Slaan oor na inhoud

Evolusie en die Skepping … alweer

25 April 2010

Daar is mens wat om een of ander rede glo dat die wetenskap onversoenbaar is met Christelike geloof. Onlangs het ek weer gelees waar iemand probeer redeneer dat evolusie en die Skepping teenoorgesteld van mekaar is en dat mens nie die evolusie teorie kan aanvaar as mens ‘n Christen is nie. Wel ek verskil.(Noodwendig gaan ek nou dinge hier herhaal waaroor ek alreeds verskeie kere ‘n mondvol kwytgeraak het. Vergeef my asseblief.)

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God die heelal en die mens en diere geskep het, maar die Bybel gee nie juis besonder baie informasie oor hoe God dit gedoen het nie. Nou is daar mense wat probeer om informasie oor hierdie saak uit die Bybel te onttrek deur spesifieke dele van die Bybel baie letterlik te probeer interpreteer. Ongelukkig lees hierdie mens hul Bybels baie selektief, want deur hierdie selektiewe interpretasie veroorsaak hulle dat daar teenstrydighede ontstaan ten opsigte van ander dele.

Een voorbeeld is waar mense beweer dat God die Skepping verrig het bloot deur die woorde te spreek. Dit is gebasseer op Genesis 1 waar God telkens se “Laat daar… wees.” Lees nou egter Genesis 2 en dan word daar gepraat van God wat die mens uit klei vorm. Dit is mos nou duidelik teenstrydig met die intepretasie dat God geskep het deur net te spreek.

Ek glo dat die fisiese megansisme van God se skeppingsaktiwitiet in sy totaliteit nie eers in beginsel vir die mens vertaanbaar is nie. Tog gee God aan ons die vermoë om ten minste ‘n deel daarvan te kan verstaan. Hy gee dit egter nie deur die Bybel nie. Nee Hy gee dit deur die wetenskap. Met die wetenskap kan mens God se skepping bestudeer, die wonder daarvan ervaar, en so God se Naam verheerlik.

Dit is ironies dat die meeste wetenskaplikes ongelowig is. Dit is amper asof God aan hiedie mense sê: “Al glo jy nie in My nie sal jy deur wat jy doen My Naam verheerlik, want jy sal My Skepping onthul sodat die hele wêreld die wonder van My Skepping kan sien.

Nou wat evolusie aan betref. Ek aanvaar biologiese evolusie as die beste teorie wat daar tans bestaan vir die ontstaan van die diversiteit in lewe wat op aarde bestaan. Daar is vir my niks teenstrydig tussen my Christelike geloof en die evolusie teorie nie. Die Bybel vertel ons dat God die diere en die mens op aarde gemaak het. Evolusie vertel vir my hoe God dit gedoen het. Die feit dat God my deur hierdie wetenskaplike werk ‘n venstertjie gee op hoe Hy te werk gegaan het is vir my wonderlik. Die megansimes wat daar aan die werk is, is eenvoudig verstommend. Dit skep by my baie meer ontsag vir God as wat ek sou gehad het as God dit gedoen het bloot deur die woorde te spreek. Dieselfde geld vir die ontwikkeling van die heelal volgens die oerknal teorie.

Laastens wie ek iets noem oor geloof. Baie maal wanneer ek iemand teëkom wat sulke goed glo wat afwyk van my siening, dan los ek die persoon, want ek besef dat wat die persoon glo oor hierdie tipe goed is nie baie belangrik nie. Of jy glo dat die aarde 6000 jaar oud is en of jy glo die aarde is 4.5 miljard jaar oud, is nie wat gaan bepaal of jy hemel toe gaan of nie. Dis of jy glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het en weer opgestaan het wat bepaal of jy gered is. Wanneer mens egter hierdie oortuigings gebruik om ander mense te veroordeel en sodoende die deur probeer toemaak vir mense wat oor hierdie onbenullige goed van hulle verskil, dan voel dit vir my ek moet die saak regstel.

17 Kommentaar
  1. kaneelsuiker permalink
    25 April 2010 7:27 nm

    Ek woon eergister ‘n lesing deur Dave Pepler oor evolusie en ‘intelligent design’ by. Hy doen toe ‘n opname, vir interessantheid, om die persentasie gelowiges in die gehoor te peil. Eienaardig genoeg, toe hy vra wie ongelowig/ateïsties is, steek so 10 uit die ongeveer 120 mense hulle hande op. So 3 Moslems, 2 Jode en die oordonderende meerderheid was Christene.

    Ek het deur die lesing gesit en spesifiek gekyk hoe die gehoor reageer. Daar was geen uitdruklike aversie teen wat hy gesê het nie. Niemand het sy/haar stem dik gemaak nie. Die goed wat hy bespreek het was vir my al ou nuus (ek het gehoop hy praat meer oor interessante natuurlike verskynsels). Dit wil voorkom asof bitter min Christene in die kring waarin ek loop, nog Creationists is. Ons BSc studente maak staat op die wetenskap en evolusie kan nie meer afgekeur word nie. Veral in die Genetika wat ek bestudeer is dit so duidelik hoe die ontwikkeling plaasgevind het, ek het geen twyfel daaraan nie.

    Christene word forseer om ‘n kopskuif te maak of om hulle argument te verloor en realiteit te ignoreer. Dit is so eenvoudig soos dit. Die ongeleerdes met volwasse sienings stry nie, hulle aanvaar maar net dat God gedoen het wat hy moes doen om die natuur te skep en plaas hulle geloof sentraal op Jesus. Ek het vir sulke mense ook baie respek.

  2. flippiefanus permalink*
    26 April 2010 8:32 nm

    Kaneel, ek kry so warm gevoel op my hart as ek hoor dat meeste mense in SA ‘n nugtere kyk op sake het. Dit is altyd net so paar uitgesproke ekstremiste wat mens onder die indruk bring dat die mense se idees wilde paaie loop.

    So nogal interessant gewees het om die hoor wat die ou alles vertel het.

  3. 27 April 2010 11:27 nm

    Vraag.

    Jy skryf:

    Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God die heelal en die mens en diere geskep het

    Hierna skryf jy:

    Nou is daar mense wat probeer om informasie oor hierdie saak uit die Bybel te onttrek deur spesifieke dele van die Bybel baie letterlik te probeer interpreteer.

    Hoe weet jy die Bybel is baie duidelik daaroor dat God die heelal geskep het? Is dit omdat jy die gedeeltes in die Bybel waar daar staan dat God die aarde en dies meer geskep het letterlik interpreteer?

    Pootjie nie dit jou argument so ‘n bietjie nie?

  4. flippiefanus permalink*
    28 April 2010 7:57 nm

    Nee Johan, daar is dinge in die Bybel waarvoor mens nie interpretasies nodig het nie. Wat se^ die eerste versie in die Bybel? Selfs jy behoort dit feitlik uit jou kop uit te ken. ;-)

  5. 28 April 2010 8:03 nm

    Daar bestaan nie iets soos ‘n teks wat nie geinterpreteer word nie ;)

    Gen 1:1 – In the beginning God created the heavens and the earth.

    Die volgende is oop vir interpretasie:

    1. In the beginning
    2. God
    3. created
    4. the heavens and the earth

  6. kaneelsuiker permalink
    28 April 2010 8:16 nm

    Good point…
    Al wat ek weet is dat die geskiedenis van die Bybel eers werklik begin by Abraham. Van hier af kan alles meer letterlik opgeneem word, omdat dit beter dokumenteer is (behalwe nou vir Openbaring). Geen argeologiese bewyse kon enigiets daarvandaan verkeerd bewys nie.

    Die vroeë gedeeltes in Genesis, kan mens argumenteer, vertel meer van ‘n beginsel: God skep heelal, maar is nie fisies self teenwoordig nie, ens. Die mens se keuse om te sondig, bla bla bla. Dit was spesifiek geskryf om vir die dom ou wat niks van wetenskap verstaan nie ‘n beginsel te verduidelik.

  7. flippiefanus permalink*
    28 April 2010 8:29 nm

    Twak Johan, miskien mens nog debateer waarna “In die begin …” verwys, maar ” … het God die hemel en die aarde gemaak” stel die saak so duidelik en ondubbelsinnig as wat mens voor kan hoop.

    Kaneel, ek verstaan dit ook naastenby so dat die eerste deel voor Abraham basies vir mens leer dat God die heelal geskep het en dan wat sonde is.

  8. 28 April 2010 8:42 nm

    Wel, nee.

    “…het God die hemel en die aarde gemaak”

    Daar is geen inligting wat aandui of dit beeldspraak is vir iets anders en of dit letterlik bedoel word nie. Behalwe as jy van sodanige inligting weet?

  9. flippiefanus permalink*
    29 April 2010 7:56 vm

    Daar is dus ook geen rede om aan te neem dat dit beeldspraak is nie. Meeste van die tyd as mens wonder of iets beeldspraak is kan mens dit gewoonlik uit die konteks aflei. In hierdie geval is daar geen aanduiding in die konteks dat dit beeldspraak is nie.

  10. 29 April 2010 8:49 vm

    En omdat daar volgens jou geen rede is om aan te neem iets is beeldspraak nie, moét dit outomaties letterlik geinterpreteer word? Dit is die mees onsinnige uitspraak wat ek in ‘n lang tyd gehoor het.

  11. flippiefanus permalink*
    29 April 2010 8:36 nm

    In teendeel Johan dit is die mees sinvolste benadering. Jy gaan definitief nie elke dag deur die lewe deur elke sin wat jy hoor of lees te oorweeg vir allerande interpretasies nie. Wanneer iets so voor die hand liggend is dan maak dit sin om dit te aanvaar vir wat dit is.

  12. 6 Mei 2010 11:19 vm

    Die verskil is, daai woorde is nie ouer as 3000 jaar nie. Dis oud. Baie oud.

    Om hulle in retrospek te interpreteer (soos jy doen) en dan begrippe wat vandag eers werklik posgevat het (soos die “begin van tyd”) daaraan te gaan staan en toedig?

    Invalid.

    Trouens, as daar staan “in die begin” het die Hebreeuse skrywer waarskynlik bedoel: “in die begin van alles wat bestaan soos ons dit nou ken” – en daarmee het hy waarskynlik na die Midde-Ooste verwys. Hy’t nie geweet daar’s ander kontinente nie, nog minder dat daar ‘n planeet of die heelal is nie.

    Jy oorvereenvoudig.

  13. 6 Mei 2010 11:20 vm

    (Die punt? Dis hoegenaamd nie so voor die hand liggend soos jy dit uitmaak nie.)

  14. flippiefanus permalink*
    7 Mei 2010 8:21 nm

    Johan ek het mos al geskryf oor die kultuur konteks in terme waarvan mens die Bybel moet verstaan, dus beam jy tot ‘n mate bloot wat ek reeds vantevore gese het, maar in hierdie geval is die stelling so voor die hand liggend dat ek nie dink die kultuur konteks maak juisveel van ‘n verskil nie.

    “In die begin” verwys bloot na die begin van alles, veral gesien in die konteks daarvan dat God dit alles toe geskep het, wat “alles” ookal op daardie stadium geimpliseer het. Daar is dus nie juis ruimte vir ander interpretasies in die geval nie.

  15. 12 Mei 2010 1:40 nm

    Flippie lekker stuk, teologie is vir my baie simbolies en nie letterlik nie, terwyl die wetenskappe is. En dit is die crux van die skeiding.

  16. 12 Mei 2010 1:43 nm

    @flippiefanus – Ah ha, maar dis juis die punt. Dis vir JOU voor die hand liggend. Dis nie goed genoeg om dit te universaliseer nie. Natuurlik argumenteer jy soos jy tans doen – dit maak vir JOU sin.

    Want jy INTERPRETEER dit as sodanig.
    ;)

  17. flippiefanus permalink*
    12 Mei 2010 8:38 nm

    Rosa, teologie is die bestudering van dinge soos die Bybel. Dit is opsigself ‘n akademise oefening. Dt sluit ‘n verskeidenheid van goed in, onder andere argeologiese bevestiging van wat in die Bybel opgeskryf is. So dit behels dus nie net simboliese aspekte in nie.

    Johan dis voor die handliggend vir die meeste mense wat dit lees. Die vir wie dit nie voor die hand liggend is nie soek sommer net rede om te stry. ;-)

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.