Dit wat goed is
Daar word gesê dat God goed is, en dit is waar, maar ek dink mens moet versigtig wees om te aanvaar dat dit beteken dat God onvoorwaardelik goed is. As mens jou Bybel versigtig lees en jy kyk wat rondom jou aangaan, dan dink ek jy sal gou agterkom dat God nie onvoorwaardelik goed is teenoor alle mense in alle omstandighede nie.
Ek glo dat God almagtig is en alwetend is. Ek glo ook dat alles wat in hierdie heelal gebeur binne God se beheer is. Dit wat dus gebeur vind plaas deurdat God dit self laat gebeur of omdat God dit toelaat om te gebeur. Dit sluit aardbewings, oorstromings en hongersnood in. Wanneer hierdie gebeure in isolasie gesien word vanuit die mens se perspektief, dan is dit moelik om hierdie gebeure as goed te identifiseer. Nogtans is hierdie gebeure ‘n realiteit binne ‘n God-gespake heelal.
‘n Mens kan egter vra wat die term “goed” nou eintlik beteken. In die eerste plek kan mens dit wat goed is sien as die teenoorgestelde van dit wat verkeerd is. Hieronder verstaan mens dan dinge soos sonde, euwels en die bose. Mens kan ook dit wat goed is sien as die teenoorgestelde van sleg. Hieronder verstaan mens dan dinge soos rampe, ontbering, swaarkry en lyding. Beide hierdie teenoorgesteldes kan mens insluit onder die konsep van die gebrokenheid van die wêreld.
Die gebrokenheid word gesien as die resultaat van die sondeval. Tog het God toegelaat dat die sondeval plaasgevind. Soos ek dit verstaan is die sondeval ‘n metafoor vir die gebrokenheid wat God tydens die skepping in die heelal ingebou is. Dit is deel van die natuurwette waarvolgens hierdie heelal funksioneer.
Hoekom sou God so iets doen? Want Hy het besluit dat dit is hoe die heelal moet funksioneer. Maar hoekom sou God dan so besluit geneem het? Dit weet ons nie en dit kan ons ook nooit weet as God dit nie vir ons openbaar maak nie. Dit is bloot iets wat mens moet aanvaar, want God is soewerein.
Nou kom daar egter ‘n subtiele aspek waar mens mooi moet onderskei. Die gebrokenheid wat God in die heelal ingebou het is slegs die deel wat leiding en ontbering impliseer. (Die tweede wet van termodinamika wat lei tot die verganklikheid van dinge.) Die heelal het dus aanvanklik geen boosheid bevat nie. God het egter ook ‘n ander aspek in die heelal ingebou en dit spesifiek by die mensdom, naamlik vrye wil. Dit is die verganklikheid in samewerking met die mens se vrye wil wat op ‘n stadium in die geskiedenis van die heelal boosheid in die skepping ingebring het. God het dus nie boosheid in die heelal ingebou nie. Nogtans het Hy geweet dat dit sou gebeur en Hy het die ontstaan daarvan nie summier geblokkeer nie. Nogtans het Hy stappe geneem om die boosheid te beperk en om dit op die ou end uit die heelal te verwyder.
Wat word dan daarmee bedoel wanneer mense sê dat God goed is? Al hoe ons kan bepaal dat God goed is, is deur te kyk na wat God doen, met ander woorde die skepping en hoe God in hierdie skepping handel. Kan mens dan beweer dat die skepping en God se handelinge daarin goed is? Sou dit nie teenstrydig wees met die bestaan van boosheid en lyding nie?
Hoe ek dit verstaan is dat dit betrekking het op die uiteinde. Die proses om by die einde uit te kom mag baie onaangename dinge impliseer wat mens nie as goed sou klassifiseer nie, maar op die ou end werk al hierdie dinge mee tot ‘n goeie eindresultaat. Dit sluit ook geregigheid in, wat impliseer dat alle boosheid op die ou end geneutraliseer sal wees. Die neutraliseringsproses is opsigself ook iets onaangenaams, maar aangesien dit die bose is wat hierdie onaangename aksies ervaar kom dit neer op die voltrekking van ‘n oordeel oor die bose. Wanneer iets wat negatief is inwerk op iets anders wat negatief is, is die resultaat positief. Dit is dan op hierdie manier wat alles op die ou end tot ‘n goeie eindresultaat meewerk.
Wanneer God dus volgens Genesis 1 sy handewerk beskou en sê dat dit goed is, dan sê Hy daarmee dat dit op die ou end alles goed sal wees. Elke negatiewe aspek sal geneutraliseer word sodat alles op die ou end positief en goed is.
Dit is interessant dat mens op hierdie manier kan sien dat die idee dat die goeie en die bose teenoorgesteldes is wat in alle ander opsigte ekwivalent is, foutief is. Daar bestaan nie ‘n simmetrie tussen die konsepte van die goeie en die bose nie. Mens kan dit sien uit die feit dat as ‘n boosheid (iets wat sleg is) op ‘n boosheid inwerk die resultaat goed is, terwyl as die goeie inwerk op iets wat goed is bly die resultaat steeds goed. Die goeie kan dus op sy eie bestaan sonder die bose, maar boosheid kan nie bestaan sonder die goeie nie.
God is goed, nie omdat alles wat in hierdie heelal gebeur goed is nie, maar omdat God sal sorg dat dit wat sleg en verkeerd is op die ou end sodanig gekanselleer word en meewerk tot ‘n goeie uiteinde.
Comments are closed.

Indien …
boos + boos = goed
boos + goed = boos
goed + boos = boos
goed + goed = goed
… dan lyk god se brein so: http://en.wikipedia.org/wiki/XNOR_gate
Andrew, hoe redeneer jy nou? Beteken dit dat as ek ‘n sjokolade koek bak is my brein van sjokolade gemaak? Of as ek vla maak vir poedig dan is my brein van vla gemaak?
Oi Andrew, nou ja gebruik jou vry wil om te besluit wat jy wil. Jy mag mos! Pasop net dat jy nie daaroor trip eendag nie.
Hallo Flippie jong!!
Nee Flippiefanus ek sê nie god se brein bestaan uit goed en sleg nie. Ek sê dat die goed en sleg dualiteit uitgedruk kan word as ‘n binêre funksie wat jy vir R2.50 by Cape Town Electronics kan koop.
Hi Sonderwoorde
Heeltemal korrek Andrew. Wie het gese dit moet ingewikkeld wees?
EK is opsoek na ‘n enkel ouer groep in die pretoria area wat ek kan by aansluit
Ek dink God is goed. Dit is my vrye wil wat so besluit het.
Wat help dit Emil?
Wat help wat, flippiefanus? Ek glo.
Ek stem saam met Emil. Ek glo ook God is goed