Net nie geweld nie … asseblief
Na die onlangse moord op Eugene Terre’Blanch en die daarop volgende dreigemente van weerwraak, begin mens wonder op dit al weer tyd is om blikkies kos op te gaar.
Alle grappies op ‘n stokkie. Ek dink nie dat enigiemand in SA apaties kan staan oor hierdie gebeure nie. Daarmee hoef mens nie met die man se politieke siening saam te stem om te voel dat hierdie daad darem maar ‘n vreeslike barbaarse ding is nie. Wat eintlik die hele storie so erg maak is dat dit ‘n baie sigbare voorbeeld is van die geweld wat veels te algemeen in SA is. Mens kan dit veral vereenselwig met die plaasmoorde, wat al op ‘n stadium deur die Genocide Watch as ‘n vlak van volksmoord geklassifiseer is.
Die slotsom is: alles is nie wel in Suid Afrika nie.
Mens kan agteroor sit en mor en kla daaroor of mens kan iets doen. Maar moet tog asseblief net nie geweld gebruik nie. Die voorland daarvan is net die tronk of die graf. Dit gaan ons nêrens bring nie. Wat mens ookal besluit om te doen, dit moet vreedsaam wees.
Die dae van geweld en op jou perd spring om te loop oorlog maak, is verby. Die modern wêreld werk anders. Die mensdom vermag baie meer met vreedsame vorme van betoog (dink maar aan Martin Luther en Ghandi). Die meganisme is soos volg. Mens kry die wêreld om simpatiek te wees met jou saak en dan sal die wêreld druk op die regering uitoefen om die saak reg te stel. Goed, dis seker nie so eenvoudig so wat ek dit laat klink nie, maar dis baie beter as om die wêreld teen jou gekant te kry deur geweld te gebruik.
Ons het eintlik die ideale geleentheid wat vir ons voor die deur lê. Binnekort gaan die hele wêreld se media hier in Suid Afrika wees om die Sokker Wêreld Beker vir die mensdom waar te neem. Dis amper asof die geleentheid vir ons op ‘n skinkbord aangedra word. Mens moet dit net gebruik en die wêreld inlig oor wat hier in Suid Afrika aan die gang is. Dit is ons demokratiese reg. Moet dit asseblief net nie deur geweld probeer doen nie, want dan gaan mens presies die teenoorgestelde bereik.
Comments are closed.

Kan maar net Amen se. Jy is heeltemal reg – as mens nie die simpatie van die buitewereld het nie, het jy klaar verloor. Dis die realiteit van ‘n geglobaliseerde gemeenskap.