen goeie filosofie en slegte filosofie. Onder die goeie filosofie kan mens vind dat baie van die ander kultuur aktiwiteite soos selfs wiskunde en wetenskap ingesluit kan wees. Hoe onderskei mens tussen goeie en slegte filosofie? Dis waaroor hierdie bespreking handel. Die bespreking wat volg dien dus as definisie van slegte filosofie. Wat dus van nou af met die woord filosofie bedoel word, is spesifiek slegte filosofie. Goeie filosofie is dan alles wat onder die term filosofie verstaan kan word, wat nie slegte filosofie is nie.
Dit wat die verskil maak tussen filosofie aan die een kant en wiskunde, wetenskap en geloof aan die ander kant, is die beskikbaarheid van ‘n waarheidsmeganisme. Filosofie ontbreek ‘n waarheidsmeganisme. Dit beskik nie oor die vermoë om ondubbelsinnige, onweerlegbare bewyse te lewer soos wiskunde nie; dit is nie daartoe instaat om hipoteses in praktiese omstandighede te toets deur eksperimente en waarnemings soos wetenskap nie; en dit beskik nie oor ‘n bron van geopenbaarde waarheid soos geloof nie.
Filosofie bestudeer idees, konsepte, hipoteses, ensovoort wat alles in die gedagtes van mense bestaan. Dit het geen direkte kontak met dit wat fisies in hierdie wêreld aan die gang is nie. Die produk van filosofie is self ook idees, konsepte, hipoteses, ensovoort wat weereens in die gedagtes van mense bestaan. Die hele studieveld van filosofie is dus ‘n geslote stelsel sonder direkte raakvlakke met die fisiese werklikheid. Soos ek vroeër verduidelik het, kan so ‘n geslote stelsel lei tot teenstrydighede weens die selfverwysende aard van sekere uitsprake.
Al die ander drie gevalle het as resultaat ook idees, kennis en goed wat alles in die gedagtes van mense bestaan, maar in die geval van wetenskap en geloof is die bron van die kennis buite die mens se gedagtes. Die wetenskap onttrek sy kennis vanaf die fisiese werklikheid deur waarnemings en eksperimentering. Die geloof ontvang kennis deur openbarings vanaf die Skepper. Wiskunde is ‘n aktiwiteit wat volledig in die gedagtes van die mens bestaan, maar danksy rigiede bewysvoering en gegee daar word nie gepoog om allesomvatted te wees nie, is dit moontlik om teenstrydighede te ontwyk en is die resultaat sinvol.
Die waarheidsmeganismes van wiskunde en wetenskap is bedoel om die waarheidsaspek van die kennis aan die volledige mensdom te kommunikeer. Die waarheidsmeganisme van geloof is net bedoel vir die gelowige wat dit ontvang. Gelowiges kan sulke kennis aan mekaar kommunikeer en die Heilige Gees bevestig die waarheid aan elkeen wat die kennis so ontvang, maar dis nie bedoel vir die hele mensdom nie.
Nou kan mens verwag dat die ongelowiges sal beweer dat die waarheidsmeganisme van geloof ongeldig is omdat hulle nie glo in die bestaan van die Skepper wat as bron van sulke openbarings kan optree nie. Volgens hulle perspektief word hierdie kennis deur gelowiges self opgedis en is daar dus geen verskil tussen geloof en filosofie nie. Maar nou moet mens versigtig wees hoe mens hier redeneer. Die keuse van geloof in die bestaan van God word nie gebasseer op iets wat deur enige ander waarsheidsmegansime bevestig of weerlê kan word nie. Vanuit ‘n bloot sekulêre perspektief is dit dus gebasseer op ‘n aanname. Vir so aanname moet mens dan beide uitkomste in berekening bring. Aangesien een van die uitkomste wel die bestaan van God insluit, moet mens dan vanuit ‘n objektiewe sekulêre perspektief erken dat dit moontlik is dat openbaring as waarheidsmeganisme wel kan bestaan. Die doel hier is nie om bewys te lewer dat dit wel bestaan nie, maar bloot om aan te toon dat indien dit wel bestaan dit inderdaad verskil van filosofie.
Om op te som:
- Slegte filosofie is filosofie wat sonder ‘n waarheidsmegnaisme is.
- Die geloof van Christene beskik oor ‘n waarheidsmeganisme danksy openbarings van God wat deur die Heilige Gees aan gelowiges bekend gemaak word.
Like this:
Comments are closed.

En daarom is daar 38,000 denominasies wat elkeen aanspraak maak op die waarheid?
Die verskillende denominasie gaan grootendeels oor kultuurverskille en nie soseer oor verskille in die kern van hul geloof nie. Die saligmakende kennis in die oorgrote meerderheid van die denominasies is dieselfde.
Ek dink jy ontken die belangrikheid van teologiese verskille. Daar is redelike groot verskille byvoorbeeld tussen die Katolieke kerk en Protestante (om nie te praat van verskille onderling binne die denominasies nie). (Ek weet natuurlik nie wat jou standpunt hieroor is nie, maar baie Protestante beskou Katolieke nie eers as Christene, veral as jy uit ‘n Afrikaneragtergrond kom wat met die Roomse gevaar, die Swart gevaar, die Rooi gevaar,die Pienk gevaar ensomeer grootgemaak is.)
Selfs binne kultuurgroepe. Die drie susterskerke het binne dieselfde kultuur ontstaan en steeds is die teologiese verskille groot genoeg dat daar afsonderlike kerke moet wees. Die NG Kerk en Hervormde kerk byvoorbeeld hoor dat die Heilige Gees sê vrouens mag preek. Die Gereformeerde Kerk hoor weer anders. Ek het al met Charismate gepraat wat dink die NG Kerk is die hoer van Babilon (OK hulle het dit nie presies so gestel nie, maar duidelik laat blyk dat as jy in die NG Kerk is, jy verlore is), dus sal hulle met jou verskil oor jou laaste opmerking.
Buitendien, kultuurverskille is nie ‘n rede vir verskillende kerke nie – die Bybel en gebruike in die kerk in die eerste paar eeue verwys.
Ek dink jou stelling hierbo is baie optimisties. Verskillende denominasies bestaan omdat hulle kompeterende waarheidsaansprake maak. Die enigste ding wat hulle gemeen het is dat almal hulle op dieselfde gesag beroep.
Ek stem saam dat daar ‘n verskil tussen filosofie en geloof en teologie (en die wetenskap) is.
En ek is bly dat jy dít wat jy as snert beskou, fyner definiëer.
George, wat jy van praat is nou juis al die kwessies van kerke wat ek baie pertinent in die inskrywing uitgesluit het. Ek dog ek het dit baie duidelik daar o gestel. Dit waarvan ek praat, het betrekking op Christen gelowiges. Met ander woorde, die lede van die liggaam van Christus. Hiedie lede kry mens in alle Christen kerke dwarsoor die wereld, insluitend Protestantse en Katolieke kerke. Die gestryery wat tussen kerke bestaan is mense goed en het nie betrekking op die werking van die Heilige Gees nie. Daarom is dit noodwendig uitgesluit in die bespreking.
eers wil ek graag my tradisionele *headpalmfacedesk* doen. ek voel dis toepaslik.
!!!*headpalmfacedesk*!!!
daarsy, dit voel beter.
FF:
Konsepte, idees, hipoteses ensovoorts het per definisie geen kontak met dit wat fisies in hierdie wêreld aan die gang is nie. Dit is wat van hulle konsepte, idees, hipoteses ensovoorts maak.
Nou? Dis mos wat ek se^. Dankie dat jy saam stem.
LOL @ Flippiefanus Nou? Dis mos wat ek se^. Dankie dat jy saam stem.
LOL @ Johan ‘ !!!*headpalmfacedesk*!!!’
Ek kan julle gesigsuitdrukkings en aksies in my verbeelding sien en hoor en dit is skreeusnaaks
Dankie, julle is ‘n tonic vir my gemoed
“Dit het geen direkte kontak met dit wat fisies in hierdie wêreld aan die gang is nie.” Nou hoekom word geloof hiervan uitgesluit? Ek begryp dit nie.
Andersins, werklik ‘n goeie stukkie filosofiese beredenering
Inderdaad, soos Emil verstaan ek ook nie hoe geloof uitgesluit kan word nie. Dit is “`n geslote stelsel” wat homself nodig het om homself te bewys “sonder direkte kontak met die werklikheid”
“Openbarings” het al erge tragiese nagevolge gehad. Hoe onderskei ek tussen `n ware, outentieke openbaring en `n valse een?