Slaan oor na inhoud

Instituasie

18 Januarie 2010

Kultuur is ‘n dinamiese ding. Dit verander saam met die idees en oortuiging van die mense van daardie kultuur. Aan die een kant is dit ‘n goeie ding want die omstandighede waarbinne dit bestaan kan verander en dan moet dit kan aanpas ter wille van die oorlewing van die mense. Aan die ander kant kan dit ook ‘n slegte ding wees, want sodoende kan die kultuur verlore gaan en daarmee saam sekere gebruike wat juis die mense gehelp het om te oorleef.

Moraliteit is deel van ‘n kultuur en dit verander ook mettertyd, nes die kultuur. Miskien klink dit snaaks dat mense sommer kan besluit dat dit wat op een stadium reg was nou ewe skielik verkeerd is, of anders om. Mens moet egter onthou dat hierdie verandering baie stadig plaasvind en dat dit nie noodwendig ‘n totale ommeswaai impliseer nie, maar dalk bloot net ‘n klemverskuiwing.

Nogtans kan die verandering in moraliteit as ‘n bedreiging vir die kultuur gesien word. Die moraliteit is immers meeste van die tyd verantwoordelik vir die welstand en oorlewing van die mense. Om hierdie verandering in moraliteit teë te werk is daar besluit om dit neer te skryf, vas te lê en te bewaar sodat dit nie verlore gaan nie. Verder word hierdie vasgepende moraliteit dan deur die outoriteite van die dag afgedwing op die mense van die kultuur. Hierdie vasgepende moraliteit staan nou bekend as die wet. Dit is nou verhef bo die mense van die kultuur sodat hulle nie meer beheer daaroor kan uitoefen nie.

Die moraliteit is nou geïnstitueer — ‘n gewigtige term vir ‘n gewigtige saak.

In moderne samelewings word die wet deur die regering beheer en demokratiese regerings word deur middel van verkiesings (tot ‘n mindere mate) deur die mense beheer. Daar bestaan dus steeds meganismes om die wet en selfs die grondwet van ‘n land te kan verander. Hierdie meganismes is egter baie lomp en verander baie stadig onder normale omstandighede.

Desedae bestaan daar egter ook nog strukture soos die Verenigde Nasies of die Europese Unie wat beheer het oor die regerings van lande. Hierdie oorkoepelende organisasie implementeer regulasies wat dan op die regerings van lande afgedwing word. Dit impliseer nog ‘n hoër vlak van instituasie. Hoe dit ook al sy, instituasie is ‘n voldwonge werklikheid in vandag se wêreld.

Onder normale omstandighede is dit nie noodwendig ‘n slegte situasie nie. Mens kan dalk redeneer dat dit die noodwendige uiteinde van enige beskawing sal wees. Ongelukkig werk dinge globaal maar selde volgens normal omstandighede. Vat nou maar die geval van geïnstitueerde mense regte. Weens die totale eensydige aard van hierdie mense regte ly gemeenskappe onder die totale amok wat individue maak terwyl hulle die beskerming van hierdie mense regte geniet. Die ideaal sou miskien eerder gewees het as daar ‘n balans bestaan het tussen die regte van ‘n individu en die regte van ‘n groep.

Voor jy nou verder lees wil ek vra dat jy vir ‘n oomblik oor die konsep dink. Verstaan dat hierdie meganisme van instituasie ten doel het om die beheer oor die wette en regulasies buite die bereik van die alledaagse mens (die kultuur) te plaas en om dit in die beheer te plaas van een of ander outoriteit.

Nou sal jy dalk vir my vra of daar dan nie ook so iets in die Bybel bestaan nie. Is die wet van Moses nie juis ook ‘n vorm van instituasie waar die beheer oor hierdie wette in die hande van die kerk owerhede geplaas word nie? Ja inderdaad, maar lees wat Paulus oor die wet skryf in Romeine. Die term “wet” soos wat Paulus dit gebruik sluit dan ook meer in as bloot die wet van Moses. Paulus gaan breedvoerig daarop in. Hy spreek verskeie fassette van die saak aan en beredeneer dit van verskillende kante af. Die slotsom is duidelik: al is die wet opsig self edel en heilig, slaag dit nie in sy doel nie. Dit is nie daartoe instaat om die mensdom te verlos van die gebrokenheid nie. Mens kan natuurlik redeneer dat dit nooit die bedoeling van die wet was nie. Soos Paulus ook baie duidelik stel, die wet maak dit baie duidelik wat sondigheid is. Eers as die mens sy sondigheid besef is hy daartoe instaat om die verlossing te kan aanneem. Hierdie verlossing kom deur geloof.

Kom ek probeer dit vanuit ‘n meer sekulêre perspektief verduidelik. Soos ons duidelik in die nuus elke dag kan sien, is die geïnstitueerde wette en regulasies nie daartoe instaat om die mensdom te verhoed om steeds voort te gaan om misdaad te pleeg, vrouens te verkrag, kinders te mishandel, oorlog te maak en mekaar te bedrieg nie. Hierdie dinge was nog altyd daar en dit sal ook altyd daar wees solank as wat geïnstitueerde wette die mensdom probeer beheer. ‘n Mens kan eers reg optree as so mens inherent gemotiveer is om reg op te tree. Hierdie inherente motivering bestaan nie vanself in alle mense nie. Dit verg geloof in dit wat reg en goed is. Hier kom die gevolgtrekking van die sekulêre perspektief dus ooreen met die Bybelse perspektief. Die sleutel tot ons verlossing van die gebrokenheid wat daar in die mensdom bestaan … is geloof.

6 Kommentaar
  1. Emil permalink
    19 Januarie 2010 9:15 vm

    Ek dink die strewe na die uiteindelike verlossing van gebrokenheid is ewenwel ‘n strewe na niks. Wat is die mens anders as die soortgelyke gebrokenheid wat ons in die natuur sien? Maak ‘n leeu nie ook ‘n leeu dood nie? Breek ‘n gemsbok nie ook ‘n ander se nek nie? Byt ‘n hond nie ook sy eienaar nie?

    Dit raak alles ingewikkeld sodra enigiets konstruktueel verpak word. Nie alles wat ons laat goed voel, is goed vir ons nie. Net so is alles wat kan seermaak, nie noodwendig sleg nie. Ek kyk dan eerder soos Nietzsche hierna: die teenstrydighede in die heelal is nou maar eenmaal so. Om daarteen te wil stry, of te wil dat dit moet verdwyn, is soortgelyk aan die wil om slegte weer te wil verdryf. Die gebroke toestand is ál wat ons het. Slegte en goeie weer kom en gaan – dis die natuurlik verloop van dinge.

    Terloops, ‘n vreugdevolle 2010 vir jou!

  2. 19 Januarie 2010 2:23 nm

    Ek kyk byvoorbeeld na die 80′s en dan na die 2000′s…

    In die 80′s op skool was dit dood normaal om uit die Bybel te lees met oggendbyeenkomste, te bid en vir tien minute te preek (natuurlik deur die skoolhoof of ander afgevaardigde)…

    Vandag baklei mense om nie ander se godsdiens in hulle kele af te druk nie, dat godsdiens die ouers en kerke se plig is en nie die skool s’n nie, ens. Tye het verander. En alhoewel ek as kind dit gedwee aanvaar het dat godsdiens toegepas was in my skool net so aanvaar ek vandag dat dit dalk nooit moes wees nie…

  3. flippiefanus permalink*
    19 Januarie 2010 7:54 nm

    Emil! Bly om jou weer hier raak te lees. Hoe was die vakansie?

    Dis waar, die heelal lei in sy geheel aan gebrokenheid en nie die mense nie. Ek het in my inskrywing slegs verwys na die gebrokenheid onder die mensdom omdat daar ‘n wesenlike verskil tussen die twee is. Die deel van die heelal met die mens uitgesluit het geen keuse as om te wag vir ‘n transformasie wat deur God self teweeg gebring moet word om hul van die gebrokenheid te verlos. Die mens daarinteen kan self iets aan die saak doen deur geloof, want geloof bepaal hul dade.

    Nietzsche en ander soortgelyke filosowe kyk hulself blind teen ‘n skynbaar onveranderende heelal met al die wette van die natuur wat daarin vasgele is, maar nooit kom dit by hulle op dat dit dalk deur die Skepper van die heelal verander kan word nie. En dit selfs nadat dit letterlik so in die Bybel vir hulle geskryf staan.

    Pagoda, ek weet self nie of dit altyd ‘n goeie ding is dat godsdiens in kinders se kele afgedwing word nie. Ek dink nie dit was ooit God se bedoeling gewees nie. Tog voel ek wel kinders moet daaroor ingelig word sodat hulle op die ou end self kan besluit.

  4. Mefri permalink
    20 Januarie 2010 12:19 vm

    Hallo Flippiefanus, ek geniet jou blok steeds so baie soos altyd. Ek wil soms net stil luister, soos nou…. my gedagtes die vryheid gun om diep te luister na hoe elkeen die lewe ervaar. Jy torring aan al die los draadjies wat my denke wakker maak en laat sirkel om elke kommentaar – ek vind dit uiters interessant om iets van elke denkwyse van ‘n afstand te aanskou, dit nader te trek en te kyk hoe dit opweeg teen dit wat ek glo. Ek is bly jy het nie ophou skryf nie.

  5. 20 Januarie 2010 6:16 nm

    Oulik geskryf, maar ek dink dit kom in hierdie geval neer op die semantiek van die woordjie “geloof” in beide gevalle.

  6. flippiefanus permalink*
    21 Januarie 2010 4:56 nm

    Dankie Mefri, hoop jy sal altyd dit geniet om hier te lees.

    Johan, daar is waarskynlik fyner onderskeid wat mens kan tref tussen verskillende betekenissevan die term “geloof”. Tog dink ek mens kan die term oorkoepellend toepas sodat mens al die fyner aspekte insluit. Ek dink dit is hoe ek dit probeer doen.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.