Slaan oor na inhoud

Outentieke lewe

1 February 2010

By die werk het ons nou ‘n nuwe persoon wat die personeelsake behartig. Sy neem haar taak baie ernstig op en reeld stuur sy eposse waarin sy allerande positiewe opbouende boodskappe aan ons versprei. Nou wat maak ek nou daarmee? Miskien moet ek dit uitdruk en raam en dan hang ek dit oral in my kantoor op. Nee wag, miskien moet ek dit net uitdruk en teen my kennisgewingbord opsit. Wel dan gaan my kennisgewing bord vinnig oorloop van al die positiewe opbouende boodskappe. Miskien moet ek dit maar net in ‘n spesiale foldertjie op my rekenaar plaas. Of miskien moet ek dit maar net eenvoudig uitvee. Wel ek sal dit darem so vinnig een keer lees voordat ek dit uitvee. Dis wat ek inderdaad dan nou maar doen.

Nou wens ek dat ek vandag se positiewe opbouend boodskappie bewaar het, want toe ek nou later terugdink aan wat ek daar gelees het (nie dat ek meer veel kan onthou nie), tref dit my dat dit ‘n paar juweeltjies bevat het. Ek kan nie die opskrif meer onthou nie maar daar was sewe stappe om een of ander iets in jou lewe te bereik. Een ding wat oor en oor voorgekom het was die bereiking van ‘n “outentieke lewe” (authenticated life). Nou wat de ongeluk is dit? Miskien kan iemand my help.

Een van die punte het daaroor gegaan dat mens moet tyd maak om te dink. Die aanbeveling was dat ‘n mens bad terwyl jy na klassieke musiek luister. Mmmm, wel ek het ‘n klomp klassieke musiek CDs waarna ek baie lanklaas geluisterhet.

Van die bad deel kan ek wel getuig dat dit inderdaad my help om te dink. Ek is verslaaf aan my daaglikse bad. Dit gebeur ook baie maal dat ek my daagse probleme opgelos kry in de bad. Ek sal byvoorbeeld ‘n hele dag lank kan worstel aan ‘n probleem en niks vermag nie. Daardie aand in die bad besef ek dan wat die probleem is. Of ek sal na ‘n dag se werk vreeslik trots op myself wees oor wat ek bereik het en daardie aand in die bad besef ek dat ek iewers ‘n fout gemaak het.

Dit is nie asof ek in die bad gaan sit en besluit om nou oor hierdie of daardie saak te dink nie. Nee, my gedagtes is soos ‘n trop wilde perde wat totaal onbeheerst oor die vlaktes van die kognitiewe landskap op loop gaan. Tog is dit nie total lukraak nie. Dit is asof hierdie trop wilde perde presies weet waar die kwessis is wat aandag nodig het. Nadat hulle hulself dan uitgewoed het kom daar ‘n kalmte en klaarheid oor hierdie kwessies. Dit laat my dink aan daardie gesimuleerde donderstorm in Beethoven se pastorale simfonie.

Nou herhinder dit my ook aan die kere wat ek daar in Toronto as student vir relatief goedkoop na een of ander strykkwartet gaan luister het. Ek is eintlik skaam om te erken dat ek eintlik hoegenaamnd nie met enige erkenbare vorm van aandagtigheid na die musiek geluister het nie. Skaar het die eerste note hulself aan my opgedis of daardie trop wilde perde breek los ek gaan op loop. Dis asof daardie meesleurende note energie in daardie wilde perde van my gedagtes plaas. Alle ander afleidings is uit die weggeruim en daar is niks wat hulle gang kan versteur nie. Wanneer die laaste note dan uiteindelik wegsterf is dit letterlik asof ek uit ‘n beswyming wakker word.

Miskien moet ek tog ‘n plan maak om daardie draagbare CD-speler van my nader aan my badkamer te installeer.

17 Kommentaar
  1. 1 February 2010 8:15 nm

    Was dit nie dalk Covey se 7 Habits nie? Klink half so. “Outentieke lewe” word dikwels gesien as een van die pilare van spiritualiteit (wel ten minste sekulêre spiritualiteit). Binne daardie konteks beteken dit bloot dat mens getrou aan jouself is en nie ‘n front voorhou nie. ‘n Outentieke lewe is die gevolg van die aanvaarding van die self wat lei tot die aanvaarding van ander. Oh well, dit is in elk geval soos ek dit verstaan. Iemand anders mag verskil. :)

  2. Mefri permalink
    1 February 2010 10:58 nm

    Elfkindjie stel dit so; Keep it real. :-)

    Dit was ‘n plesier om hier te lees. Dankie.

  3. Emil permalink
    2 February 2010 9:50 vm

    Spreuke 4:23 gee dalk ‘n idee van die “outentieke lewe.”

    Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

    Schopenhauer en Nietzsche sal jou waarsku om nie die CD-speler op die bad se rant te plaas nie, want netnou val dit in die bad en skok jy jou dood.
    ;)

  4. Rustig permalink
    2 February 2010 3:21 nm

    Daar is niks fout met gedagtes soos ‘n trop wilde perde nie, die probleem is net wanneer jy hulle weer bymekaar moet kry. :)

  5. flippiefanus permalink*
    2 February 2010 5:33 nm

    George, nee die “Covey se 7 Habits” klink nie vir my bekend nie. Nou ja toe, daar leer ek ook nou weer iets.

    Mefri, ja dis nogal iets waarmee ek kan saamstem. Ek is baie bly jy geniet dit.

    Emil, as dit is waarvoor mens die wysheid van Schopenhauer en Nietzsche loop opsoek, dan moet ek verklaar dat die wysheid van Schopenhauer en Nietzsche op dieselde vlak is as die algemene kennis van die gemiddelde mens. :razz:

    Rustig, jy is ‘n praktiese mens, want ek het nou nie eers daaraan gedink nie. Die geluk is dat die klomp wilde perde hulself uitwoed en dan rustig gaan staan en wei. So wat ek dink ek sal doen is om dan sommer die kamp weer rondom hulle te bou. ;-)

  6. Mefri permalink
    2 February 2010 10:30 nm

    Hierdie is moedersmelk-woorde; ‘Alle ander afleidings is uit die weggeruim en daar is niks wat hulle gang kan versteur nie. Wanneer die laaste note dan uiteindelik wegsterf is dit letterlik asof ek uit ‘n beswyming wakker word.’

    Ek lief dit, want dit is presies wat met my gebeur – ek weet sowaar nie wat word van my nie, want ek verloor kontak met my lyf en alles en almal om my, dis asof jou gedagtes en denke in hulle eie ondeurdringbare ruimte in ‘n ander sfeer floreer. Dit gebeur net as ek na sekere musiek luister.

  7. Katvoet permalink
    3 February 2010 8:17 vm

    Hierdie is ‘n “topic” wat my baie na aan die hart lê. Ongelukkig is daar nie genoeg plek op jou blog vir my kommentaar nie. Moet nooit ophou met jou soektog nie. Jou gedagtes is bitter kosbaar, maar moet reg “bestuur” word sodat dit nie toksies word nie. Ek werk tans deur ‘n dvd-reeks van Dr Caroline Leaf oor die werking van die brein. AMAZING!!!

  8. Emil permalink
    3 February 2010 12:02 nm

    Nee kyk, ek hoop die mens trek eerder Schopenhauer en Nietzsche nader wanneer die lewe hulle oorval met ‘n verswelgende donker, eerder as praktiese advies rondom die veilige aanwending van elektrisiese toebehore. Dis net dat die twee siniese menere in elke oomblik van geluk, soos die stille vetroosting van die CD-speler, ook die teenpool waarneem :)

    Soos om te ontspan en met toe oë na rusbarende musiek te luister, met die wêreld se wurggreep vêr van jou verwyder, om net uiteindelik in onverwagse oomblik soortgelyk aan ‘n toneel in ‘n rolprent waar ‘n karakter eensklaps middel-sins deur ‘n haai verslind word terwyl hy nog ‘n sentimentele boodskap van oorlewing aan die ander met innige passie oordra, in jou kanon geskok te word ;)

    Tog is daar by hulle wyshede wat bo die algemende vlak van die gemiddelde mens se begrip is:

    Compassion is the basis of morality.
    It is not a lack of love, but a lack of friendship that makes unhappy marriages.

  9. flippiefanus permalink*
    3 February 2010 8:09 nm

    Weet jy Mefri, dis lanklaas wat ek na ‘n klassieke musiek uitvoering gaan luister het. Noudat ek daaraan terugdink mis ek dit.

    Katvoet, jy kan maar na hartelus skryf as jy so voel, maar miskien wil jy dit spaar totdat jy eendag jou eie tuiste het waar jy inskrywings kan maak.

    Ek sukkel om my gedagtes te stuur. Dit verg moeite om my gedagtes te fokus. As omstandighede reg is kan ek, maar ek vind al hoe meer desedae dat my aandag afgelei word.

    Emil, nee maar goed, ek waardeer dit dat Schopenhauer, Nietzsche en jy so besorg is oor my veiligheid. Of die twee se wysheid werklik bokant die vlak van die gemiddelde persoon se gesonde verstand gestel kan word is egter ‘n kwessie van opinie, maar nou ja daaroor het ons al baie geredeneer.

    Weet jy wat mis ek die meeste van jou inskrywings, en dis nou sonder om snaaks te wees. Dit is om te hoor hoe dit met klein Robert gaan en wat hy nou weer desedae aanvang.

  10. Rustig permalink
    4 February 2010 10:28 vm

    @Flippie: Flippie om die kamp om die perde te bou is net ‘n makliker manier om die probleem op te los. Dit is soos om oor die krake in mure te verf. Los nog steeds nie die probleem op nie. Probeer die perde tem liewer.

    @Prof Jung: Ek is nou nie kenner met al die Jungs, Freuds en Nietzsche’s nie, maar ek kry altyd so die idieë dat die mense die res van die wêreld in “bokse” wil druk en kategoreer. Die mens is seker nie so ‘n eenvoudige wese nie.

  11. 5 February 2010 7:59 vm

    Dit klink fantasties. Radox-borrelbad help ook want dikwels bevat dit laventelspierverslappers wat jou selfs lekkerder in die bad laat le^. Ek lees graag boek in die bad, en soms klim ek in ‘n regtige warm bad en drink baie koue witwyn terwyl ek daar le^, hemels.

  12. Mefri permalink
    6 February 2010 12:44 vm

    Flippiefanus, soms wonder ek hoekom ons onsself so maklik in die agtergrond kan inskuif en dan daar vergeet en sodoende die vreugde van dit wat ons uitermatig baie geniet ontneem. Is dit oordrewe opoffering of ontvlugting?

  13. 6 February 2010 8:43 nm

    “Tog is daar by hulle wyshede wat bo die algemende vlak van die gemiddelde mens se begrip is:”

    Ek dink hierdie sin staan sentraal in emil se betoog en kan ter harte geneem word.

    FF dit klink vir my of jy in die bad doen wat die Buddhiste al `n duisend of wat jaar aanbeveel, naamlik om te mediteer om die wilde perde tot bedaring te bring.
    Lees gerus weer daar by ons Joh se “Taming the bull” storie.

  14. flippiefanus permalink*
    7 February 2010 6:37 vm

    Rustig, maar hoekom is die wilde perde ‘n probleem? Hulle doen wat hulle moet doen. Hoekom sou ek die perde wou tem? Is die vryheid en onbevange energie van hierdie wilde perde nie juis wat mens wil he nie?

    Bertus, borrelbad! Ja inderdaad! Nie elke aand nie maar so een of twee keer per week. Nie geweet dat Radox spierverslappers bevat nie, maar dit is inderdaad wat ek gebruik. So nou en dan drink ek ook bietjie witwyn maar nie terwyl ek in die bad is nie.

    Mefri, ek dink dis ‘n kwessie van dat mens moet doen wat gedoen moet word. Wanneer hierdie dinge dan gedoen moet word dan vergeet mens van jouself vir so rukkie. Ek vermoed dis nogal veral wat gebeur met mense met groot gesinne. Ek is alleen daarom vat dit nie lank voor ek weer aan myself kan andag gee nie.

    Louwie, of die filosowe wysheid bevat wat bokant die gemiddelde mens se gesonde verstand is, is ‘n debateerbare punt. Hoekom moet ek die perde tem? Ek hou daarvan dat hulle wild is. Dit werk vir my. Ek het op ‘n stadium toe ek jonk was met meditasie ge-eksperimenteer en dit op die ou end gelos, want dit werk nie vir my nie. My brein raak verveeld.

  15. Rustig permalink
    7 February 2010 10:12 vm

    Dit is waar Flippie! Solank jou perde net nie in ander mense se lande hardloop nie! ;)

  16. 8 February 2010 7:39 vm

    Is dit nie jou wilde perde wat jou die week in die moeilikheid laat beland het nie?
    Daar is mense wat van pyn hou. Elke ou maar na sy aard né :smile:

  17. flippiefanus permalink*
    8 February 2010 3:56 nm

    Rustig, my gedagtes hardloop net war hulle wil, maar siende dat dit my gedagtes is weet ander mense moes nie of ek deur hulle lande hardloop nie.

    Nee Louwie my probleme het nie te doen gehad met my wilde perde nie.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.