Slaan oor na inhoud

Dogma

31 Januarie 2010

Telkens wanneer Emil Jung die stelling gemaak het dat mens moet waak teen dogma of dat hy ‘n probleem het met dogma wanneer dit by godsdiens kom, het ek gewonder wat presies hy bedoel, want hoe kan mens godsdiens los maak van dogma? Vanaand vermoed ek dat ek nou verstaan wat hy bedoel het.

Elke Sondag kyk ek na ‘n dokumentêre reeks oor die kulturele ontwikkeling van die mensedom. Vanaand se episode het gehandel oor die formulering van die onsekerheidsbeginsel in kwantum meganika. Wat die episode interessant (en bietjie ontstellend) gemaak het, was hoe die aanbieder dit dan kontrasteer met die gebeure tydens die 2de wêreld oorlog en spesifiek die dinge wat Hitler aangevang het. Terwyl die onsekerheidsbeginsel vir ons leer dat daar fundamentele beperkings op ons kennis is, het Hitler opgetree asof hy alles weet. Hierdie totale oortuiging dat hy reg is en dat hy dit tot uitvoering bring is wat die aanbieder dan dogma noem.

Wel as dit is wat Emil met dogma bedoel het dan stem ek saam met hom. Om so oortuig te wees dat dit wat jy glo reg is, dat dit jou lei om die vreeslikste goed aan te vang, is inderdaad gevaarlik. Sulke absolute oortuigings in die hande van enige mens is ‘n ongewensde situasie.

Nou wat dan nou van godsdiens? Het ons nie hier te doen met ‘n situasie waar mense ook totaal oortuig is van iets wat dan uiteindelik kan lei dat hierdie mense die vreeslikste goed aanvang nie?

Die geskiedenis leer vir ons dat selfs in die Christelike geloof het daar dinge gebeur wat mense gedoen het wat nie goed was nie. Dink maar aan die inkwisisie en die kruistogte. Ek is egter oortuig daarvan dat elkeen van hierdie gevalle neerkom op ‘n afwyking van wat God se bedoeling was. Die probleem is juis dat godsdienstige mense, in verwydering van God, dinge begin aanvang wat nie reg is nie. Dit is dus selfs in die Christenskap gevaarlik om dogma in die hande van ‘n mens te plaas. Dit moet liewer in God se hande gelaat word.

Dit is waarom inspirasie van soveel belang is. Dit is slegs deur in voordurende kontak met God te wees en onder die leiding van die Heilige Gees te leef wat mens kan weet wat die regte ding is om te doen. Verder moet mens dit voortdurend toets deur dit te vergelyk met die Bybel om te verseker dat mens nie sommer enige onbenullige gedagte as ‘n inspirasie identifiseer nie.

Die aanbieder van die dokumentêre program het die wetenskap as ‘n beter opsie aangebied omdat daar in wetenskap altyd die geleentheid bestaan om iets te bevraagteken. Wetenskap bevat ‘n open endedness wat beteken dat niks ooit bo verdenking staan nie.

In Christenskap moet dit dieselfde werk. Soos mens groei in geloof word mens deur die Gees gelei om tot nuwe insigte te kom. Mens moet dus nooit op ‘n punt kom waar jy dink dat jy volledig perfek in jou geloof is nie. Dis juis dan wat jy stagneer en nie meer verder kan groei nie. Nee, deur voortdurende kontak met God en die Heilige Gees leer jy dat dinge wat jy van tevore van oortuig was dalk foutief is.

Dit beteken egter nie dat God verander nie, en ook nie dat dit wat eens waar was op ‘n dag nie meer waar is nie. Dis bloot die mens wat terug gebring moet word na wat God se bedoeling is, weens die feit dat hy tog so geneig is om af te dwaal.

3 Kommentaar
  1. 1 February 2010 12:14 vm

    Ek hoor jou FF, baie mooi geskryf. watse program is dit die waarvan jy praat?

  2. Katvoet permalink
    1 February 2010 8:45 vm

    FF ek kan nie meer met jou saamstem nie!!! Ek wil NOOIT ophou groei in my Christenskap nie. Ek wil nooit ophou leer nie. Die groei- en leerproses behoort die kern van mens se bestaan te wees. Wanneer jy jouself hoër en slimmer ag as diegene rondom jou moet die gevaarligte reeds begin flikker!

  3. flippiefanus permalink*
    1 February 2010 3:52 nm

    Flintie, dis ‘n stel DVDs wat ek kyk. Eintlik ‘n ou reeks genaamd The Ascent of Man.

    Dis gewis, Katvoet, mens moet versigtig wees vir mense wat voorgee hulle weet alles. Ek vermoed egter dat ek self al in daardie gat getrap het. :oops:

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.