Slaan oor na inhoud

Na mij de zondvloed

3 Januarie 2010

Dit is ‘n gesegde wat ek eenmaal by ‘n Nederlandse vriend van my gehoor het (skynbaar nie oorspronklik Nederlands nie). Wat dit basies beteken is dat iemand nie omgee wat in die wêreld gebeur as hy nie meer daar is nie. So persoon leef dan ook so. Solank omstandighede vir hom aangenaam en voordelig is, maak dit nie saak dat sy handelinge dalk slegte nagevolge vir sy nasate mag hê nie.

Sien, op grond van moraliteit kan mens onderskei tussen twee tipes mense. Daar is diegene wat ten minste probeer doen wat reg is en probeer vermy wat verkeerd is. Dan is daar egter diegene wat hulle nie veel steur aan wat volgens die samelewing reg of verkeerd is nie, solank dinge tot hul eie voordeel strek. Hulle sal selfs probeer om mense om die bos te lei en die mense laat glo dat wat hulle doen eintlik reg is, ter wille daarvan dat die situasie hulle bevoordeel.

Die Bybelse beginsel is: mens met jou naaste liefhê soos jouself. Sou dit vêrgesog wees om ‘n mens se “nasate” in te sluit onder jou “naaste”? Dis immers net twee lettertjies wat omgeruil is. Ek glo dus dat dit deel van ‘n mens se Christelike verantwoodelikheid is om te sorg dat die wêreld nie in die toekoms benadeel word deur dit wat ons nou doen nie.

Vir die ongelowiges of Boeddhiste of wat ook al, kan mens seker redeneer dat die belangrikste wat die mens kan nastreef, die langtermyn oorlewing van die mensdom is. Selfs diegene wat die mensdom haat en vir die natuur lief is, sal seker saamstem dat dit wat vir die mens se oorlewing belangrik is, ook vir die oorlewing van diere nodig is. Kortom, ek dink dat mens op eenvoudige morele gronde nie veel kan stry oor die belangrikheid dat mens so moet leef dat dit nie slegte gevolge op die wêreld in die lang termyn sal hê nie — met ander woorde, mens moenie ‘n na-mij-de-zondvloed-leefstyl handhaaf nie.

Hoe leef iemand wat slegte nagevolge het op die wêreld in die lang termyn? Is dit nou regtig so maklik vir iemand om te veroorsaak dat sy dade sulke verreikende gevolge sal hê? Dis waarskynlik hier waar die groot probleem lê. Wat gaan een ou papiertjie wat ek rondgooi saak maak? Wat maak dit saak as ek ‘n groot 4-trek voertuig bestuur eerder as ‘n klein karretjie? Hoekom kan ek nie die hele winter my ondervloerse verhitting aanhou nie? Die probleem is geleë in die groot hoeveelheid mense wat tot die uiteindelike probleem bydrae. As daar genoeg mense is wat nie omgee wat hulle doen nie, dan is die gevolg van hulle kollektiewe selfsugtige gedrag dat die hele wêreld daaronder gaan lei.

Ek kan verstaan dat daar baie geredeneer word oor wat presies as slegte nagevolge gesien moet word en wat nie. Daaroor beplan ek om later te skryf. Hier wil ek net eers die beginsel vestig. Dit is nodig om aandag te gee aan die negatiewe kollektiewe gevolge van wat ons doen.

23 Kommentaar
  1. 3 Januarie 2010 7:20 nm

    Baie goed gestel Flippiefanus.

    Die bewoording “om jou naaste lief te hê soos jouself” is ‘n spesifieke christen uitdrukking, maar die beginsel kom voor in meeste geestelike tradisies (indien nie almal nie). Dit is tereg die fondament waarop elke en ‘n iedere samelewing gebou word. Sonner die beginsel van wedersydse liefde, respek en onderskraging is geen samelewing moontlik nie.

    Ek stem saam met jou dat die groot probleem daarby kom hoe om goed en sleg te onnerskei. Jy slaan die spyker op sy kop as jy dit “kollektiewe selfsugtige gedrag” noem. Daar lê die kap vannie byl.

  2. 3 Januarie 2010 9:56 nm

    Dis soos om te redeneer dat een swaeltjie nie ‘n somer maak nie. Maar vir my is daardie eerste swaeltjie altyd ‘n belofte dat die somer oppad is. Net so kan selfs die grootste emmer druppel vir druppel vol word. Ek glo jy weet wat ek bedoel en dat ek met jou saamstem :-)

  3. Ronald permalink
    4 Januarie 2010 8:43 vm

    Goed gestel!

    Ek dink ek gaan jou Nederlandse vriend se uitdrukking deel maak van my eie idiome – selfs al was dit nie oorspronklik Nederlands nie, sê dit nogal lekker.

  4. Andrew permalink
    4 Januarie 2010 8:58 vm

    Solank ons nie na die bonatuurlike keer en dink dat gebede aan ‘n god Aard verwarming sal stuit nie. Dit sal nie. Ek dink nou aan die Swart Plaag in Europa waar swart katte dood gemaak is omdat hulle geassosieer was met hekse wat die blaam gekry het vir die siekte. Die katte populasie het geval en die rotte populasie ontplof en sodoende die plaag vererger.

    Maar raai wat sal gebeur as die klimaat veranderende paw-paw die fan strike? Gelowigheid sal die hoogte inskiet.

  5. Katvoet permalink
    4 Januarie 2010 1:59 nm

    Ai en ek het net begin tuisraak hier op jou blog. Net jammer daar is altyd elemente wat aandag soek en mens wil laat stik. Ek lees maar eerder in die skadus voort. Eish…. Ek sal ‘n afmakery van my God nie duld nie.

  6. Sammi permalink
    4 Januarie 2010 2:01 nm

    Hallo Flippie!
    Wou jou darem kom groet en ‘n vreugdevolle 2010 toewens!
    Flippie…ek het ‘n besonderse Kersgeskenk van ‘n Wetenskaplike in Amerika ontvang. Dit gaan oor die studie van die brein. Die laaste 10-15 jaar word die werkinge van die brein vir die eerste keer verstaan.
    Ongelooflik hoe God bedoel het ons breine moes werk voor die sondeval. Elke dag leer ek meer en meer hoe die wetenskaplikes self verbaas terugstaan en meer begin leer oor juis dit.
    Alles gaan oor die selle konneksie tussen die instink, hart en brein. Asook die siel en vrye wil. Het jy geweet daar is 40 000 selle in die hart wat gekoppel is na die brein?
    En dat instink ‘n Godgegewe geskenk is.

    Hosea het vertel: For the lack of knowledge my people will perish.

    Dankie vir jou terugkeer.
    Sterkte

  7. 4 Januarie 2010 3:59 nm

    Sonkind, jy sal dan seker verbaas wees as ek jou vertel dat ek die mees “oblivious” mens is wat ek ken en dat ek glad nie oor die vermoe beskik om tussen die lyne te lees nie. :oops:

    Ronald, hoop net nie jy maak die gesegde op jouself van toepassing nie.

    Andrew, ek dink God gee ons juis die verantwoordelikheid om self iets aan die saak te doen. Ons kan wel bid vir wysheid sodat ons weet wat ons moet doen en nie die “katte doodmaak” nie. Solank die toename in Christenskap ‘n toename in ware geloof is, is dit mos ‘n goeie ding. Dink jy nie ook dat Christene oor die algemeen baie liewer vir die natuur (en katte) is as nie-Christene nie. ;-)

    Katvoet, nee wat Andrew is al ‘n ou bekende hier. Hy het al baie kalmer geword as wat hy aanvanklik was. Dit help as mens so bietjie liefde toepas.

    Haaaai Sammi! Weet jy hoe geskok ek was toe ek ontdek dat jy jou woernaal gaan uitvee het? Het die hele saak jou begin moedeloos maak of wat? Wel ek is bly om te sien jy kuier nog hier op die woernale rond. Hoop dat jy ook ‘n wonderlike 2010 gaan beleef.

  8. Katvoet permalink
    4 Januarie 2010 4:26 nm

    Dis mooi dat jy so omgee FF. Ek admireer dit en buig laag. Dankie. My katnaeltjies is nou ingetrek. Ek sal rustig hier in die hoekie spin…

  9. Sammi permalink
    4 Januarie 2010 5:04 nm

    Hallo Flippie, neewat – min dinge ontstel my mos regtig – uitgevee omrede ek nou eintlik dinge soos bogenoemde mee werk. En dan raak alles minder belangrik. Oja, ook omrede ek agtergekom het, ons as Boere/Afrikaners of wat ons onsself deesdae wil noem, nie sal kan saamstaan nie. Want ons is moeg.
    Maar ekke is 100.
    En BAIE opgewonde oor wat ek nou mee besig is. Die jaar gaan goed verloop – BAIE onaangenaamhede van die verlede is nou in netjiese boksies.
    En daardie boksies by hul regmatige plekke.

    Oor die weer – alles in God se plan.
    Alles wat afspeel is Abba BAIE bewus van.
    Openbaring mos die enigste boek wat nog nie gebeur het nie en ek het my studies van ‘n paar jaar gelede weer hervat – maar hierdie keer met akademia van oor die w^reld.
    www is ‘n wonderlike ding as mens dit reg gebruik, maar ek het ook agtergekom dat die duiwel los rondloop.
    Sterkte aan jou en mede-gelowiges.

  10. Sammi permalink
    4 Januarie 2010 5:14 nm

    Oja Flippie,
    Wetenskap of nie. Iets wat ek nog nooit met iemand hier op wordpress gedeel het nie.
    16 jaar gelede het ek kanker gehad. Min kans gehad vir oorlewing. Kankerselle dwarsdeur my binnegoed versprei en is uiteraard deur operasies asook platinum chemo.
    Was gewaarsku dat AL my hare sal uitval en dae later, na die eerste sarsie chemo, toe ek eers krag gekry het (moes ses maande baba ook versorg) staan ek op om te gaan skoon kom en die verwagte haarverlies begin.
    Maar ek sak op my knieë en BID teenoor God om asb tog nie toe te laat dat ek my hare verloor nie, want hierdie kindjie op my heup sal hom doodskrik as hy die pruik moes afpluk en ook dat hierdie baba sy ma nodig het.
    En ek het NOOIT weer gedurende daardie maande van behandeling EEN verdere haar verloor nie. Totaal ongewoon met die platinum behandeling.
    Alle geval, gedog ek wou net hierdie met jou deel.

    Tata

  11. Andrew permalink
    4 Januarie 2010 8:08 nm

    Flippie dit sal my regtig verbaas indien daar enige korrelasie tussen die twee bestaan, maar wat ek wel oor wonder is of daar nie dalk ‘n positiewe korrelasie bestaan tussen gelowigheid en mense wat klimaat verandering ontken nie. Ek het vir studies gesoek op die internet maar kon tot dusver niks vind nie.

  12. 4 Januarie 2010 9:45 nm

    Skuus Flippie. Ek het eintlik bedoel dat ek nie dink ek druk myself lekker uit nie en by gebrek aan die regte woorde om my saamstem met jou oor te dra, het ek eintlik bedoel om te se^; “ag man, jy weet wat ek bedoel” :-)

  13. 5 Januarie 2010 8:08 nm

    Katvoet, ;-) dit lyk my daar is een iets wat jy en Andrew in gemeen het, julle hou altwee van katte. Wel ek ok.

    Sammi, dankie vir die wonderlike getuienis oor hoe jy genees is. Dis waarlik merkwaardig.

    Hierdie nuwe wetenskap oor die brein klink vir my ook baie interessant. Ek is nou maar eenmaal baie skepties en sal noodwendig wonder of alles wat hulle uitgevind het nou regtig waar is, maar ek sal dit solank maar die voordeel van die twyfel gee. Wens jy het nog ‘n woernaal bedryf waar jy vir ons bietjie meer daaroor kon vertel. ;-)

    Hoe klink dit vir my jy koop nie heeltemal in op die aardverwarming ding nie? Ek dink nie dat mens alles wat die mensdom veroorsaak as God se wil kan sien nie. Terloops volgens die manier wat ek Openbaring verstaan, het baie wat daarin staan reeds lank terug gebeur en baie is steeds besig om te gebeur.

    Andrew, studies wat gepubliseer word oor sulke tipe goed is nie altyd so betroubaar nie. Mens moet eintlik die hele proses van analise behoorlik ondersoek om seker te maak dat daar geen ingeboude “bais” in die proses was nie. En het nou daarvoor tyd?

    Sonkind, ek verstaan. Jammer dat ek jou so verkeerd verstaan het.

  14. katvoet permalink
    5 Januarie 2010 8:17 nm

    Jip FF. Die ding mt katte is, hul gee nie voor nie. Hul deel slegs opregte liefde uit aandiegene wat hul vertrou en bemin. Al gesien hoe n kat met sy rug na jou toe sit as hy vies v jou is? Te kostelik!! Hul is selstandig en waardig.

  15. Andrew permalink
    6 Januarie 2010 9:29 vm

    Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed. – Spreuke 12:10

    So sit ek nou en dink, was daar regtig ateiste in die tyd van die bybel of net nie-christene?

  16. Sammi permalink
    6 Januarie 2010 10:19 vm

    Morese Flippie En Katmaterkie

    Flippie, ek glo onteenseglik in die feit dat die aarde wel verwarm. Al die bewyse wetenskaplik is daar. Al Gore se storie is nie “pie in the sky” nie. Ek glo ook dat sekere wereld dele wat laag lê binne die volgende 15 jaar (give and take) onder water gaan wees. Maar ek glo ook dat daar BAIE groter dimensies is wat plaasvind op verskillende vlakke wat die norm mens se begrip mee sukkel.

    Ek glo onteenseglik in elke woord van die OT (waarhede wat as lesse moet gelees word) en die NT – soos ons behoort te leef.

    Ja, inderdaad speel sekere dinge reeds af soos in Openbaring. Maar diegene wat meer begryp, en ek lê nadruk op die woord BEGRYP sal presies verstaan wat besig is om te gebeur.

    Net weereens jammer dat meeste norm mense nie regtig kan SIEN nie, want hul het hulself nie oopgestel aan die Heilige Gees nie. Onthou die 10 geestelike gawes?

    Ons is immers almal met talente gebore en ons weet wanneer ons met daardie talente woeker, vermeerder dit. En wanneer ons die Heilige Gees aanvaar, verkry mens ook geestelike gawes. Paulus veral verduidelik dit baie mooi in Kor 13.

    Die feit bly staan, hoe meer mens ins God se Lig wil loop (op hierdie aarde) hoe meer is die aanval van die bose. Ek het dit al hoeveel keer voorheen ervaar, maar veral nou onlangs weer.

    Die verskil is, ek begryp hierdie dinge, want God het Sy mense wat altyd, maar altyd geteiken hier op aarde sal wees.

    Weereens die verskil vir my is: Die aarde is oorbevolk, natuurlike hulpbronne is onder groot druk. Die laaste mens moet God se Woord kon hoor – maar meer so, die feit dat Jesus Christus onse Here vir ons geoffer is deur Abba. Slegs DAN sal die aarde soos ons hom ken, verander. Nou vra ek JOU, Flippie – Hoeveel mense op hierdie aarde, kan sê hulle het nog NIE van Jesus gehoor nie.

    Oor die brein studie: Gaan lees by Dr Caroline Leaf. Dit is ‘n uitstekende begin.

    Groete

  17. 6 Januarie 2010 1:18 nm

    Sammi: Ek gaan met jou verskil. Ek glo wel dat ons as mens moet bewus wees van ons omgewing en dit bewaar vir ander, maar dat aarde verwarming ‘n feit is! Polonie! Ons as mens moet nie sommer enige ding glo wat die wetenskaplikes kwyt raak nie. Dit het nou onlangs uitgekom hoe die data gekook is. Ek is een wat glo die aarde gaan in siklusse in en dit is dit. Hoekom is CO2 dan so “issue” as dit natuurlik voorkom. Mense besef nie die “twk” storie agter die “carbon tax” nie. Dink net daaraan jy gaan belasting betaal vir iets wat natuurlik voorkom in die atmosfeer. Plant meer bome. Jammer “pastorie” maar mense soos Al Gore en sy “banking” maatjies is die enigste wat gaan voordeel put uit die sogenaamde aard verwarming.

  18. Sammi permalink
    6 Januarie 2010 4:11 nm

    Rustig, jy mag verskil. Daar is heelwat kerkgroepe wat ook verskil. My vriendin in Jozi verwys ook waarna jy verwys.
    Ja, die aarde gaan deur siklusse, nes onder andere die mens.
    Dis juis ook die mens wat oerwoude wat daai einste CO2 verwoes deur plantasies onder andere uit te roei.
    En tensy die woestyngebiede beplant word en selfs die Amazone areas wat ook deur die mens verwoes word, bewaar bly, gaan hierdie verhitting net meer word.
    CO2 is crucial – ek stem saam.
    Maar Al Gore is mos net die mees bekende ou wat hierdie aangespreek het.
    Die wetenskaplikes se vroeër data het gewys na 40-50 jaar en die nuutste aanpassings is wel oor sowat 15 jaar.
    Wie is reg?
    Indien die wetenskaplikes dit eers nodig ge ag het om die werking van die noodsaaklikste orgaan in die laaste 10-15 jaar te probeer verstaan, is die wetenskap so eksakt?
    Neewat, ek glo daar is wetenskaplikes wat onder dekmantels voorheen moes werk asook hul eie velde wat gemaak het hulle daarop moes fokus. Redelike tonnelvisie het dus voortgegaan.
    Dis ‘n bekende feit dat Einstein tot vandag toe die enigste man was wat sowat 10% van sy brein gebruik het en nou word voorspel dat ons teen die jaar 2020 ‘n intellektuele dark age kan beleef. Ons hoef nie meer te redeneer of te dink nie – ons druk net knoppies en ons gebruik minder as 1% van ons breins.
    So, dis nie net die wereld wat verwarm nie, maar die mens wat verarm. En ek bedoel nie materieel nie.
    En die mens is God se skepping, netsoveel soos die aarde. -So WIE verwoes die aarde? Het God die mens nie genoeg kans gegee om reg te leef nie?

    En dis juis my punt -Oor wat Hosea gesê het.

  19. Sammi permalink
    6 Januarie 2010 4:13 nm

    Regstelling: Bome gee suurstof, mens gebruik suurstof – mens gee CO2 en bome gebruik dit – of sommer enige groen plant, for that matter

  20. flippiefanus permalink*
    6 Januarie 2010 8:07 nm

    Ja nee, Katvoet, wanneer dit kom by persoonlikheid dan verkies ek ‘n kat ver bo ‘n hond. As dit nie was dat ek so kronies moet rondrits nie dan het ek weer vir my ‘n ou katjie gekry.

    Andrew, die Bybel maak, sover ek weet, nie onderskeid tussen ander gelowe nie, behalwe om van die klomp gode op te noem wat die mense dardie tyd aanbid het. Volgens my was daar maar nogal tyd mense wat nie geglo het nie, en daar sal ook altyd wees.

    Sammi, ja die oorbevolking is ‘n groot probleem. In die Bybel is daar gese dat die mens moet vrugbaar weesen vermeerder, maar ek dink God het ons die verstand gegee om te besef dat dit nie onbeheerst moet aanhou todat ons die hele aarde onbewoonbaar gemaak het nie. Deur ons kontak met die Heilige Gees kry ons ook insig asgawe sodat ons hierdie dinge kan verstaan. Nie almal wat van Jesus hoor word noodwendig gelowig nie.

    Rustig, ek het gewonder of iemand die storie van die geknoeiery met die klimaat data sou noem. Toe ek daarvan gehoor het, het dit my laat wonder wat mens nou eintlik kan glo. Daarom het ek toe so bietjie verder ondersoek gaan doen en ek is nou redelik oortuig dat, ten spyte van die geknoeiery, is daar waarheid in die aardverwarming. Die probleem is nie dat daar CO2 is wat natuurlik voorkom nie. Dis die feit dat hierdie CO2 onbeheerst toeneem. Hierdie toename is as gevolg van die mens se aktiwiteite. Bygese^ dit beteken nie dat ek die klimaat belasting en al daardie twak goedkeur nie.

  21. Andrew permalink
    7 Januarie 2010 12:02 vm

    Ek dink daar is diegene wat die mens se rol in klimaat verandering sal ontken al swem daar visse deur hul huise en groei daar seebamboes op hul grasperke.

    *asem in, asem uit … en trek ‘n skuif van ‘n dubie*

    Sammi, Einstein het nie slegs 10 % van sy brein gebruik nie, dis ‘n “urban legend” en ‘n doelbewuste leun wat evolusie ontkenners gebruik as sogenaamde bewys dat evolusie nie kon plaasvind nie. Die waarheid is dat selfs waneer ons slaap die meeste van ons brein aktief is.

  22. flippiefanus permalink*
    7 Januarie 2010 8:17 nm

    Ek vermoed dit was Einstein wat gese het dat mens 10% van jou brein gebruik, maar ek weet nie wat hy daarmee bedoel het nie. Op enige stadium is daar slegs ‘n deel van jou brein geaktiveer, wat bepaal word deur dit waaraan jy op daardie oomblik dink of watter deel van jou liggaam aktief is. Maar sover ek weet het mens jou hele brein nodig om alles te kan stoor en te kan doen wat mens kan doen.

  23. flippiefanus permalink*
    8 Januarie 2010 5:14 nm

    Joh ek is jammer ek het nooit jou kommentaar in my SPAM gesien nie.

    Dis waar dat ander kulture wat nie van Christus gehoor het nie ook die beginsel van naaste liefde kan ken en daarvolgens kan lewe. Paulus skryf daaroor in die eeste paar hoofstukke van die boek Romeine.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.