Al die verhoorde gebede
Uit die gesprek wat gevolg het oor die gay kwessie het daar ‘n interessante vraag ontstaan. As die gebede van gelowiges deur God verhoor word, beteken dit dan dat gelowiges meer kan bereik in hierdie lewe as ander mense? Behoort gelowige sakemanne nie ryker te wees as ongelowige sakemanne nie? Of behoort gelowige popsangers nie groter popsterre te wees as ongelowige popsangers nie? Of beteken dit dat die gelowige wetenskaplike dan die top wetenskaplikes in die wêreld behoort te wees?
Mens moet natuurlike eers onderskei tussen die resultate van die verhoorde gebede in die algemeen en die effek wat dit spesifiek op die individu het wat hierdie gebede tot God rig. Die gebede wat verhoor word maak inderdaad ‘n baie groot verskil in die verloop van lewe op aarde. Dit beteken egter nie dat die effek wat dit op die individuele biddende gelowiges het hul ophef bo die res van die mensdom nie, ten minste nie in terme van sekulêre aspekte van die lewe nie.
Sien, in die eerste plek word nie alle gebede verhoor nie (of miskien moet ek liewer sê dat dit nie met ‘n “ja” verhoor word nie). Die verhoring van gebede hang baie af van hoe mens bid en waarvoor mens vra as jy bid. ‘n Selfsugtige gebed word selde verhoor (indien ooit). In mens se gebede moet mens dieselfde liefdesbeginsels toepas as wat mens in jou Christelike lewenswandel toepas. God weet wat in ‘n mens se hart aan die gang is en Hy sal nie jou gebed verhoor as jy een of ander verborge agenda met jou gebed het nie.
Verder kan God ook al die verreikende gevolge van verhoorde gebede sien. God kan dan sorg dat hy die gebed so verhoor dat dit in ons onmiddelike behoeftes voorsien sonder om negatiewe langtermyn gevolge te veroorsaak. Hy kan sorg dat die biddende sakeman se transaksie slaag sonder dat dit op die ou end daartoe lei dat hy ‘n monopolie verkry. Hy kan sorg dat die biddende wetenskaplike se navorsing projek suksesvol afhandel kan word sonder dat dit die wetenskaplike wêreldberoemd gaan maak.
Hoekom dan so? Wil God nie ook hê dat sy Naam verheerlik moet word deur beroemde gelowige wetenskaplikes wat sy Naam verkondig nie? Wel ja, daar is top wetenskaplikes wat gelowig is en God se Naam daardeur verheerlik, maar God ken elke mens. Meeste mense word maklik verlei deur roem en rykdom, selfs al is hulle gelowig.
In die Bybel vertel Jesus dat dit makliker is vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryk man om in die hemel te kom. Rykdom word ‘n afgod wat die mens weglei van God af. Net soos rykdom kan roem ook ‘n afgod word. Kyk maar na die top filmsterre. Meeste van hulle is hul eie afgode. Hulle aanbid hulself. Dieselfde is die geval met meeste van die top wetenskaplikes. Hulle is totaal gefokus op hulself.
Nie alle mense is so nie. Daar is enkelinge wat die vermoë het om rykdom en roem te kan hanteer sonder om daardeur verlei te word. God ken elke mens, daarom weet Hy indien iemand dit sal kan hanteer. So persoon se gebede mag dalk wel daartoe lei dat God aan hom roem en rykdom skenk. Die res van ons moet egter liefs nie te veel droom daarvan nie. Dit gaan ons nie help om daarvoor te bid nie.
Comments are closed.

Besonderse inskrywing! Geniet jou naweek!
Net ‘n klip in die bos, sommer net vir die lekker
Nou hokeom is daar so baie ongelowige rykes en suksesvolles, wat ook nie veel oor het vir hul medemens en hul werkers wat hulle help ryk word het nie. Hoekom vat God nie hulle rykdom weg of verhinder hulle om nog ryker te word nie. Of is dit ‘n geval van ‘die duiwel sorg vir sy kinders’ (tong in die kies!)
Never mind die ongelowiges Sonkind, wat van al die Arabiese olie magnate en Sheiks en Sultans. Onthou hulle is ook die duiwel se kinders en net so evil soos ons ateiste. Hoekom zap god hulle nie met weerlig of vries hulle bankrekenings nie?
Dankie Sonderwoorde.
Sonkind enAndrew, nee dit werk nie so nie. Bloot uit eenvoudige statistiek volg dit dat daar mense sal wees wat ryker is as ander mense. Verder is daar ‘n sekere klein waarskynlikheid dat party mense verskriklik ryk kan wees, daarom is daar inderdaad mense al is hulle min, wat verskriklik ryk is. Hierdie mense is waarskynlik meeste van die tyd ongelowig oor die redes wat in die inskrywing genoem het.
Hoekom zap God hulle nie? Hoekom moet Hy? Andrew, jy het ‘n baie skewe beeld van God as jy dink hy sit die hele tyd daar en besluit wie om te zap bloot omdat hy nie van hulle hou nie.
Ding is naby aan opgee. Ding verstaan ALWEER nie. Hoekom moet geld, rykdom, voorspoed en al die goeie nommers vir terloopse verbygangers gekoppel word aan gelowigheid of nie? Ding meen nou maar sooo te reken: wat skeel dit my nou of Bill Gates glo soos ek glo of nie? Dis sy saak. As Ding nou graag wil ryk wees en die goeie lewe wil smaak, is dit mos my saak met God of sonder God? Ding sekondeer veral die laaste paragraaf van Flipfaan hier, ja. Hoekom pla die goeie lewe party mense so vreeslik? Wat is in elk geval nou weer die storie van die kameel en die naald se oog of so iets? Ai tog.
Oor gebede: Partykeer bid mens naarstiglik vir tekens en word daardie tekens netjies vir mens uitgewys en uitgelê – dis net om dit te herken wat die verskil maak. Om God te voel en ervaar in mens se lewe en Hom as Heer en Leermeester te aanvaar maak die lewensloop soveel meer vervullend.
Oor rykdom: Finansiële gemak kom meestal deur ‘n leeftyd van onder-spandering. En gee, harde werk, beplanning, dissipline, begroting, samewerking en fokus. Afhangende natuurlik of dit op ‘n eerlike manier gedoen is.
Gebed en geloof in mens se talente (wat immers Godgegewe is) plus bogenoemde stel elke mens in staat om finansiëel onafhanklik te wees. God wil hê dit moet goed gaan met sy kinders. Ons moet dit net glo.
“Onthou hulle is ook die duiwel se kinders en net so evil soos ons ateiste.” Hmmm Andrew, vertel jy nou vir ons dat jy dan ook evil is?
Nieopibekgevalnie, evil en sonde bestaan net in Lalaland. My komentaar is tong in die kies en ‘n bespotting van geloof se oppervlakkigheid.
Flippiefanus jy sê ek het ‘n skewe beeld van god. Ja dit kan wees. Die bottom line is ek ervaar nie die bybel soos jy nie; die god meem het nie viral gegaan in my brein nie. Hierdie boek is vir jou die spul waarom jou hele lewe draai en vir my is dit niks meer as ‘n versameling van geskiedkundige gebeure, mitologie en filosofie nie. Presies nes jy oor die qur’an voel.
Andrew die enigste wat oppervlakkig hier is, is jy! Waaraan glo jy dan nou eintlik huh? Dat alles van lalaland af kom? Toenou! Jy’s darem seker nie so onnosel nie?
Ding, ek stem, die hoeveelheid geld in jou bankrekening is nie opsigself vir God ‘n probleem nie. As hierdie hoeveel geld egter vir ‘n gelowige mens belangriker word as God dan natuur is daar wel’n probleem.
Sterna, ja God wil he dit moet goed gaan mens sy kinders, maar nie so goed dat hulle op die ou ed van God vergeet nie. Dit is dan waar die skynlyn tussen finansiele gemak en rykdom getrek word. Solank mens besef dat daar so iets soos genoeg is.
Andrew dit bly vir my verstommend hoeveel betrokkendheid jy as ongelowige by die Bybel en geloof sake het. Dis asof jy in ‘n worstling met God gewikkel is. Dis nie die geloof wat oppervlakkig is nie Andrew, dis net jou konsep daarvan wat oppervlakkig is.
Ding wil ‘n bos met ‘n stok slaan en kyk of dit stowwerig is:
Nog allie jare laat Ding homself gereeld dink aan klein keffertjie wat huiswerf deel met groot hond. Dan sien Ding homself hoe hy hardloop tot by groot hond, die groot hond byt-byt aan die hakskeensenings en vreeslik heldhaftig blaf vir die groot hond… en slag-slag hou daai blerrie klein keffer mos nie op nie, tot waar die groot hond moer skep en sy lyf so dwarsdraai met kake wat oopgaan en ‘n oorverdowende woef met ‘n hap na klein keffer rig. Nou kyk DAN skrik Ding homself in ‘n ander spoed in en hardloop tjouw-tjouw weg, ego tienkeer kleiner as voorheen en meer kefferlyf se grootte. Loop staan eenkant en lek wonde wat nie regtig so erg is nie en kyk verwytend na groot hond wat dan nou gedurf waag het om vir Ding uit die bloute te zap. Dan sokkellll Ding om die “onverdiende” zap te verstaan.
Ding wonner maar partykeer oor hoeveel ander ook nogal so omgaan met Baas Lewe. Koggel, koggel vreeslik heldhaftig en dan ontbreek die insig om te besef dat manman se lewe anders loop as ander s’n omdat manman self loop soek vir die bollie in manman se lewe. Dis net soveel makliker en geriefliker om die groot hond te beskuldig in plaas daarvan om na die self te kyk en te besef manman het dikwels self net te veel gekoggel.
Iewers langs die pad moet ‘n mens tog maar ophou om Baas Lewe te koggel en opwinding en uitdaging en aksie te loop soek vir sommer net. Elke plesiertjie het maar sy prys. Is net so ja.
Flippie: Met die verhoor van gebede wil baie mens die stem uit die wolke hoor! Soms praat God deur ander mense met jou. Nie noodwendige mede Christene nie. Ons moet net meer luister en minder praat!
PS Wanneer kom jy weer my rigting?
Ding ek moet bieg dat ek maar redelik klein van begrip kan wees wanneer dit by al die metafore kom. So nou weet ek nie of ek jou so heeltemal reg verstaan nie, maar kom ek probeer dan help jy my reg as ek verkeerd is. Is die groot hond ‘n analoog vir Baas Lewe? Indien wel dink ek darem nie dat die Here sommer so geniepsig sal wees nie. Hy weet lank voor die tyd al dat mens gaan koggel vir vermaaklikheid en dan help Hy mens sommer gou-gou reg, maar nie op ‘n geniepsige manier nie. Altyd uit liefde uit en op so manier dat mens iets daaruit dan leer.
Maar miskien verstaan ek verkeerd. Miskien verwys jy na die ongelowiges wat God so koggel (maar dan sou jy seker nie met hulle geidentifiseer het nie [?]). Hulle sal inderdaad nog hulle rieme styf loop, al is dit nie in hierdie lewe dan daarna, maar dis nie vir my of enigiemand om dit te beoordeel nie. Dis God se saak hoe Hy die paadjie met daardie mense wil loop.
Rustig/Paisley ek loer elke nou en dan daar by jou maar dan lyk dit my nie daar gaan al iets aan nie. Is jy weer terug in Ierland? Ek is inderdaad baie binnekort weer in daardie rigting oppad. Sal vir jou epos stuur.
Kan ek ook maar my stuiwertjie in die armbeurs gooi? Wat ek se is maar net my eie mening omdat dit is hoe ek hierdie dinge verstaan en ervaar. God meet nie sukses, welvaart, roem, ens aan menslike standaarde nie. Sy doel met Sy kinders is nie aards van aard nie, Hy raai ons dan spesifiek aan om die aardse skatte bymekaar te maak nie. Dit beteken nie dat Sy kinders nooit mag ryk, slim, beroemd, ens wees nie. Ek glo dat Hy vir elkeen gee dit wat daardie persoon nodig het om Sy doel met ons te bereik, namens om eendag weer, weg van aardse skatte en roem, met Hom verenig te wees vir altyd. Self Paulus het eens op ‘n tyd tot God gebid en gevra en die antwoord wat hy gekry het was: “My genade is vir jou genoeg”.
Maar natuurlik kan jy ‘n stuiwer in die armbeur gooi Anna. Ek stem ook heeltemal saam met wat jy se^. Die Bybel se^ ook iewers: soek allereers die koningkryk van God en dan sal al die ander dinge bygevoeg word.
Die Bybel is baie duidelik. Sodomie is ‘n sonde en God haat dit so baie dat hy Sodom en Gamorra afgebrand het en in Levetikus beveel dat gays moet doodgemaak word. Dit staan wit op swart in God se woord. Enige redenasie om te sê sodomie is o.k. is dus direk teen God se woord.
Ja die bybel is baie duidelik. Doen enige iets wat lekker is en god steek jou siel aan die brand. Suffer, suffer, suffer. Hallelujah.
Andrew; hallo, jy lees dalk met oë wat miskyk, maak ‘n draai 1 Johannes l: 2. Hy is die versoenining vir ons sondes. en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. Jy sal baie daar vind wat jou dalk net tot ander insigte sal bring. Andew, do the crazy thing; bid opreg en eerlik en vra dan die Heilige Gees om jou te lei, as HY for real is, sal Hy jou wys, wat het jy om te verloor? Die keuse is joune.
Andrew, die “hallo’ is ‘n vriendelike groet LOL daar geen sarkamis daarin nie hoor.
Flippiefanus my vervlakste PC is besig om op te pak, die dat ek so bietjie linkslê. Die muis vrek en dan kom die letters soos ‘n dronk matroos te voorskyn.