Terugvoer ter wille van aanpasbaarheid
Mens gebruik die woord “kultuur” redelik algemeen, maar dit wat daarmee bedoel word is nie altyd dieselfde nie. Mens is ook nie altyd konsikwent in die betekenis wat daaraan toegevoeg word nie. Vir party mense is kultuur dit wat jy doen wanneer jy Staatsteater toe gaan om na een of ander uitvoering te gaan kyk. Vir ander weer is kultuur iets wat mens slegs by die ryk mense kry. Arm mense het per implikasie volgens hierdie mense nie kultuur nie. Daar bestaan ook nog verwarring tussen die begrippe van kultuur en beskaafdheid.
Kan mens ooit sonder kultuur wees? Volgens die kulturele antropoloë is kultuur alle aangeleerde gedrag. Dit is alles wat mens van kleins af leer. As iemand nou op die strate grootword soos die agtergeblewendes hier in Suid Afrika, is sulke mense dan kultuurloos? Nee ek dink nie regtig so nie, want sulke mense leer steeds uit hulle omgewing. Hul kultuur is miskien baie minder as iemand wat in ‘n rykmans huis grootgeword het, maar die blote feit dat so persoon geleer het om op die strate te oorleef wys dat die persoon oor ‘n sekere mate van aangeleer gedrag moet beskik. Dit is immers die terugvoer wat hierdie persoon se omstandighede verskaf wat vir die persoon geleer het hoe om te oorleef.
Dit bring my by die onderwerp wat ek hier wil aanroer. Onlangs het ek ‘n stimulerende redenasie met Joh en Louwie gehad oor “lof en blaam” en of mens daarsonder kan klaarkom. Die opinie is geopper dat lof en blaam goed is wat mens van wil bevry word, want dit hou die mens terug van verdere ontwikkeling.
Beloning en straf (waarvoor lof en blaam metafore is) is kardinale aspekte van enige kultuur. Dit verskaf die nodige terugvoer in terme waarvan elke mens die kultuur aanleer. Hoe anders gaan mens weet of dit wat mens doen in ooreenstemming is met die kultuur waarbinne mens groot word en leef?
Een van die definierende eienskappe van ‘n kultuur is dat mense wat in dieselfde gemeenskap bly geneig is om dieselfde kultuur te hê. ‘n Manier om dit te verklaar is dat jy geneig is om die mense rondom jou te na-aap en dat jy geneig is om so op te tree dat dit vir diegene rondom jou aanvaar is. ‘n Mens wil graag deur jou medemens aanvaar word. Die interaksie wat hierdie kommunikasie van gebruike en oortuigings bewerkstelling is dan juis “lof en blaam” in allerande vorme wat soms baie subtiel kan wees.
Die terugvoer wat deur belonging en straf plaasvind funksioneer nie net op individuele vlak binne kulture nie. Dit funksioneer ook tussen die omgewing waarbinne ‘n kultuur bestaan en die kultuur in sy totaliteit. Kulturele antropologie leer ons dat kultuur nie ‘n starre, vasgestelde ding is nie, maar dat dit dinamies is en voordurend verander. Sulke veranderings vind plaas vanweë interaksie wat plaasvind binne die omgewing waarbinne dit bestaan. Hier kry mens “lof en blaam” in ‘n meer abstrakte vorm. Hierdie terugvoer is egter van kardinale belang, want daarsonder sal die mensdom nie kan aanpas by veranderende omstandighede nie.
Wees dus versigtig wanneer iemand jou probeer oortuig dat jy moet ontslae raak van die juk van beloning en straf. Hierdie persoon bewerk dalk indirek jou uiteindelike ondergang.
foto: flickr
Comments are closed.


Vergeet vir ‘n oomblik die beloning en straf aspek, dan wil ek graag vra: die ding van om die mense rondom jou na te aap en soos hulle op te tree – is dit nie soms ietwat van ‘n skaap-mentaliteit nie? Moet mens nie juis jou individualiteit behou deur op te tree soos wat jy voel reg is en nie noodwendig soos wat om jou aan die gang is nie.
En is mens dan kultuurloos as jy NIE soos die ander van jou eie kultuur optree nie?
Anne-Marie dis waar wat jy se. Mens hoef nie altyd almal om jou na te aap nie. As iemand ‘n rooi robot ignoreer hoef ek dit nie ook te doen nie. Dit waarna ek egter verwys is meer algemene dinge soos daardie lekker tert waarvoor mens die resep vra; of ‘n ou boere raat wat help vir sooibrand; of ‘n manier om jou kinder tydens die vakansie besig te hou wat mens by iemand anders gesien het. Dit is net natuurlik dat sulke gebruike, idees en oortuiging deur ‘n gemeenskap sal voortplant.
Ons is almal maar skape in sommige opsigte. En ons is almal maar soms individue in eie reg.
Soms dink ek die oorsprong van alle kwaad is Plato.
Kan wees Johan