Slaan oor na inhoud

Gay geloofsdilemma

22 February 2010

Hierdie is ‘n onderwerp waaroor ek al lank dink. Dit is ‘n turksvy wat ek grootliks tot dusver vermy het omdat ek nie juis antwoorde daarvoor gehad het nie. Mettertyd, soos ek hier en daar meer oor die onderwerp raaklees is daar stadigaan ‘n begrip oor die saak wat by my gevestig raak. Dit is natuurlik nog maar my eie konsepte waarmee ek ook steeds nog worstel, maar onlangs het dit tot so mate gekristalliseer dat ek dink ek nou iets daaroor kan skryf. Sorg net dat jy sit voor jy verder lees. ;-)

Die vraag is of dit reg is om ‘n homosekuele lewe te lei. Attie het die hele dilemma iewers goed verwoord. Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie daarom parafraseer ek: aan die eenkant, as mens vir iemand sê iets wat hy doen is nie verkeerd nie ,terwyl dit wel verkeerd is, dan bring mens ‘n oordeel oor daardie persoon (en natuurlik oor jouself). Aan die ander kant, as mens vir iemand sê dat wat hy doen is verkeerd terwyl dit nie die geval is nie, plaas mens ‘n onnodiglik groot lyding op daardie mens se lewe.

Wat die laaste punt betref wil ek dit duidelik maak dat ek nie meer glo dat gay mense se gay-wees iets is wat hulle gekies het nie. Heterosekuele mense het ‘n natuurlik aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag en ‘n afkeer aan seksuele interaksie met mense van hul eie geslag. Gay mens het ‘n afkeer aan seksuele interaksie met mense van die teenoorgestelde geslag en ‘n aangetrokkenheid tot mense van hul eie geslag. Hoe hierdie omgekeerde aangetrokkenheid ontwikkel, dink ek nie verstaan die mensdom al nie, maar dit is nie iets wat mens sondermeer kan kies nie. Die sekuele drang is die sterkste instinktiewe drang wat daar is. Om dit teë te gaan veroorsaak noodwendig intense wroegings. So peroon sal dan tipies na ander uitlaatkleppe soek om hierdie drang te bevredig. Dit kan lei tot allerande probleme.

In die Bybel word dit duidelik gestel dat die seksuele interaksie tussen mense van dieselfde geslag verkeerd is. Die aangetrokkenheid tussen mense van dieselfde geslag is egter nie soseer sonde nie, maar as mens lees hoe Paulus daarna verwys klink dit meer soos ‘n straf. Die indruk wat ek kry is dat Paulus eintlik verwys na die nagevolge daarvan.

Die vraag kom dan by my op, hoekom word dit in die Bybel as sonde beskou? Ek glo dat daar altyd ‘n rede is hoekom iets as ‘n sonde beskou word. Meeste van die tyd is dit omdat sulke gedrag direk of indirek tot mens se nadeel strek. Ek glo ook dat nie alles wat in die Bybel as sonde beskryf word noodwendig ‘n fundamentele sonde is nie, maar dat dit bloot binne die kultuur konteks van die Bybels sonde is, net soos nie alles wat skynbaar in die Bybel aanvaarbaar is regtig vir God aanvaarbaar is nie (dink byvoorbeeld aan slawerny, oorloë en Dawid se baie vrouens).

Wat was dan die nadelige gevolge wat ‘n homoseksuele lewe ingehou het?

Waarskynlik was daar ‘n verskeidenheid van nadelige gevolge. Die een waarvan ons vandag duidelik bewus is, is die probleem met seksueel oordraagbare siektes. Dit kon ‘n redelike ernstige probleem in die Bybelse tyd gewees het. Hierdie is egter nie uitsluitlik ‘n probleem met homoseksuele gedrag nie, maar eerder met losbandige seksuele gedrag wat ook onder heteroseksuele mense kan bestaan. Wat ons egter uit die geskiedenis van die VIGS epidemie geleer het is dat homosekuele gemeenskappe ‘n groter geneigdheid tot sulke seksuele losbandigheid toon. Hier moet mens egter versigtig onderskei tussen twee verskillende aspekte, naamlik die seksuele losbandigheid en die basiese homoseksuele gedrag. Daar bestaan baie homosekuele paartjies wat hulself nie aan seksuele losbandigheid skuldig maak nie.

‘n Ander nadelige effek wat ek dink meer direk betrekking het op die rede hoekom dit as sonde in die Bybel beskou word, is die hele kwessie van bevolkingsaanwas. Van die begin af lees ons in die Bybel “wees vrugbaar en vermeerder.” Enigiets wat dus daartoe kon lei dan die bevolkingsaanwas sou afneem was daarom as sonde beskou. Omdat homosekuele verhoudings nie kinders kan produseer nie, is dit dus logies dat dit as verkeerd beskou sou word. Vandag het die situasie egter drasties verander. In stede van te min mense, sug die aarde vandag onder die druk van te veel mense. Dit was nogal vir my interessant toe ek in ‘n boek oor kulturele antropologie gelees het dat kulture wat lae bevolkingsdigthede het, meer geneig is om homoseksualiteit as verkeerd te beskou as kulture met hoë bevolkingsdigthede. Dit is dus ‘n kulturele aspek.

As bevolkingsdigtheid die enigste rede sou wees hoekom homosekualiteit as sonde beskou moes word, sou ek onomwonde oortuig wees dat dit nie meer vandag as sonde beskou moet word nie. Daar is egter ‘n meer subtiele rede. In ‘n vorige inskrywing het ek probeer verduidelik dat moraliteit gebonde is aan kultuur. Soos kultuur verander word dit wat as reg en verkeerd beskou word, aangepas. Met homosekualiteit is dit dan ook so. Solank as wat dit deur die moraliteit van die kultuur as verkeerd beskou word, sal dit deur God ook as verkeerd beskou word en sal jy wat binne daardie kultuur leef onder daardie moraliteit geoordeel word.

——————————

Oorweeg bietjie die volgende. Lees die deel in Genesis 17 waar God die besnydenis instel. Lees dan Handelinge en veral die dele waar die apostels besluit dat die nie-Jode nie besny hoef te word nie. Wat my besonder tref is die gesig van Petrus wat in Handelinge 10 beskryf word. Hier het ons te doen met ‘n paradigma skuif wat deur die Gees van God gelei word.

Later in Romeine verduidelik Paulus dat die gelowige vry is van die bepalings van die wet, maar in Romeine 14 verduidelik hy dat ‘n gelowige nogtans daartoe gebonde is om voor ander mense wat swakker is, die wet te gehoorsaam. Watter wet word hierna verwys? Dit is die moraliteit van die kultuur van die mense waarbinne die gelowige leef. Hierdie moraliteit is nie iets om ligtelik op te neem nie, want deur dit te verontagsaam bring mens ‘n oordeel oor jouself.

Ek glo die gay situasie vandag in ‘n soortgelyk paradigma-skuif verstrengel is. Die Christen is vrygemaak, maar binne ‘n sekere kultuurverband is dit nodig om gehoor te gee aan die betrokke moraliteit.

54 Kommentaar
  1. 23 February 2010 8:00 vm

    Baie goed geskryf. Jy lees daar by my en ek dink jy weet van my kwessies oor die saak. Ek sal graag wil weet hoekom die leeraars so maklik oordeel mag vel op gronde van wat hulle in kweekskool geleer het, en ‘n politikus en die Jan Alleman mag nie so “ondiplomaties” wees nie.

    “Daar bestaan baie homosekuele paartjies wat hulself nie aan seksuele losbandigheid skuldig maak nie.” – Baie waar.

    ” Solank as wat dit deur die moraliteit van die kultuur as verkeerd beskou word, sal dit deur God ook as verkeerd beskou word en sal jy wat binne daardie kultuur leef onder daardie moraliteit geoordeel word.” – Goed gesê!

  2. Andrew permalink
    23 February 2010 7:47 nm

    In Paulus se brief aan die Romeine skryf hy:

    Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. (dis nou oral sex)
    Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. Romeine 1:26-27

    Die gay scene is seker nie my probleem nie maar geen oral sex?! What the …? Wel ten minste weet ons nou dat honde ook nie hemel toe gaan nie.

    Oraait seriously, volgens ‘n bybel studie wat ek onlangs gelees het is daar nog ‘n manier vir gays om homofobiese straf in die nadood vry te spring. Teen-natuurlike sex kan vertolk word as sex met iemand wat teen jou seksuele orientasie is. Byvoorbeeld heteroseksuele mense wat homoseksuele seks het. Gay op gay aksie is dus a-for-a-way.

  3. 24 February 2010 6:34 vm

    Baie interessante skrywe Flippiefanus.

  4. 24 February 2010 1:02 nm

    “Waarskynlik was daar ‘n verskeidenheid van nadelige gevolge. Die een waarvan ons vandag duidelik bewus is, is die probleem met seksueel oordraagbare siektes.”

    Mense tussen 16 en 28 is oor die algemeen seksueel losbandig. Of hulle homo- of heteroseksueel is. Dit is ook onder die groep wat die vigs-syfer wereldwyd die hoogste is. Dit het te doen met die obvious seksuele rypheid en aktiwiteit in daardie ouderdomstyd.

    Seksueel oordraagbare siektes het niks met seksuele orientasie te doen nie, maar met gedrag. En tot ‘n mate met anatomie – dit word maklik deur die penis oorgedra, maar die vagina bied ‘n hawe waarin dit makliker “vatbaar” is, vandaar die 34% vigssyfer van jong vroue in SA.

  5. flippiefanus permalink*
    24 February 2010 5:58 nm

    Hi Flintie, ek sien jy het nienuwe blyplek. Sal my skakels moet opdateer.

    Ek dink darem nie dat alle leeraars sommer net oordele vel nie. Nogtans is hulle belas met die morele gesondheid van die gemeenskap.

    Andrew, is jy seker dat daardie “teennatuurlike omgang” na “oral sex” verwys? Die NIV stel dit soos volg: “Even their women exchanged naural relations for unatural ones.” Die klink my dit verwys eerder na seksuele verhoudings. Ek volg nie heeltemal jou laaste paragraaf nie.

    Dankie Joh, nadat ek dit geplaas het, het ek baie gewonder of ek moes. Ek vermoed daar is baie rooflesers wat nie jou opinie deel nie.

    Rosa, so jy bevestig wat ek gese het, naamlik dat sekueel oordraagbare siektes meer met seksuele losbandigheid te doen het. Dankie vir die toeligting.

  6. Andrew permalink
    24 February 2010 11:46 nm

    Jehovah’s getuies gebruik daai versie om oral sex tussen getroude paartjies te veroordeel.

    As jy nie die argument volg nie is dit ‘n goeie teken, ek verstaan dit ook nie. ‘n Mens kan net eenvoudig nie homoseksualiteit aanvaar vanuit ‘n christelike oogpunt nie al swot jy teologie 20 keer en fluit jy jesus-loves-me-this-I-know deur jou neus in f-minor. God se karakter is anti-gay, en dit is ERG anti-gay, daarvoor het ons net te veel voorbeelde in die bybel om mee te werk.

    Die christen geloof kom met ‘n package; of jy aanvaar dit soos dit is, of jy draai jou rug daarop en gaan slaap met ‘n skoon gewete.

  7. Andrew permalink
    25 February 2010 9:34 vm

    Ek hoor nou net Sam Harris se nuwe boek, The Moral Landscape: How science can determine human values, word Oktober hierdie jaar vrygestel. Ah, iets lekker om na uit te sien. Ek hoop dit sal ‘n stap nader wees aan die ontbloting van die mite dat moraliteit gekoppel is aan godsdienstige geloof.

  8. Sonderwoorde permalink
    25 February 2010 12:48 nm

    Bowen alles moet ons in elk geval ons naaste lief hê soos onsself, nie waar nie?
    Ons het elk mos ons eie gesonde verstand ontvang om te besluit wat ons wil aanvaar, al dan nie.
    Verder het elkeen ook die reg, indien hy/sy nie daarmee saamstem nie, om hul opinies vir hulself te hou, sonder om enigiemand af te kraak in die proses.
    Dankie Flippie, ek vind hierdie post baie insiggewend.

  9. Andrew permalink
    25 February 2010 2:38 nm

    Sonderwoorde, liefde vir jou naaste, oftewel die goue reel, is nie uniek aan enige geloof nie. Dit is wysheid wat afkomstig is van figure soos Confucius en die Buddha honderde jare voor die nuwe testament geskryf was.

    Sonde, waarvan gay wees ‘n deel is, is ‘n konsep wat geen verligting bring aan menslike leiding nie en doen dus niks om morele waardes van ‘n kultuur te bevorder nie.

  10. 25 February 2010 3:17 nm

    FF, ek dink jou inskrywing is met groot omsig en objektiwiteit geskryf en mens kan sien dat jy die kwessie goed oordink het. Ek dink Flintie se kommentaar is ‘n bewys hiervan.

  11. 25 February 2010 3:20 nm

    Andrew, jy ontstel jou te veel oor die karakter van iets/iemand wat volgens jou glad nie bestaan nie. Is dit nie veel makliker om dit wat nie bestaan nie, bloot te ignoreer nie? :)

  12. Andrew permalink
    25 February 2010 4:42 nm

    Ja dit sal makliker wees maar nie naastenby so bevredigend nie. :-)

    Solank as wat daar bloggers is wat blog oor hul gode sal daar mense wees wat dit bevraagteken. Net soos ‘n tyd gekom het wat die bestaan van Griekse gode bevraagteken het, so sal dit wees met die nuwes. Gode het ‘n beperkte rak lewe en yahweh s’n is amper op.

  13. 25 February 2010 5:55 nm

    Ek dink die kanse dat God oor jou rakleeftyd sal besluit, is dalk beter…

  14. flippiefanus permalink*
    25 February 2010 6:36 nm

    Andrew, die Christendom is steeds die geloof met die grootste aantal lede, meer as 2 duisend miljoen. Verder sien ek hulle raam dat teen 2050 daar meer as 3 duisend miljoen Christene sal wees. So moenie te gou van “rakleeftyd” begin praat nie. Vir die res van jou lewe gaan jy nog met Christene te doen kry. Maar as ek so na jou luister is dit glad nie onmoontlik dat jy dalk voor die einde van jou lewe een van hulle gaan wees nie. ;-)

    Jy skryf: “God se karakter is anti-gay, en dit is ERG anti-gay, daarvoor het ons net te veel voorbeelde in die bybel om mee te werk.” Werklik? Kan jy vir my asseblief al hierdie voorbeelde opnoem? Ek weet net van ‘n paar en ek het hulle almal min of meer probeer betrek in my inskrywing.

    Onthou die goue reel kom nie net in die NT voor nie. Dit is reeds in die OT verwoord, meer as ‘n duisend jare voor die NT geskryf is. Verder, in so verre dieselfde beginsel by ander kulture te vinde is, glo ek steeds dat dit deur inspirasie van God af aan die mense van hierdie kulture gegee is. Dit is deel van die Algemene werksaamheid van die Heilige Gees.

    Dankie Sonderwoorde en Bib. Ek waardeer julle ondersteuning.

  15. Andrew permalink
    26 February 2010 9:15 vm

    3 biljoen christene?! Genadetjie tog ek sal mos mal word. :-)

    Die raklewe waarvan ek praat is op ‘n veel groter skaal as die volgende 40 jaar. Maar uitsterf sal dit amper verseker, die geskiedenis leer ons dit. En moet dit asseblief nie so persoonlik opneem nie, dis maar net hoe dinge werk. Daar sal nuwe stories uitgedink word om aan te glo.

    Wat die ant-gay versies bedref dink ek 6 is oor genoeg vir god om sy punt duidelik te maak:

    Genesis 19:5
    1 Korinthiers 6:9-10
    Levitikus 18:22
    Levitikus 20:13
    Romeine 1:26-29
    1 Timotheus 1:9-10

  16. 26 February 2010 12:09 nm

    Nou wat gebeur in ‘n samelewing waar 50% van die mense glo dis ‘n sonde en 50% van die mense glo nie? Is dit dan sonde of nie? Of hang dit af in wie se geselskap jy jou op die betrokke dag bevind het?

  17. 26 February 2010 3:23 nm

    Andrew, as jy na my verwys, ek het niks persoonliks opgeneem nie. Miskien moes ek ‘n :lol: bygevoeg het. Jy het my net laat dink aan die volgende (bekende) aanhaling en pittige repliek daarop:

    “God is dead” – Nietschze……..

    “Nietschze is dead” – God

  18. Andrew permalink
    26 February 2010 4:35 nm

    Dit was na jou ook verwys ja, en ek is verlig om dit te hoor dankie BiB. My bedoeling is nooit om vyandig te wees teenoor die persoon nie maar ek besef dit kom soms so oor. I try and play the ball and not the person. :-)

  19. 26 February 2010 8:24 nm

    Ek kom dikwels hier lees al lewer ek nie kommentaar nie. Hierdie is ‘n vrek moeilike onderwerp om oor te skryf en ek dink jy het dit met groot sensitiwiteit benader.

  20. flippiefanus permalink*
    26 February 2010 8:34 nm

    Andrew, ek het iewers gelees dat daar 7 plekke in die Bybel wat daaroor praat. Ek dink op een of ander manier het ek al die voorbeelde wat jy genoem het aangespreek. Maar nou ja, dit is bloot maar my manier van dink oor die saak. Ek isnie noodwendig reg nie en ek sal waarskynlik nog lank daaroor dink.

    In so verre dit “pagan” of “DIY” gode betref stem ek saam met jou,Andrew: hulle kom en gaan. Maar die waaragtige drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, die Skepper van die heelal, Verlosser en Trooster, was van altyd af daar en sal altyd daar wees. Reg aan die begin van die mensdom se beskawing het Hy homself aan ons bekend gestel en vandag duisende jare later is Hy steeds aan ons bekend. Dit gaan nooit verander nie. Jy hoef nie bekommerd te wees nie ek neem dit nie persoonlik op nie.

    Bertus, ek dink dit is daar waar mens die deel in Romeine 14 dan moet toepas. Maar as dit nie werk nie of mens weet nie hoe om te maak nie kan mens altyd vir wysheid bid sodat mens sal weet wat om te doen, want God belowe dat Hy altyd aan ons wysheid sal gee as ons opreg daarvoor vra.

    Ja dis nogal ‘n classic een daardie Bib. :lol:

  21. flippiefanus permalink*
    26 February 2010 8:50 nm

    Twilight, welkom hier en dankie. Ek is bly jy geniet dit om hier te lees.

  22. Mefri permalink
    26 February 2010 9:50 nm

    Flippiefanus, hierdie skywe van jou het die fokus op myself gedraai; hoe glo EK VANDAG oor die Skrif ? Aanvaar ek dit as God se Woord en Waarheid …. of pik ek met ʼn tandestokkie net sekere dinge uit wat ek “WIL” glo omdat dit by my omstandighede pas en buig ek dit om by my behoeftes aan te pas?

    Volgens Matteus 4 toe Christus Jesus deur die Gees in die woestyn in gelei was om deur die Bose versoek te word het dit ʼn raamwerk gevorm wat as riglyn gebruik behoort te word, ook in hierdie omstandighede waar homoseksualiteit se sondigheid of aanvaarbaarheid bevraagteken word, maar ook in ander omstandighede wat ons in hierdie gebroke wêreld ervaar.

    Jesus Christus, die Seun van die Allerhoogste God, was 40 dae uitgelewer aan die skroeiende son, dink hoe moes sy vel verskroei gewees het, hoe dors en honger was hy en hoe uitgeput en laag was sy lewensenergie en geestelike weerstand gewees? Kwesbaar tot op die uiterste nè!

    Die Bose het eerstens sy behoeftes uitgelig en geaksentueer … dink hieroor na. Toe het hy vir Hom ʼn oplossing gebied, maar ongehoorsaamheid aan die Vader moes uit vrye keuse geskied; Die Bose: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word” maar Jesus het hom telkens met Skrif geantwoord. “:Daar staan geskrywe: ʼn Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” Dis hier waar ek (met alle respek en agting vir jou siening) lelik vashaak met die begrip van kultuurgebaseerde veranderings ens wat die Skrif se Waarheid….. verbrokkel en inkort?

    Met my beperkte kennis gaan ek nie poog om die Skrif uit te lê en voor te gee dat ek alles verstaan nie. Christus Jesus is die Hoëpriester wat tot ons beskikking is om vir ons voor die Vader in te tree en die Heilige Gees is aan ons gegee om ons in die Waarheid te lei. Dit is ʼn saak wat elke indiwidu persoonlik met God moet uitklaar in sy en haar persoonlike omstandighede.

    Ek lief my gay en lesbiese vriende, en ek sal hulle menswees tot die dood toe eer. Ek is nie hier om hulle of myself te oordeel nie. In elk geval, dit is die Lucifer wat veroordeel, die Heilige Gees LEI ons in die Waarheid.

    Dankie Flippiefanus, dit het my goed gedoen om oor hierdie dinge te besin.

  23. 26 February 2010 10:32 nm

    Baie goed geskryf, Flippie. Andrew, sorry, but I can’t resist. Hoekom lees jy die Woord van Iemand wat (volgens jou) nie bestaan nie? Is dit nie tydmors nie? En dan KEN jy nogal die Bybel goed ook :lol:

  24. flippiefanus permalink*
    27 February 2010 6:45 vm

    Dankie Sonkind

    Mefri, wat jy skryf is kos vir nadenke. Ek dink ek verstaan wat jy bedoel. Mens kan nie maar net omdat daar ‘n behoefte by mens bestaan die Woord van God oortree nie. Dit is waar en jy is ook reg dat mens nie God se woord moet “verbrokkel en inkort” nie. Dit is juis oor hierdie gevaar wat ek baie geworstel het met hierdie gedagtes. Nogtans gee God vir ons voorbeelde in die Bybel van reels wat eens ingestel is en later weer opgehef is, soos byvoorbeld die besnydenis. Noudat die mensdom vandag soveel jare verder ontwikkel van hoe dit was in die Bybele tyd moet ons verstaan hoe God bedoel het dat ons sy Woord steeds moet toepas. Dit is hoekom ek dan die vraag vra wat die bedoeling is wat agter God se reels sit sodat ons kan verstaan wat Sy Wil regtig is.

    Toe Jesus op aarde was het die Fariseers gedog hulle doen die regte ding deur die reels so streng toe te pas, maar Jesus het vir hulle aangetoon dat hulle die pot totaal mis sit.

  25. Mefri permalink
    27 February 2010 9:42 vm

    Flippiefanus, die een ding wat ek en jy nie genoem het nie is; ons staan nie meer onder die wet nie, Christus het dit volbring.

    2.ROMEINE 7:6
    Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.

    & 7.GALASIËRS 5:18
    Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

    5.ROMEINE 6:15
    Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie.

    6.1 PETRUS 1:3
    Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop

    Die ding wat ons nie moet miskyk nie is dat geen sonde, behalwe die teen die Heilige Gees na die ewige dood lei nie. (Om uit God se hand geruk te word) Dit is genade. Ons elke dag se handel en wandel, val en opstaan veral oor die dinge waaroor ons innerlik mee wroeg… dit is reeds met die bloed van die Lam vereffen. Die Gees ondersoek en deurgrond die hart van die mens en daarom glo ek met my hele wese dat ons nie ‘n benul het van hoe wyd genade strek nie. Hy stap elke tree saam met ons, hy ken elke gedagte.

    1.ROMEINE 8:39
    of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

    Daar bestaan nie ‘n skaal wat gaywees swaarder laat weeg as huweliksontrou of enige ander sonde nie.

  26. Andrew permalink
    27 February 2010 4:11 nm

    Sonkind dit is nie tydmors nie, en ja ek geniet dit. :-)

    Morele waardes van ‘n samelewing verander die heeltyd. Ons lewe byvoorbeeld nie meer soos mense gelewe het in die tyd van die bybel nie. Die rede hoekom dit verander is omdat druk geplaas word op die rigiede en irrasionele hantering van moraliteit deur bygelowe soos die christendom.

    Ek weet nie of jy opgelet het nie maar nie een gelowige op hierdie blog, kon of het gesê, dat god homoseksualiteit aanvaar soos hy hetroseksualiteit aanvaar nie. Inteendeel die gevoel lyk vir my is: “Mens kan nie maar net omdat daar ‘n behoefte by mens bestaan die Woord van God oortree nie.” En die cherrie op die koek is hierdie blog word nie beskou as fundamenteel nie!

    Kan jy sien dat daar ‘n risiko van morele verval bestaan in ‘n samelewing waar godsdiens nie in toom gehou word nie? Kyk maar wat gebeur nou in Uganda onder die invloed van die Rooms Katolieke geloof en ook elders in Afrika en die midde ooste waar islam the brand of choice is.

  27. Mefri permalink
    27 February 2010 7:51 nm

    Hallo Andrew jy is in die kol weet jy, en indien ek die antwoorde op hierdie vrae geken het, sou ek dit wel uitgespreek het. Ek is nie gay nie en my voete het nog nooit daar spore getrap nie. Ek is gemaklik in my vroueliggaam en elke aspek daarvan is vir my mooi. Hoe sal ek weet watter geweldige stryd hulle ondergaan wanneer hulle soos vreemdelinge in hulle eie liggaamsvel voel?

    Meeste van hulle het op die lewenspad diep seer gekry en daar is ander wat ‘nog altyd geweet het’ dat hulle ‘anders’ was….. Ek deel met my eie kompleksiteite en volg my eie diepgewortelde oortuiginge daaroor, daarom gun ek hulle dieselfde voorreg, sonder voorwaardes of uitsprake oor veronderstellings hoe en waaroor dit vir God sou gaan – die Heilige Gees is ʼn Persoon, en sou jy met Hom kennis gemaak het, sou jy verstaan het waaroor presies waaroor Sy leiding vir gelowiges gaan. Same thing no difference.

  28. flippiefanus permalink*
    1 Maart 2010 4:15 nm

    Mefri, ja dit is ‘n kardinale en sentrale aspek van Christenskap wat jy daar uitlig. Ek dink daar is baie misverstand oor hierdie aspek, veral onder ongelowiges.

    Andrew ,die morele waardes van samelewings verander oor die algemeen baie stadig, maar jy is reg, dit verander wel. Dit is juis danksy Christenskap dat daar voorkom word dat hierdie morele waardes totaal die pad byster raak. Soos ek probeer verduidelik het, God laat die kultuurverbonde deel van moraliteit aan die mensdom oor. Ongelukkig is dit so dat daar elemente in die kerk inkom wat dit dan misbruik vir hul eie voordeel. Dit beteken egter nie dat mens die kerk of Christenskap vir hierdie misbruike moet blameer nie. Dan sou mens die wetenskap moes blameer vir alle slegte dinge wat mense met wetenskaplike kennis doen.

  29. 3 Maart 2010 9:56 nm

    Sjoe, sal ek myself nou as ‘n roofleser beskou? Ek lees met groot belangstelling al die dinge wat hier gesê word. FF, ek beaam jou sentiment dat die Enigste Waaragtige God wat ek aanbid, lank voor al die gode daar was en lank na hulle nog sal heers. Daar sal ook ‘n tyd kom dat elke tong sal bely en elke knie sal buig – vir sommige in oorwinning en vir ander in smarte. In sovere die outoriteit van Die Bybel sterk, het dit in 1500 jaar met minder as 0.1% verander en die Ou Testament in meers as 2400j dieselfde gebly. Tog lees almal dit steeds vandag. Daar is ook geen teenstrydighede in die woord nie. Ek sal daarop let dat die besnydenis nooit vir die heidene ingestel was nie en nooit vir die Jode afgestel is nie. Die Volk van God (Israel) en die Kerk as Bruid van Jesus leef nie onder dieselfde “wette” nie.

    Jesus se koms het wel veranderinge in ons toeganklikheid tot God, Die Vader gebring – ons val nie meer dood neer as ons Sy allerheiligste binnegaan nie. Dit verander nie God se karakter nie, maar gee aan ons die keuse on Jesus as Advokaat by ons te hê

    Wat homoseksualiteit as sonde betref, dit bly sonde, maak nie saak hoe jy die Bybel lees nie, net soos gierigheid en diefstal en leuns en moord pleeg. As ons bereid is om Jesus aan te neem en ons sondes te bely kan ons van enige sonde vergewe word en kan ons die ewige lewe verkry. As ons egter bewustelik en uit eie wil in sonde voortploeter sal ons die aardse koninkryk van God nie beleef (begryp) nie en kan God ons nie in die volheid van Sy krag laat stap en leef nie (Hy kan jou net gebruik in sovere jy bereid is om jou lewe te rig volgens Sy Woord en daardeur kan jy ook die mate van Sy seën op aarde ontvang) Uit eie krag kan ons nie enige sondes uit ons lewe kry nie, maar vir elke stap van oorgawe en gehoorsaamheid is daar genesing – God KAN jou DNA verander!

    As jy Jesus as jou verlosser bely en dus weet dat homoseksualiteit (of enige ander sonde) sonde is, maar te trots voel om dit te bely en bewustelik daarin voortgaan, dan sal jy gered word maar soos een wat uit die vuur geruk word. Jy kan nie verwag om groot belonings in die Hemel te ontvang of saam met Jesus op die troon te sit en regeer nie. Jy kan ook verwag om ‘n lewe sonder vrede en bo-natuurlike krag te lewe. Maak dit my minder lief vir hierdie medemens – Nee, dit is soos wanneer jy sien hoe jou kind ‘n onnosel fout maak en hom probeer reghelp en hy jou raad nie wil vat nie – jy voel steeds lief vir hom, net meer jammer.

    Danie vir ‘n insiggewende onderwerp. Ettienne

  30. flippiefanus permalink*
    4 Maart 2010 8:13 nm

    Etienne, dankie vir jou bespreking. Wat jy beskryf maak vir my nou baie sin. Ek worstel maar met die idee, maar ek kan sien dat jy ‘n vaste geloof het en dat jy deur jou geloof sekerheid oor die saak gekry het.

    Terloops, rooflees is nie sonde nie. ;-)

  31. LxDing permalink
    5 Maart 2010 8:48 vm

    Flipfaan – moedig en dapper inderdaad. Sensitief, keurig. Dankie daarvoor.

    Ding het op sy dag self al hieroor gepraat en geklipsit. Waaroor Ouding desedae klipsit: wat motiveer heteroseksuele mense om te besin oor die sondigheid van homoseksuele mense se seksuele orientasie? Wat kan dit heteroseksuele mense pla? Hoekom is daar twyfel oor die reg of verkeerd of sonde of nie sonde nie? Wat vir Ding dwars in die krop gaffel, is dat die onskuldiges meer bekommerd is oor die skuldiges en in die proses hulleself verhewe. Ag nee man. En respekvol – Ding vind absoluut geen aanklank by die strekking van die kommentaar gelewer deur DrEttienne nie; veral die laaste paragraaf.

    Voorts wonder Ding nou of God dan nou DNA net na een kant toe kan verander? Boonop: as God DNA kan verander, wie het dan die DNA gemaak wat nou verander moet word?

    Huh-uh, neewat, Ouding reken maar steeds die oordeel kom die mens nie toe nie en dit laat Ouding kil wanneer mense hulleself die reg enigsins toeeien om goedsmoeds te verkondig wie waar sal sit en hoe wie hulle kruise moet saamsleep. Sien lewe en laat lewe, regtigwaar ook. Neewat, laat God maar die Vader wees wie self besluit watter kinders Hy veroordeel en vir wie Hy jammer kry – die tweedelaaste ding wat homoseksueel georienteerdes nodig het, is om veroordeel te word, veral in die naam van geloof en onder die vaandel van Christenskap; die laaste ding wat homoseksueel georienteerdes nodig het, is om jammer gekry te word. Nee man.

    Dankie vir die geleentheid, Flipfaan
    Grondgroete
    Ding

  32. Sterna permalink
    5 Maart 2010 10:05 vm

    Vraag: Hoe word mense wat tweeslagtig gebore is geklassifiseer, Dr Ettienne? Hoe word daardie DNA verander?

  33. 5 Maart 2010 12:16 nm

    Lekker vraag Sterna, lekker vraag, Kom antwoord asb dr. Etienne. Ek wil ook weet.

  34. MrAndrew permalink
    5 Maart 2010 4:58 nm

    DrEttienne, moet net nie vir my sê jy is ook een van daai mense wat glo daar bestaan ‘n biologiese geen vir ‘n siel nie. Asseblief, wees my genadig en sê jy glo dit nie.

  35. flippiefanus permalink*
    5 Maart 2010 5:26 nm

    Ding, dis goed om jou weer raak te lees. Ja dit is seker maar die oorblyfsel van die tyd toe die kerk oor alles en almal oordele uitgespreek het. Miskien het hulle Christus se opdrag om die evangelie te verkondig geinterpreteer as dat hulle hul eie siening van die Bybel in almal se kele moet afdruk. Dit was mos nooit die idee nie. Dit is ook baie duidelik volgens die Bybel dat ‘n mens baie versigtig moet wees om mense sommer links en regs te veroordeel. My mond het al oopgehang oor die agressie wat ek in mense waargeneem het oor hul siening van gays. Ek meen dit kan definitief nie ‘n groter sonde wees as ander vorme van seksuele immoraliteite nie. So hoekom gaan mense so tekere daaroor.

    Andrew, is jy nou vandag Meneer Andrew? ;-) Moet nou nie woorde in Dr Etienne se mond le nie.

  36. 5 Maart 2010 7:06 nm

    Mr Andrew, nee ek glo nie in sulke dinge nie. Die genetika is die bloudruk vir die boublokke van die fisiese ligaam.
    Sterna, as jy praat van tweeslagtig, is dit ‘n baie breë term. Ware hermafrodiete wat beide manlike en vroulike geslagsorgane het, is baie skaars. Daar is ‘n wye spektrum van siektes wat wel oorlopende tweeslagtigheid teweeg kan bring. Die meeste daarvan is endokriene afwykings – m.a.w. hormonale foute. Die genetiese defekte wat dit kan veroorsaak is veelvuldig. Soms is daar ‘n X en ‘n Y chromosoom, soms is daar ‘n chromosoom weg en soms is daar mutasies in seker gene. Die oorsake daarvan is dus wyd. Ek twyfel egter of die lesers hier regtig belang stel in ‘n diep mediese relaas oor dit. Wat wel waar is, is dat ons genetika stadig oor die jare verswak is deur ‘n komp goed, soos ondertrou, blootstelling aan gifstowwe en medikasies asook bestraling.
    Wanner mense egter verklaar dat gedragsversteurings geneties is maar dat die presiese gene nie geïdentifiseer kan word nie, dan implisser dit tog sekerlik dat jy as persoon niks daaraan kan doen nie en dus is daar geen sin om dit probeer verander nie – so, hou maar aan suip, of vroue slaan, of wat ook al nog toegeskryf word aan genetika.

  37. Andrew permalink
    5 Maart 2010 7:06 nm

    He he … net as ek met DrEttienne praat. ;-)

  38. Sterna permalink
    6 Maart 2010 12:36 nm

    DrEttienne

    Dankie vir jou verduideliking.
    M.a.w daar is werklik in sekere gevalle wel fisiese bewysbare hormonale afwykings (genetiese defekte) en in ander net keuses?
    Nou weereens wil ek graag weet, hoe word die DNA verander in die bewysbare mediese afwykings? Is dit moontlik deur medikasie, leefwyse of slegs gebed? Is dit dan moontlik dat iemand wat agv ‘n hormonale afwyking hom/haarself nie kan identifiseer met die liggaam waarin hul gebore is nie, en as sulks moet vrede maak OF moet hul naarstiglik probeer verander om by die norm in te pas?

    Ek dink hierdie is wel belangrik vir die leek om te verstaan dat alles aan die einde van die dag nie net oor persoonlike keuses gaan nie.

  39. 6 Maart 2010 1:10 nm

    Sterna, Laat ek dit net duidelik stel dat mense wat hierdie hormonale en/of genetiese toestande het en daarom tweeslagtig is, is nie gewoonlik homoseksueel nie. 99.9% van mense wat homoseksueel is, het geen fout met hulle hormone of gene nie (alhoewel daar in die mediese literatuur baie gespekuleer word dat homoseksualiteit geneties kan wees kon daar nog nooit enige spesifieke genetiese afwykings aangetoon word wat dit veroorsaak nie)

    Jou DNA is soos ‘n koekresep wat die ligaam gebruik om nuwe selle en proteiene te vervaardig. Elke nuwe sel wat gemaak word, beteken dat daardie resep oorgeskryf moet word en soos met enige oorskryf proses kan daar foute insluip. Daar is ook gene wat juis kwaliteitskontrole moet doen om seker te maak dat die oorskryf proses reg plaasvind en as daar ‘n fout opgemerk word, sal daardie sel meestal doodgaan.

    Foute (Mutasies) kan insluip a.g.v. radio-aktiwiteit wat die DNA beskadig en foute laat insluip, of medikasies wat dit op kritiese tye kan veroorsaak (goed soos Talidomied) of gifstowwe wat in die omgewing gebruik word as pesdoders ens.

    Dit kan gebeur dat iemand gebore word en op die oog af lyk na ‘n seun maar eintlik ‘n baarmoeder en eierstoke ook het en dan soos “hy” ouer word kom die ouers agter dat “hy” eintlik soos ‘n dogter ontwikkel. Hierdie persoon is fisiologies ‘n vrou en nie homoseksueel nie. Die teenoorgestelde is ook moontlik dat die baba na ‘n dogter lyk en fisiologies eintlik ‘n seun is wat uitwendig abnormaal ontwikkel het. “Sy” ontikkel soos ‘n man as “sy” ouer word. Dit is nie homoseksualiteit as hierdie dogter dan verkies om as man te leef nie want sy is fisiologies ‘n man.

    Hierdie defekte is uiters skaars. Homoseksualiteit het ‘n komplekse oorsprong wat grotendeels kombinasie van omgewingsfaktore is maar moontlik ‘n genetiese predisposisie. Dit het niks met hormone of tweeslagtigheid te doen nie.
    Vir diegene wat glo in ‘n geesteswêreld wat interaksie het met ons, kan ek sê dat hierdie ook ‘n sterk demoniese houvas kan verteenwoordig. Wat die ongelowiges nie verstaan nie is dat satan geen ontsag het vir eie wil nie en jou nie toelaat om self te besluit nie. Net voor daar mense hier is wat begin brandstapels pak, wil ek ook noem dat ek wel al Godvresense, Jesus belydende mense ontmoet het wat worstel met homoseksualiteit. Hulle is egter ‘n druppel in die emmer. Ek glo dus dat hierdie ‘n diverse groep mense is met diverste redes vir hulle oortuiging.

  40. Sterna permalink
    7 Maart 2010 8:49 vm

    Baie dankie Dr Ettienne
    Ek waardeer jou breedvoerige verduideliking.
    Dit stel sekere misnomers duidelik reg.

  41. LxDing permalink
    7 Maart 2010 9:07 vm

    Ouding het die plot nou HELEMAL verloor: diverse groep mense met diverse redes vir hulle oortuiging? Daai is nou wie?

  42. 8 Maart 2010 6:07 nm

    Dr Etienne jy praat van “gedragsversteurings”. Nouja, ek ken min dokters wat die woord sal gebruik, regtig. Tensy jy uit die dood opgestaan het en dit die jaar 1943 is.

    Dan terug by die genetika. Dis waar dat hermafrodiet skaars is, maar jy het nog nie vir Sterna die hele verhaal vertel nie. Jy die die volgende uitgelaat, en ons weet dat algehele androgeen-onsensitiwiteit-sindroom baie algemeen is, soveel as 10% van mense

    XX = vrou
    XY = man
    XY met androgeen-reseptor-mutasie = algehele androgeenonsensitiwiteit-sindroom. Medies is dié mense vroulik. Biologiese geslagsbepaling kan ingewikkeld wees, soos in die geval van algehele androgeenonsensitiwiteit-sindroom.
    Die testes bly klein en in die pelvis, en daar is geen eksterne manlike geslagsorgane nie.
    Wanneer geen opdragte ontvang word nie ontwikkel vroulike geslagsorgane eks­tern, asook borste, maar die persoon het geen inwendige vroulike organe nie.
    In sulke gevalle het die vrou ’n XY-chromosoom, maar weens ’n genetiese mutasie van ’n reseptor-geen wat kodeer vir androgeen, ontwikkel die meeste manlike eienskappe nie.

    X = Turner se sindroom in vroue. Sy het net een van die X-chromosome en / of ’n gedeelte van die tweede. Dit kom voor by 1 uit 4 000 lewende geboortes, hoewel 99% van dié fetusse spontaan aborteer.
    XXY = Klinefelter se sindroom; addisionele X-chromosoom. Kom redelik algemeen voor in mans. Die meeste is onvrugbaar weens te min of geen sperm; leer- en taalprobleme kan voorkom.
    XYY = Die XYY-sindroom. ’n Ekstra Y by mans kan lei tot leerprobleme, aandaggebreksindroom, hiperaktiwiteit en taalprobleme.
    XXX = ’n Addisionele X-chromosoom by vroue is baie seldsaam. Dit lei tot effe laer intelligensie en taalprobleme.

    Dit is ABSOLUUT ONWAAR dat om gay te wees nie geneties is nie.Talle fMRI-studies het al bewys dat die brein so gewire is. Dit gebeur al in die baarmoeder en kinders word so gebore.
    Indien mens lees in die akademiese joernale, die brein jok tog nie kan jy sien as gay mense en straight mense onder ‘n fMRI le dat hulle brein opgewek word seksueel deur die geslag waartoe hulle aangetrokke voel.

    En wat jy verduidelik oor DNS is verkeerd, ‘n mutasie is ook nie noodwendig negatief nie. Jy is geen “dokter” nie. Daar bestaan geen pille wat jou DNS kan verander nie, bog.

    ‘n Demoniese houvas! Ag watse twak!!!

    Sterna en LXDing, as julle info wil he oor genetika epos my asb.

  43. 8 Maart 2010 6:49 nm

    Rosalindfranklin, ek vra om verskoning dat die woord gedragsversteuring jou so ontstig. AS jy oplet noem ek voorbeelde van agressie teen vrou en alkoholisme maar spreek nie ‘n woord oor homoseksualiteit nie. Ek is bly as jy nie dink die goed is gedragsversteurings nie.

    Jy noem ‘n klomp genetiesie defekte op wat wel fenotiepiese veranderinge in die aangestaste persoon kan gee maar dit het mos niks met homoseksualiteit te doen nie of jou dan nou? Andogeen onsensitiwiteit is die oorsaak van infertiliteit by 10% van vrou wat daarmee presenteer maar defnitief nie by 10% van die algemene bevolking nie. Die persoon is fenotipies vroulik maar genotipies manlik soos ek ook reeds gesê het – ek hoop nie jy impliseer dat hulle nou ook almal homoseksueel is nie?

    As jy vir my kan wys hoe ‘n MRI of enige ander beeldingsondesoek jou genetika kan toon, wil ek dit graag sien. Jy praat van fenotipiese kenmerke en as jy praat van PET-MRI dan praatons mos eintlik meer oor elekrofisoilogie. Genetika, saam met ante-partum endokriene invloede en eskterne intra-uterine stimuli werk saam met die neonatale en latere ekterne stimuli werk saam om die jong brein se sinapse te vorm. Hermodulasie vind dan oor deur die hele lewe plaas. Die brein is die mees plastiese orgaan en reflekteer dus die heel minste van al die organe die basiese genetiese predisposisie!

    Jy is welkom om my kwalifikasies te kom beloer aangesien jy so vinnig is om my te beledig. Haal asb aan waar ek noem dat pille jou DNA kan verander! Jy maak aantuigings sonder substans.

    Nou ja – as jy nie in ‘n geestelike wêreld glo nie, dan glo jy seker net in die drie demensies wat jy kan sien en die halwe demensie van prograadse tyd wat jy erfaar. Ek kan jou ook nie daarvan met salf of pille ootuig nie.

  44. MrAndrew permalink
    8 Maart 2010 7:59 nm

    Dr Ettienne, op jou blog beskryf jy ‘n geval van ‘n kind wat skynbaar dmv jou gebede en rituele wat jy uitgevoer het, gesond geword het. Hoe vereenselwig jy hierdie onwetenskaplike metodes met jou werk? Studies het tog geen twyfel gelaat dat hierdie metodes nie werk nie behalwe miskien vir die placebo effek in somige gevalle. Ek sal ook graag wil weet of jy aan jou mede kolegas en patiente wat aan jou toevertrou word bekend maak wat jy glo en doen.

  45. 8 Maart 2010 10:39 nm

    Meneer, my geloof in Jesus Christus is wel bekend en die laaste ding waaroor ek my sal skaam. Gelukkig kan elke ou kies en dit is nie my werk om my pasiënte te bekeer nie. Daar is enkele mense wat net die koue wetenskap verkies en dit goed so.
    Die grootste gros van mense wat skielik uitvind dat hulle besig is om dood te gaan, se deuntjie verander gewoonlik baie vinnig as die wetensakap en al die kennis in die wêreld hulle nie kan help nie.
    Wat die baba betref, was dit nie pasënte van my nie en ek verwag nie van jou om te verstaan nie, jy was immers nie daar nie en dit was nie jou kind waarvoor jy gesit en wag het om dood te gaan nie. As ek terug dink dan maak dit ook nie sin nie, maar nou ja – dit hoef gelukkig nie.

    Die wonderlike ding is dat jy miskien neerhalend kan praat oor my geloof en beroep, totaal sonder kennis. Die getuienis van my werk as chirurg spreek harder as al die blogs en opmerkings in die wêreld. Ek hoop jy het nooit iemand soos ek nodig nie maar wie weet, die lewe loop snaakse draaie met mense – as ek mediese ekspertise het waarvan daar baie min in ons land is, dan mag jy dalk nie ‘n keuse hê nie:-)

  46. MrAndrew permalink
    9 Maart 2010 12:15 vm

    Ek is seker jy is ‘n bekwame chirurg. Los net die voodoo snert by die huis asseblief.

  47. 9 Maart 2010 2:18 nm

    RF, tussen jou en Dr Etienne het ek nie die vaagste benul waarvan julle praat nie. Sjoe, ek voel skoon ongeletterd! Maar as julle mekaar verstaan, is dit goed. :lol:

  48. flippiefanus permalink*
    10 Maart 2010 8:18 nm

    Ettienne, dankie vir jou verduidelikings. Ek leer sommer baie in die proses, maar ek sal jok as ek se dat ek alles verstaan. Dis wonderlik om te hoor van die getuienis van gebedsverhoring en diesmeer.

    Rosa, ek verstaan dat daar baie genetiese afwykings is wat kan plaasvind, maar dit klink nie vir my (as ek na Eienne luister) dat hierdie afwykings baie algemeen is nie en dit lyk ook nie vir my asof dit afwykings is wat na homoseksuele gedrag sal lei nie. Tog kan mens seker aanvaar dit die oorsprong van homoseksuele aangetrokkenheid ten minste gedeeltelik in die gene gesetel is. Dit maak vir my sin, maar ek dink nie daar is al voldoende wetenskaplike uitsluitsel daaroor verkry nie.

    Andrew, die blote feit dat mens as wetenskaplike werk beteken nie dat mens nie ‘n Christen gelowige kan wees en dit in jou werk kan uitlewe nie. In teendeel as gelowige wetenskaplike het mens ‘n ekstra kanaal van kennis en inspirasie tot jou beskikking wat jou kan help in jou wetenskaplike werk. Gestel nou maar jy het ‘n moeilike wetenskaplike probleem om op te los, dan kan jy bid dat die Heilige Gees vir jou kennis en insig gee om die probleem beter te verstaan en vir jou die oplossing te gee. Dis niks onwetenskapliks nie want die kennis help mens juis om ‘n oplossing te kry wat inlyn met die wetenskap is.

    Ek kry die indruk dat jy bloot stellings maak maar dat jy eintlik uit jou diepte is hier. Die feit dat ‘n chirurg ook ‘n Christen kan wees skok jou so bietjie in jou lewens en wereldbeskouing. Om die rede begin jy dan beledigend raak. Speel die bal, nie die man nie.

    Toemaar Bib moenie alleen voel nie. ;-)

  49. Andrew permalink
    11 Maart 2010 10:14 vm

    “… as gelowige wetenskaplike het mens ‘n ekstra kanaal van kennis en inspirasie tot jou beskikking wat jou kan help in jou wetenskaplike werk.“

    Nonsens. As dit die geval was dan sou die meerderheid van die top wetenskaplikes in die wereld gelowig gewees het, wat beslis nie die geval is nie. Ek sal redeneer dat om gelowig te wees daar ’n groter kaans bestaan dat jy gevestigde en aanvaarde wetenskaplike feite kan verwerp op grond dat dit teenstrydig is met jou persoonlike geloof.

    Ek volg jou nie wanneer jy sê dat om te bid vir ‘n heilige gees, nie onwetenskaplik is nie. Kan jy uitbrei asseblief?

  50. 11 Maart 2010 1:21 nm

    Ek het gese dat mens met ‘n fMRI kan sien, wanneer jy bepaalde vrae aan mense stel, tot watter geslag hulle aangetrokke voel. Of weet jy nie van die studies nie? Ek het dinks oor genetika gese nie rakende ‘n fMRI nie.

    Okay sorrie, dan jy is seker ‘n dokter, verskoning.

    Ek het ook nooit gese dat al die genetiese dekte soos deur my genoem, lei tot homoseksualiteit nie. Ek het gese jy gee nie vir Sterna die VOLLEDIGE prentjie rakende hermafrodiete en soorgelyke afwykings nie. Jy het gese dit is uiters skaars. Ek het nog van die chromosoom-abnormaliteite genoem om te illustreer dat die voorkoms van sulke dinge nie so skaars is nie.

    Jy stel dit ook asof die fenotipe en die genotipe 2 vreeslike verskillende dinge is, wat dit nie is nie. Die een word duidelik in die ander uitgedruk, evolusie wys dit tog vir ons. Maar ek wil ‘n wilde kans vat en raai jy aanvaar nie evolusie as ‘n feit nie. Maar laat ons nie afdwaal nie.

    Jy vra ek moet aanhaal waar jy gese het pille kan DNS verander: Hier het jy dit gese: “Foute (Mutasies) kan insluip a.g.v. radio-aktiwiteit wat die DNA beskadig en foute laat insluip, of medikasies wat dit op kritiese tye kan veroorsaak (goed soos Talidomied) of gifstowwe wat in die omgewing gebruik word as pesdoders ens. “

  51. DrEttienne permalink
    11 Maart 2010 5:50 nm

    Ek is seker dat die res van hierdie groep mense nie werklik belang stel in ons tegniese redinasies nie. Ek vra dus byvoorbaat om verskoning:
    fMRI kyk na verhoogde bloedvloei na die brein gebaseer op gedeoksigineerde bloed. Dit is dus net ‘n merker van metaboliese aktiwiteit. Metaboliese aktiwiteit is nie die resultaat van genetika nie. (Terloop PET gebruik glukose metabolisme om dieselfde te doen) Die feit dat homoseksuele mense se brein dus gestimuleer word deur foto’s van dieselfde geslag bevestig net hulle homoseksuele staat, maar dit het niks met genetika te doen nie. Dis so goed jy sê: omdat ‘n gewigopteller groter spiere het is dit geneties so bestem dat hy ‘n gewigopteller moes wees?”

    Genotipe kan variërend uitgedruk word (vandaar resessiewe gene) en lei dus nie altyd tot ‘n fisiese eienskap nie. Net so is baie fisiese en biochemiese verskynsels die resultaat van veelvuldige faktore waarvan genetika een kan of nie kan wees nie. As ek Metileen blou intra-veneus spuit, word die urine groen – die resultaat is wel sigbaar maar die oorsaak is nie geneties nie. Gedrag is veral afhanklik van ekterne stimuli. Die onwikkeleing van nuwe sinapse vind daagliks plaas in beseerde breine en dit het net met stimulasie en niks met genetika te doen nie. Genetika is die vel papier, maar die lewe teken daarop. Die finale prent is dus nie die resultaat van die papier nie?

    As jy dan nou so kundig is oor mutogene, dan het jy sekerlik een van die vele gepubliseerde artikels oor Thalidomied gelees soos die van TD Stephens in Biochemical Pharmacology van June 2000 (Mechanism of action in thalidomide teratogenesis) Daar word duidelik getoon hoedat Talidomied in die G-C ryke areas van die DNA inskakel. Dit beïnvloed dan die promotor areas van die gene. Ek weet ek maar net ‘n dom “dokter” maar dit klink vir my dat hierdie pil tog die DNA verander? Dalk kan jy vir my beter verduidelik!

    As jy wil kan ek vir jou ook die name van ‘n paar nitrosamien substanse wat in chemikalië voorkom en bewese mutogene is gee?

  52. flippiefanus permalink*
    11 Maart 2010 8:08 nm

    Nogal ‘n interessante punt wat jy maak Andrew. Mens sou dink dat mens jouself in ‘n wonderlike bevoorregde toestand in hierdie lewe kan inbid, maar ongelukkig werk dit nie so nie. Mens kan in jou eie persoonlike lewe probleme oplos deur gebed, maar mens kan jouself nie probeer verryk of befaamd maak deur gebede nie. Daar is ‘n rede voor, maar eerder as om dit hier te probeer verduidelik gaan ek probeer om dit in ‘n inskrywing te bespreek.

  53. 15 Maart 2010 9:57 nm

    “Maar as ek so na jou luister is dit glad nie onmoontlik dat jy dalk voor die einde van jou lewe een van hulle gaan wees nie. ” Wil nogal met jou saamstem Flippie, want soms klink dit vir my dat die geloof in Christus nogal vir Andrew ‘n bedreiging inhou, in elk geval meer as enige van die ander gelowe :wink: en dan wonder ek net hoekom. Andrew, wonder jy nie soms wat sal gebeur as jy God toets deur Hom te nooi om Homself aan jou bekend te maak nie? Dit klink mos vir my asof jy iemand is wat daarvan hou om ondersoek in te stel na alle dinge, probeer bietjie hierdie een :mrgreen: .

Trackbacks

  1. Al die verhoorde gebede « Flippiefanus

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.